Leef ons regtig in die “laaste dae” voor die wederkoms van Jesus Christus? Terwyl kritici spot, glo baie belydende Christene dat dit wel die geval is, maar hoe sal u weet? Die voor die hand liggende antwoord is om die bron wat hierdie vrae aanspreek te raadpleeg – die Bybel. Die Bybel, anders as enige ander godsdienstige boek, bevat talle profesieë oor spesifieke gebeure wat aan die “einde van die dae” sal plaasvind – net voor die wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde, wanneer Hy dramaties in menslike sake sal ingryp. Baie van daardie profesieë neem vandag gestalte aan!

Spotters in die laaste dae

Tweeduisend jaar gelede het Jesus Sy dissipels gemaan om op die uitkyk te wees vir spesifieke tekens wat daarop sal dui dat Sy wederkoms naby is – wydverspreide godsdienstige misleiding, toenemende geweld, verspreiding van etniese konflikte en oorloë, hongersnood, siekte-epidemies en toenemende ernstige natuurrampe – alles gebeure wat vandag hoofnuus is (Mattheüs 24, Markus 13, Lukas 21). Die apostel Petrus noem nog ’n belangrike teken wat die naderende einde van hierdie tydvak sal aandui: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms?” (2 Petrus 3:1-4). Petrus het ’n toekomstige tyd aan die einde van hierdie tyd voorspel wanneer skeptici en kritici die spot sal dryf met die eenvoudige stellings van die Skrif. Judas, die broer van Jesus, praat van hierdie selfde teken: “Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hulle eie goddelose begeerlikhede wandel.” (Judas 17-20). ’nBelangrike teken van die einde van hierdie tydvak sal die verskyning van spotters en kritici wees, wat die Bybel en die leerstellings van Jesus net voor Sy wederkoms sal aanval. Ons is vandag getuies van hierdie toenemende verskynsel en die gevolge daarvan!

Profesieë neem gestalte aan

Vir bykans tweeduisend jaar word die Bybel en die woorde van Jesus en die Apostels as goddelik geïnspireerde geskrifte beskou. Bybelse leerstellings het ’n unieke grondslag verskaf wat die Westerse beskawing afgesonder het van die res van die wêreld. Met die spekulatiewe teorieë in die 1850’s van Charles Darwin (skepping sonder ’n Skepper), Karl Marx (godsdiens is die opium van die mense) en die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche (God is dood), het kritici en skeptici nogtans ’n geleentheid gesien om die geloofwaardigheid van die Bybel aan te val en die God van die Bybel en Sy leerstellings te verwerp. Gedurende die laat 1800’s het Robert Ingersoll, ’n self-opgeleide Amerikaanse prokureur en belydende ateïs, duisende mense gelok wat sy verregaande aanvalle op God, godsdiens en die Christendom wou aanhoor (sien Challenging the Bible, deur Dean Tipton).

Sedert die 1960’s het liberale geleerdes en teoloë, progressiewe politici en die sekulêre media hierdie selfde benadering gevolg en ’n volgehoue aanval teen al die elemente van die Bybelse godsdiens van stapel gestuur. Ons was onlangs getuies dat daar in eens belydende Christelike nasies, ateïste is wat die leerstellings van die Bybel openlik aanval, teoloë wat openlik daaraan twyfel en politieke leiers wat dit openlik verag en doelbewus die spot dryf met die idee van ’n Almagtige God wat in menslike sake ingryp. Die Britse professor, Richard Dawkins, beweer in sy boek, The God Delusion: “Dit is byna seker dat daar geen God is nie”, dat die Bybel “net eenvoudig eienaardig is”, gevul met “aanstootlike leerstellings”, dat die God van die Ou Testament ’n “wraakgierige ... bloeddorstige ... monster” is en “die onaangenaamste karakter in alle fiksie is”, (bll. 2, 4, 31, 237, 252). Die skrywer Christopher Hitchens skryf in sy boek, god is not Great, dat godsdiens gegrond is op wensdenkery en hy skryf spottenderwys van die “mitiese moraliteitsverhale van die heilige boeke” (bll. 4-6). Die Amerikaanse ateïs en neuro-wetenskaplike, Sam Harris, skryf in The End of Faith dat geloofsgebaseerde godsdiens, net soos alchemie, op pad is na die “begraafplaas van slegte idees”. Hy beweer ook dat daar nie meer bewyse vir God of Satan is as wat daar vir Zeus is nie en dat godsdienstige geloof gebaseer is op ’n gebrek aan bewyse (bll. 13, 25, 232).

Idees het gevolge

In Amerika, ’n nasie wat eens gegrond was op Bybelse leerstellings, word gebed en Bybellees nou in klaskamers in skole deur die wet verbied. Die Tien Gebooie is uit openbare geboue verban en liberale teoloë sê openlik hulle glo nie meer in ’n persoonlike God of dat die Bybel goddelik geïnspireer is nie. Na dekades van anti-godsdienstige en anti-Christelike propaganda, het navorsers ’n “skerp afname in godsdienstige geloof in Brittanje bemerk” met meer mense wat nie in God glo nie as diegene wat wel glo (Daily Mail, 16 Desember 2009). In Amerika toon studies deur die Barna Groep dat die grootste groep wat hulle van die Christelikheid distansieer, die jonger volwassenes is. “Byna die helfte (48%) van alle Amerikaanse volwassenes tussen die ouderdomme van 18-28 is na-Christelik (post-Christian) en 40% van diegene tussen 29 en 47, val ook in dieselfde kategorie” (Frontlines, June 2013) .

Daar kan ’n parallel waargeneem word tussen die afname van die godsdienstige geloof in Amerika en ander Westerse lande met ’n styging in maatskaplike siektetoestande en verdorwenheid. Gedrag wat voorheen afgekeur en gestraf is – lieg, steel, ontug, egbreuk en egskeiding – word nou bevorder as normaal. Gedurende  die laaste paar jaar het politieke leiers, sekulêre akademici en liberale teoloë, wat deur die media ondersteun word, aanvaarding van homoseksualiteit en dieselfde-geslag huwelike aktief bevorder – praktyke wat die Bybel lank reeds as “boos” en as “’n gruwel” vir God bestempel het (Levitikus 18:22; 1 Korinthiërs 6:9-10). Dit is insiggewend dat hierdie “dapper nuwe progressiewe” aksies berus op aannames dat God nie werklik bestaan nie, die Bybel nie waar is nie en mense kan doen net wat hulle wil, sonder enige gevolge!

Net soos Bybelprofesieë die opkoms van die spotters in die laaste dae voorspel, openbaar talle Bybelprofesieë dat ernstige gevolge aan die kom is – veral vir Israelitiese nasies wat so ryklik deur God geseën is. God het lank gelede Sy uitverkore volk gewaarsku dat as hulle Sy wette oortree, hulle sou “maai wat hulle saai” (Jeremia 2:17-19; Hosea 4:9). Moses waarsku die antieke Israeliete: “Maar as julle nie na My luister ... nie; ... en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, ... dan sal Ék ... verskrikking [terreur] oor julle beskik: ... sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, ... En Ek sal julle trotse mag verbreek” (Levitikus 26:14-33). Nadat Moses ver in die toekoms in gekyk het, waarsku hy: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronomium 31:29). Al hierdie dinge gaan gebeur omdat die eindtydse leiers van eens belydende Christelike nasies gekies het om te spot met die wette van God, Bybelse profesieë te ignoreer en die God van die Heelal uit te daag. Ongelukkig herken eindtydse spotters hulleself nie in Bybelprofesieë nie. Die werklike vraag is: Begryp udie betekenis van die antieke profesieë wat vandag besig is om gestalte aan te neem?