Soos die meeste van u wat hierdie tydskrif al ’n geruime tyd lees goed weet, het ons hier by die Wêreld van Môre vir baie jare die goeie nuus van God se toekomstige Koninkryk verkondig en die Westerse nasies gewaarsku dat, tensy hulle hulle bekeer van hulle toenemende goddelose en onsedelike weë, God hulle streng sal oordeel.

Die klein, moderne nasie van Israel – die hedendaagse afstammelinge van antieke Juda – is hier ook geen uitsondering nie. Trouens, selfs die Joodse staat identifiseer hulleself as ’n nasie wat daarna streef om die God van Israel te gehoorsaam. Dit behoort veral duidelik te wees dat hulle dus ’n groter verantwoordelikheid as die nie-Israelitiese nasies het om vir die res van die wêreld ’n voorbeeld te stel in die nakoming van Bybelse en sedelike waardes.

Die hedendaagse Israel is nogtans een van die mees sedelik nalatige nasies op ons planeet, skaars onderskeibaar van die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk, Australië en ander Israelitiese afstammelinge wanneer dit kom by die algehele verwerping van die waardes waarop hierdie lande gevestig is. 

Moeilikheid vir Jerusalem! 

Die Skrif openbaar dat wanneer die Messias terugkeer, Hy Jerusalem die hoofstad van die wêreld sal maak. Bekeerde Israeliete sal die Koning van die konings dien en sal bygestaan word deur die Apostels wat onder Hom oor elkeen van die “twaalf stamme van Israel sal regeer” (Mattheüs 19:28). Ons sien uit na daardie heerlike dag wanneer alle nasies die Huttefees sal onderhou en jaarliks sal “optrek [na Jerusalem] om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare” (Sagaria 14:16-17). 

Die Skrif waarsku egter ook van moeilike tye voor Christus se Wederkoms. Bybelprofesie onthul dat Jerusalem onderwerp sal word aan ’n buitelandse regering en militêre mag (Lukas 21:20). God het aan die apostel Johannes hierdie skokkende maar ware profesie wat Jerusalem betref geopenbaar: “En ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap” (Openbaring 11:1-2). 

Waarom sal God heidene toelaat om Jerusalem oor te neem? Israel moet hulleself ondersoek met betrekking tot die Tien Gebooie en hulle nasionale gedrag. Het die moderne Israel sy verantwoordelikheid teenoor die hele wêreld nagekom? Hierdie standaarde is op die Amerikaanse- en Britse-afstammelinge van toepassing, sowel as op die moderne nasie van Israel. Tensy hierdie mense hulle onsedelikheid erken en bely, sal God hulle swaar straf sodat hulle dit kan regstel. Om vernietiging te voorkom soos geprofeteer is, moet daar ’n beduidende oplewing wees in die soeke na God, nasionaal en individueel. 

Bybelse profesie onthul dat godsdienstige en politieke magte die verwikkelinge in die hedendaagse Israel grootliks sal beïnvloed. ’n Groot valse profeet sal miljarde mense mislei, selfs wonderwerke verrig, soos om vuur uit die hemel te laat neerdaal (Openbaring 13:13-14). Die voorspelde “Dier”-moondheid sal nasies oorwin en uiteindelik selfs ook teen Christus veg met Sy Wederkoms (Openbaring 17:11-18)! Onthou dat “die volk van ’n vors wat sal kom ... die stad en die heiligdom verwoes” die Romeinse leier was wat Daniël se profesie vervul het in 70 n.C. (Daniël 9:26). Hy was ’n toonbeeld van die eindtydse Diermoondheid wat die Joodse herinstelling van diere-offers met ’n sewe-jaar (’n profetiese “week”) ooreenkoms of “verbond” sal fasiliteer – maar na drie-en-’n-half jaar sal hy sorg dat hierdie offers gestaak word. Die Bybel stel dit so: “En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Daniël 9:27). 

Christus het aan ons gesê om te “waak”! 

Jesus het ons aangesê om op die uitkyk te wees vir die eindtydse gruwel: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Mattheüs 24:15-16). Mattheüs, die Evangelie skrywer, beklemtoon die belangrikheid dat ons almal sal “verstaan”! Die apostel Paulus beskryf hierdie toekomstige “mens van sonde ... die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

Daarom, geagte lesers, maak seker dat u die Midde-Ooste dophou soos ek u in my artikel, Hou die Midde-Ooste dop elders in hierdie uitgawe, aanspoor om te doen! Huidige toestande vir vrede tussen Israel en die Palestynse Regering van Nasionale Eenheid dui daarop dat slegs eksterne druk ’n tydelike versoening sal meebring. In werklikheid was pous Francis op 8 Junie 2014 die gasheer op ’n “gebedsberaad” vir die leiers van die twee groepe. Die Washington Post berig: “Pous Francis het die presidente van Israel en die Palestynse owerheid op Sondag by die Vatikaan laat saamkom om saam te bid sowel as om te belowe om vrede na te streef, alhoewel hulle regerings nie amptelik met mekaar praat nie. Israel se president Shimon Peres en die Palestynse leier Mahmoud Abbas, het die twee-uur lange seremonie afgesluit deur mekaar op die wang te soen en daarna ’n olyfboom te plant. Dit was sprekende gebare van ’n verbintenis in ’n poging om ’n einde te maak aan een van die mees uitgerekte en hardnekkigste konflikte in die wêreld” (8 Junie 2014). 

Wie is die ketters? 

Pous Francis se diplomatieke gebare herinner ons daaraan dat ’n sleutel-aspek in die Midde-Oosterse konflik die spanning tussen die verskillende godsdienstige oortuigings is. In mnr. Dexter Wakefield se deurdagte artikel “Anatema” elders in hierdie uitgawe, wys hy op die hartseer ironie dat vandag se “hoofstroom Christen”- gemeenskap daardie ware Christene wat vashou aan die oorspronklike geloof van Jesus Christus en die twaalf Apostels, verwerp as ketters. 

Hoofredakteur Roderick C. Meredith verduidelik inderdaad in sy artikel Watter Jesus aanbid u?, ook in hierdie uitgawe, dat die oorgrote meerderheid van diegene wat bely dat hulle Jesus Christus aanbid, in werklikheid ’n mens-uitgedinkte godsdiens beoefen, wat in sommige opsigte presies die teenoorgestelde verkondig as wat Christus self verkondig het! Geagte lesers, u behoort seker te maak dat u die leerstellings van die ware Jesus Christus navolg! Bestudeer u Bybel en bewys aan uself dat Jesus dieselfde praktyke verkondig het as wat ons by die Wêreld van Môre nastreef om te herstel. Dit sluit die nakoming van die sewende-dag Sabbat in, soos uitgelig word deur die Britse skrywer, John Meakin, in sy artikel “Waarom die sewende-dag Sabbat?” wat ook in hierdie uitgawe is, ter navolging van Jesus se voorbeeld. Dit sluit die “jaarlikse Sabbatte” in – die sewe feesgeleenthede wat God aan Sy volk, antieke Israel, gegee het, wat Jesus Christus en Sy Apostels onderhou het en aan ander geleer het om te onderhou – wat vandag nog betekenis het vir “geestelike Israel” deur aan ons God se ware Plan te openbaar! Dit sluit die opregte poging in om volgens die Waarheid te lewe, soos omskryf deur die Tien Gebooie, met die hulp van die inwonende Heilige Gees wat ware Christene na hulle bekering en doop ontvang. 
Geagte leser, God het toegelaat dat die meeste mense in die huidige tyd deur Satan verblind word (Openbaring 12:9). Indien u egter lees en verstaan wat ons met u in hierdie tydskrif deel, mag Hy u moontlik roep om een van die “eerstelinge” te wees wat op Sy boodskap in hierdie tyd sal reageer. Ek bid dat u nie daardie oproep sal ignoreer  nie!