Frustrasie, vernedering – dan wanhoop. Mohamed Bouazizi het probeer, om as ’n straatsmous, sy gesin te onderhou, toe Tunisiese polisie sy groentekarretjie en produkte gekonfiskeer het. Hulle het beweer dat hy nie ’n permit gehad het nie. Toe Bouazizi gaan kla, is hy na wat berig word, geklap en verneder deur ’n vroulike munisipale amptenaar. Op 17 Desember 2010 het hy uit protes, homself verbrand in ’n daad van self-opoffering wat aanleiding gegee het tot ’n golf van protes – wat gelei het tot die val van Tunisië se 26-jaar-oue Ben Ali bewind. Dit was die vonk wat ’n verdere reeks proteste regoor die Midde-Ooste laat ontvlam het in wat sommige mense die “Tunisiese Wind” genoem het.

Hoe sal hierdie proteste uiteindelik opgelos word? Sal die “Tunisiese Wind” ’n storm van radikale Islamisme word wat die politieke en maatskaplike landskap van die Midde-Ooste sal verander? Kommentators sukkel om ’n verband te vind, maar min mense besef dat Bybelse profesieë antwoorde bied wat nêrens anders beskikbaar is nie.

Sekulêre ontleders wys herhaaldelik daarop dat niemand die verloop van die gebeure kan voorspel nie, hulle kan slegs ’n raamwerk gee van moontlike opsies. Sommige mense skep moed as hul slegs die geringste aanduiding vind dat vandag se onstabiliteit kan lei tot die vorming van Westerse-styl demokrasieë. Andere verwag weer om te sien dat meer nasies sal terugkeer na diktatorskappe. Byna almal erken nogtans die moontlikheid – en die gevaar – dat meer “Islamitiese” regerings op die horison mag wees.

“Islamitiese” politieke filosofie maak voorspraak vir die bestuur van nasies (en uiteindelik die hele wêreld deur bekering of verowering) deur die eeue-oue Shariawet, gebou op die fondament van die Moslemse heilige boek, die Koran. ’n Handjievol nasies word reeds bestuur deur een of ander vorm van die Shariawet, insluitend Afganistan, Iran, Saoedi-Arabië, Soedan en Jemen. Ander lande soos Egipte, Marokko, Jordanië, Pakistan, Sirië, Katar en die Verenigde Arabiese Emirate, het die Shariawet vermeng met ander stelsels.

Sommige Moslems, veral diegene wat in lande woon waar Islam ’n minderheidsgodsdiens is, bely dat hulle geloof nie van hulle verwag om aan te dring op die instelling van die Shariawet nie. Hulle word gewoonlik bestempel as “gematigdes” in teenstelling met diegene wat ten gunste is van streng Islamitiese wette. Wat ons tans in die Midde-Ooste sien, word deur baie mense beskou as die opkoms van die Islamiete en die wegkwyning van die “gematigde” Moslems.

’n Lunspen (die spil waarom alles draai) verwyder?

Met die uitsondering van Israel en Turkye, het die lande van die Midde-Ooste histories outoritêre regerings gehad. Onderdrukking, armoede en korrupsie het voortdurend aanleiding gegee tot verstaanbare ontevredenheid. Nou swiep verandering egter deur die streek. In Februarie 2011, ná drie dekades van outoritêre bewind, was President Hosni Mubarak van Egipte deur sy eie weermag, wat opgetree het met die wydverspreide gewilde steun, uit sy amp gedwing. Soortgelyke onrus het ook versprei na ander lande.

Egipte was die lunspen van die Amerikaanse geopolitiek in die Midde-Ooste, sedert die 1979 Egipte-Israel Vredesverdrag, waarvolgens Israel die Sinaï Skiereiland gebied wat verower was tydens die Sesdaagse Oorlog van 1967, aan Egipte teruggegee het – ’n konflik wat ’n ramp was vir Egipte. In ruil het Egipte ingestem om Israel se reg op bestaan te erken.

In verband met hierdie verdrag, het Amerika ingestem om massiewe finansiële hulp aan Egipte te verleen – in die omgewing van US$1.3 miljard jaarliks, waarvan die meeste na die Egiptiese weermag gegaan het om die opeenvolgende regimes aan bewind te hou. Ons moet onthou dat die heersers van Egipte oor die afgelope halwe eeu – Gamal Abdel Nasser, Anwar Sadat en Hosni Mubarak – almal militêre offisiere was, wat hoofsaaklik deur militêre ondersteuning die mag behou het.

Hierdie verdrag het Egipte toegelaat om Amerikaanse toerusting en wapens te verkry, wat in stand gehou moes word deur Amerikaanse onderdele en onderhoudskontrakteurs. Egipte kon nie langer bekostig om Israel aan te val nie omdat, tensy Amerika sou voortgaan met sy massiewe befondsing, Egipte se weermag vinnig tot stilstand sou kom, wat dan die Egiptiese heersers se outoritêre beheer oor hul nasie in gevaar sou stel.

Sonder Egipte as ’n potensiële aggressor, is die vooruitsig van ’n Arabiese militêre verowering van Israel baie minder haalbaar. Dus, vir meer as 30 jaar is ’n ongemaklike vrede tussen Egipte en Israel gehandhaaf. Was dit nogtans ’n gewilde vrede? Ons moet onthou dat, as gevolg van sy vredespogings, Egipte se Sadat op 7 Oktober 1981 vermoor is deur ’n groep Islamitiese nasionaliste wat bande het met die Moslem-broederskap.

Die winde van verandering waai

Die Egiptiese weermag staan nou voor ’n gedugte taak – post-Mubarak moet die skyn van verandering bewaar, terwyl die ou ooreenkoms funksioneel in plek bly. Dit mag baie moeilik wees, in die lig gesien van die winde van Islamisme wat oor die Midde-Ooste waai. Revolusies kan onvoorspelbare gevolge hê, en word dikwels gekoöpteer deur vyandige magte.

Neem maar die geval van Iran in ag. Soos Gerald F. Seib berig in die Wall Street Journal: “Dit word nou dikwels vergeet, maar die pad van Iran se rewolusie was nie uit die staanspoor duidelik nie. Aanvanklik was die post-revolusionêre regering gelei deur sekulêre linksgesindes. Dit het maande en ’n nasionale referendum gekos om te beslis of Iran ’n Islamitiese republiek sal wees, en nog langer om ’n Islamitiese grondwet te skryf. Uiteindelik was dit nie tot die aanklag teen sekulêre President Abulhassan Banisadr in 1981, dat die geestelike oorheersing in die Iranse regering duidelik geword het nie” (“Capital Journal”, Wall Street Journal, 1 Februarie 2011, bl. A8).

Hoe dit ookal sy, Egipte se volgende krisis mag finansieel eerder as polities wees. Die weermag is tans stewig in beheer van die land, maar dit beheer nie die internasionale leners wat Egipte staande gehou het nie. Net soos Griekeland, Ierland, Portugal en Spanje, het Egipte ook geld geleen teen ’n nie-volhoubare koers – 7% tot 9% van die BBP – en sy skuld is aan die toeneem. Daar is berig dat Egipte se weermag lenings by Egiptiese banke aangegaan het – lenings wat hulle nie van plan is om ooit terug te betaal nie. ’n Volwaardige krisis van bank- en soewereine skuld mag onafwendbaar wees in Egipte.

’n Trem genaamd demokrasie

Recep Tayyip Erdogan, tans premier van Turkye, was voorheen ’n radikale Islamiet. Hy het een keer gegrap: “Demokrasie is soos ’n trem. Jy ry dit totdat jy by jou bestemming kom en dan klim jy af” (“Moment of Truth for the EU and Turkey”, Turkish Daily News, 10 November 2006). Tans ondersteun Erdogan ’n gematigde Islamisme in Turkye, maar in sy beleid is hy vyandig teenoor Israel en goedgesind teenoor die radikale Iranse leier, Mahmoud Ahmadinejad.

Turkye se aanspraak op volle EU-status word sedert 2006 vertraag. Sedertdien vrees sommige mense dat Erdogan se administrasie sy rug op die weste kan draai en ooswaarts kan kyk. Turkye se weermag was voorheen die bolwerk om die nasie se sekularisme te ondersteun, maar onder Erdogan is die weermag se politieke mag aansienlik verminder.

Dikwels wanneer nasies met ’n Moslem-meerderheid die geleentheid het om demokratiese verkiesings te hou om hulle regering te kies, verkies hulle Islamitiese kandidate – selfs wanneer daardie kandidate teen die einste demokrasie is wat hul verkiesing moontlik gemaak het. In 2006, toe kiesers in die gebiede van die Palestynse Owerheid lede vir die Palestynse Wetgewende Raad moes kies, kon hulle kies tussen die Fatah party, wat Israel se reg om te bestaan erken, en die Hamas party – ’n Islamitiese groep wat heftig gekant bly teen Israel se bestaan. ’n Meerderheid het vir Hamas gestem. Sedertdien het Hamas se steun toegeneem onder die Palestyne, en baie min mense glo dat die organisasie werklik verbind is tot demokrasie. Stemme of nie, word dit aanvaar dat Hamas voort sal gaan om aan te dring op sy agenda vir Islamitiese teokrasie en Shariawet – ’n Kalifaat in die kleine.

Wat is die Kalifaat?

Die term Kalifaat beteken: Die “heerskappy van ’n Kalief” en verwys na die regeringstelsel wat oorspronklik gevestig was onder Islam. Onder die Kalifaat, is die hoof van die staat die Kalief wat volgens die Islamitiese wet, ook bekend as Sharia, regeer.

Die meerderheid Moslems behoort aan die Sunni-tak van Islam, wat leer dat die hoof van die staat – die Kalief – gekies moet word deur Moslems of hul verteenwoordigers. Aanhangers van die minderheid, die Sjiïtiese-tak, hou egter vol dat die Kalief ’n imam (geestelike leier) moet wees wat ’n direkte afstammeling is van die huishouding van Mohammed.

In historiese praktyk het Kaliefs as ’n reël egter nie aan een van hierdie vereistes voldoen nie. Na die eerste vier Kaliefs wat op Mohammed gevolg het, was daar dikwels twee gelyktydige Kaliefs, wat as hoofde van hul vorstehuise regeer het, nie veel anders as Europese koningshuise nie. Die instelling van die Kalifaat het tot in die 20ste eeu voortgeduur, met die laaste Kalifaat wat in 1924 afgeskaf is deur die sekulêre Turkse Republiek.

 Natuurlik, net soos baie “christene in naam” slegs minimaal betrokke is by hul geloof, so is daar ook onder die Moslems ’n breë spektrum van geloof en praktyk. Aan die een uiterste is daar “kulturele Moslems” wat hoofsaaklik sekulêr is en wie se geloof weinig meer is as ’n uitdrukking van hul nasionale of familie tradisies. Aan die ander uiterste is daar militantes wat hoop om soveel moontlik van hul vyande dood te maak voordat hulle self sterf as martelare vir die verspreiding van die Islamitiese teokrasie oor die wêreld. In die middel is miljoene getroue Moslems wat daarna streef om hulle eeue-oue geloof getrou uit te leef, terwyl hulle aanpas by die realiteite van die moderne samelewing.

Dus, watter persentasie Moslems sal die herinstelling van die Kalifaat ondersteun? Onthou, slegs omtrent 315 miljoen Moslems – 20.1% van die wêreld se 1.57 miljard Moslems – woon in die Midde-Ooste. Dit is hierdie Moslems wie se opinies die mees pertinentste is in die huidige krisis – oor die algemeen is hulle meer entoesiasties oor ’n Kalifaat as die gemiddelde Moslem oor die wêreld. Die Pew Navorsingsentrum het onlangs ’n meningsopname gemaak van Moslems se gesindhede in verskeie Moslemlande. Hulle opname, wat vrygestel is op 2 Desember 2010, toon heelwat merkwaardige gesindhede: “Omtrent agt uit tien Moslems in Egipte en Pakistan (82% elk) keur die steniging van mense wat ontug bedryf goed; 70% van Moslems in Jordanië en 56% Nigeriese Moslems deel hierdie siening. Moslems in Pakistan en Egipte ondersteun ook merendeels lyfstraf en die afkap van hande vir misdade soos diefstal en roof; 82% in Pakistan en 77% in Egipte is ook ten gunste van wettiging van hierdie soort straf in hul lande, net soos 65% van Moslems in Nigerië en 58% in Jordanië. Toe hulle gevra is aangaande die doodstraf vir diegene wat die Moslemgeloof verlaat, het minstens ’n drie-kwart van Moslems, in Jordanië (86%), 84% in Egipte en 76% in Pakistan, gesê hulle is ten gunste van so ’n wet” (“Muslim Publics Divided on Hamas and Hezbollah”, 2 Desember 2010).

Die Pew studie het ook bevind dat 95% Moslems in Egipte gesê het dat dit goed is vir Islam om ’n groot rol te speel in politiek. 80% het gesê dat dit sleg sal wees vir Islam om ’n klein rol te speel in politiek. Dit is dus geen wonder dat Moslems dikwels stem vir Islamitiese partye wanneer hulle ’n keuse gegun word nie.

Wat egter van die herinstelling van die Kalifaat self? ’n Studie deur die Universiteit van Maryland het die volgende berig: “Droom gemiddelde Moslems oor die Kalifaat regering?Volgens ontleding van data uit vier Islamitiese lande[wat versamel is deur die Program op Internasionale Beleidsgesindhede] in 2007, is die antwoord ja. Verslaggewers van die opname toon aan of hul primêre identifikasie godsdienstig of nasionalisties was, en of ondersteuning van ’n Islamitiese wêreld verenig is onder ’n Kalifaat. Ondersteuning onder Moslem en nasionale identiteite is beduidend (77% en 67% onderskeidelik)” (“Support for the Caliphate and Radical Mobilization”, START Research Brief, Januarie 2008).

Hierdie studie het bevind dat aansienlike meerderhede Moslems in die vier lande waar opnames gemaak is – Indonesië, Pakistan, Egipte en Marokko – die herinstelling van die Kalifaat ondersteun het! Van diegene wie se menings opgeneem is, is tussen 54% en 87% ten gunste daarvan. Daar moet natuurlik kennis geneem word dat Islamitiese groepe grootliks verskil oor hoe om hierdie doelwit te bereik. Byvoorbeeld, Indonesië se Hisbut Tahrir is ten gunste van die nie-gewelddadige verkiesingsroete. Al-Qaeda, soos ons weet, is ten gunste van terreur.

Sal die “Tunisiese Wind” sterker word en dus ’n “Islamitiese Storm” raak? Dit is ’n groot stap om van diktatorskap oor te gaan na Shariawet, en selfs nog ’n groter, gewigtiger stap om van Shariawet na ’n Kalifaat te gaan – maar ondersteuning vir so ’n ontwikkeling is wydverspreid deur die Midde-Ooste. Eise vir demokrasie versprei deur die Midde-Ooste en lei sommiges in die weste om dit te beskou as die wortelskiet van Westerse-styl demokrasie. Ons moet egter onthou, onder Sunni Islam word die Kalifaat gekies. ’n Demokratiese herstel van die Kalifaat mag nou denkbaar wees!

Die Kalifaat se aanval op Europa

Baie mense vandag is onbewus van die lang geskiedenis van gewelddadige botsings tussen Europa en die Islamitiese Kalifaat. Na Mohammed se dood in 632 n.C., was Islam, deur verowerings, verspreid oor die Midde-Ooste en Noord-Afrika. In 711 n.C. het die Ummayad Kalifaat begin met sy suksesvolle verowering van Spanje, deur by Gibraltar te land. Verowerde Spanje het bekend geword as al-Andalus. Moslemleërs het noordwaarts gedruk en groot dele van Frankryk verower, totdat hulle uiteindelik in 732 n.C. gestuit is tydens die Veldslag van Tours. Moslems het ook Sicilië en suidelike Italië beset – hulle het Rome geplunder en St. Peter se Basiliek gestroop. Die westelike Kalifaat was eintlik gesetel in Cordoba, Spanje, vanaf 929 n.C. tot 1031 n.C. – dit is waarom Cordoba, onder Moslems, vir baie jare lank ’n simbool van Islamitiese sukses in die Weste was.

In 1492, na eeue van oorlogvoering, is Moslems uiteindelik verdryf uit Granada, Spanje, hul laaste vesting in Rooms-Katolieke Westelike Europa. Die gevegte het nogtans vir eeue lank voortgeduur in Oostelike Europa, waar groot gebiede deur Moslems verower en beset was. Daar was in werklikheid drie aanvalle deur die Turkse Kalifaat teen die setel van die Heilige Romeinse Ryk in Weenen, Oostenryk. Dit was nie voor 1718, met Hongarye se onafhanklikheid van Ottomaanse oorheersing, dat die Kalifaat uiteindelik onttrek het uit Oostelike Europa en só meer as ’n duisend jaar se oorloë in Europa beëindig het nie.

Pous Benedik XVI skryf: “Voor die moderne era het die twee helftes van Europa eintlik net een opponent geken wat teengestaan moes word in ’n lewe-of-dood stryd, naamlik die Islamitiese wêreld” (Europe Today and Tomorrow, bl. 22). Katolieke Europa se bestaanstryd teen Islamitiese verowering het bygedra tot die algemene identiteit van Europa, omdat dit die Europeërs gehelp het om te dink hulle het ’n gemene lot om die Islamitiese Kalifaat teen te staan, wat vir meer as ’n duisend jaar probeer het om Europa te verower.

Die trauma van daardie oorloë lê diep in die bewussyn van Europa. Indien die Kalifaat weer ingestel word in die Midde-Ooste, behoort dit ’n diepgaande uitwerking te hê op die gemeenskaplike identiteit van die Europeërs. Dit is minder as 300 jaar sedert Europa laas bedreig was deur ’n Moslemse inval – ’n bedreiging wat instrumentaal was tot die vorming van ’n gedeelde Europese identiteit regdeur die Middeleeue. Daar is egter nou weer ’n waarneembare en vermelde bedreiging van Islamiete, noudat Moslemse ekstremiste aandring op ’n “heilige oorlog” en die herinstelling van die Kalifaat. Hassan al-Banna, die stigter van Egipte se Moslemse Broederskap, skryf: “Andalusië [die Moslem naam vir Spanje], Sicilië, die Balkans, suidelike Italië en die eilande in die Romeinse see was almal Islamitiese lande wat teruggebring moet word na die tuisland van Islam ... dit is ons reg om die Islamitiese Ryk na sy glorie te herstel” (Wall Street Journal, “Understanding the Muslim Brotherhood”, Bret Stephens, 15 Februarie 2011, bl. A13).

Indien die Islamitiese Kalifaat herstel word, sal dit ’n diepgaande uitwerking op Europa hê. Die godsdienstige winde wat waai oor die Midde-Ooste, kan ook oor Europa waai!

Te midde van profetiese tye

God het voorspel dat, in die jare net voor Christus se wederkoms, die Jode na Jerusalem en Judea sal terugkeer, waar hulle teengestaan sal word deur die omliggende nasies. “In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos ’n pan met vuur onder ’n hoop hout en soos ’n brandende fakkel onder gerwe – hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem” (Sagaria 12:6). Hierdie merkwaardige profesie is in onlangse jare voor ons oë vervul.

Die Bybel onthul dat later gedurende hierdie selfde tyd, ’n groot godsdienstig-politieke mag sal verrys, as ’n herlewing van die Heilige Romeinse Ryk – dieselfde ryk wat vir meer as ’n duisend jaar, bedreig was deur aanvalle van die Kalifaat. Hierdie herlewing sal ’n bondgenootskap van tien nasies of groepe nasies wees, waarvan party sterk en ander swak sal wees (Daniël 2:31-46). Hierdie mag sal betrokke wees in ’n verdrag wat die Jode sal toelaat om weer hul offers op die Tempelberg te hervat (Daniël 9:27, 11:32; 2 Thessalonicense 2:4). So ’n herlewing van Joodse gebruike sal die Moslemse teenstanders tot optrede skok, maar voorbereidings vir daardie offers word egter reeds tans gedoen deur Ortodokse Jode wat bekend is met die antieke rituele.

Bybelse profesieë onthul ook dat ’n mag sal verrys, suid van Jerusalem – wat hierdie magtige “koning van die noorde” sal teenstaan of hom sal uitdaag. Die noordelike mag sal die “koning van die suide” verslaan en in die proses Jerusalem oorstroom en beset (Daniël 11:40-45). Uiteindelik, wanneer die offers op die Tempelberg gestop word, sal die geprofeteerde “Groot Verdrukking” begin – wat ’n hoogtepunt sal bereik met die wederkoms van die Messias, Jesus Christus!

Die Bybel gee ’n konteks wat die sekulêre wêreld nie in staat is om te begryp nie. Die God van Abraham, Isak en Jakob sê: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10). Hierdie God het baie te sê oor wat in die Midde-Ooste gaan gebeur – dus, wie kan bekostig om dit te ignoreer? Indien ons glo wat God sê, kan ons die huidige gebeure in die konteks van Bybelse profesieë verstaan en voorbereid wees wanneer eindtydse gebeure binnekort sal voortstu tot hul geprofeteerde klimaks. Is u gereed?