Amerika en ander lande verduur verskriklike lyding as gevolg van vals godsdienste!


Verlede somer, toe die Verenigde State se Negende Rondgaande Hof sy bevinding teen die gebruik van “onder God” in die getrouheidseed uitgereik het, was dit net een klein simbool van Amerika se verwerping van die ware God van die skepping. In Suid-Afrika is die nuwe beleid oor godsdiens in skole aanvaar waar ons kinders blootgestel word aan alle godsdienste en nie net leer van die Skeppergod nie. Selfs baie van diegene wat godsdienstigheid bely, weerstaan gedurig die God van die Bybel!

Amerika word toenemend ’n gewapende kamp, as gevolg van vrees vir terroriste-aanvalle. Dieselfde geld vir Suid-Afrika waar mense toenemend agter veiligheidshekke en -tralies leef uit vrees vir geweldsmisdade en plaasaanvalle. Nieteenstaande regeringsverslae is die algemene gevoel onder die publiek dat die misdaadsyfers toeneem. Dwelmmisbruik - veral onder jongmense en in skole - eis ’n verskriklike tol. Die gebruik van kokaïne neem vinnig toe. Die VIGS-epidemie neem weer onder ons algemene bevolking toe. Geweldige veldbrande vernietig groot areas van ons land. Priesters, wat bely om diensknegte van God te wees, word toenemend skuldig bevind aan verskriklike en perverse optrede met jongmense. Intussen word miljoene ongebore babas in ons sogenaamde “bevryde” land, uit hul moeders se skote gesuig in dit wat die “stille volksmoord” genoem word. Droogte, gevolg deur waterrantsoenering kom meer wydverspreid wêreldwyd voor, terwyl massiewe vloede ander dele van die wêreld tref en nou raak bykans een biljoen Moslems en honderde miljoene Europeërs ontnugter en gegrief deur Amerika se dominering en mag oor wêreldsake.

Waarom gebeur dit alles?

Dit gebeur omdat ons - soos Amerika - as ’n volk die God van die Bybel volkome verwerp het. Die ware God van die Bybel, met wie die meeste mense nie bekend is nie, gryp weliswaar in wêreldsake in om Sy doel te bereik. Hy is die Een wat aan ons die ontsagwekkende seëninge en mag gegee het wat Amerika en haar bondgenote, soos Brittanje en Suid-Afrika, vir meer as ’n eeu gedeel het. Hy is die Een wat gehelp het dat die Geallieerdes die Eerste en Tweede Wêreldoorloë gewen het, asook al ons groot oorloë oor die afgelope bykans twee eeue. Dink aan hoe God vir ons mense ingegryp het met Bloedrivier en ander veldslae.

Die God van die Bybel vertel aan ons voorvaders: “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. En die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiwe-oes, en die druiwe-oes sal aanhou tot die saaityd, en julle sal jul brood volop eet en veilig in julle land woon. Ook sal Ek vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak; en Ek sal die wilde diere uit die land laat verdwyn, en geen swaard sal deur julle land trek nie. En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard” (Levitikus 26:3-7). Vir verskeie geslagte het God wel Sy belofte gestand gedoen om seëninge op die Amerikaanse en Britse afstammelinge, sowel as Suid-Afrikaners, uit te stort, maar vandag is “die skrif aan die muur”. Die gety van wêreldgebeure is besig om dramaties te verander!

’n Paar verse later in die bogenoemde profesie, sê die Skepper: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek - dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie” (verse 14-17). Dit is verseker ’n tweeledige profesie wat ’n oorspronklike vervulling op antieke Israel gehad het. Dit sal egter ook ’n hedendaagse vervulling hê op ons mense van hierdie huidige geslag! Baie van u sal dit sien gebeur! Bykans almal van ons sal oor die volgende paar jaar die begin sien van hierdie ontluikende tragedie.

Ons sal ooggetuies wees van die begin van God se ingryping om die mense wat van Amerikaanse en Britse afkoms is, vir ons eie beswil te tug. Want God sê: “En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper” (Levitikus 26:19). Indien u nog nie weet wat ons nasionale identiteit in Bybelprofesie is nie, kontak ons gerus by een van die adresse wat op bl. 2 van hierdie tydskrif verskyn en versoek u gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie getiteld, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

God is konsekwent

In Sy geïnspireerde Woord vertel die Ewige God aan ons: “Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie” (Maleagi 3:6). In sy omvattende benadering is God konsekwent in Sy handelinge met mense en volke. Aan ons word in die Nuwe Testamentiese boek Hebreërs vertel: “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem” (Hebreërs 12:5-6).

Indien God ons liefhet, waarom sal Hy die Amerikaanse en Britse afstammelinge, sowel as die Suid-Afrikaners, so kragtig “tug”?

Waarom?

Die werklike antwoord is dat ons as ’n volk geveinsd is! Terwyl ons graag verklaar dat ons “Aan Jesus behoort” of “Op God vertrou”, is ons as volk gedurig in opstand teen die wette en lewenswyse van daardie selfde God! Woon miljoene Suid-Afrikaners elke Sondag kerk by? Ja! So skokkend soos wat dit mag voorkom, is dit juis deel van die probleem!

“Hoe so?” mag u vra.

Dit is deel van die probleem omdat die oorgrote meerderheid van kerkgangers nooit geleer is oor die einste lewenswyse wat ons van die erge tug sal spaar wat ons volk binnekort gaan tref nie. Soos ons hierbo gesien het, sê God dat Hy Sy mense sal straf: “... as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie” (Levitikus 26:14).

Hier lê die moeilikheid - die oorgrote meerderheid van belydende Christene word vertel dat hulle nie “letterlik” die Tien Gebooie hoef te onderhou nie. Ja, as klein kindertjies word hulle in die Sondagskool geleer om die “opsomming” van die Tien Gebooie te leer, maar hulle leraars weier konsekwent om die Tien Gebooie as lewenswyse te onderrig - soos Jesus Christus Self gedoen het. Die van u wat die moed bymekaar kan skraap om u leraar te vra of Christene werklik die Tien Gebooie as lewenswyse moet onderhou, sal verbaas wees oor die antwoord, want die oorgrote meerderheid van leraars sal antwoord, soos wat hulle in die kweekskole geleer is - dat die Tien Gebooie goeie riglyne “mag” wees, maar u hoef hulle nie werklik te onderhou nie!

Eerder as om dit te doen, sal hierdie belydende Christenleraars meestal vermy om enigsins oor die Tien Gebooie te praat. Sommige sal onderrig dat die Tien Gebooie die “Wet van Moses” is - nie vandag op ons van toepassing nie - of dat die Tien Gebooie op ’n manier “aan die kruis vasgespyker” is of deur die apostel Paulus mee “weggedoen” is. Hierdie leraars het allerlei miserabele verskonings waarom die Tien Gebooie nie vandag letterlik onderhou hoef te word nie - hoewel Jesus Christus sy volgelinge onderrig het om dit te onderhou (sien Mattheus 5:17-19; Mattheus 19:16-19; Lukas 16:16-18). Jesus se eie broer, die geïnspireerde apostel Jakobus, skryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jakobus 2:10-12). Die “wet” wat egbreuk en moord as sonde beskryf, is sekerlik die Tien Gebooie. Jakobus sê dat u en ek deur daardie wet “geoordeel” sal word! Wat kan meer duidelik as dit wees?

Jesus se geliefde apostel Johannes skryf: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Openbaring 14:12). Tog het ’n diaboliese slim Satan die duiwel daarin geslaag om die betekenis van sekere skrifgedeeltes in die Bybel op so ’n wyse te verdraai dat dit in teenstelling is met die vele duidelike, eenvoudig verstaanbare teksverse wat God se mense beveel om die Tien Gebooie as lewenswyse te gehoorsaam.

In sy laaste brief aan die einde van sy bediening, waarsku die apostel Petrus ons oor onvaste mense wat die skrywes van die apostel Paulus “verdraai tot hulle eie verderf”. Hy beveel diegene wat die waarheid ken wat deur Jesus Christus onderrig is: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie” (2 Petrus 3:17). Hierdie “sedelose mense” het natuurlik nie in teenstelling met die verkeerswet onderrig nie. Petrus is deur God geïnspireer om ons teen daardie vals leraars te waarsku; hulle wat dikwels sélf deur Satan mislei is, wat Paulus se skrywes sou verdraai dat dit veronderstel is om “weg te doen” met die Tien Gebooie!

In Jesus se naam en - as Sy dienskneg - vermaan ek al u leraars en priesters wat hierdie woorde lees om wakker te word! U self kan ook van u voormalige onkunde vergewe word. U self was ook moontlik “verblind” deur die grootskaalse misleiding van Satan die duiwel, “wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9).

Die loon van die SONDE is die dood

God vertel ons in Romeine 6:23: “Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here”.

Sonde bring outomaties hartseer, lyding en uiteindelik die tweede dood in die poel wat brand met vuur en swawel, tensy daar ’n diepe bekering daarvan is (Openbaring 21:8). Soos ons in 1 Johannes 3:4 lees: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid”. God se wet - die Tien Gebooie - is soos die wet van swaartekrag. God se geestelike wet “werk”, of u daarin glo of nie! Die diepgaande hartseer in die stemme en gesigte van diegene wat in hul jeug deur Rooms-Katolieke priesters misbruik is, moet ons iéts vertel. Sodanige perverse, sondige dade bring jare of selfs dekades van foltering en lyding mee.

Hoe kan daardie biskoppe en kardinale wat die vuil optrede van kindermolesterende, perverse priesters verdoesel het, snags gaan slaap? Hulle moet nadink oor die geïnspireerde waarskuwing van die apostel Paulus: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang ... wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken” (1 Timotheus 4:1, 3).

Die honderde - moontlik duisende - top bestuurders, prokureurs en rekenmeesters wat as gevoellose sondaars gedink het hulle kan “wegkom” met biljoene dollars deur die beweerde bedrog bedryf deur Enron, Arthur Andersen en talle ander groot maatskappye, sal kort voor lank voor stok gekry word! Hulle sal nie net aan die howe van die land verslag moet doen nie, maar hulle sal ook uiteindelik voor die regterstoel van die Almagtige God beland!

Baie van hulle het opsetlik die geld en selfs lewensonderhoud van hul werknemers en beleggers in hul maatskappye gesteel. Die Ewige God veroordeel diegene wat hulself verryk deur voordeel uit ander te trek ten sterkste: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ’n swaarder oordeel ontvang” (Mattheus 23:14).

Sonde bring outomaties lyding mee. Sommiges mag selfs hul huise verloor of nie in staat wees om hul gesinne te onderhou nie. Baie sal nie in staat wees om vir hul gesinne se toekoms te voorsien nie. Selfs diegene wat “beter daaraan toe is”, sal vind dat hul gesinne vir jare moet “sien kom klaar”. Hul seuns en dogters mag moontlik nie na die skole kan gaan wat hulle beplan het om by te woon nie, omdat “Pappa sy werk verloor het”. Hul klein kindertjies mag dalk nie die nuwe fiets kry wat belowe is, of die rolskaatse nie. Gesinne sal sonder hul jaarlikse vakansie moet gaan, omdat geld te skaars is.

Werknemers wat hul werk verloor het as gevolg van die korrupte bestuurders, mag dalk hul leiers nooit weer vertrou nie, want vir baie gesinne sal hul hele lewens verander as gevolg van die korrupsie in die topbestuur van sake. Die seerkry en ontnugtering sal vir baie mense ’n leeftyd bybly. Hoe kan korrupte bestuurders snags slaap as hulle weet watter diepgaande lyding hul bedrog en optrede veroorsaak het? God se Woord vertel ons: “’n Goeie verstand verskaf guns, maar die weg van die ontroues is hard” (Spreuke 13:15).

Ongehoorsaamheid is die OORSAAK van menslike lyding

In hierdie artikel kan ons nie eens die ontelbare gebiede van sonde en lyding in ons belydende “Christenwêreld” begin opnoem nie. Ons lees bykans daagliks van die voortdurende hartseer veroorsaak deur diegene wat onwettige dwelms verkoop en gebruik. Ons lees ook van diegene wie se verstand en liggame verswak en afgetakel is weens die feit dat hulle te veel alkohol drink, sigarette rook of toelaat dat hul verstand en gees verdraai word deur die verrotte verskaffers van pornografie. Pornograwe dra sonder twyfel grootliks by tot afskuwelike seksuele misdade en veroorsaak dat ’n ganse geslag jong mans grootword met ’n goedkoop en vieslike siening van vroulikheid!

Baie bestuurders van groot tabakmaatskappye word “steunpilare” in hul gemeenskappe geag; hulle sit op plaaslike kerkrade en omring hulself met die simbole van sukses en aansien. Tog het baie van hierdie mense vir dekades geweet dat hul produk dikwels regstreeks bydra tot folterende lyding en die ontydige dood van tallose mense.

Wonder ons steeds waarom die grote God van die skepping begin om die Amerikaanse en Britse afstammelinge, sowel as Suid-Afrikaners, te “tug”?

Hoewel ons meer Bybels as enige ander volke in die geskiedenis gedruk en versprei het, verbreek en vertrap ons gedurig die wette van God! Ons godsdiens-, politieke- en sakeleiers, tesame met ons nasionale sport- en vermaaklikheids-“sterre” het almal bygedra tot ’n kultuur van misleiding en geveinsdheid. Ons het daarop aanspraak gemaak dat ons ’n “Christenvolk” is, maar ons het ongetwyfeld die duidelike leringe wat Jesus Christus in die Bergpredikasie gegee het, verwerp.

Jesus sê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Naby die einde van Sy bekende “Bergpredikasie” (Mattheus 5-7) waarin Hy eenvoudig verduidelik dat Christene die letter én die gees van die Tien gebooie moet onderhou, maak Jesus die stelling: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23).

Vir elke oorsaak is daar ’n gevolg. Die verbreking van God se groot geestelike wet is die basiese oorsaak van alle menslike swaarkry. As ons eers daardie feit verstaan en daarvolgens leef, sal die hoeveelheid menselyding onbeduidend min word!

Na die Groot Verdrukking wat Jesus Christus voorspel het - nadat die mensdom werklik verootmoedig is en “gewillig is om te luister” - sal die hele wêreld geleer word om die Tien Gebooie as lewenswyse te gehoorsaam. Let op Jesaja se profesie: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2-4).

Die profeet Jeremia is deur God geïnspireer om ons te vertel: “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Jeremia 31:33).

Deur ware bekering en die gawe van die Heilige Gees, sal God werklik Sy geestelike wet - die Tien Gebooie - in die harte en verstande van al Sy mense plaas. Dan sal daar in die komende millenniale regering van Jesus Christus, ’n diepsinnige vrede en vreugde wees wat hierdie wêreld nog nooit tevore ondervind het nie.

Soos Hy sê sal God “hulle ongeregtigheid vergewe” (vers 34). Die “loon van die sonde” sal verwyder word. God vertel Sy mense wat hulle sal ondervind nadat hulle uit die Groot Verdrukking gekom het, geleer om Sy wet te gehoorsaam en waarlik Sy weg te volg: “In plaas van julle skande ontvang julle ’n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land ’n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet” (Jesaja 61:7).

Mag die God van die Bybel - die Skepper wat ons almal lewe gee - u help om die ware godsdiens te soek en te vind en mag Hy u die geloof en moed gee om op daardie Waarheid te reageer.