Ons almal faal van tyd tot tyd. Hoe reageer ons egter wanneer mislukking voorkom? Raak ons mismoedig, of staan ons op en probeer weer ’n keer? U Bybel gee waardevolle insig in hoe om mislukking te gebruik as ’n springbord na sukses! U kan die lewe se terugslae verander na ’n springbord vir geestelike sukses!


Terwyl ek die baan afhardloop, het my voete verstrengel geraak en ek het myself voel val. Dit het gelyk asof die betonblad van die basketbalbaan, besaai met los stukkies gruis en vullis, opstyg om my te ontmoet. Vir ’n oomblik het dit gevoel of die tyd stilstaan terwyl ander spelers by my verby skarrel. Ek was besig om te val, en het myself gestaal vir die onvermydelike pletterlanding!

Skielik flits dit deur my gedagtes en onthou ek die afrigter se waarskuwingswoorde vir so ’n oomblik: “Skouer in en rol”! Hy het ons gemaan om nie te probeer om ’n val te stuit nie, maar om net die elmboog en skouer “in te trek” en saam met die val te rol.

Ek het die afrigter se raad gevolg, deur die val gerol en was verbaas oor hoe vinnig ek weer my ewewig herwin het en terug was op my voete. Ek het myself gered van ’n lelike betonbrand en het aaklige gruis-snye aan my arms en elmboë voorkom. Ek het moontlik ’n gebreekte pols verhoed. Daardie dag op die basketbalbaan het ek ’n duursame les geleer. Daar is ’n “regte” manier om te val, en ’n “verkeerde” manier. Die regte manier spaar ’n mens van onnodige snye, kneusings en selfs ernstige beserings.

In die arena van die lewe sal almal van ons terugslae en teleurstellings beleef. Elkeen van ons sal uiteindelik in iets faal – of val! Volgens die Merriam-Webster woordeboek, spruit “mislukking” uit ’n oorspronklike Franse wortelwoord wat “om te val” beteken. Dit verwys na iets wat nie plaasvind nie, prestasie wat nie behaal is nie, die gebrek aan sukses of om tekort te skiet. Die HAT omskryf dit as iets wat ontbreek, tekortskiet of misluk, of foute wat begaan word.

Ons almal struikel soms, maar, wanneer ons struikel, hoe reageer ons daarop? Hoe hanteer ons terugslae in die lewe sonder dat dit ons gees demp?

Mislukking: Springbord na sukses

Enigiemand wat iets probeer doen, sal foute begaan. Dit is deel van die leerproses. Michael Jordan, die bekende Amerikaanse basketbal-speler, het na bewering gesê: “Ek het in my loopbaan meer as 9,000 doelskote gemis. Ek het byna 300 wedstryde verloor. Ek het 26 keer die spel se wendoel gemis wat aan my toevertrou was. Ek het herhaaldelik in my lewe gefaal. Dit is waarom ek slaag” (Nike Culture: The Sign of the Swoosh, bl. 49).

Politieke en militêre leiers het ook die belangrikheid besef om mislukking met ’n positiewe gesindheid te hanteer. Die Britse Eerste Minister Winston Churchill het eenmaal gesê: “Sukses is nooit finaal nie. Mislukking is nooit fataal nie. Dit is moed wat tel”. Dit is bekend dat Amerika se Generaal George S. Patton gesê het dit maak nie saak hoe ver jy val nie, maar “hoe hoog jy terugspring wanneer jy die bodem tref”!

God wil hê dat ons dieselfde gesindheid moet hê. Nee, Hy hou Hom nie blind vir sonde nie. Hy spreek ons nie altyd vry van die gevolge van ons foute nie. Hy leer ons egter wel om probleme positief te benader. Hoe kan ons seker maak dat beproewings ons nie vernietig nie? Hoe kan ons mislukking verander in ’n springbord na sukses?

Was Petrus ’n mislukking?

Die laaste Pasga van Jesus Christus in 31 n.C. was ’n lewensveranderende ervaring vir al Sy dissipels, insluitende Petrus. Vol vertroue in sy eie vermoëns, was Petrus seker dat hy Jesus Christus sou beskerm teen enige ongeluk wat Hom sou kon oorkom. Hy het Jesus daarvan verseker tydens die laaste Pasga, toe hy aan Hom gesê het: “Ek sal my lewe vir U gee” (Johannes 13:37). Hierop het die Messias geantwoord: “Sal jy jou lewe vir My gee? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, die haan sal sekerlik nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie” (Johannes 13:37-38).

Hierdie stelling moes ’n skok gewees het vir die selfversekerde Petrus. Hy het geen voorneme gehad om sy rug op die Messias te keer nie! Hy sou tot die dood toe veg! Dit was egter nie lank voordat Petrus sy woorde moes sluk en gedoen het presies wat die Here voorspel het nie. Jesus en Sy dissipels het na die tuin van Getsémané gegaan, waar hulle dikwels gewandel en gesels het. Dit was daar waar Judas Iskariot Hom verraai het aan die owerpriesters. Petrus het probeer om fisies in te gryp, maar toe het Jesus hom gekeer en hom beveel om sy swaard weg te sit. Tot Petrus se skok, het Jesus toegelaat dat Hy vasgebind, in hegtenis geneem en weggelei word.

Jesus Christus is voor die Hoëpriester gebring waar Hy ondervra, verneder, geklap en geslaan was. Petrus het die binnehof van die Hoëpriester binnegeglip om te sien wat volgende sou gebeur, maar tot sy ontsteltenis was hy herken. Presies soos Christus voorspel het, het Petrus by drie afsonderlike geleenthede ontken dat hy Jesus ken (Lukas 22:56-60). Net nadat die haan gekraai het, het “... die Here ... Hom omgedraai en Petrus aangekyk” (Lukas 22:61).

Die besef van wat hy gedoen het, het in een skrikwekkende sekonde tot hom deurgedring. Vanaf ’n oormaat selfvertroue, was Petrus se verwagtings verpletter. Hy het misluk. Hy het in bitterheid gevlug, oorweldig deur hartseer (vers 62).

U keuse

Elke keer wanneer ons val en ’n fout maak, moet ons ’n besluit neem. Ons word gedwing om te kies hoe ons gaan reageer. Of terugslae nou klein of groot, onbelangrik of lewensveranderend is, ons het ’n keuse. Watter pad sal ons volg?

In daardie bitter ure en dae na sy verloëning van Christus, het Petrus diep gedink. Dit was ’n kritieke tydstip in sy lewe. Hy het van aangesig tot aangesig gekom met sy eie menslike swakheid. Hy was geskok om te ontdek hoe weerloos en bang hy kon wees. Hierdie sterk dosis werklikheid het hom tot in sy diepste wese geskud. Petrus het egter die regte keuse gemaak, en ons lees dit in die Bybel. Geslagte was geïnspireer om te lees hoe Petrus herstel het van ’n onuitspreeklike terugslag om ’n kragtige instrument in God se Kerk te wees. In die woorde van die apostel Paulus, hy was bedroef “volgens die wil van God ... Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Korinthiërs 7:9-10).

Petrus se keuse het hom gelei na innige berou, kragtige ywer en ’n sterk begeerte om sy menslike swakhede te oorkom (vers 11). Dit het God in staat gestel om hom te kon gebruik as ’n dinamiese leier in die jong kerk. Dit het sy lewe vir ewig verander. Wat kan ons uit Petrus se voorbeeld leer wanneer ons beproewings en probleme in die lewe ervaar? Hoe kan ons leer om beter en vinnig te herstel?

Probleme: Deel van die lewe

Net voor Sy dood het Jesus Christus sekere kragtige en bemoedigende voorskrifte gegee wat Petrus en al die ander Apostels hulle hele lewe deur sou inspireer. Soos Hy voorspel het dat hulle almal Hom sou verlaat, het Hy ook gesê: “Glo julle nou? Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is. Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:31-33).

Die Bybel toon dat beproewings deel van die lewe is – selfs vir diegene wat daarna streef om God te gehoorsaam! Ons bring weliswaar sommige daarvan oor onsself. Ander weer is die gevolg van ons eie swakheid of trots, of selfs ons eie onnoselheid! Ander kere weer is probleme nie ons eie skuld nie, maar raak omstandighede buite ons beheer. Ons sal probleme hê.

Dieselfde Petrus wat Christus verloën het, het ook jare later geskryf: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13). Nogtans, hoeveel keer raak ons nie verbouereerd omdat slegte dinge gebeur nie? Hoe dikwels dink ons: “Dit is nie veronderstel om met my te gebeur nie”!

Jesus sê aan ons om nie moedeloos te word wanneer ons terugslae ondervind nie. “HIERDIE dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie ... maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:1,33). Om te erken dat ons probleme het, neem hulle nie weg nie. Dit help ons tog wel om dit te hanteer in plaas van om dit te ontken of om daarvan weg te hardloop.

Goeie ouers sal hul kinders leer hoe om met terugslae en probleme te handel. Hulle sal hul help om te verstaan “die lewe behels baie frustrasies, en dit is slegs deur middel van ervaring van frustrasie dat ons leer om dit te verdra. Dit stel ons in staat om teenstand te omskep in uitdaging en om te volhard ten spyte daarvan. Volharding, daardie allerbelangrikste ‘as jy nie die eerste keer slaag nie’ gesindheid, is die heel belangrikste eienskap in elke suksesverhaal” (“How to Raise Happy Kids”, Reader’s Digest, John Rosemond). Ons is God se kinders. Leer Hy ons ook om te volhard onder stres? Indien ons nie ons probleme vierkantig en manmoedig onder oë kan neem nie, kan hulle ander nuwe, nie-verwante probleme skep. Frustrasie ondermyn ons geloof, want ons konfronteer nie die werklikheid nie. Om van ons probleme af weg te hardloop, laat hulle ook nie weggaan nie! Om dit egter te erken en ons foute te bely (1 Johannes 1:9) is die eerste stap om suksesvol te herstel.

Snoei is nie verwerping nie

Tydens sy laaste gesprek met Sy dissipels, verduidelik Jesus waarom Christene telkens probleme ondervind: “Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra” (Johannes 15:1-2). God is besig om Sy mense te help groei! Groei beteken soms die wegsny van beskadigde of onproduktiewe takke in ons lewe. Dit is hoekom ons soms pyn en probleme verduur.

Moet egter nie “snoei” met verwerp verwar nie. Enigiemand wat vrugtebome kweek is bewus van die genot om dit te plant en jaar na jaar daarmee te werk. Dit is opwindend om hulle sterk en gesond te sien asook wanneer hulle goeie vrugte lewer. Moenie aanneem dat net omdat God toelaat dat u emosionele, geestelike of fisiese pyn ly, Hy u verlaat het nie! In werklikheid sal God niemand verwerp wat werklik verslaan is en aan Hom onderworpe is nie. Hy laat toe dat ons ly as deel van ons groeiproses en Hy belowe ons die hulp wat ons nodig het.

Hulp is aan die kom

Op die laaste nag wat Hy gelewe het, het Jesus Christus Sy dissipels bemoedig deur aan hulle te sê dat hulle nooit alleen sal wees nie. Selfs nadat Hy hulle sou verlaat, sal Hy Sy Gees stuur om hulle te lei en te help. Hy het gesê: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Johannes 14:16).

Die Heilige Gees, die einste krag van God, sou die middel wees waardeur God en Christus in die dissipels sou leef. Jesus gaan voort en beskryf “die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Johannes 14:16-18).

Die Heilige Gees sou kom, en daardeur sou Christus letterlik Sy lewe in Sy ware volgelinge leef (Galasiërs 2:20). Jesus het belowe dat Sy Heilige Gees gestuur sou word – soos dit inderdaad gebeur het op Pinksterdag – om Sy teenwoordigheid in hulle te wees. Hy het belowe “die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26). Die dissipels sou in staat wees om met begrip alles te onthou wat Jesus hulle geleer het tydens Sy bediening. Dit sou hulle “in die hele waarheid lei” (Johannes 16:13).

Indien ons werklik soek na God en uitroep vir Sy begrip, sal Hy dit ook aan ons gee. Let op wat Christus ook vroeër in sy bediening gesê het: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13).

Petrus het die belofte van die Gees onthou, en dit het hom bemoedig in die ergste dae van sy lewe. Toe die Heilige Gees gestuur is, het God Petrus kragtig gebruik as leier onder die dissipels op die Pinksterdag (Handelinge 1:4). Wanneer ons struikel en probleme ondervind, moet ons onthou dat God ons kan help. As ons tot ons Vader uitroep in nederige gehoorsaamheid aan Hom, gewillig om ons eie wil te versaak vir Sy wil, sal Hy ons lei. Indien ons werklik boetvaardig en gehoorsaam is, sal Hy Sy Gees in ons plaas (Handelinge 2:38, 5:32).

God het groot planne vir ons

Terwyl ons jonk is het ons dikwels “groot planne” vir ’n leeftyd van indrukwekkende prestasies. Namate ons groei leer ons nie net watter doelwitte ons strewe waardig is nie, maar ook wat dit verg om daardie doelwitte te bereik. Diegene wie se ambisies groter is as hul pogings, kan moedeloos raak en vind dat hulle verhewe ambisies teenproduktief raak. Skryfster Sue Shellenbarger merk op: “Selfs wanneer studente vasklou aan hoë ambisies, stel hulle hulself dikwels bloot aan mislukking deur nie hul gedrag in lyn te bring met hulle doelwitte nie, sê Dominique Morisano, ’n assistent professor in Kliniese Sielkunde aan die Universiteit van Columbia ... Hulle mag sê: ‘Ek wil ’n pediater word’, maar hulle woon nie klasse by nie, hulle gebruik dwelms, hulle sorg nie vir hulself nie, sê Dr Morisano ... Die gevolg is dikwels hopeloosheid. ’n Geloof in ’n mens se vermoë om doelwitte te bereik is belangrik om ’n hoopvolle gesindheid te bou” (“Making Kids Work on Goals”, Wall Street Journal, 9 Maart 2011).

 Volwassenes stel ook soms onrealistiese doelwitte. Petrus het dit gedoen toe hy gedink het hy kon Christus met sy swaard verdedig teen die mag van die Romeinse leër. Toe hy misluk, was hy platgeslaan. Ons sal ook teleurgesteld wees as ons op ons eie probeer en misluk om werklik te verander en te groei. Indien ons ons egter aan God se heerskappy oor ons lewens onderwerp, word opregte oorwinning moontlik (Mattheüs 19:26). Wanneer ons geteister word deur skynbaar eindelose beproewings, moet ons onthou waarom God ons geskep het. Hy wil hê dat ons moet groei en vir altyd in Sy ewige Gesin wees! Dit is nie “kamma-kamma” godsdienstige sentiment nie, maar ’n rots-vaste belofte van die grote Skepper God!

Net voor Sy dood, het Jesus aan Sy dissipels ontsaglike bemoediging gegee. Hy het hulle van Sy toekomstige Koninkryk vertel. Deur dit te doen, het Hy nie verwys na iets abstraks “in ons harte” nie. Nog minder het Hy ’n organisasie van vleeslike menslike wesens beskryf wat met mekaar wedywer vir wêreldse mag. Nee! Hy het die vestiging van ’n letterlike Koninkryk hier op aarde voorspel! Hy gaan voort om te sê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei” (Johannes 14:1-2).

Sommige mense glo verkeerdelik dat Christus se verwysing na “wonings” iets te doen het met hemel toe gaan. Trouens, Jesus het beskryf dat elkeen ’n spesifieke plek in die “huishouding” van God sal hê. Hierdie plekke is nie huise nie, maar eerder posisies van gesag en verantwoordelikheid binne die ware Koninkryk van God, na die wederkoms van Jesus Christus.

Dit is wat in Jesus se gedagtes was tydens Sy laaste nag voor Sy kruisiging. Dink daaroor na! In bykans dieselfde asem as wat Hy aan Petrus gesê het hy sou Hom verloën, het hy omgedraai om aan die dissipels hul inspirerende lotsbestemming mee te deel! Hy het van die toekoms gepraat. Hy het nie net gefokus op die lyding wat Hy sou verduur, of op die ontmoediging wat hulle sou voel wanneer Hy hulle verlaat nie. Nee, Hy het gefokus op die visie van wat sou kom. Hy het hul oë gevestig op Sy Koninkryk – en die rol wat Hy wou hê hulle moet speel wanneer dit gevestig word op die planeet Aarde!

Wanneer ons die bal laat val, foute maak of ly as gevolg van probleme, wil God hê ons moet ons koppe laat hang en soos mislukkings voel? Wil Hy hê ons moet in selfbejammering wegsluip? Nee! Hy wil hê ons moet fokus op die toekoms. Sy begeerte is dat ons die groot potensiaal wat Hy gee aan diegene wat bereid is om hulle te onderwerp aan Sy wil en Gees, moet besef.

Jesus het aan Sy dissipels gesê: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Johannes 15:16). Hy het daardie roeping uitgebrei na diegene wat nog ongebore is, wat die Vader sal roep deur hulle getuienis (Johannes 17:20). ’n Roeping van God in Sy Waarheid en Sy Kerk in is waarlik ’n ontsagwekkende geleentheid.

God het groot planne vir ons indien ons bereid is om ons te onderwerp aan Sy heerskappy in ons lewens – indien ons tot die besef kom van die rede vir probleme en groei deur God se eie korreksie en snoei, terwyl ons Hom vra om ons te bemagtig deur Sy Heilige Gees.