Baie Christene probeer vandag ’n onderskeid maak tussen die God van die Ou Testament en die persoon Jesus Christus. U Bybel toon tog dat Jesus Christus, wie van alle ewigheid af bestaan, die Persoon was wie met Abraham en Moses gepraat en die Tien Gebooie gegee het!


Die meeste godsdiensgeleerdes en kommentators ken die duidelike teksverse wat ons in hierdie artikel gaan bespreek, maar die meeste van hulle vermy hierdie teksverse soos die pes! Of aan die ander kant, maak hulle verbale “danspassies” om hulle – deur hulle kortliks aan te haal in tegniese kommentare – maar dan gaan hulle voort na “veiliger” onderwerpe sonder om hulle op die een of ander wyse meer volledig te bespreek.

HOEKOM?
Hoekom moet belydende Christenleiers bang wees vir die feit dat die Een wat Jesus Christus geword het, voortbestaan het saam met God die Vader sedert alle ewigheid? Dat Hy die God van die Ou Testament was, die God wat met Abraham en Moses gepraat het, die God van Dawid, die Een wat die Tien Gebooie werklik uitgespreek het? Waarombang wees vir hierdie duidelike Bybelleringe?

Ons sal die donker oorsprong vir hierdie vrees later bespreek. Eerstens moet ons egter die werklike oorsprong van Jesus Christus, die Een wat vir ons sondes gesterf het, verstaan. Wie was Jesus Christus werklik? Waarvandaan het Hy gekom? Waarom is Sy lewe so kosbaar dat dit as betaling vir ons almal – BILJOENE van ons – se lewens gesamentlik kon dien? Dit is baie belangrik om die waarheid oor hierdie onderwerp te verstaan, maar ook baie inspirerend!

Die oorsprong van Jesus Christus

Die apostel Johannes maak dit duidelik dat die Een wat Jesus Christus geword het, van ewig af bestaan het: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:1-3).

Hier dui Johannes aan dat die Woord – die Logos of Segsman – sedert die begin saam met God was. Hy was die skeppingsagent, wat namens God die Vader opgetree het om alles te skep wat bestaan. Later: “Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (verse 10-12).

In verskeie teksverse maak die geïnspireerde apostel Paulus dieselfde punt. In Kolossense 1:15-16 praat Paulus van Jesus Christus: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape”. Die boek Hebreërs vertel ons dat God “in hierdie laaste dae tot ons gespreek [het] deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het” (Hebreërs 1:1-2) en ook “maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer” (vers 8). Dan uiteindelik “U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande” (vers 10).

Let daarop dat in vers 8 hierbo Christus aangespreek word as “O GOD”. Hy word beskryf as die Een wat “ook die wêreld gemaak het” (vers 2) en wat “die aarde gegrondves” het (vers 10). Daar is absoluut geen aanduiding in enige van hierdie verse wat deur Paulus en Johannes geskryf is, dat hulle “digterlik” of metafories was nie! Hulle stel doodeenvoudig die feit dat die Persoon wat Jesus Christus geword het “in die begin” saam met die Vader was, dat Hy “die Woord” of Segsman vir die Vader was en dat ALLE dinge direk deur Hom, Jesus Christus, geskep is!

Hoe het dit alles gebeur?
As ons na Genesis 1:1 blaai, lees ons: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape”. Alle geleerdes weet dat dit die Hebreeuse woord Elohim, ’n meervoudsvorm van die selfstandige naamwoord – soos kerk of gesin – wat hier as “God” vertaal is, met ander woorde een gesin, vele gesinslede. Let nou op Genesis 1:26: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”.

Let daarop dat God sê: “Laat ONS mense maak na ONS beeld”. Beide die Vader en die Logos of “Woord”, wat later as Jesus van Nasaret gebore is, is hier ingesluit. Die Een wat Jesus Christus geword het, tree van die begin af in Sy handeling met die mensdom op, namens die Een wat ons God die Vader noem.

Ons sien dit ook in Genesis 18. Hier verskyn die Logos aan Abraham. Hy verskyn NIE in Sy volle heerlikheid in Sy handelinge met Abraham, Moses en andere nie, maar in ’n meer menslike vorm, hoewel tog met ’n “verskil”, sodat Abraham erken het dat hy met “die Here” te doen gehad het (verse 3, 27). Nadat die Here aan Abraham Sy begeerte om Sodom en Gomorra te vernietig weens hul perverse sondes bekend gemaak het, vra Abraham: “Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?” (vers 25).

Hier het Abraham verseker te doen met die Een wat Jesus Christus geword het, want Christus onthul Self later: “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee” (Johannes 5:22)! Abraham het sekerlik NIE met God die Vader te doen gehad nie, want die geïnspireerde Woord vertel ons “NIEMAND het ooit God gesien nie” (Johannes 1:18)!

Jesus Self sê: “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly. Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien? Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, IS EK” (Johannes 8:56-58). Die Jode het erken dat die uitdrukking “EK IS” na die God van Israel verwys het. Hulle het gedink dat Jesus nie net gelieg het nie, maar ook godslasterlik was. “Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig” (vers 59). Hierdie Jode was BLIND vir die feit dat die Persoon wat Jesus geword het, inderwaarheid die God van Abraham, Isak en Israel was! Hulle het daar gestaan besig om te praat met die Een wat hul God was en hulle het dit nie eens geweet nie!

Christus WAS die “God van Israel”

In Mattheus 22:42-45 daag Jesus die godsdiensleiers van Sy tyd uit: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n. Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete? As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun?” Die Fariseërs kon Hom nie antwoord nie, want hulle het geweet dat Koning Dawid van Israel definitief geenmenslike “heer” gehad het nie. Hierdie teksvers moes die twee persone in die Godfamilie beskryf het, waarvan Een groter is as die Ander. Dit behoort ook vir ons duidelik te wees dat Dawid se onmiddellike “Here” – die Een wat later Jesus van Nasaret geword het – vertel is om aan die regterhand van die Vader te sit TOTDAT dit tyd was vir Hom om Koning van konings te word.

Tog het die Jode geweet dat die komende Messias ’n letterlike “seun van Dawid” sou wees. Hoe kon hierdie een wat ook Dawid se “Here” was, steeds ’n “groter” Here hê wat Hom vertel wat om te doen?

In 1 Korintiërs 10:1-4 lees ons dat antieke Israel in Moses gedoop was en hulle almal “dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike ROTS wat gevolg het, en die ROTS was Christus”. Dit is weer eens duidelik, soos verskeie kommentare erken, dat die Geestespersoon wat met Israel van ouds gehandel het, die Een was wat Christus geword het, want soos ons gesien het, sê Jesus dat “niemand” “God” ooit gesien het nie en daardeur bedoel Hy die Een wat ons die Vader noem. Tog vind ons pas nadat die Tien Gebooie en sommige van die statute aan antieke Israel gegee is, die “God van Israel” inderdaad aan sommige van Israel se leiers verskyn het! “Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel. En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ’n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self. Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink” (Eksodus 24:9-11). So het meer as 70 van die leiers van Israel “die God van Israel GESIEN”. Kan enigiets duideliker wees?

Dit was die Een wat Jesus Christus geword het wat in die tuin van Eden letterlik met Adam en Eva gewandel en gesels het. Hy was die Een wat regstreeks met Abraham, Isak en Jakob gehandel het. Hy was die Een wat “mond tot mond” met Moses gepraat het (Numeri 12:8). Hy was die

Waarom word hierdie waarheid so selde erken?

Wanneer u die laaste sin in die paragraaf hierbo verstaan, kan u begin besef waarom so baie belydende priesters en predikante wegskram daarvan om die ware oorsprong van Jesus Christus te verduidelik. Byna almal van hulle is geleer dat die Tien Gebooie die produk van ’n wrede “God van die Ou Testament” was en dat Jesus op die een of ander manier “beter” as Sy Vader geweet het. In baie gevalle sê hulle eerder dat die apostel Paulus “beter geweet” het as beide Jesus en die Vader – en dat hy met God se Wet, die Tien Gebooie, weggedoen het.

Hierdie misleide mense mag opreg wees, maar hulle is “verblind” (2 Korintiërs 4:3-4), nes die GANSE wêreld. Onthou u Jesus se opdrag oor die meeste van die godsdiensleiers van Sy tyd: “Laat hulle staan; hulle is BLINDE leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val” (Mattheus 15:14).

Dit is ’n verleentheid vir mense wat onderrig is dat die Tien Gebooie mee weggedoen is, om te erken dat dit die Een was wat Jesus Christus geword het, wat die Tien Gebooie in gekodifiseerde vorm aan Moses gegee het. Hy is die Een wat as deel van God se groot geestelike wet gebied het: “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die SEWENDE dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Eksodus 20:8-11).

Die meeste leraars verstaan dat God, deur Christus, Sy mense spesifiek opdrag gegee het om die sewende dag te onderhou, NIE net enige dag nie. Hulle weet dat Jesus tydens Sy hele menslike leeftyd die sewende-dag Sabbat onderhou het – dieselfde dag wat die ander Jode onderhou het! Hulle besef moontlik ook dat die oorspronklike apostels die sewende-dag Sabbat onderhou het. Tesame met talle ander gerespekteerde geleerdes, erken algemene Protestantse kerkhistorikus Jesse Lyman Hurlbutt: “Vir so lank as wat die kerk hoofsaaklik Joods was, is die Hebreeuse Sabbat onderhou” (The Story of the Christian Church, bl. 45).

Weereens verstaan die meeste leraars dat die geïnspireerde skrywer van Hebreërs ons vertel: “Jesus Christus is gister en vandag DIESELFDE en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8) en hulle weet dat nóg Jesus, nóg die apostels nooit probeer het om “weg te doen” met die Bybelse Sabbat nie. Indien hulle sodanige poging sou aanwend om ’n VERNAME lering wat van God se eie hand gekom het, omver te gooi, sou die Jode in die omgewing betoog het en hulle genadeloos vervolg het, hulle NIE toegelaat het om verder in die tempel te aanbid soos hulle vir baie jare gedoen het nie en hulle sou vinnig as ketters en WETTELOOS bestempel word. Die geweldige OMWENTELING wat so ’n optrede tot gevolg sou hê, sou die Joodse ontsteltenis oor besnydenis wat in Handelinge 15 beskryf is, by vergelyking na ’n piekniek laat lyk het!

Geen sodanige verandering in God se geestelike WET is natuurlik ooit bespreek of deur Christus of die apostels ingestel nie. Vir ’n kwarteeu ná die kruisiging en nadat die Heilige Gees oor die vroeë kerk uitgestort is om dit te lei, was die oorspronklike Christene steeds “yweraars” vir die WET (Handelinge 21:20). Selfs die apostel Paulus was steeds gehoorsaam aan die geestelike wet van God, die Tien Gebooie. Let op die geïnspireerde vertelling van die opdrag deur die “hoofkantoor” se apostel Jakobus, aan Paulus gegee: “... en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou” (Handelinge 21:24).

Die logiese gevolg van hierdie WAARHEID

Indien alle belydende Christene in die WAARHEID onderrig word dat die Een wat hul Redder geword het, die Een is wat die Tien Gebooie gegee het, sal hul optrede miskien heel anders wees. Die wêreld sal moontlik ’n BAIE veiliger plek wees! Almal sal moet besef dat ware Christenskap ’n WETSGEHOORSAME godsdiens is, ’n LEEFWYSE gegrond op die groot geestelike Wet van God. Hulle sal leer dat, alhoewel niemand skielik volmaak is nie en ons opdrag gegee word om in God se karakter te GROEI, dit moontlik is om Christus se geïnspireerde voorbeeld te volg deur Sy Gees in ons.

Die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus LEEF in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Christene sou dan die geliefde apostel Johannes se verduideliking van God se eie liefde en HOE dit funksioneer, verstaan: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie BEWAAR; en sy gebooie is nie swaar nie” ( 1 Johannes 5:3). Hulle sou Johannes se geïnspireerde stelling in Openbaring 14:12 met nuwe begrip lees: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus BEWAAR”.

Die ware Christus wat duidelik in die Bybel onthul word, het saam met die Vader bestaan sedert alle ewigheid. Hy en die Vader het tesame die skepping van die mens beplan. Die Logos, wat Christus geword het, praat vir Homself en die Vader wanneer Hy sê: “Laat ONS mense maak na ONS beeld” (Genesis 1:26). Omtrent 4 000 jaar later was die Logos gewillig om die onbeskryflike heerlikheid, mag en majesteit wat Hy altyd met die Vader gedeel het, op te offer.

Korrek vertaal, vertel Paulus ons dat Christus Homself “geledig” het en dan “deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Filippense 2:7-11).

Jesus sê: “Ek en die Vader is EEN” (Johannes 10:30). Dus het die Een wat heeltemal “een” was met God – en wat GOD was – “Homself geledig” om ons Redder te word. Sy lewe is waarlik meer werd as AL ons lewens gesamentlik, omdat Hy nie net die menseras geskep het nie, maar ook die ganse heelal. Deurdat Hy ons met Sy dood aan die kruis gekoop en betaal het, “besit” Christus ons dubbeld en dwars. Hy is ons Skepper. Hy is ons God. Hy is ons Meester.

Na die dood van die oorspronklike apostels het daar ’n groot afvalligheid gekom wat die naam van “Christendom” oorgeneem het. Die duidelike leringe en voorbeelde van Christus en die apostels is verander. Die konsep dat Christus ’n werklike “Meester” was, is tot niet gemaak en permanent verander. Daar was begin om Hom as ’n “Heer” te beskou, wat geen gehoorsaamheid aan die einste geestelike WET – die Tien Gebooie – wat Hy vir die mensdom gegee het, verlang het nie. Sy duidelike en volgehoue lering “Maar as jy in die lewe wil ingaan, ONDERHOU die gebooie” (Mattheus 19:17), was nou mee weggedoen, verduidelik slegs as ’n opdrag aan die Jode. Dieselfde met die kragtige stellings van die apostel Johannes, soos “Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:4). Hierdie duidelike stellings was verduidelik as slegs van toepassing op die “gees” van die wet of op die een of ander “nuwe” gebod van Jesus. Wanneer u egter hierdie nuwe gebooie bestudeer, is hulle net uitbreidings van die Tien Gebooie, wat Jesus Self op die berg Sinai gegee het. Weer eens “Jesus Christus is gister en vandag DIESELFDE en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8).

Mag God almal wat hier lees help om te VERSTAAN en te reageer op die ware Jesus Christus van die Bybel. Soos Hy sê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Indien u werklik die Christus van die Bybel wil gehoorsaam, skryf vandag aan ons en versoek u GRATIS eksemplaar van ons baie onthullende en goed nagevorsde boekie, Watter dag is die Christelike Sabbat?

In hierdie publikasie is ons betrokke in die hervestiging van die Christenskap van die Apostels, die godsdiens wat Jesus en die apostels werklik onderrig en beoefen het. Die Lewende Jesus Christus – die Een wat vir ewig saam met die Vader bestaan het – is die Een wat u sal leikrag gee en seën INDIEN u doen wat Hy sê en Hom aanbid, nie net as Redder nie, maar as Heer en Meester, nou en vir ewig.