Die ekonoom, demograaf en Cambridge geleerde Thomas Malthus is 250 jaar gelede in Februarie 1766, naby Dorking in Engeland gebore. Daar word gesê dat sy vader ’n vriend van die filosowe David Hume en Jean-Jacques Rousseau was en die jong man het filosofie, Latyn, Grieks en wiskunde ingedrink as student aan Oxford.

Terwyl die meeste mense wat vandag leef dalk nog nooit van Malthus gehoor het nie, het hy voortgegaan om ’n professor van geskiedenis en politieke ekonomie aan die Oos-Indiese Kompanjie se Haileybury Kollege te word en het sy teorieë oor die voor-industriële wêreld se bevolking ’n diepgaande uitwerking op die Britse maatskaplike beleid van sy dag gehad. Dit is selfs bewys dat sy geskrifte ’n invloed gehad het op die latere navorsing van die Engelse natuurkundige, Charles Darwin en op Darwin se teorie van natuurlike seleksie.

Malthus is moontlik beter bekend vir sy teoretiese werk met die titel: An Essay on the Principle of Population. Daarin ondersoek hy die idee dat die bevolking sal toeneem, die beskikbaarheid van voedsel sal oorweldig word en so ’n wêreldwye bedreiging vir die menslike samelewing en oorlewing sal skep. Die verskil tussen monde wat gevoed behoort te word en beskikbare voedsel sal volgens Malthus ’n gevolg hê – dit staan nou as ’n Malthusiese krisis, of Malthusiese ramp bekend.

Voorspellings en “positiewe teenwerkings”

Die Malthusiese ramp is die voorspelling dat landbouproduksie deur bevolkingsaanwas ingehaal sal word en daardeur ’n haastige terugkeer na ’n bestaansvlak toestand sal veroorsaak, wat ’n langtermyn, wydverspreide en ongelukkige bestaan vir die grootste deel van die mensdom tot gevolg sal hê. Malthus het gevoel dat die menslike begeerte om voort te plant onvermydelik tot ondergang van die mensdom sal lei, namate die bevolkingsaanwas die voedselproduksie sal verbysteek.

Hy het ook geglo dat die balans tussen bevolkingsaanwas en beskikbaarheid van voedsel teruggebring sal word deur wat hy gesien het as die positiewe teenwerkings van oorlog, hongersnood en siektes – dinge wat die sterftesyfer effektief verhoog. Soos u dalk vermoed, Malthus was ’n ekonomiese pessimis! In latere uitgawes van sy boek, het hy ook voorkomende teenwerkings soos om die huwelik uit te stel, geboortebeperking en selibaatheid ingesluit.

Vandag sien ons ’n wêreldwye bevolking van meer as 7,2 miljard mense, rofweg 6 miljard meer mense as in Malthus se tyd en hulle word steeds gevoed! Dit is ’n bewys dat Malthus se stelling tot dusver tekort geskiet het.

Die Beijing TIME tydskrif se korrespondent Michael Schuman, wys in ’n artikel van 15 Julie 2011 met die titel “Was Malthus Right?”, daarop dat “Malthus hom vergis het met die mens se vermoë om die nodige tegnologie te ontwikkel om die grond, water en ander skaars hulpbronne van ons planeet meer doeltreffend te benut. Voedselproduksie het min of meer tred gehou met bevolkingsgroei”.

Malthus het dus nagelaat om voorsiening te maak vir die vooruitgang – soos in die menslike tegnologie en landbou metodes – wat ons nou as vanselfsprekend aanvaar. Beteken dit dus dat die mensdom die “positiewe teenwerkings” van die Malthusiese ramp ontwyk het?

Steeds geprofeteer ...

Terwyl Malthus se voorspelling nie verloop het soos waarop hy aanspraak gemaak het nie, word die “positiewe teenwerkings” van oorlog, hongersnood en siektes wat hy beskryf het, nog altyd deur die Bybel geprofeteer om plaas te vind.

In die Skrif word verwys na die “tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7). Die Bybel voorspel ’n komende Groot Verdrukking (Matthéüs 24:21) – ’n tyd van ongekende probleme wat oorlog, hongersnood en wydverspreide siekte-epidemies insluit. Die moderne afstammelinge van antieke Israel sal dit nie vryspring nie. (Om die identiteit van hierdie volke te verstaan, bestel ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?).

Jesus Christus profeteer in Matthéüs 24:7-8 aangaande die eindtyd: “... die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.”

In ’n verwante profesie beskryf die boek Openbaring vier perde wat simbolies met toenemende intensiteit oor die aarde ry namate die eindtyd nader kom. Die eerste perd is simbolies van valse profete en verleiers (Openbaring 6:2), maar die tweede, derde en vierde perde is simbolies van oorlog, hongersnood en pessiektes onderskeidelik (verse 4-8).

In ’n profesie wat aan die eindtydse afstammelinge van Israel gerig is, lees ons bykomend hiertoe in Levitikus 26:16: “... dan sal Ek dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.”

Die “positiewe teenwerkings” wat Malthus aangehaal het, is duidelik faktore wat deur God gebruik word om Sy volk te oordeel. Die grondoorsaak van die toekomstige ramp sal egter nie oorbevolking en ’n voedseltekort wees, soos Malthus voorsien en voorspel het nie, maar eerder die veelvuldige, steeds toenemende sondes van hedendaagse Israel.

God bied beskerming aan

Namate ons die komende ramp nader, nie van die Malthusiese soort nie, maar die een wat volgens die regverdige oordeel van God uitgevoer sal word in reaksie op die toenemende sondes van Groot-Brittanje, die VSA en die ander nasies in die wêreld wat van Israel afstam, kan ons dankbaar wees dat God beskerming bied aan diegene wat daarna streef om volgens Sy Wet te leef (Openbaring 3:10; Openbaring 12:14).

Spreuke 10:3 onderrig ons: “Die Here laat die regverdige nie honger ly nie.” In Exodus 15:26 sê God aan antieke Israel: “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak.”

Ons moet ons vertroue geheel en al in God stel, soos ons al hoe meer tekens van die komende Groot Verdrukking sien – die werklike ramp wat die mensdom binnekort in die gesig sal staar. Malthus het ’n tyd van toekomstige rampe oor die bewoners van die aarde voorspel, maar tot dusver het sy voorspellings nie vrugte afgewerp nie. Dit beteken nietemin nie dat die mensdom “buite gevaar” is nie. God het met Sy oneindige kennis en wysheid voorsien dat die mens sal voortgaan om Sy “volmaakte wet van die vryheid” te skend om sodoende die plae van siekte, hongersnood, oorlog en nog baie meer oor homself te bring.

U kan egter die komende ramp vryspring. God sal beskerming teen die Groot Verdrukking aan diegene verskaf wat bereid is om te glo en te handel volgens wat hulle in God se Woord, die Bybel, lees. Om meer uit te vind, vra vandag nog vir ons gratis boekie, Die Tien Gebooie!