Ons leef in 'n wêreld vol uitdagings, gevare en stres. Kan geloof ons frustrasies oorwin?


Miljoene mense wêreldwyd ly aan angsverwante stoornisse. 'n Belangrike nuustydskrif vra: Hoeveel van ons “bekommer ons siek”?

Daardie artikel merk op: “Daar is beslis baie vrese wat die rondte doen. Angsverwante stoornisse – dit wat gesondheidskenners identifiseer as enige vrees wat so blywend is dat dit inmeng met die alledaagse lewe – is die mees algemene geestesiekte in die VSA. In sy verskillende vorme, wat strek van baie spesifieke fobies tot algemene angsverwante stoornisse, teister dit 19 miljoen Amerikaners (“Understanding Anxiety”, Time, 10 Junie 2002,  bl. 48).

Baie mense ondervind selfs ernstiger geestelike gesondheidsuitdagings, wat angsaanvalle of -stoornisse insluit. Die Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid berig: “Sowat 2,4 miljoen volwasse Amerikaners tussen die ouderdom 18 en 54 jaar, of nagenoeg 1,7 persent van die mense in hierdie ouderdomsgroep in 'n gegewe jaar, ly aan angsverwante stoornisse” (When Fear Holds Sway, 9 April 2004). Miljoene van ons ervaar vrese wat inbraak maak op ons normale leefwyse. Die stres van ons daaglikse lewe alleen, kan ons dood veroorsaak. Ons pendel te midde van strawwe verkeer. Ons kom in aanraking met omgekrapte, twissieke mense. Ons trotseer finansiële, maatskaplike en persoonlike probleme.

Die Bybel bied ons strategieë om ons bekommernisse, frustrasies en vrese te oorwin, maar ons materialistiese wêreld trek ons aandag af van geestelike prioriteite. Jesus het Sy luisteraars bestraf wat hulle oor kos en klere bekommer het. Hy sê: “As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” (Mattheus 6:30).

Tog laat baie van ons toe dat ons onsself bekommer. Ons word vreesagtig en beangs. Wat is Amerikaners se grootste vrese? 'n Gallup-meningspeiling in 2001 het Amerikaanse volwassenes se mening ingewin oor hul vrese. Die grootste vrees was vir slange (51%), die tweede grootste vrees was om in die openbaar te praat (40%), gevolg deur hoogte (36%); klein ruimtes (34%), spinnekoppe en insekte (27%), naalde en inspuitings (21%), muise, (20%), om te vlieg (18%), donderweer en weerlig (11%), honde (11%), skare mense (11%), doktersbesoeke (9%) en die donker (5%).

God ken ons vrese. Jesus sê u Vader ken u intiem. Jesus gee ons hierdie bemoedigende perspektief en opdrag: “Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie. Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Lukas 12:6-7).

Namate u God se Woord – die Bybel – lees en bestudeer, sal u te wete kom van Sy ontsagwekkende liefde en wonderlike beloftes aan u. U sal afkom op gedokumenteerde gevalle waar God in menselewens ingegryp het. Hy beloof ook dat Hy in u lewe sal ingryp! Lees maar net Jesus se woorde in Mattheus 5-7, wat dikwels die “Bergpredikasie” genoem word. Ek was verwonderd toe ek daardie woorde vir die eerste keer gelees het, toe ek omtrent 12 jaar oud was. Ek het daardie woorde ernstig opgeneem en dit het begin om my lewe te verander!

Deesdae hou baie moderne aandagafleidings ons weg van geestelike prioriteite. Ons leef in 'n wêreld met 'n materialistiese uitkyk. Baie mense jaag rykdom as eerste doelwit in die lewe na, hetsy dit die besit van vaste eiendom, motors, bote, juwele, kontant of ontwerpersklere is. Ander jaag weer mag en 'n posisie in die regering, besigheid of onderwys na. Nog ander jaag plesier na deur ongeoorloofde seks, deur hulle te vergryp aan die media en ander vorms van vermaak, alkohol of onwettige dwelms. Baie mense raak selfs verslaaf aan videospeletjies. Die menslike natuur noop ons om ons te wend tot aktiwiteite wat ons vrese en frustrasies vererger. Hoe kan ons daardie vrese en frustrasies met vrede, geloof en liefde vervang?

'n Goddelike vrees?

As ons ontsag en eerbied vir God het, kan ons ons daaglikse probleme in perspektief behou. Baie mense in algemene kerke sê die vrees vir God is “primitief.” Die Bybelse vrees vir God is egter nie om vir Hom “bang” te wees nie – dit is 'n diep ontsag en eerbied vir ons Skepper. Dit is ontsag vir God se majesteit en grootheid. Dit is 'n reaksie op die werklikheid van God. Wanneer u besluit om God te vrees, sal u mense nie vrees nie. Ons moet besef dat die vrees van God en die liefde van God mekaar nie onderling uitsluit nie. Baie belydende Christene is van mening dat u slegs een óf die ander kan beoefen. Dit is nie wat u Bybel sê nie. Beide eienskappe word benodig in ons verhouding met God. “En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die Here en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (Deuteronomium 10:12-13).

'n Goddelike vrees help ons om ons fobies en bekommernisse te bowe te kom. “In die vrees van die Here lê 'n sterk sekerheid, ook vir die kinders van 'n sodanige sal daar 'n toevlug wees” (Spreuke 14:26). Ware geloof en sekerheid – sterk sekerheid – kom van God  af.

Die Nuwe Testament loof ook die waarde van 'n eerbiedige [goddelike] vrees. Kyk: “Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is” (Hebreërs 11:7).

Ja, God vereis dat ons Hom sal liefhê en Hom sal vrees. Dié twee eienskappe gaan hand aan hand!  Ek daag u uit om deur Psalms en Spreuke te lees. Die seëninge en voordele van 'n goddelike vrees sal u verstom!

Watter ander maniere is daar waardeur ons ons bekommernisse en vrese kan oorwin? Johannes, Jesus se geliefde apostel, skryf: “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in” (1 Johannes 4:18). Liefde is die teenmiddel vir vrees. Hoe kan ons daardie liefde bekom? Ons moet die diepsinnige waarheid waarvan Johannes praat, verstaan: God is liefde. “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom” (vers 16).

Ja, God het ons lief en Hy sal aan ons die gawe van Sy geestelike liefde gee! Hy maak aan ons hierdie verstommende belofte: “En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Romeine 5:5). Die selfsugtige menslike natuur kan verander word in 'n liefdevolle, goddelike natuur. Ons ontvang hierdie kosbare gawe van goddelike liefde deur die Heilige Gees wat vir ons gegee is. Die apostel Petrus het op Pinksterdag vir duisende mense verduidelik hoe om hierdie wonderlike gawe te ontvang: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:38-39).

Is u gefrustreerd?

Soms leef Christene nie na aan God nie, met die gevolg dat hulle dan gefrustreerd raak. Is u dikwels gefrustreerd? Die woord “frustreer” beteken “om te verhoed dat 'n doel bereik word; om te dwarsboom”. Die woord kom van die Franse woord frustra wat “tevergeefs” beteken. Die vrugte van frustrasie kan die volgende insluit: geestelike angs, bekommernis, gejaagdheid, vreesagtigheid, senuagtigheid en rusteloosheid. Hoe kan u u frustrasies te bowe kom?

Baie van ons leef lewens van bekommernis en vrees. Almal van ons ervaar frustrasie in ons moderne samelewing. Ons sit in verkeersknope wanneer ons laat is vir 'n afspraak. Ons voel beswaard weens lang ure by die werk. Ons voel verstoot wanneer iemand 'n uitnodiging van die hand wys. Ons voel dalk onseker of ongeliefd. Daar is dalk konflik tussen vriende of familielede. Ons het dalk gesondheidsprobleme. Dit kan wees dat ons te min geduld het. Dinge loop net eenvoudig verkeerd by ons werkplek of by die skool.

Waarom ondervind ons so baie frustrasies? Ons fokus is moontlik op die materiële eerder as op die geestelike. Watter doelwitte stel u? Wanneer u die verkeerde doelwitte stel, kan u gedwarsboom en gefrustreerd raak. Die eenvoudige oplossing is om die regte doelwitte te stel. Indien u nie reeds hierdie woorde van Jesus u eie gemaak het nie, behoort u dit nou te doen: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheus 6:33).

Ons raak gefrustreerd as ons die verkeerde doelwit of hoegenaamd geen doelwit gestel het nie. God het ons vir 'n ontsagwekkende doel geskape. Wanneer ons ons aan Sy doelwit toewy en God se Koninkryk en Sy geregtigheid nastreef, verklein ons die lewe se frustrasies! Ons raak ook gefrustreerd wanneer ons daarop aandring om ons eie ding te doen, sonder om ander mense in ag te neem. Hierdie selfsugtige gesindheid is: “Ek wil mý sin hê.” Ons Redder stel aan ons die regte voorbeeld. Selfs toe Hy die kruisdood in die gesig gestaar het, het Hy gebid: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Lukas 22:42).

Jesus het Hom heeltemal onderwerp aan God se wil. Wanneer ons ons onderwerp aan God se wil eerder as om aan te dring op ons eie, sal ons vrede vind en ons frustrasies te bowe kom. Onthou dat Jesus ons geleer het om te bid: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheus  6:10).

Ons behoort die regte motivering te hê. Ons behoort almal die goddelike gesindheid te hê om te wil gee eerder as om te wil ontvang. Die Skrif leer ons: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20: 35).

Geduld is nog 'n strategie om frustrasie te oorwin. In 1 Korinthiërs 13, wat dikwels die “liefdeshoofstuk” genoem word, tref ons verskeie eienskappe van liefde aan. Wat is die eerste eienskap? “Die liefde is lankmoedig [geduldig] en vriendelik” (1 Korinthiërs 13:4).

Kan u geloof vind?

Die Bybel beklemtoon dit dat ons geloof benodig. Miskien het u 'n gebrek aan geloof en vertroue. Kan u geloof en vertroue in hierdie trouelose era ervaar? Ja, u kan! Hoe? “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17).

Is dit enige wonder dat baie van ons geloof kortkom? As ons prioriteite materialisties is, sal ons nie geloof hê nie. Jesus van Nasaret het dit duidelik gemaak wat ons belangrikste prioriteit in die lewe behoort te wees. Hy het die algemene probleem naamlik dat baie van ons ons bekommer oor fisiese behoeftes, aangespreek: “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad” (Mattheus 6:25-34).

Jesus moedig ons aan om nie bevrees te wees of ons te bekommer oor ons fisiese behoeftes nie. Die teenoorgestelde van vrees en bekommernis is geloof. Jesus beveel ons dus om te konsentreer op die geestelike. Indien ons dit doen, sal ons fisiese behoeftes aan ons geskenk word.

Abraham het God in die geloof gehoorsaam. U moet besluit of u bereid is om in geloof op te tree en God te gehoorsaam, soos met Abraham die geval was. Abraham het God se beloftes geglo. Sal u u Bybel glo? Sal u die wonderlike beloftes wat God vir u het, glo? Kyk hoe Paulus Abraham beskryf: “En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken”  (Romeine 4:20-22).

Vra uself af: “Wanneer ek God se beloftes in die Bybel lees, glo ek dat God in staat is om Sy beloftes gestand te doen? ” Indien u dit glo, is u goed op pad om in geloof te leef. Lees u Bybel en eis God se beloftes op. Hy wil hê dat u 'n hegte verhouding met Hom moet hê. 
God beloof om in al ons behoeftes te voorsien. Die apostel Paulus skryf: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19). Dit is God se belofte aan u. As u eers kennis dra van God se beloftes, kan u in gebed met Hom daaroor praat. U kan God se beloftes opeis. U sal Sy opdrag uitvoer waar Hy sê: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word”  (Mattheus 7:7-8).

Glo wat God in Sy Woord sê. Bid tot Hom volgens Sy wil. Vra, soek en klop. U sal vind dat beantwoorde gebede u sal help om u bekommernisse, frustrasies en vrese deur geloof te bowe te kom.

Die goddelike eienskappe, naamlik geduld, geloof, gehoorsaamheid en onderworpenheid aan God se wil (en Sy goddelike liefde), sal ons help om ons frustrasies, vrese en angste te oorwin. God wil hê dat ons in geloof moet leef. Hy sal daardie geloof vir ons gee as ons in gebed toenadering tot Hom soek  en daarna streef om Sy wil met behulp van die Bybel te verstaan. In die April 2005 uitgawe van die Reader's Digest, is 'n artikel met die titel “New Proof Prayer Works”. Outeur Julie Bain skryf: “Terwyl niemand met absolute sekerheid kan bewys dat gebede siektes kan genees nie, maak baie dokters melding van gevalle waar die herstel nie toegeskryf kan word aan enige ander rede nie. Wat ons egter wel weet, is dat godsdiens en geestelikheid stres kan verlig en die immuunstelsel 'n hupstoot kan gee” (bl. 153).

Die Bybel beveel ons om daagliks te bid. Indien ons onsself verootmoedig en God in gebed soek en as ons die Bybel lees ten einde Sy wil te doen, sal Hy ons meer geloof en meer innerlike vrede gee. Soos die apostel Paulus skryf: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). Ons lees drie keer in die Nuwe Testament “die regverdige sal uit die geloof lewe” (Romeine 1:17; Galasiërs 3:11; Hebreërs 10:38). Namate ons deur ons optrede en gebede nader aan God beweeg, sal ons die godvresendheid ontwikkel wat ons sal help om ons frustrasies die hoof te bied, en die voordele van geloof te begin ervaar.

In Sy Woord, die Bybel, maak God verstommende beloftes. Ons moet op daardie beloftes reageer, dan kan ons die liefde hê wat vrees en frustrasie uitdryf, en sal ons in geloof kan leef.