Die meeste mense bepeins selde hulle werklike lotsbestemming. Inteendeel, die meeste aan­vaar net dat die lewe vir hulle geen werklike doel inhou nie.

Wat van u? Is daar ’n grootse rede waarom u lewe? Kan u, ten spyte van u huidige situasie, vir uself ’n besondere, interessante en vervullende toekoms voorstel? Is u eenhonderd persent seker van toekomstige blydskap, vreugde en vrede?

Of is u vasgevang in ’n gejaagde, teleurstellende lewe, met geen groter doel as wat die voëls, die diere of selfs die insekte het nie? As ’n menslike wese het u beslis ’n baie hoër intelligensie as die voëls, diere en insekte: u kan die toekoms vir uself voorstel, u het drome en verwagtinge, u het ’n skeppende verbeelding wat ver bo enige ander fisiese lewensvorm op aarde verhewe is. Gaan al die begaafdheid, potensiaal en drome verrot wanneer u sterf, en sal stof dus tot stof terugkeer?

Dit is die moeite werd om hieroor na te dink. Die meeste godsdienstige mense dink dat hulle eendag na die hemel sal opvaar en die ewigheid daar sal omsit sonder iets om te doen, dat hulle elke dag die hemel deur sal rondsweef.

Maar u moenie sommer enigiets vir die waarheid aanneem nie. Maak sélf seker wat u uiteindelike lots­bestemming sal wees!

Die Skepper het die werklike waarheid in Sy handleiding vir die mensdom, die Bybel, uiteengesit. Daarin gee God die lot van nasies en koninkryke, soos Hy dit bepaal. Hy profeteer oor verstommende, toekomstige wêreldgebeure. Hierdie profesieë is reeds besig om voor ons oë te ontvou!

Daarbenewens onthul u Skepper ook die uiteindelike lotsbestemming vir die hele mensdom – die werklike doel vir u en my lewe. Op ’n hele paar plekke in die Bybel word daarna verwys as die “verborge” dinge van God. Dit is inderdaad ’n ver­borgen­heid vir die meeste mense – selfs vir die meeste mense in die sogenaamde “Christelike” wêreld. Hierdie “verborge dinge” behels baie meer as wat die meeste mense kan droom. Eintlik is dit so eenvoudig, so vanselfsprekend en so logies dat u heel moontlik gaan wonder hoekom u dit nie al lankal verstaan het nie.

Weereens, wat ís u uiteindelike lotsbestemming? Hoekom is u gebore?

’n Doel met die skepping van die mensdom

U as mens het nie maar net “ontstaan” nie. Mense is nie bloot maar die produk van die toevalligheid nie.

Niemand glo tog dat ’n duursame Switserse horlosie weens die evolusieproses ontstaan het nie; dat die metaal elemente en silika in die see oor miljoene jare deur die seestrome heen en weer gespoel is en met elektrisiteit gelaai is deur weerlig­strale totdat ’n akkurate Switserse horlosie gevorm is nie. ’n Horlosie kan tog NOOIT die gevolg wees van ’n onbeplande, toevallige gebeurtenis nie.

Tog verkies party intelligente en “geleerde” mense om “polities korrek” te wees deur die leer van ewolusie aan te hang. Hulle glo dat die mens se verstand as gevolg van een of ander “ongeluk” in die evolusieproses by die liggaam uitgekom het, ten spyte daarvan dat die menslike verstand die modernste rekenaar of die beste horlosie ver oortref wanneer dit by kompleksiteit kom.

As u in ewolusie glo, moet u maar liewers nou ophou lees, want as God u nie wakker skud nie gaan u beslis niks oor u uiteindelike lotsbestemming, of enige ander geestelike feit, verstaan nie. Want ons lees dan dat “die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie” (Heb. 11:3).

Die Woord van God bewys aan ons dat die mens met ’n doel geskape is. In Genesis beskryf God hoe Hy elke lewende wese “volgens hulle soorte” geskape het (Gen. 1:21, 24, 25). Daarna sê God: “Laat Ons mense maak na ons beeld ...” (vers 26).

Twee belangrike punte kan hier uitgelig word. Eerstens sê God: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”. Daar is dus twee verskil­lende Persoonlikhede wat die skepping van die mens na Húlle beeld bespreek. Vanselfsprekend was dit God die Vader en die “Woord”, wat as Jesus van Nasaret gebore is (Joh. 1:1-2, 14).

Die tweede belangrike punt kom voor in die res van vers 26: “... en laat hulle heers oor die visse ... die voëls ... die vee ... en oor al die diere wat op die aarde kruip”. Van die begin af is die mens dus bestem om heerskappy, gesag en be­heer te hê oor alle lewe op aarde. Van die begin af is die mens die verantwoordelikheid en die geleent­heid gegee om sy kreatiewe denke en oordeel te gebruik.

Dawid bevestig dit in Psalm 8:5-7: “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel”. Hieruit is dit duidelik dat God ’n baie spesiale doel met die mens het. Die mens is “’n weinig minder” as God geskape. Die Hebreeuse woord Elohim, wat gewoonlik na God verwys, word hier gebruik, teenoor wie die mens “weinig minder” geskape is. Nogtans is die mens met aansien en eer gekroon en dra hy die verantwoordelikheid van heerskappy oor God se handewerk (vers 7).

Merkwaardige, unieke vermoëns

Van die begin af is die mens ’n verstand gegee wat merkwaardig verskil van dié van diere. In teen­stelling met elke ander lewende wese op aarde, het die mens ’n kreatiewe verbeelding en selfs die vermoë om homself te kan ontleed. Hy kan vir homself lag en tussen reg en verkeerd onderskei. Die mens is selfs in staat om te kan oordeel – net soos God, maar natuurlik in ’n beperkte mate!

Met die bou van die toring van Babel sê God: “Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie” (Gen. 11:6). Dit kom hier duidelik na vore dat die mens reeds in daardie tyd kon ontwikkel tot die uiteindelike punt waar hy hom­self totaal sou kon uitwis, ás God hom nie verhinder het nie.

Die vermoëns van verskillende nasies en rasse word vandag wêreldwyd aangewend in die weten­skap­like gemeenskap. Weereens het die mensdom tot so ’n mate ontwikkel dat hy alle lewe op aarde totaal kan uitwis.

Die mens is in staat om massiewe vuurpyle die buitenste ruimte in te stuur en hy kan ook biljoene brokkies inligting in ingewikkelde rekenaars berg en dit weer oproep. Die mens kan ook materie in die kleinste komponente afbreek, en met hierdie kennis ’n waterstofatoom laat ontplof.

Byna tweeduisend jaar gelede profeteer Jesus Christus spesifiek oor hierdie situasie: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:21-22).

Ja, tensy die Skepper ingryp om Sy skepping van selfvernietiging te red, sal die mensdom beslis alle lewe op aarde uitwis! Maar onthou, God het die mens ’n ongelooflike intelligensie gegee vir ’n spesifieke doel – en God se doel sál bly staan.

As heerser geskape

Soos reeds gesê, die mens is van die begin af in beheer geplaas van alle fisiese lewe op die aarde. God het hom ook die vermoë gegee en die verantwoordelikheid toegesê om sy medemens reg te help en te oordeel (Ex. 18:13-26). Van die begin af is die mens ’n Goddelike verantwoordelikheid gegee.

Jesus Christus, as vleeslike mens op aarde, preek gedurig oor die toekomstige regering van God. “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Mark. 1:14-15). Hierdie toekomstige wêreldwye regering of koninkryk van God is voorspel deur profete van die Ou Testament, deur Jesus Christus, asook deur Petrus, Paulus en Johannes.

In Daniël word die vier groot koninkryke wat die wêreld tot aan die eindtyd sou regeer, beskryf. “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie ... dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Dan. 2:44).

Die meeste van Jesus se gelykenisse draai om die Koninkryk van God. So vergelyk Jesus in Markus 4:30-32 die Koninkryk van God met ’n mosterd­saadjie: alhoewel die Koninkryk baie klein begin, sal dit uiteindelik geweldig groot wees. Jesus sê uitdruklik in die gelykenis van die goue munte (Luk. 19:12-19) dat diegene wat oorwin en hulle talente gebruik om God te behaag, mag sal ontvang om oor stede te regeer in God se toekomstige regering. So lees ons van die slaaf wat sy geld vertienvoudig en aan wie Jesus sê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (vers 17). Die dienskneg wie se geld vervyfvoudig, “moet wees oor vyf stede” (vers 19).

Die nag net voor Sy dood belowe Jesus die Apostels: “En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Luk. 22:29-30). As ons glo dat Jesus dié belofte werklik so bedoel, dan weet ons dat die Seun van God spesifiek belowe dat die Christene wat “oorwin” saam met Hom oor stede en nasies hier op aarde sal regeer wanneer Hy terugkom!

Kyk ’n bietjie na die presiese beloftes van Jesus, die Christus, opgeteken in Openbaring. “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle REGEER met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Op. 2:26-28). “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Op. 3:21). Lees ook die gebed van die heiliges in Open­baring 5:10: “En het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”.

Ten slotte lees ons in Openbaring 20:6: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank”.

Ja, die ware heiliges word deur God geroep en word vir ’n hele leeftyd opgelei om te oorwin, waarna hulle by Jesus Christus sal aansluit om oor stede en nasies op hierdie aarde te regeer! Duideliker kan dit nie gestel word nie.

Dit is jammer dat talle misleide mense, en selfs teoloë, steeds glo dat daar in die ewigheid niks te doen sal wees nie. Hulle het nie die vaagste benul dat ware Christene vir ’n wonderlike, opwindende en ontsagwekkende doel geroep is nie.

Slegs oorwinnaars word oorweeg

God sê dat daar slegs oorwinnaars in Sy Koninkryk sal wees. Slegs oorwinnaars sal by Christus aansluit met Sy wederkoms om die wêreld te regeer. Ons word reg deur die Nuwe Testament herinner om soos God te word. “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4). Weer sê Jesus: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is” (Matt. 5:48).

Die apostel Petrus sê in 1 Pet. 1:15-16: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig”. Die apostel Johannes vermaan die gelowiges só: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Joh. 2:15). Die apostel Jakobus sê: “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7).

Daar het u dit dan! Ware Christene moet dus hulle eie menslike ydelheid en drifte en die wêreld met sy versoekinge oorwin, en ook moet hulle Satan self weerstaan. Petrus sluit sy laaste brief met hierdie vermaning af: “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen” (2 Pet. 3:18).

As vleeslike wesens is ons aan allerhande swakhede en sonde onderwerp. Ons kan egter die sonde oorwin. Hoe? Deur gereelde en ywerige Bybel­studie, deur gedurige, intense gebed tot God, deur onsself gedurig en daadwerklik aan God se wil te onderwerp, en deur God toe te laat om deur middel van Sy Heilige Gees Sy heilige en regverdige karakter in ons te ontwikkel.

Ons weet dat ons nie in hierdie lewe volmaaktheid kan bereik nie, maar ons móét probeer en werklik vordering maak. Ons moet God se ware aard en karakter in ons laat GROEI. In hierdie groeiproses kan ware Christene dus verseker wees van gedurige beproewing, toetse en vervolging.

Paulus voorspel mos: “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Tim. 3:12). Jesus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoon­moeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees” (Matt. 10:34-36). Die apostel Petrus waarsku ook: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Pet. 4:12).

Uit die bostaande is dit dus duidelik dat die ware Christen homself, die wêreld en die aanslae van Satan móét oorwin. Hy sal getreiter word, vervolg word en miskien selfs nog gemartel word deur die vyande van God.

Waarom ons regverdige karakter moet ontwikkel

Moet ’n Christen regtig elke dag met ernstige lewensprobleme worstel net om ’n lang hemel­vakansie te kan hê waar hy dan heeldag in die hemel rondsweef en tot vervelens toe die wolke dophou terwyl hy deuntjies op ’n harp uittokkel? Of sal die Christen miskien, soos die engele, as ’n bood­skapper vir God optree? Sal ons beloning, ná al die beproewinge, die trane en selfs fisiese lyding hier op aarde, niks meer wees as om maar net te wees soos die leërskare van miljoene der miljoene engele nie? Beslis nie!

Die werklike grootse doel van die mens se bestaan is ver verhewe bo dié van die regverdige engele en aartsengele! U lotsbestemming is gewel­dig en groots. Die uiteindelike rede waarom ons so beproef word, is omdat God Homself reproduseer! Dink so ’n bietjie hieroor na. Ons word keer op keer beproef om te bepaal of ons onsself met totale oorgawe en gedurig aan God se wil onder­danig maak, of ons Sy denkwyse, Sy liefde, Sy karakter in ons vestig.

Moet asseblief nie nou ophou lees nie! Vra God om u ’n ontvanklike gemoed te gee, om u begrip te gee. Wees versigtig om nie sommer op hierdie stadium reeds tot gevolgtrekkings te kom nie. Gees­telike veiligheid en berusting lê opgesluit in ’n opregte begeerte om “alle dinge te beproef” (1 Thess. 5:21) volgens u Bybel. Die grootse doel vir menswees is duidelik geïnspireer en vir eeue reeds in die Bybel opgeteken!

Kom ons gaan terug na Genesis en hersien wat God in die begin gedoen het. Elke groep diere is geskape “volgens hulle soorte” (Gen. 1:24). Beeste het dus beeste gereproduseer, leeus het leeus voortgebring, ensovoorts.

Toe sê God: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis ...” (Gen. 1:26). Dis een­voudig, hier gee God die aanduiding dat Hulle, die Godfamilie – Hy, God die Vader, en Sy Seun, Jesus Christus – begin om Hulleself te reproduseer, om dus nog lede tot die Godfamilie te voeg! Dink u dat dit godslastering is om te dink dat God beplan het om wesens “na Sy eie soort” te reproduseer?

Party van die selfaangestelde geestelike leiers in Jesus se tyd het wel gedink dat dit godslastering was. U mag verbaas wees om uit te vind dat die kwessie van die Godfamilie ’n groot besprekingspunt was tussen Jesus en godsdienstige leiers van daardie tyd. Daarom dat Jesus se verklaring “Ek en die Vader is EEN” (Joh. 10:30) die godsdienstige leiers so kwaad gemaak het dat hulle Hom as ’n ketter beskou het wat tot die dood veroordeel moes word.

Toe Jesus hulle vra waarom hulle Hom probeer doodmaak, antwoord dié hooggeëerde godsdienstige gesaghebbendes: “Dit is nie oor ’n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U, wat ’n mens is, Uself God maak” (vers 33).

Kyk noukeurig wat Jesus sê ter verdediging van dié aanklag van godslastering: “Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik – omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?” (verse 34-36).

Die skrifgedeelte waarna Jesus verwys, is Psalm 82:6. Die woord “gode” is hier uit die Hebreeuse Elohim vertaal. Dit is dieselfde woord wat in Genesis 1:1 as “GOD” vertaal word en honderde kere in die Ou Testament gebruik word om die goddelike Wese aan te dui. Talle moderne godsdiensgeleerdes hou vol dat hierdie woord slegs “magtige regters” beteken, maar dit is egter nie die ware vertolking vir die Hebreeuse woord Elohim nie. Jesus haal dié gedeelte uit die Psalms aan om duidelik uit te wys dat die mens wel ’n God-tipe potensiaal het en dat die mensdom werklik na die “gelykenis van God” geskape is. Natuurlik het daardie woedende gods­diensleiers Jesus as ’n mens van vlees en bloed, net soos hulleself, gesien. Vervolgens, omdat Jesus wel die “Seun van God” is, kon Hy dus nie godslasterlik wees toe Hy Homself gelyk aan God stel en toe Hy God Sy Vader noem nie!

Inteendeel, hierdie strydpunt is reeds vroeër opgehaal in die evangelie van Johannes toe die­selfde godsdiensleiers probeer om Jesus dood te maak en Hom beskuldig dat Hy die Sabbat ontheilig, en “... God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het” (Joh. 5:18). Hulle het natuurlik besef dat ’n WARE seun gelyk aan sy vader moet wees.

’n Vader met vier seuns en twee dogters het “na sy aard” gereproduseer soos wat God dit bepaal het. Hierdie ses kinders is dan ook ten volle mens, net soos hulle vader mens is. Alhoewel die vader oor meer ervaring en wysheid as sy kinders mag beskik en die “volks- of stamvader” van sy familie is, is sy kinders net soos hy ten volle mens, met dieselfde menslike vermoëns en potensiaal.

Wat van God se seuns? Is ons so gewoond aan die godsdiensleiers se godsdienstig klinkende woorde dat ons nie langer bewus is van die ware betekenis van die woorde wat ons gebruik nie? Hoekom wil ons dan nie erken dat ’n letterlike “seun” van God werklik net soos God sal wees nie?


DIE BYBELSE BETEKENIS VAN “ELOHIM”

Elohim is die heel eerste naam wat God in die Ou Testa­ment op Homself van toepassing maak. In Genesis 1:1 lees ons: “In die begin het God [Heb. Elohim] die hemel en die aarde geskape”. Elohim word 31 keer gebruik in die eerste hoofstuk van Genesis – en identifiseer “God” duidelik as die SKEPPER.

Maar wat beteken Elohim egter?

Alle gesaghebbendes stem saam dat die Hebreeuse naam Elohim, “God” beteken in die meervoudsvorm. Party dink dat hier­die meervoudsnaam van God bewys is dat die “God” van die Ou Testament uit meer as “een Wese” bestaan. Ander weer, ontken dit. Maar ongetwyfeld maak die meervouds­agter­voegsel -im in Elohim duidelik voorsiening vir die “meervoudig­heid van Wesens”, soos God verstaan is in die Ou Testament.

Grammaties gesproke het die agtervoegsel -im in Elohim dus die funksie van ’n ware meervoudsvorm, naamlik “gode”. Dit word weerspieël in talle teksverse (Ex. 12:12: “al die gode van Egipte...”).

In hierdie hoedanigheid kan Elohim voorafgegaan word deur ’n bepaalde lidwoord (“die gode” in Ex. 18:11: “Nou weet ek dat die Here groter is as al die gode”). In Hebreeus kan Elohim ook saam met meervoudige byvoeglike naamwoorde voorkom (dikwels in Deuteronomium as “ander gode”). Elohim kan ook die meervoudsvorme van die werkwoord aandui (Ps. 97:7: “... al die gode buig hulle voor Hom neer” [Yahweh]). Die treffende eienskap van die Ou Testament lê in die gebruik van hierdie meervoudsvorm Elohim om die een God van Israel uit te wys (The Anchor Bible Dictionary, Vol. 4, bl. 1006, artikel “Names of God in the Old Testament”).

Daar is onbetwisbare Bybelse bewyse dat Elohim, as meervoudige naamwoord, ’n Godfamilie met meer as een lid beskryf, en nie ’n Twee-enige of Drie-enige God nie. As God vir ewig net Vader en Seun sou wees, sou Hulle beslis ’n ander Hebreeuse woord gebruik het om daardie beperking aan te dui. Die Hebreeuse woord Elohaim dui wel op tweeledigheid, maar God (Elohim) gebruik egter nie Elohaim (tweeledigheid) nie, maar wel Elohim, wat meervoudigheid aandui. Waarom gebruik God Elohim? Vir die eenvoudige rede dat Elohim ’n Familie van heilige wesens is, ’n Familie waarin talle heilige seuns en dogters later opgeneem gaan word, soos beskryf word in die Nuwe Testament (2 Kor. 6:18).

Een van die beste bewyse dat die werklike betekenis van Elohim meervoudig is, is die onmiskenbare wyse waarop die Skepper die woord in die Bybel gebruik. “Laat ONS mense maak na ONS beeld, na ONS gelykenis ...” (Gen. 1:26). God sê definitief nie: “Laat EK die mens na MY beeld skape nie”. Ook sê God nêrens dat die engele kan skep nie, maar sê altyd dat God die Skepper is.

Onweerlegbare bewys dat Elohim as ’n meervoudsvorm gesien moet word, word in talle ander skrifture aangetref:

1) Christus sê: “Omdat my Vader groter is as Ek” (Joh. 14:28). Dit is duidelik dat alhoewel daar slegs “EEN GOD” is, dit nie Bybels is om te sê dat God “een Wese” of “een Entiteit” is nie. Indien die Vader en Sy Seun nie twee onderskeie Persone (Wesens/Entiteite) is nie, sou God nie sê dat Sy Vader “groter” as Hyself is nie.

2) In Mattheus 22:41-46 onthul Jesus dat Psalm 110:1 na Homself en Sy Vader verwys. “Die Here [Heb. Yahweh = die Vader] het tot my Here gespreek [Heb. Adonai = die Seun]: Sit aan my [die Vader se] regterhand, totdat Ek u [die Seun se] vyande maak ’n voetbank vir u voete”.

Talle skrifture toon dat die Heilige Familie tans slegs uit twee Persone, die Vader en Sy Seun, bestaan. Nêrens in die Bybel, nie eers een keer in die Ou of in die Nuwe Testament, word daar na die sogenaamde “Drie-eenheid” verwys nie. God sê egter in 1 Thess. 4:13-18 en 1 Kor. 15:50-57 dat al Sy seuns en dogters (2 Kor. 6:18) deur ’n nuwe geestelike geboorte met die opstanding in die Godfamilie ingebore sal word, dat hulle onsterflike, verheerlikte en geestelike wesens sal wees.

Sodanige verheerlikte heiliges sal dan verander van “menslik” na “goddelik”, van sterflike na onsterflike wesens. As onsterflike seuns en dogters van God sal hulle hoër wees as die engele (hulle sal die engele oordeel, 1 Kor. 6:3) en dan sal hulle deur sterflike mense gedien word (Op. 3:9)!

Elohim is ’n meervoudige naamwoord wat God as ’n Familie van heilige wesens beskryf – nie as ’n “geslote” Drie-eenheid nie. ’n Drie-eenheid sal nooit ander seuns en dogters van God in die FAMILIE VAN HEILIGE WESENS kan toelaat nie. Elohim maak wel daarvoor voorsiening. Die Bybel wys duidelik dat ons die benaming Elohim wel letterlik moet opneem.

Glo u nou die Woord van God? “Laat Ons mense maak na ons beeld”. God BEDOEL wat Hy sê!

“Gebore” uit die opstanding

In hierdie lewe kan die mens slegs tot ’n kind van God verwek word deur die proses van bekering en ontvangs van God se Heilige Gees. Dié Gees is die Gees van “krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7). Die Gees van God maak ons deelagtig aan die ware geaardheid van God. U groei tot geestelike volwassenheid deur uself aan God se wil te onderwerp, deur die leiding van die Heilige Gees in u lewe te aanvaar by wyse van gereelde Bybelstudie en gebed. Wanneer die opstanding dan aanbreek, sal u “uit God gebore” word.

Jesus Christus is ons voorbeeld en voorganger. Hy is “verklaar ... as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here” (Rom. 1:4). Paulus skryf verder omtrent die ware Christene: “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelyk­vormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (Rom. 8:29).

Let nou mooi op! Almal wat hulle met oorgawe aan God se wil onderwerp, sal soos Christus word. Hulle sal dan letterlike Seuns van God wees, net soos Jesus Christus die Seun van God is. Dit beteken dus dat Christus, die eersgeborene van baie ander seuns van God sal wees.

Paulus sê weer: “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eers­geborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kol. 1:18).

Net soos Christus die eersgeborene uit die dode was, net so wys God weer ’n keer duidelik dat om uiteindelik “wedergebore” te word, ons in die familie van God ingebore word deur die OPSTANDING uit die dood!

In Openbaring 1:5 is die apostel Johannes ook deur God geïnspireer om Christus te beskryf as “die eersgeborene uit die dode”. As Christus die “eerste” is, dan moet daar mos ander ook wees. As die “eersgeborene” van God waarlik ’n God is, dan moet diegene wat later vanuit dieselfde Vader gebore word mos ook volwaardige lede van die Godfamilie word!

Die Bybel wys uitdruklik dat u nie die doods­toe­stand kan verlaat behalwe deur die OPSTANDING nie. U het pas uit die bostaande drie skrifture gesien dat diegene wat werklik “wedergebore” word, deur middel van die opstanding uit die dood gebore word en dan volle lede van die “Godfamilie” word, net soos Jesus word, en op die Goddelike vlak bly voort­bestaan.

Wie gaan altyd in beheer wees?

Die Bybel toon dat die Vader altyd die belangrikste en grootste in mag en gesag sal wees. Hy is oorhoofs in beheer van die heelal en Hy is die Oppergesag. Vanselfsprekend sal God die Vader nooit oud word, aftree of sterf nie. Dus sal Hy ALTYD die onbetwiste Hoof van die Godfamilie wees. Selfs Jesus Christus sê dat: “... My Vader groter is as Ek” (Joh. 14:28).

Net so wys die Bybel duidelik uit dat Jesus Christus altyd belangriker sal wees as die ander seuns wat in die Godfamilie ingebore sal word. Hy sal aan die regterkant van die Vader sit (Heb. 8:1). Hy sal die “Koning van die konings” wees (Op. 19:16). Hy sal vir altyd ons Hoëpriester wees (Heb. 6:20).

Die duidelike bestemming vir ’n ware Christen is om met God versoen te word. Die Heilige Gees lei ’n mens deur die hele proses van totale oorgawe aan God en aan die Verlosser, Jesus Christus. ’n Mens groei in genade en kennis – in die ware en opregte karakter van Jesus Christus (2 Pet. 3:18). Met God se hulp behels die mens se hele lewensproses om die sonde te oorwin en te leef “van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4). Dit is egter nodig om u Bybel intensief te bestudeer om nader aan God te kan kom – u moet “daarvan eet” (Joh. 6:56-63), sodat u gedagtes en optrede letterlik volgens God se Wil sal wees.

Oorwinning behels opregte, gereelde en daaglikse gebed uit die diepte van u hart, gedurige kontak met God in gebed gedurende die dag. Dit verg dat u gedurig in ’n geestelike stemming van gebed is. Oorwinning verg ook ’n gedurige bepeinsing oor God se Woord en doel met die mensdom, en ook om nou en dan te vas om nader as ooit aan God te kom.

Die ware Christen leer deur al hierdie dinge en in sy daaglikse oorgawe aan God se wil om met God te wandel, en om Christus toe te laat om Sy lewe deur die Heilige Gees in ons, uit te leef (Gal. 2:20). Maand na maand, jaar na jaar, groei die ware Christen wat hom ten volle tot God wend, word hy meer en meer soos God in sy denke en dade. ’n Ware gelowige behoort inderdaad dan ook so te lewe, want Christus gelas: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is” (Matt. 5:48). Die apostel Petrus vermaan Christene met: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15).

Petrus sê in sy laaste brief: “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien ... waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeer­lik­heid in die wêreld is” (2 Pet. 1:3-4).

Bedoel hierdie skrifture presies wat hulle sê?

Kan ons regtig al die skrifture wat ons vermaan om “heilig” te wees, om “soos God” te wees, om ons wil aan God se wil te onderwerp sodat Hy Sy natuur in ons kan plaas, ligweg afmaak en as blote antieke praatjies beskou?

Dit is baie belangrik dat u self die idee noukeurig onder­soek dat dit nog altyd God se plan is om Homself te reproduseer.

Reproduksie is presies wat die Godfamilie (Elohim) in gedagte gehad het toe Hulle sê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Gen. 1:26).

“Wedergebore” – maar sal ons ondergeskikte seuns wees?

Ons het reeds gesien dat Jesus “die eersge­borene kan wees onder baie broeders” (Rom. 8:29). Sal daardie jonger broers wat nog “gebore” moet word, baie minder glorie hê as Jesus?

Soos hier bo verduidelik, sal Jesus Christus altyd die meeste gesag en mag hê. Tog wys die Bybel daarop dat die kinders van God, wat dan uit Gees gebore sal wees, dieselfde glorie en majesteit sal hê as hulle Ouer Broer, Jesus Christus. Lees ’n bietjie Romeine 8:18: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie”. Daar is letterlik dosyne skrifture wat aantoon dat ons beproewing, lyding en die hele proses van oor­winning help om ons na God se beeld te vorm en te skaaf. Dié vormingsproses berei ons ook voor om met die opstanding uit die dood geestelik gebore te word en om verheerlik te word net soos Jesus Christus verheerlik is.

Natuurlik word die waarlik bekeerde Christen in die huidige lewe slegs “verwek”. Maar die finale en die uiteindelike “geboorte” sal wees om met die opstanding in die Godfamilie ingebore te word.

So skryf die apostel Paulus dan ook: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eerste­ling geword van die wat ontslaap het. Want aange­sien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word ... So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel ... En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra” (1 Kor. 15:20-22, 45-47, 49).

Ja, ons sal kinders van die Opstanding wees, nie valslik “wedergebore” ten aanskoue van ’n emo­sionele groep mense by ’n “herlewingsbyeenkoms” nie! Die ware wedergeboorte tot geestelike wese sal die bogenoemde ondervinding met al die gepaard­gaan­de godsdienstige en emosionele ont­boese­minge ver oortref!

Met die basuingeskal van die laaste trompet sal Christus na hierdie aarde terugkeer as die Koning van konings, en daardie verdienstelikes wat oorwin het, sal op die wolke weggevoer word, die lug in, Hom tegemoet (1 Thess. 4:16-17). Hulle sal dan geestelike liggame hê en sal verheerlik wees as nuwe “gebore” lede van die Heilige Familie! Hulle sal nie as “aangenome” of bloot as “geskape” wesens beskou word nie. Inteendeel, hierdie kinders van God wat uit die Gees gebore is, sal Sy HEILIGE GEAARDHEID hê, net so seker as wat ons vandag daardie menslike natuur en karaktertrekke het wat ons van ons menslike ouers oorgeërf het.

Die volgende menslike vergelyking maak die saak dalk ’n bietjie duideliker. Tans is ons slegs “verwekte” kinders van God, dus nog steeds in die Moederskoot (Jerusalem daarbo, Gal. 4:26). Maar, ons GROEI in genade en kennis sodat ons met die opstanding uit God gebore kan word (sien Rom. 1:4; 8:29). Die apostel Johannes skryf: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, AAN HOM GELYK SAL WEES, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Joh. 3:2). Ja, ons sal dan soos Christus “lyk”!

Hoe lyk die lewende Christus? ’n Beskrywing van hoe Hy huidig lyk, is opgeteken in Op. 1:13-16. Ná Sy opstanding vlam Sy oë soos vuur. Sy hele voor­koms is soos die son wat op sy helderste skyn. Hy is verheerlik, soos wat ons VERHEERLIK SAL WORD volgens die wonderlike doel van die Almagtige God wat ons na Sy eie gelykenis geskape het!

Wat ’n toekoms vir dié wat oorwin!

Kom ons blaai nou na 1 Johannes 3. Nadat Johannes beskryf hoe ons “soos Christus” sal wees en dat ons Sy gesig van verblindende glorie sal kan aanskou, skryf hy verder: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (vers 3). As ons eers die uiteindelike doel van God begryp, ons ongelooflike potensiaal verstaan, sal ons alle rede hê om “rein” te wil wees en om ’n regverdige en heilige lewe te lei.

Ons ware beloning is nie ’n vae en newelagtige idee van heeldag in die hemel rondsweef met niks te doen nie. Ons ware beloning is om “kinders van die opstanding” te word en saam met Christus oor die aarde te heers vir ten minste die volgende duisend jaar. Gedurende hierdie duisend jaar sal ons lugbe­soede­ling bekamp, pornografie uitroei en oorlogsug­tig­heid uitroei. Ons sal die siekes en die honger massas help en versorg. Ons sal onbeskryflike vreugde bring aan mense wat tot in hulle diepste wese geskok is deur oorlog en verwoesting. Ons hulpverlening sal terselfdertyd vir onsself ongekende vreugde en vervulling meebring.

Ons sal nie bloot oor mense regeer nie, maar ook oor die magtige engele van God! So sê 1 Kor. 6:2-3: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” Ons hele lewe as ’n ware Christen, die hele proses om Christus se gesindheid en karakter te ontwikkel (Fil. 2:5), is gerig op hierdie allerhoogste DOEL.

Ons toekoms as heersers saam met Christus op aarde gaan ’n opwindende, stimulerende, produk­tiewe en ongelooflike, vervullende ondervinding wees. Dít is die WERKLIKHEID!

Wat gaan hierop volg? Lees Paulus se geïnspi­reerde woorde in Hebreërs 2:5-8: “Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie; maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel”. Let op die mens se uiteindelike meerderwaardigheid oor die engele. Die mens is oorspronklik op ’n “weinig mindere” of laer vlak as die engele geskape, en volgens sommige geleerdes, sal die mens slegs vir ’n “kort tydjie” minder as die engele wees. God se uiteindelike bedoeling is dat “ALLE DINGE” onder die mens se beheer sal staan.

Reeds nou kan die mens verstommende rekenaar­stelsels ontwerp en bou, stelsels wat al byna met die menslike brein kan meeding. Die mens het ook reeds die vermoë ontwikkel om alle lewe op aarde uit te wis met atoom- en waterstofbomme en talle ander wapens wat gemik is op massa-uitwissing! Die mens het voedsel, water en suurstof nodig om te oorleef. Selfs al sou hy in staat wees om teen die spoed van lig te beweeg om die heelal daarvoor te verken, sal hy dit nooit kan doen nie weens die geweldige groot afstande tussen die planete.

Die mens gaan die heelal erf

In die beskrywing van die Wêreld van Môre toon God duidelik dat “alle dinge” onder die beheer van die mens geplaas gaan word. Die Griekse woord wat hier vir “alle dinge” gebruik word, beteken ook “die hele heelal!” Kyk na Heb. 2:8: “Alle dinge het U onder sy voete gestel”.

Onmiddellik hierna sê Paulus verder: “Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie”. Let op dat niks uitgesluit is van die mens se beheer nie. Maar dit het nog nie plaas­gevind nie. Die Critical and Experimental Commen­tary verklaar dat: “Aangesien geen beperking in die Bybel voorkom nie, moet die ‘alle dinge’ vanself­sprekend hemelse sowel as aardse dinge insluit” (vol. VI, 1948, bll. 530-531).

The New Bible Commentary Revised se kommen­taar op hierdie skrifgedeelte is: “Hierdie skrifture dui verder daarop dat dit nie bloot Jesus is wat geroep is om ’n bestemming van saligheid en heerskappy te beërwe nie, maar ook die mens [deur Jesus, sy Hoëpriester en Saligmaker]”.

In eenvoudige taal: dit is dus duidelik dat God die mens geskape het om werklik soos Hy te wees. Diegene wat oorwin, is bestem om WERKLIKE Seuns van God te wees – nie kinders net vir die skyn nie, nie aangenome kinders nie, nie kinders met minder status of ’n laer vlak van bestaan nie.

Aangaande die “seuns van God” sê die boek aan die Hebreërs: “Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy NIKS uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie” (Heb. 2:8). Ons uiteinde­like lotsbestemming is dan om volwaardige Seuns van God te word, om onder leiding van ons Ouer Broer en Hoëpriester, Jesus Christus, te help om die totale HEELAL te regeer!

Ons sal dan verheerlikte geestelike liggame hê wat nie aan die fisiese wette soos ons dit vandag ken, onderwerp sal wees nie. Ons sal vinniger as die spoed van lig, ja, teen die spoed van ’n gedagte, deur die heelal kan beweeg, want ons sal volwaar­dige lede van die Familie van God wees!

Terwyl ons ons Vader en Jesus Christus in die perfekte regering van God dien, sal ons ongetwyfeld uitdagings hê soos om groot dele van die heelal wat tans leweloos en verlate is, te hernu. Daar sal nog ander skeppingsaktiwiteite ook wees en talle opwin­dende projekte om te beplan en uit te voer. Soos die Bybel dan ook sê: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raads­man, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot ver­meer­dering van die heerskappy en tot vrede sonder einde ...” (Jes. 9:5-6).

Wanneer u hierdie ongelooflike doel vir die mens­dom ten volle verstaan, sal ’n hele paar ander dinge rakende die menslike lewe en die ware Christen se lewe, ook meer sin maak.

Kyk ’n bietjie na Romeine 8:17: “En as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word”. As ons begryp wat daardie “heerlikheid” of die glorie van God werklik behels, sal ons menslike beproewinge nie so erg lyk nie. Filippense 3:21 praat ook van Jesus Christus se wederkoms: “Wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp”.


GOD IS EWIG

Een van die talle vals argumente teen die waarheid oor ons uiteindelike bestemming lui soos volg: “Ons kan nooit ten volle soos God word nie, want God bestaan van die ewigheid af en is die Skepper van alles wat bestaan – en ons het nie vir ewig bestaan nie”.

Wat is die antwoord hierop? Die antwoord verskyn gedeeltelik in Rom. 4:17, NV. Hier herhaal Paulus die feit dat God Abraham ’n “vader van baie nasies” noem. God het dit egter gesê lank voordat dit ooit plaasgevind het! Daarom is Paulus geïnspireer om te skryf: “God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord”.

Die uiteindelike werklikheid is God se WIL. God het dit reeds gewil dat Abraham ’n “vader van baie nasies” sou wees. Dus, in God se gedagte is dit ’n FEIT omdat God dit so gewil het!

Net so moes God reeds van die begin af beplan het om Homself te reproduseer want, “Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Ef. 1:4). En: “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is” (Rom. 8:29, NV).

Dit is dus God se plan om baie volwaardige seuns in Sy Familie op te neem sodat Christus “die eersgeborene kan wees onder baie broeders”. Dit is alles vooraf bepaal, so deur God GEWIL “nog voordat die wêreld geskep is” (Ef. 1:4, NV). Daarom dan, volgens die WIL van God, het ons, wat oorwin, reeds die ewige lewe, het ons reeds die geskenk van ewige lewe ontvang deur die onveranderlike WIL van God!

’n Ander baie duidelike bewys dat dít wel is hoe God oor sake dink, is in Heb. 7:9-10 opgeteken: “En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoet gegaan het”.

God sê dus dat Levi “tiendes deur Abraham” betaal het alhoewel Levi toe nog nie gelewe het nie! Soos Levi nog “in die lendene van sy vader” Abraham was, so is ons, volgens dié vergelyking, in die geestelike “liggaam” van ons hemelse Vader wat dit so GEWIL het dat ons volwaardige seuns van God word! Volgens die wyse waarop God dink en handel, bestaan die ware heiliges wat steeds getrou bly aan God en oorwin, nog altyd in God se gedagte.

Ons was in die “liggaam” van God toe Hy die engele, en later die aarde en die mensdom geskep het, toe Hy nóg later Sy Seun gestuur het om dit vir ons moontlik te maak om tot die Ewige Familie van God te kan toetree.

Jesus sê dat God Gees is (Joh. 4:24). Hy sê ook: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees” (Joh. 3:6). Wanneer ons waarlik “uit God gebore” is en “kinders van die opstanding” word (Luk. 20:36), sal ons ook “goddelike natuur” hê (2 Pet. 1:4). Ons sal dus, net soos God en Jesus Christus, saamgestel wees uit dieselfde Heilige Gees. Die Heilige Gees is ewig, het altyd bestaan en sal altyd bestaan.

Alhoewel ons as nuwe “persoonlikhede” tot die Familie van God gevoeg gaan word deur middel van ’n letterlike geestelike “geboorte” met die opstanding, bestaan ons egter reeds altyd in die gedagte en wil van God. Ons is dus sedert die ewigheid “in die liggaam” van ons Vader en met ons geestelike geboorte sal ons saamgestel wees uit Gees, wat ewig is.

Ons geestelike geboorte as volwaardige seuns van God is dus slegs deel van God se geestelike wilsproses. Wanneer ons (as ons oorwinnaars is!) lede is van die vergrote Familie of Koninkryk van God, sal ons saam met die Vader en ons ouer Broer deel hê aan die verbetering en hernuwing van die grootse heelal, want God se Woord sê: “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jes. 9:6).

Ja, vir ware Christene lê daar ongelooflike toekoms­geleenthede voor. ’n Biljoen jaar van nou af sal ons reeds ’n “ewigheid” lank gewerk en skeppende funksies verrig het onder die leiding van ons Vader. Dan sal die hoë woorde en die “woordspeletjies” van hierdie wêreld se teoloë, wat God se duidelike waarheid misken, geheel en al betekenisloos wees.

“Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val” (Matt. 15:14).

Geestelike wesens sal God se weë aan die mens leer

Aangaande die uiteindelike “wedergeboorte” sê Jesus aan Nikodemus: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is” (Joh. 3:6-8).

Die geestelik gebore heiliges sal ná die opstanding net soos Christus wees nádat Hy uit die graf opgestaan het. Ons sal in staat wees om deur mure “te beweeg” (Joh. 20:19) en om in die niet te “verdwyn” (Luk. 24:31).

Tydens Christus se duisendjarige heerskappy op aarde sal die herrese heiliges, soos Christus, in staat wees om in die gedaante van ’n mens te verskyn, om besoek te bring aan mense, om saam met hulle te eet en om hulle te onderrig. Johannes 21 beskryf hoe die herrese Christus ’n visbraai vir die dissipels berei en hulle onderrig (vers 9).

Natuurlik sal daar baie interessante, opwindende en selfs lagwekkende situasies kan voorkom wan­neer die herrese seuns van God niksvermoedende mense verras of selfs skrikmaak in die Wêreld van Môre.

Jesaja 30 beskryf die tyd wanneer die hele volk van Israel, nadat hulle uit gevangenskap terugkeer, deur geestelike wesens regeer en onderrig word. “Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (verse 20-21).

Tydens die toekomstige duisendjarige heerskappy van Christus en die herrese heiliges, sal die miljoene mense wat dan nog op aarde leef, die weg na vrede, voorspoed en ware geluk geleer word. “En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hulle swaarde pikke smee en van hulle spiese snoei­messe; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:2-3).

Let nou op wat vers 5 sê: “Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die Here onse God vir ewig en altoos”. Elke nasie lewe in die naam van “sy god?” Waarvan praat Miga?

Moontlik beskryf Miga hier die verhouding tussen die mense in verskillende stede of provinsies en hulle spesifieke Heerser of Regter – ’n “weder­gebore” lid van die Godfamilie aan wie die regering van daardie stad of provinsie toegesê is (Luk. 19:17-19).

God se groot doel om ons menslike lewe te gee, is dat ons by Hom en Sy “eersgebore” Seun, Jesus, moet aansluit in ’n ware familieverwantskap wat gebaseer is op liefde, diens en gehoorsaamheid aan God se weg. Dit is die WEG na geluk en vrede, die weg wat deur die geestelike wet van God, naamlik die Tien Gebooie, en die ander voorskrifte van Christus uitgespel word.

Besware word beantwoord!

Selfs voordat ons in hierdie lewe tot bekering kom, moet ons ernstig berou oor ons sondes hê – sonde is immers die oortreding van God se wet (1 Joh. 3:4). Daarna belowe God ons die Heilige Gees (Hand. 2:38), ’n geskenk van God aan diegene wat Hom gehoorsaam (Hand. 5:32).

Dan moet ons oorwin deur die krag en die hulp van die Heilige Gees wat in ons is. Ons moet ontwikkel en groei in die genade en kennis van Christus, ons moet die ware karakter van God ontwikkel. Deur middel van hierdie proses plaas ons hemelse Vader Sy ware natuur in ons – ons is dus nie net “aangeneem” nie. Ons is letterlik verwek en uiteindelik gebore uit God en vervul met die heilige natuur van God. Ons moet geestelik aanhou groei totdat ons gereed is om met die opstanding weer gebore te word.

God, as Opperheerser oor alles, maak seker dat Sy seuns nie teen Hom sal rebelleer nie. Hy waag geen kanse nie! Slegs diegene wat hulle lewens en wil totaal oorgee aan God en aan Jesus Christus, ons toekomstige Koning, sal waardig geag word om lede van die Heilige Familie, en dus van die heersende Koninkryk van God, te word.

Die bogenoemde uiteensetting behoort een van die besware wat teen hierdie wonderlike waarheid geopper word, te weerlê. Sommige mense dink dat indien die herrese heiliges werklik God moet word en die mag van God sal hê, die gevaar bestaan dat hulle teen God die Vader sal rebelleer en moontlik ’n geestelike oorlog kan begin, net soos Lucifer gedoen het (Jes. 14:12-15). Hierdie beswaar dui egter op ’n totale wanbegrip van wat ware bekering werklik behels! Want as ons onsself in volle oorgawe aan ons Skepper gee, as ware Christene saam met Hom “wandel” en die talle beproewinge en vervolgings deurmaak wat deel is van ’n ware Christen se lewe, en ten spyte daarvan steeds aan God getrou is en staande bly tot die einde toe (Matt. 24:13), dan is daar GEEN REDE waarom ons ooit sal wegdraai van God af en selfs ons eie Hemelse Vader sal beveg nie!

As “kinders van die opstanding” (Luk. 20:36) sal ons soos God wees. Onthou: “God KAN deur die kwaad NIE VERSOEK word nie” (Jak. 1:13). God SAL NIE SONDIG nie omdat Sy heilige karakter vir ewig getrou en regverdig is. Dus is die idee dat ’n volwaardige lid van die Godfamilie teen God sal rebelleer of sondig ’n teenstrydigheid.

’n Ander beswaar is die idee dat omdat God die Vader nie self geskape is nie en vir ewig bestaan, ons nooit soos Hy kan wees nie. Hierdie idee misken egter die wonderlike waarheid dat ons letterlik uit God gebore sal word met die opstanding! Ons sal dan nie bloot “geskape” wees nie. Ons sal dan direk uit God uit kom en letterlik vervul wees met die Heilige Gees en bestaan uit Heilige Gees, net soos God self.

Ter herhaling dus, God reproduseer na Sy aard net soos die mens! Met die opstanding sal Sy geestelik gebore seuns nie ’n minderwaardige tipe geestelike wese wees nie, net so min as wat u kinders as mense minderwaardig is teenoor u!

’n Ander belangrike punt om te onthou, is dat Christus met Sy wederkoms met die Kerk “in die huwelik gaan tree” (Ef. 5:22-23; 2 Kor. 11:1-2; Op. 19:7). God het die vrou geskape om ’n volwaardige maat te wees wat die man se lewe met hom deel. Moet die bruid van Christus minderwaardig tot God wees, ’n totaal verskillende tipe wese? Sal die verheerlikte heiliges op ’n laer vlak as God bestaan, soos ’n troeteldier teenoor sy eienaar? Dink ’n bietjie daaroor na!

Sommige mense is aanvanklik regtig geskok oor die ongelooflike waarheid rakende ons uiteindelike lotsbestemming. Daar is egter ander wat hierdie grootse waarheid met “woordspeletjies” probeer verdraai en mense probeer mislei oor God se wonderlike doel vir die mensdom.

Ek herhaal weereens wat ek vantevore gesê het voordat iemand probeer om hierdie woorde te verdraai: God die Vader en Jesus Christus, ons Verlosser, sal altyd groter mag en gesag hê as ons. Maar as “kinders van die opstanding” egter, sal die heiliges op dieselfde vlak as God verkeer, net soos u seuns en dogters op dieselfde menslike vlak as u, hulle ouers, verkeer. God die Vader en Jesus bestaan immers reeds altyd en het reeds meer gedoen en bereik as enige van die herrese heiliges. Net so het u en ek langer as ons menslike kinders geleef en meer in die verlede gedoen en bereik as hulle. Nogtans is hulle volwaardige mense, net soos ons!

Ons moet egter begryp dat die kontinuum van die “ewigheid” net eenvoudig aangaan en aangaan en dat die heiliges, as volwaardige lede van die Godfamilie, by God sal aansluit om te regeer, te skep en om ongelooflike projekte oor die Heelal ten uitvoer te bring in die eeue wat voorlê (Jes. 9:6).

God se ontsaglike liefde

God het die mens geskape sodat ’n jong getroude egpaar die begeerte sal hê om kinders te verwek. Hulle wil hulle tuiste, hulle lewens en hulle LIEFDE met ’n klein mensie deel wat na hulle beeld gemaak is en in die wêreld gebring is. Hulle sien uit na die geboorte van ’n baba, ’n kind wat tot ’n volwassene sal groei en ontwikkel, wat sal leer om sy lewe, planne en toekomsdrome met sy ouers, broers en susters te deel in ’n liefdevolle familieverwantskap.

Net so is dit met God. “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde” (1 Joh. 4:8). Omdat God liefde is, wil Hy Sy liefde, Sy glorie en heerlikheid, Sy ewigheid deel met biljoene ander wat met die opstanding Sy ware seuns sal word! Indien God die Vader en Christus selfsugtig en afsydig is of ’n gebrek aan liefde en mededeelsaamheid toon, dan kon Hulle mos die God-familie tot Hulleself beperk het sonder om dit vir ander moontlik te maak om in die Godfamilie opgeneem te word. Hulle kon dus die Goddelike verhouding beperk het en geslote gehou het sonder om Hulleself te reproduseer.

Ons Vader en ons Meester (Elohim, die God­familie) word deur geestelike liefde gemotiveer. Daardeur verkies Hulle om Hulleself te reproduseer en Hulle eie heilige natuur in Christene te plaas wat hulle lewens aan God oorgee. God vertroetel en lei dan sodanige “verwekte” seuns deur die fisiese lewe van oorwinning oor die sonde, totdat hulle dan letter­lik uit God “gebore” word as “kinders van die opstanding” (Luk. 20:36).

Hoe groot is die liefde van Christus dan? Die apostel Paulus is geïnspireer om te bid: “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy LIEFDE ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God” (Ef. 3:18-19, NV).

Hoe kan u met die “volheid van God” vervul word en dan NIE God wees nie?

Die liefde van Christus en ons Hemelse Vader “forseer” Hulle as God om Hulle ewige glorie en heerlik­heid met ons te deel as volwaardige seuns van die Koninkryk, van die Familie van God.

Nou sal u die gedeeltes in die Nuwe Testament rakende die herrese heiliges wat God se glorie gaan erf, baie beter verstaan. Ja, hierdie “ ... verborgen­heid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid” (Kol. 1:26-27).

Ja, die mens het nog altyd gewonder “Waarom is ek gebore? Wat is die doel van die lewe? As daar werklik ’n God is, waarom toets en beproef Hy die mens so en laat Hy die mens so swaar kry?”

Uiteindelik is hierdie geheimenis nou OPGELOS! Indien u die voorgaande feite met ’n oop gemoed en verstand aanvaar, dan ken u nou die antwoord op die diepliggende vrae wat filosowe en geleerdes soveel eeue lank reeds pla. U kan God en ons Saligmaker, Jesus Christus, innig dankbaar wees dat Hulle ons wel “na Hulle aard” geskape het.

Jesus se vurige gebed

Jesus se gebed tot God gedurende die laaste 24 uur van Sy menslike lewe, in die nag voor Sy kruisiging, is volledig in die Bybel opgeteken. Kom ons kyk na ’n paar hoogtepunte uit daardie geïnspi­reerde gebed. “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was” (Joh. 17:5). Hier vind ons dat Christus spesifiek versoek dat die grootse heerlikheid wat Hy van die ewigheid af met die Vader gedeel het, weer aan Hom teruggegee word, aan Hom, die “eersgeborene onder baie broeders” (Rom. 8:29).

In Johannes 17:11 bid Jesus: “... Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle EEN kan wees net soos Ons”. Christus en die Vader is een God, een Familie en bestaan op een en dieselfde vlak, bo alle ander wesens. Jesus bid dat die heiliges op dieselfde manier een word!

Kyk ’n bietjie wat sê Johannes 17:20-23: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal EEN mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het”.

Dit is wonderlike, besielende woorde dié oor God se liefde wat van Hom af uitvloei na die mens toe! Dié verse wys ook duidelik daarop dat dié van ons wat ons ten volle aan God se wil onderwerp en toelaat dat Christus Sy lewe in ons lei deur die Heilige Gees, dieselfde glorie en verheerliking sal bekom as wat Christus het. Ons sal een wees met God (soos Christus een is met die Vader) en, vanselfsprekend sal ons dus God wees. Dít is die verwesenliking van God se doel met ons fisiese lewe en ons geestelike roeping: “ ... dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het” (vers 23).

Dit is moeilik om die onbeskryflike liefde van ons Vader ten volle te begryp. Nogtans moet ons met diepe eerbied, dankbaarheid en gehoorsaamheid tot God op daardie grenslose liefde reageer. Ons moet strewe om “van elke woord” van God te leef (Matt. 4:4). Ook moet ons leer om “deur geloof” te wandel (2 Kor. 5:7) deur ons oë altyd op die wonderlike doelwit te hou wat God vir ons gestel het.

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6). Hoe groot is daardie beloning nie!

Uit die diepte van my hart en my hele wese moedig ek almal wat hierdie boekie lees aan om God waarlik en ywerig te soek. Moenie uself toelaat om enigiets bo God en Sy wonderlike doel met u lewe te stel nie. Leer om waarlik die Bybel ernstig te bestu­deer. Leer om op u knieë voor die Opperheerser van die Heelal te gaan en u hart dan letterlik teenoor Hom uit te stort in gebed waarin u vir die nodige liefde, wysheid en die krag vra om waarlik te oorwin en om as Sy ware seun in die toekomstige wêreld­regering van die Koninkryk van God opgeneem te word.

NIKS kan meer opwindend wees nie! En wanneer u dit werklik begryp, sal niks méér “werklik” wees as dít wat die Almagtige Vader sê wél sal gebeur nie! Dit is die finale vervulling van die Evangelie van Jesus Christus – die uiteindelike Blye Boodskap – dat die mens in die Koninkryk van God ingebore kan word en wel op die Goddelike vlak.

Die stamvader Jakob het 12 seuns gehad. Hulle het op hulle beurt weer seuns, dogters, kleinkinders en agterkleinkinders gehad, miljoene en miljoene van hulle, en so het hulle die nasie of “die Koninkryk van Israel” geword. Net so help Christus die Vader om “baie kinders na die heerlikheid [te] bring” (Heb. 2:10). Hulle is besig om ’n hele nasie van geestelike wesens tot stand te bring, ’n “geestelike Koninkryk van God”. Hierdie geestelike Koninkryk sal bestaan uit ware seuns van God, wat letterlik uit God gebore word tydens die opstanding, wat God se volwaardige natuur en karakter sal hê. Ek herhaal dit weereens, dít is die uiteindelike betekenis van die “Evangelie”, die uiteindelike Blye Boodskap en die wonderlike doel met u lewe!

“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:2-3).

Noudat u weet wat ú uiteindelike lotsbestemming is, weet u WAAROM God wil hê dat u Hom en Sy Seun moet toelaat om die heilige, regverdige karakter van God in u te ontwikkel.

God die Vader is nie ’n ruggraatlose papperd, ’n stuurs en norse puritein of ’n onpraktiese filosoof nie. Hy en Sy eersgebore Seun, net soos ’n liefdevolle familie, is besig om ander seuns van God voor te berei om by Hulle aan te sluit om hierdie wêreld te regeer, en op ’n later stadium, ook die hele Heelal te regeer. Gaan staan gerus op ’n helder aand buite onder die sterrehemel en tel soveel sterre as wat u moontlik kan. Dink dan aan die biljoene sterre wat oor die uitgestrekte Heelal versprei is wat u nie kan sien nie. Bepeins dan die ongelooflike, grootse doel van u lewe en dank God daarvoor! Gaan dan op u knieë en begin ywerig om u deel te doen sodat God Sy doel in u lewe kan verwesenlik!