Gee God om hoe en met watter simbole ons Hom eer wanneer ons Hom aanbid?

’n Duidelike herinnering aan menslike hardkoppigheid


Wat het Mekka, Jerusalem en die Vatikaanstad in gemeen met Londen, Parys, New York Stad en Washington DC? In hierdie en ander stede regoor die wêreld, soms op die mees onwaarskynlikste plekke, vind ons dikwels groot gedenknaalde [obeliske]. Sommige is werklike oorblyfsels van antieke Egipte – waar die ontwerp ontstaan het – terwyl ander moderne weergawes van hierdie antieke tema is.

Waar anders vind ’n mens hierdie obelisk-ontwerp of iets wat baie soortgelyk is daaraan? Dink aan die baie Protestantse kerkgeboue met hulle hoë torings, of die moskee-toring wat uittroon bo ’n Moslem-moskee. Baie groot Roomse katedrale vertoon hierdie antieke argitektoniese kenmerke prominent.

Is die ooreenkoms tussen hierdie gedenknaalde, toringspitse en torings net ’n merkwaardige toeval of is daar dalk ’n betekenis – ’n rede – agter hulle algemene ontwerpe?

Die antieke Egiptenare het baie gode aanbid, met inbegrip van ’n songod en die gedenknaald was ’n belangrike simbool in daardie aanbidding. Die Egiptenare, net soos baie ander heidense nasies, het geheimsinnige magte toegeskryf aan simbole, veral dié wat vrugbaarheid, oorvloedige oeste of genesing uitgebeeld het. Hierdie gebruike het na ander kulture versprei en kom deesdae wydverspreid voor, waar die gedenknaald en ander soortgelyke torings ’n bekende ikoon geword het, nie net van belydende Christenskap nie, maar ook van geheime organisasies soos die Vrymesselaars.

U mag dalk vra: “Wel, watter verskil maak dit? Daardie ou betekenisse en verband wat dit gehad het is lank reeds vergete. Hulle is net mooi argitektoniese kenmerke wat aantreklik kan wees”.

Hierdie is natuurlike reaksies, maar wat sê God daarvan? Interessant genoeg, wanneer ons in die Bybel kyk, sien ons dat die manier waarop ons God die Vader aanbid en eer, vir Hom baie belangrik is. Wanneer ons vinnig na die woord “klippilare” in die Ou Afrikaanse Vertaling van die Bybel soek, kry ons ten minste 16 verwysings, wat almal saam met opdragte om daardie simbole van heidense aanbidding te vernietig, gebruik word.

Die grondslag vir hierdie opdrag word gevind in die tweede gebod: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie” (Exodus 20:4-5). Verder het God in Sy opdrag aan die volk van Israel gesê: “As jy kom in die land wat die Here jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie” (Deuteronomium 18:9).

Die beginsel is duidelik. God kies hoe Hy aanbid moet word en dit is nie vir Hom aanvaarbaar indien Sy mense dit op hulleself neem om die metodes, gewoontes of simbole van valse, heidense gelowe te gebruik om Hom te aanbid nie. Trouens, Hy verwerp nie net hierdie soort aanbidding nie; Hy beskou dit as ’n gruwel. God beveel Sy mense herhaaldelik dwarsdeur die hele Skrif om hierdie simbole van die heidendom te verwyder (Deuteronomium 7:5). Wanneer God aanbid word, is daar geen plek vir heidense tradisie nie.

Sommige mense mag sê: “Maar dit is ’n pragtige tradisie”! Ja, miskien is hulle mooi vir die mensdom. Jesus Christus laat egter die mense in sy tyd weet – baie duidelik – dat “tradisie” nie die waarheid kan vervang in ware aanbidding van die ware God nie. “Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering?” (Mattheüs 15:3).

Dit kan beslis aangenaam wees om God in ’n pragtige gebou van goeie kwaliteit te aanbid. Hy het egter nie die gebruik van mooi geboue nodig nie. Inteendeel, Hy dring daarop aan om aanbid te word in gees en in waarheid (Johannes 4:24). Ware aanbidding in beskeie omgewings, selfs in gehuurde sale, verskaf Hom plesier soos selfs die beste mensgemaakte tradisies uit heidense aanbidding nooit sal kan doen nie. Ons behoort dit nooit te vergeet in ons aanbidding van die een ware God nie.