“In 1405 het die Ming dinastie se admiraal Zheng He met 27 800 matrose onder sy bevel, wat 62 groot Chinese skepe beman het, onder seil gegaan vir ’n seevaart wat hom deur die grootste deel van Suid-Asië geneem het. “Oor die volgende 28 jaar het Zheng He se eskader ses ander groot seevaarte aangedurf. Dit was ’n weergalose versameling van seemag. Die skepe, wat kollektief as ‘swemmende drake’ beskryf was, het gespog met soveel as nege maste elk; en die grootste een van hulle kon 1,000 mense aan boord neem. Hulle was besaai met drake-oë om hulle te help ‘sien’ en het soldate, dokters, kokke, tolke, sterrekundiges, handelaars en heilige manne aan boord gehad. Die senior kapteins was eunugs. Die ekspedisie het bykans 300,000 km afgelê, rofweg 7½ omvarings van die wêreld” (“In the Wake of the Admiral,” TIME Magazine, 20-27 Augustus 2001). Zheng He se seevaarte het handels en diplomatieke bande met 35 lande vir China geopen en het die weg gebaan vir Chinese immigrasie regdeur Suidoos-Asië. Maar na sy afsterwe (iewers tussen 1433 en 1436), het China skielik teruggekeer na sy afgesonderde verlede en sy voorrang as seemag verloor.

Ses honderd jaar later is China nou gereed om ’n toonaangewende seemoondheid in die Stille Oseaan te word. ’n Opnuut besielde “Volksbevrydende Vloot” beoog nou om ’n ware “diepwater” vloot te word – ’n oseaan-varende vloot wat in staat sal wees om sy mag te projekteer ver buite sy kusgebiede. Wat hou dit in vir die toekoms van Amerikaans-Chinese verhoudings? Moet die Verenigde State China verwelkom as ’n vennoot in die wêreldwye ekonomiese gemeenskap, of as potensieel ’n dodelike mededinger? Sal die Verenigde State voortgaan om, vir die volgende paar dekades, ongeëwenaarde militêre oppermag in die Stille Oseaan te geniet? Kan u Bybel enige lig op dit alles werp?

Wedywering om beheer van die golwe

Namate China se huidige militêre ambisies die status quo van die Oos-Asiatiese militêre balans verander, hoe sal die ander Suid-Asiatiese nasies daarop reageer? Baie van China se bure bejeën nie sy groeiende invloed gunstig nie. Skrywers Andrew Nathan en Robert Ross merk op: “China is ’n reuse land, in die middel van sy streek geleë en omring deur onafhanklike, selfgeldende, kleiner lande wat meestal van China verskil, beide etnies en ideologies. Sy streekverhoudings word gekenmerk deur wantroue. China het histories invloed uitgeoefen in baie nabygeleë lande wat hulle versigtig maak vir sy hedendaagse opkomende mag” (Great Wall and Empty Fortress: China’s Search for Security, bl. 8). Sal streeks Asiatiese wedywerings verander in uit-en-uit kompetisie om beheer oor seestrate? Kan jaloesie en wantroue oorlog ontketen tussen wedywerende Stille Oseaan-nasies wat probeer om hul belange te beskerm?

Dit gebeur alreeds! Ses verskillende Suid-Asiatiese lande maak aanspraak op dele van die potensieel olie-ryke Spratlie- en Parasel-eilande – insluitende China – en botsings daar is nie seldsaam nie. Twintig jaar gelede het meer as 70 Viëtnamese matrose in die Spratlie-eilande gesterf in ’n gewapende geveg met Chinese skepe. In 1999 het China die Filippynse Vloot gewaarsku dat hulle geweld sal gebruik indien die Filippyne nie ’n skip, wat gestrand het in die gebied waarop China aanspraak maak, verwyder nie (“RP Navy blinks, sends tugboats to tow ‘Benguet’,” Today, 16 November 1999). Die Filippynse Verteenwoordiger, Roilo Golez het die Chinese dreigement om geweld te gebruik, venynig gekritiseer: “[China] gebruik nou sy militêre spiere om klein, hulpelose nasies uit die pad te elmboog, sodat hy die hele Suid-Chinese See sy eie meer kan maak. Die tier is altoos op die uitkyk vir klein Tibette om te verslind” (ibid.)

China se verhouding met Japan is ook met spanning belaai. In China: Fragile Superpower, skryf Susan Shirk: “Verhoudings tussen China en Amerika se nouste bondgenoot, Japan, het oor die laaste paar jaar gevaarlik bitsig geword. Die vaartuie van die Chinese Volk se Bevrydingsvloot het begin om die waters van die Oos-Chinese See te patrolleer, naby die Diaoyu-eilande, waarop beide China en Japan aanspraak maak” (bl.4). Dosyne Koreaanse soldate het ook in 1999 en 2002 gesneuwel in gevegte oor ander betwiste seegrens.

Van wedywering tot wapenwedloop

Dit is egter nie net toevallige geskille wat beleidmakers in Amerika verontrus nie. Die uitbreiding van wapen-ophoping – nie net deur China nie – in ’n alreeds plofbare omgewing, is meer kommerwekkend. Terwyl China voortgaan om teen ’n ontstellende tempo militêre uitbreiding na te jaag, merk Jane’s Fighting Ships op dat ander “vlote van Suidoos-Asië ook ‘aan die beweeg’ is. Indonesië beoog om sy vloot binne vyf jaar met 20 000 matrose en 10 000 seesoldate uit te brei, terwyl Singapoer se eerste duikboot so pas in April vervoer is na sy tuisbasis en die tweede sal in 2001 volg ... Taiwan en Korea spandeer meer op skepe en tegnologiese toerusting, terwyl Japan sy verdedigingstrategie verander het om voorsiening te maak vir aanvalsvoorkoming teen vyandige projektielbasisse, nadat twee Noord-Koreaanse spioenskepe sy gebiedswaters verlede jaar binnegedring het” (“ ‘Sudden’ East Asia violence feared,” Today, 10 Mei 2000). Teen 1997 het Thailand selfs ’n vliegdekskip, genaamd Chakri Narvebet, aangeskaf (“Force Modernization Trends In Southeast Asia,” Institute of Defence and Strategic Studies working paper, Januarie 2004).

Indië, China se suidelike buurman, brei ook sy vlootvermoë uit. “Die Indiërs is bang China se rede om hawens in Myanmar, Parkistan en Sri Lanka te bou en vlootoefeninge saam met Parkistan uit te voer, is om sy oorheersing tot in die Indiese Oseaan uit te brei.... Op sy beurt druk Indië in die Suid-Chinese See in en soek hawegeriewe in Viëtnam” (“Into the wide blue yonder,” The Economist, 5 Junie 2008).

Lewensnoodsaaklike, kwesbare seestrate

Wat veroorsaak hierdie vloot-opbouing in Suid-Asië? Waarom die groeiende belangstelling in beter militêre bates en vermoëns vir die vloot? Een rede is eenvoudig die ekonomiese groei van die betrokke lande. Ekonomiese oplewing het die finansies voorsien wat die lande nodig het om hulle militêre magte op te gradeer en te ontwikkel. Namate nasies sien dat China en ander bure beter militêre vermoëns bekom, word hulle gemotiveer om ook tred te hou.

Nog ’n rede vir vlootopbouing, is die onttrekking van die Amerikaanse magte uit basisse in die streek. In 1992 het Amerika uit die Clarke Lugmagbasis en die Subicbaai Vlootbasis in die Filippyne onttrek. In 2004 is ’n plan in werking gestel sodat Amerika ’n derde van sy magte uit Suid-Korea kan onttrek. “Die afskaling van Amerikaanse magte behoort die neiging wat nou al ’n paar jaar aan die gang is, te bespoedig, sodat die Suid-Koreane meer verantwoordelikheid vir hul eie verdediging kan aanvaar” (“Analysis: US troops on the move,” BBC News, 7 Junie 2004). Soos die Verenigde State plaaslike magte aanmoedig om meer verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie verdediging, was daardie nasies verplig om ’n sterker vloot-teenwoordigheid te ontwikkel.

Nog ’n rede vir die vlootopbouing is die groeiende waardering van wesenlike seestrate, veral kritieke “vernouingspunte” soos die Straat van Malakka. Suidoos-Asiatiese lande hou lankal reeds rekening met seerowers, maar die spook van wêreldwye terrorisme voeg nou ’n dringendheid by om kwesbare kommersiële seevervoer te beskerm. Namate die ekonomie groei – saam met die dors na olie om dit te voed – het China ’n vurige belang daarby om sy kommersiële belange te beskerm deur ’n werklik oseaanvarende vloot. Rofweg 30 persent van alle internasionale handel vaar deur die nou, 550myl [990km] lange Straat van Malakka. Olietenkskepe wat deur die Straat vaar vervoer 80 persent van die olie wat deur beide Japan en China benodig word. Terwyl China se vloot huidig nog die vermoë kortkom om die seestraat wat China se olie vanaf die Midde-Ooste vervoer, te beskerm ... bespreek hulle reeds maniere om dit in die toekoms te kan doen” (“China speeds pace of military buildup,” Washington Times, 3 Maart 2008).

Die Verenigde State het ook ’n belang daarby dat hierdie Seestraat vry van seerowers en terroriste bly. In werklikheid het die Amerikaanse vloot in September 2007 ’n klemverskuiwing in sy seestrategie aangekondig en gevaarplekke soos die Straat van Malakka in die kern van die strategie geplaas. Skrywer Richard Halloran wys daarop dat die nuwe vloot-dogma afhang van die vermoë om skepe vinnig, wanneer benodig, tussen die westelike Stille en die Indiese Oseane te kan beweeg (“Pacific Choke Point,” Air Force Magazine, Julie 2008).  Die Straat van Malakka is die natuurlike “vernouingspunt” tussen die twee en moet, om strategiese redes, onbelemmerd bly.

’n Honderd jaar in die Stille Oseaan

Maar wat beteken dit alles en waarheen is dit oppad? Sal China en ander Suid-Asiatiese nasies met die Verenigde State saamwerk om blywende vrede en veiligheid in die streek te smee? Of sal botsende nasionale belange en verstrengelde bondgenootskappe – weer ’n keer – lei tot onvermydelike oorlog in die Stille Oseaan? Watter rol gaan die Verenigde State daarin speel?

Die Verenigde State het vir langer as 100 jaar ’n vloot-teenwoordigheid in die Stille Oseaan gehandhaaf. Sedert die wending van die 20ste eeu het die Amerikaanse President, Theodore Roosevelt, hom dit ten doel gestel om wêreldwye oppermag vir die Verenigde State te bekom deur ’n sterk en aggressiewe vlootgevegsmag. In sy eerste jaarlikse toespraak aan die Kongres het hy kragtig bevestig dat geen deel van sy beleid meer belangrik is as uitbreiding van die vloot nie.

Dit was onder President Roosevelt se aanvoering dat 16 Amerikaanse oorlogskepe – gedoop as “Die Groot Wit Vloot” as gevolg van die kleur van die skeepsrompe – op 16 Desember 1907 uitgevaar het op ’n om-die-wêreld toer. Roosevelt se doel was om aan vriend en vyand saam te toon dat die Verenigde State oor die vermoë beskik om sy militêre mag ver buite sy grense aan te wend.

Vier dekades later is die Verenigde State se vlootvermoëns en volharding tot die uiterste beproef. Die Imperiale Japanse vloot, in hulle strewe om die meesters van die Asiatiese Stille Oseaan gebied te word, het Pearl Harbor op 7 Desember 1941 aangeval en die Verenigde State in die Tweede Wêreldoorlog gedompel. Na drie-en-’n-halfjaar van bloedige lug, land en seegevegte het Japan oorgegee nadat twee Amerikaanse atoombomme op Hirosjima en Nagasaki geval het. Die Verenigde State het uit die oorlog getree as die dominante seemoondheid in die Stille Oseaan.

Tot vandag toe het Amerika die uitnemendste seemoondheid in die Stille Oseaan gebly. Die Verenigde State se Stille Oseaan-vloot – die wêreld se grootste vlootmag – se hoofkwartier is in die Makalapa Krater, naby Pearl Harbor, Hawaii. Bestaande uit ongeveer 190 skepe, 1 400 vliegtuie, en meer as 213 000 siviele en militêre personeel wat op die skepe en meer as 35 kus-installasies dien, patrolleer hierdie vloot ’n oseaan wat omring is deur 39 onafhanklike nasies, waar ook ses van die wêreld se grootste weermagte (die Volksrepubliek van China, die Verenigde State, Rusland, Indië, Noord-Korea en die Republiek van Korea) geleë is. Sy verantwoordelikheid dek ’n gebied van ongeveer 50% van die aarde se oppervlakte: 105 miljoen vierkante myl en 16 tydsones.

Maar waar het die Verenigde State hierdie indrukwekkende vloot-vaardigheid vandaan gekry? Wat het Amerika se verstommende opkoms as ’n seemoondheid in die Stille Oseaan veroorsaak? Die antwoord op daardie vraag bevat ook die wesenlike antwoord op wat die toekoms vir Amerika inhou!

Intekenaars op Die Wêreld van Môre verstaan dat toe die noordelike tien stamme van antieke Israel gevange geneem en deporteer is deur die antieke koninkryk van Assirië, hulle nie werklik “verdwyn” het nie. Jesus Christus en die Apostels het geweet waar die ontwortelde Israeliete hulle bevind het. Christus het hulle die “verlore skape van die huis van Israel” genoem (Mattheüs 10:6). Hulle het tot anderkant die Eufraatrivier migreer (lees “Vind die ‘Verlore’ Stamme van Israel” op bladsy ... van hierdie uitgawe). Twee van daardie stamme – Efraim en Manasse – het spesiale seëninge ontvang (lees “Wie is u werklik?” op bladsy ... van hierdie uitgawe).

Waar het Amerika se militêre mag in die Stille Oseaan vandaan gekom? Van President Roosevelt se aggressiewe beleide? Deur die Tweede Wêreldoorlog in die Stille Oseaan te wen? Of was dit omdat die Verenigde State deel is van hedendaagse Josef wat geprofeteer is om geseënd en versterk te wees deur die hand van God?

Amerikaners moet nie mislei word om hovaardig te dink dat hulle militêre en ekonomiese sukses uit hulself gekom het nie – terwyl God uitdruklik sê dat hierdie seëninge van Hom af kom. Toe die antieke Israeliete hulself voorberei het om die Beloofde Land binne te gaan, het Moses hulle gewaarsku om die Bron van hul seëninge te onthou: “Want jy is ’n volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die Here het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het” (Deuteronomium 7:6-8).

Indien God – deur Sy beloftes aan Abraham, Isak en Jakob – die Bron van Amerika se nasionale seëninge is, wat sal met Amerika se krag gebeur as die nasie God die rug toekeer? Wat gebeur met ’n volk wat Sy gebooie verwerp, openlik sedeloosheid beoefen, Sy Sabbatte skend en selfs Sy bestaan ontken? Sal Hy dié nasie deur verdere oorloë beskerm indien dit Hom vermy en Sy naam vervloek? Let op wat Moses aan Amerika se voorvaders gesê het: “die Here [het] julle met ’n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. Jy moet dan weet dat die Here jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte. Maar aan die wat Hom haat, aan elkeen persoonlik, vergeld Hy dit, om hom te vernietig; Hy sal met sy hater nie versuim nie, hom persoonlik sal Hy dit vergelde. Hou dan die gebod en die insettinge en die verordeninge wat ek jou vandag beveel om dit te volbring” (Deuteronomium 7:8-11).

Dus, wat is die vooruitsig vir Amerika se oppermag in die Stille Oseaan? Sal die Verenigde State geseënd wees in sy pogings om sy bondgenootskappe ongeskonde te hou en sy kommersiële seestrate oop, indien Amerikaners volhard om God te laster in hul persoonlike en nasionale lewens?

Sal Amerika die poorte beheer?

Skrywer Richard Halloran skryf dat die Straat van Malakka “’n buitengewone vernouingspunt vorm wat in die skaduwee van gewapende seerowers, staatlose terroriste en nasionale gewapende magte bestaan. Indien die wêreld vir ’n lang tydperk toegang daartoe verloor, sal die gevolge vir die nywerheidslande, insluitende die Verenigde State,rampspoedig wees [ons beklemtoning]” (“Pacific Choke Point,” Airforce Magazine, Julie 2008).  Terwyl verskillende vlootmagte in die Stille Oseaangebied wedywer om beheer oor die kosbare, kwesbare seestrate – die lewensbloed van die wêreld se ekonomie – wat sal gebeur indien die Verenigde State beheer oor hierdie aller belangrike vernouingspunt verloor?

U Bybel bevat ’n baie interessante profesie aangaande Rebekka, toe sy haar voorberei het om met Abraham se seun, die aartsvader Isak, te trou. God het belowe om Abraham ’n groot nasie te maak, met afstammelinge “soos die sand van die see” (Genesis 32:12). Rebekka is hierdie seën gegee: “En hulle het Rebekka geseën en aan haar gesê: Ons suster, mag jy duisende van tienduisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!” (Genesis 24:60).

“Poorte” verteenwoordig “vernouingspunte” wat die vloei van verkeer beheer – ekonomies en militêr – deur die land of die see. Sonder om die  nywerheids en militêre vervoer deur die “poorte” te kan beheer, het ’n land min beheer oor sy eie lotgevalle. Bybelse profesieë toon dat God aan hedendaagse Israel beheer gegee het oor die “poorte” van hul vyande – insluitende die Panamakanaal, die Suezkanaal, die Straat van Ormuz, die Straat van Gibraltar en die Straat van Malakka. Sal Amerika voortgaan om in die toekoms ’n leidende rol te speel in die verdediging van die Straat van Malakka? Dit hang alles af van die nasie se getrouheid en gehoorsaamheid aan die God wat aan die nasie die poorte in die eerste plek gegee het. Sal God voortgaan om Amerika te seën met die strategiese “vernouingspunte” van die wêreld se seestrate, indien sy bevolking straffeloos owerspel bedryf, moord pleeg, steel en bedrieg?

Richmond Pearson Hobson, Skout-admiraal in die Amerikaanse vloot, wat ook nog vyf termyne in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers gedien het, was ’n sterk ondersteuner van President Theodore Roosevelt in sy strewe om Amerika se vloot nie net die beste in die wêreld te maak nie, maar ook een wat baie meer gevorderd is as enige ander een op die aarde. In 1902 skryf hy: “Die vinger van die noodlot wys vorentoe. Amerika sal die beherende wêreldmag wees, wat die spook van die see sal bylê, en met wonderlike weldadigheid sal regeer deur die rigtinggewende beginsels van ’n maksimale diens aan die wêreld. Sy sal alle nasies van die aarde help” (Teddy Roosevelt’s Great White Fleet,  James Beckner, bl. 4).

Kongreslid Hobson se visie van ’n magtige Amerikaanse vloot is bewaarheid vir die grootste deel van die eeu. Maar nie as gevolg van die noodlot, lotsbestemming, harde werk of onselfsugtige beginsels van welmenende mense nie – Amerika se mag is verkry as die gevolg van die geestelike gehoorsaamheid van die aartsvader Abraham en God se getroue belofte om sy nageslag te seën. Sy seëninge sal spoedig verlore wees – en Amerika sal baie meer verloor as net beheer oor die Stille Oseaan – indien sy bevolking in gebreke bly om beheer te neem oor hul geestelike toestand in die huis, individueel sowel as nasionaal.