U eie predikant mag BLIND wees vir die inligting in hierdie boekie, en dit nie weens ’n fout aan sy kant nie. Die wêreld se predikers verstaan dit nie op hul eie nie, kan dit inderdaad nié verstaan nie – tensy of totdat hulle hul daarvan bekeer om menslike tradisies te volg en toelaat dat die geïnspireerde Woord van God hulle ten volle onderrig in hierdie saak asook in baie ander Bybelse waarhede.

Maar u KAN verstaan as u waarlik gewillig is om te glo wat God sê in Sy geïnspireerde Woord, die Bybel. Die werklike antwoorde was nog altyd daar opgeteken. Maar Satan die Duiwel is die “god” van hierdie wêreld of samelewing (2 Kor. 4:3-4). Satan word in u Bybel beskryf as “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid WERK” (Ef. 2:2).

Satan die Duiwel saai verkeerde idees en gesindhede uit in die wêreld se atmosfeer. Soos ons hierbo gesien het, is hy die “owerste” van die wêreld se atmosfeer en beïnvloed die menslike samelewing en gedrag BAIE MEER as wat die meeste mense selfs begin besef. Satan verwar mense oor die plan en die DOEL van die Grote God. Die geïnspireerde apostel Johannes skryf: “En die groot draak is neergewerp die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld VERLEI [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Op. 12:9).

So is selfs die belydende Christelike wêreld mislei. Daar is vandag meer as 400 sektes en godsdiens­organisasies. Hulle is MISLEI oor wat saligheid eintlik behels, en oor wanneer God die groot meerderheid van mense tot bekering gaan bring.

Dink ’n bietjie hieroor!

Dink aan die biljoene mense wat almal na God se beeld geskape is en wat nog nooit in enige vorm van Christelikheid geglo het nie. Vandag is slegs ’n handjievol van die 1,2 biljoen mense in China belydende Christene. Dieselfde geld vir die ongeveer 1 biljoen mense in Indië. Dink dan aan die 200 miljoen mense van Indonesië, die mense van Japan, Pakistan en die ander dig bevolkte nasies wat almal in ’n soortgelyke situasie is! In die Arabiese wêreld is daar bitter min mense wat die Christendom as hulle geloof erken.

Dink dan aan die tallose BILJOENE mense wat in die vorige eeue in hierdie en ander nasies geleef en gesterf het wat nooit eers die naam “Jesus Christus” in hulle leeftyd gehoor het nie!

Baie van die liberale, modernistiese leraars en teoloë – wat in elk geval nie self glo dat Christus eintlik in alle opsigte God was nie, redeneer met allerhande menslike en filosofiese argumente óm die probleem dat God dié mense op ’n ander manier sal red. Maar hulle KAN NIE die uitdruklike woorde van die Bybel aanhaal om hulle menslike redenasie te rugsteun nie, want die Bybel self is baie duidelik oor wie gered sal word en die ewige lewe sal ontvang.

God se Woord is DUIDELIK

In sy verwysing na die dramatiese genesing van ’n verlamde man, sê die apostel Petrus: “Laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ’n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook GEEN ANDER NAAM onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:10-12). Is die stelling dan nie kristalhelder nie? Gee dit vir die teoloë ruimte vir redenasies wat sê: “Wel, as die mense van die vorige eeue basies ’n goeie lewe gelei het en opreg was in hulle godsdiensbeoefening dan sal ’n liefdevolle God hulle tog sekerlik die ewige lewe gun?”

Maar hulle snap nie die punt wat die Apostels en Christus ook gemaak het nie, naamlik dat die ewige lewe SLEGS gegee sal word aan diegene wat tot die ware God van die skepping terugkeer weens ’n besondere verhouding met Jesus Christus as Here en Verlosser. Deur middel van daardie begrip en verhouding kom hulle tot insig van wie die ware God is en wat Hy vereis van diegene wat Sy ewige Koninkryk wil beërwe. Sonder daardie unieke begrip en verhouding ploeter die mense van hierdie wêreld voort in algehele blindheid en verwarring, en hulle is NIE nou besig om hulle uiteindelike lotsbestemming te vervul nie. Hulle mag dalk opregte heidene of ongelowiges wees, maar hulle bly nogtans heidene!

Let weer op na Paulus se geïnspireerde opdragte aan die Christene in Éfese. Die meeste van dié mense was heel moontlik opregte aanbidders van die plaaslike godin, Diana van die Efesiërs. Paulus sê prontuit aan hulle: “Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, SONDER HOOP en SONDER GOD in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus” (Ef. 2:11-13).

Die geïnspireerde apostel Paulus het vir die opregte heidene gesê dat hulle “sonder hoop” was. Dus kan ons óók nie aanvaar dat ander mense wat nie-Christelike gelowe beoefen het, werklik enige hoop op die ewige lewe en saligheid het nie, kán ons?

Kyk wat Jesus Christus sê in Johannes 10:1-2: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ’n herder van die skape”. Dit is duidelik dat enigeen wat verlossing op enige ander manier soek dus in GROOT moeilikheid is! Lees nou verse 7 en 8. “Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie”. Hierdie woorde van die Seun van God maak dit baie duidelik dat – volgens Christus se leerstelling – “almal” wat voor Christus gekom het en daarop aanspraak gemaak het dat hulle saligmakers of “verligtes” was, bedrieërs of SWENDELAARS was!

Gaan nou na Johannes 6:44: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag”. Slegs diegene wat spesiaal deur God geroep is, kan verstaan en reageer op die boodskap van Jesus Christus! Jesus herhaal hierdie punt in Johannes 6:65: “Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat NIEMAND na My toe kan kom as dit hom nie deur My Vader gegee is nie”.

Met al hierdie uitdruklike skrifture in gedagte, HOE DURF ’n prediker of teoloog met enige selfrespek enigiets anders preek? Hoe durf hulle insinueer dat daar ’n ander manier is om die ewige lewe te bekom, behalwe om deur God geroep te word en jou OOR TE GEE aan die God van die skepping deur die ware Jesus Christus van die Bybel?

Wat doen God dan NOU?

U mag dalk vra: “Wel, as God NIE nou probeer om al die mense op aarde te red nie, wat is Sy plan en doel dan met al die vertragings? WAAROM word die menigtes op aarde nie nou geroep nie?”

Die antwoord is dat God Sy plan met die mensdom uitwerk oor ’n periode van 7,000 jaar. Vir die eerste 6,000 jaar het God die mens toegelaat om met verskeie vorme van godsdiens, onderwys, regering en kultuur te eksperimenteer. Deur geeste­like leegheid en fisiese en emosionele worsteling is die mensdom nou besig om die les te leer dat die mens se weë altyd VERKEERD loop. Die LYDING en swaarkry van die mensdom is die gevolg van verkeerde weë loop. Wanneer die mensdom eers dié les geleer het, sal hulle bereid wees om aandagtig te luister wanneer God wel hul verstand en hart oopmaak vir Sy Waarheid.

“Hoe wreed!” sou party mense sê. “Waarom het God nie net ’n perfekte leermeester gestuur, en ons die regte weë gewys op ’n positiewe en liefdevolle manier nie?”

My vriende, dit is PRESIES wat Hy gedoen het!

God het inderdaad Sy Seun na die aarde gestuur as ’n goedhartige, barmhartige en liefdevolle Leer­meester wat die siekes gesond gemaak het, die verdruktes getroos het en die weg na die ewige lewe geleer het. Het die mensdom Hom aanvaar, Hom geglo en blymoedig Sy boodskap nagevolg?

Nee! Hulle het Hom DOODGEMAAK op een van die stadigste en pynlikste maniere wat die verdorwe mensdom uitgedink het onder die bose invloed van Satan die Duiwel.

Onthou, dit was die godsdienstige leiers wat die mensemassa opgesweep het om Christus se dood te eis. Hulle wou die godsdienstige instellinge van hulle tyd behou want, hul WERK was op die spel. Selfs Pilatus, die Romeinse goewerneur, het die werklike kwessie herken: “Want hy het geweet dat die owerpriesters Hom uit NYDIGHEID oorgelewer het” (Mark. 15:10).

Boonop het God profeet na profeet die wêreld ingestuur met die uitdruklike doel om Sy volk Israel te onderrig en te waarsku. Is hulle entoesiasties ontvang? Let op wat God by monde van Jeremia sê: “Van die dag af dat julle uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe het Ek na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat; maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard; hulle het dit erger gemaak as hul vaders” (Jer. 7:25-26).

Dus, behalwe vir betreklik min toegewyde individue in elke leeftyd om Sy Waarheid te verstaan en Sy Werk te doen, is God eintlik besig om die mensdom toe te laat om hul eie gang te gaan. Waarheen lei dit hulle? “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 14:12).

Redding is voorbereiding vir die EWIGHEID

Die Almagtige Skepper wat die mensdom lewe en asem en alle goeie dinge gee, wil hê dat almal eendag in Sy Familie moet wees. Maar om “gered” te word en om volle seuns van God te wees in Sy ewige Koninkryk behels VEEL MEER as wat die meeste mense verstaan!

Dit is NIE bloot ’n geval van Jesus “aanneem” tydens ’n emosionele herlewingsdiens nie. Dit is NIE net ’n geval van “by ’n kerk aansluit” nie. Inteendeel, dit is ’n saak van algehele OORGAWE aan die God van die Bybel by wyse van ’n persoonlike verhouding met die ware Jesus Christus. Dit behels dat ’n mens in opregtheid sy hart, sy verstand en sy wil onderwerp aan God se wil, sodat die Lewende Jesus Christus – as Hoëpriester – Sy lewe geheel en al binne-in daardie mens kan UITLEEF. Soos die geïnspireerde apostel Paulus ons vertel: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal.2:20).

Deur geheel en al onderdanig te wees aan God se wil en die ware Christus toe te laat om binne-in hom te lewe, kan ’n Christen mettertyd dieselfde KARAK­TER as God ontwikkel! Met Christus in hom, is ’n ware Christen in staat om “TOE [TE] NEEM in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18). Op daardie God­bestemde wyse word ’n Christen dan ’n werklike “oorwinnaar”. Deur Christus wat in hom lewe, oorwin hy geleidelik homself, die samelewing en Satan die Duiwel. Hy is dan BAIE BETER voorberei vir die ewige lewe in Christus se Koninkryk as wanneer hy bloot “gered is” of “by ’n kerk aangesluit het” volgens die tradisionele manier van hierdie misleide wêreld!

Die Lewende Christus sê: “En aan hom wat OORWIN en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Op. 2:26-27). Jesus sê verder: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die WIL doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Dit is duidelik God se geopenbaarde wil dat ware Christene diegene is wat sonde oorwin en Christus toelaat om Sy lewe in hulle te leef, deur middel van die Heilige Gees. Dit is DIESELFDE TIPE onderdanige, gehoorsame lewe wat Hy gelewe het terwyl Hy as mens op aarde gelewe was.

Op daardie wyse sal God se Koninkryk bevolk word – NIE deur selfsugtige, opstandige, ongehoor­same en ontevrede mense wat almal, hulself ook, vir alle ewigheid ONGELUKKIG sal maak nie. Maar deur individue wat vrylik gereageer het op God se wekroep en Hom toegelaat het om Sy eie aard en KARAKTER in hulle te ontwikkel. Die apostel Petrus skryf dat God se beloftes, insluitend die beloofde Heilige Gees, ons in staat stel om “deelgenote [te] kan word van die GODDELIKE NATUUR” (2 Pet. 1:4).

God sê nie net metafories dat ons Sy kinders is nie. Inteendeel, Hy plaas Sy eie AARD en NATUUR binne-in ons deur die werking van die Heilige Gees. Dan kan ons Sy aard weergee in alles wat ons dink, sê en doen. Hy kan, en Hy sal, in ons daardie natuur en karakter vestig en ontwikkel wat ons benodig vir ewige lewe in Sy toekomstige Koninkryk!

Die ontwikkeling van Heilige, Regverdige Karakter

Hoe ontwikkel God Sy karakter in ons? Hy weet dat ons somtyds net ’n les sal leer as ons “swaarkry”.

As ons in die versoeking is om moedeloos te word deur die een of ander hindernis wat voor ons op­doem, kan ons die volgende woorde van die apostel Paulus in gedagte hou: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Rom. 8:18).

Uit die geskiedenis weet ons dat ware Christene sedert die begin van die Kerk vervolg is. As ons nou “ly”, is dit ter voorbereiding vir ’n ewigheid van blydskap, vrede en liefde as deel van God se Familie! Ons moenie verbaas wees as swaarkry ons tref nie. Ons behoort dit te verwelkom as ’n wyse waardeur God ons karakter ontwikkel, waardeur ons kan leer om meegevoel te hê, en selfs in ’n beperkte mate kan verstaan wat Jesus Christus moes deurmaak toe Hy om ons onthalwe so gely het. Die apostel Petrus was bewus van dié baie belangrike punt.

Hy skryf: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik” (1 Pet. 4:12-14).

Ja, ons weet dat ons heel moontlik baie beproewinge sal moet beleef op die pad na God se Koninkryk (Hand. 14:22). Maar ons kan daardie beproewinge verwelkom as geleenthede om te “groei”, om toe te neem in die genade en kennis van ons Here (2 Pet. 3:18).

God wil dat ALMAL gered word

Ons herhaal, God wil hê dat elke mens – almal wat na Sy beeld geskape is – eendag in Sy Koninkryk moet wees. God het die mens na Sy beeld geskape (Gen. 1:26). God het die mens ’n vrye keuse gelaat, in staat om te kies tussen lewe en dood, tussen goed en kwaad. God sê in Sy Woord: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. KIES DAN DIE LEWE, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deut. 30:19).

In die Nuwe Testament sê 1 Timotheus 2:4 vir ons dat God “wil hê dat ALLE MENSE gered word en tot kennis van die waarheid kom”. God dwing nie mense om gered te word nie. Die mens se vrye keuse is hier ter sprake. Daar is etlike skrifture wat bewys dat ’n klein groepie egter wel in die “vuurpoel” gaan beland (Op. 19:20). “Dit is die TWEEDE DOOD” (Op. 20:14).

Ja, ’n handjievol sal wel VERKIES om vir ewig uitgewis te word eerder as om God lief te hê en Hom te dien. Hoe kan God Sy perfekte liefde versoen met Sy perfekte geregtigheid? Hy kan eenvoudig nie ’n rebelse gesindheid in Sy Familie toelaat nie, maar Hy is ook nie ’n sadis wat Sy skepping pynig nie. Hy sal iemand nie tot die verderf verdoem as die persoon nog nooit ’n kans gehad het om Sy Waarheid te hoor nie. Maar, Hy verwag baie van die mense wat die Waarheid en die offer van Sy geliefde Seun Jesus Christus aanvaar het. Ons lees in Hebreërs: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat teëstanders sal verteer” (Heb. 10:26-27).

Ja, as ons opsetlik sondig nadat God Sy Waarheid aan ons geopenbaar het en nie berou tot bekering het nie, sal ons Sy “teëstanders” word en dan verdien ons verdoeming tot die “vuurpoel”. Wat is daardie vuurpoel egter? Dit word só beskryf in Maleagi: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie” (Mal. 4:1).

Diegene wat God verwerp, sal “stoppels” word. Hulle sal vir ewig verbrand wees. Hulle sal nie meer bestaan nie! Wie sal deur hierdie noodlot getref word? Die apostel Johannes vertel in Openbaring: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die onge­lowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereer­ders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Op. 21:8).

Almal sal tot INSIG kom

God sal NIE toelaat dat die lot enigeen tref nie, tensy daardie persoon ’n definitiewe keuse daartoe gemaak het. God sal seker maak dat elke mens wat ooit gebore is ’n kans sal kry om die werklike WAAR­HEID van God se wil en doel te leer ken, want die woord “kennis” in 1 Timotheus 2:4 is vertaal uit die Griekse woord epignosis, wat “’n oorsig” van die waarheid beteken. Dit is dus duidelik dat elke mens wat nog ooit gelewe het hierdie fundamentele kennis rakende God en Sy plan moet leer. Elke mens moet ’n kans hê om die ewige lewe óf te aanvaar óf te verwerp volgens God se bepalings. Anders sou God inderdaad ’n aannemer van persone wees, mense voortrek, as Hy BILJOENE mense laat leef en sterf sonder dat hulle ooit geleer het van die PLAN van die Almagtige God en Sy Seun Jesus Christus.

Ons lees meer oor God se wil in 2 Petrus 3:8-9: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag. Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor [geduldig met] ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom”.

God bereken tyd in duisende jare. Hy is dus nie haastig om almal te red voordat die mensdom nie eers hulle lesse in menslike lyding geleer het omdat hulle die verkeerde rigting ingeslaan het nie. Al het derduisende predikers hul gehore tydens herlewings­dienste gesmeek, “gee u hart vanaand aan die Here, want dit kan dalk u LAASTE KANS wees”, wys die einste leraars wat dié woorde uiter eintlik dat hulle GEEN IDEE het van die ware plan en DOEL wat die Skepper besig is om hier op die aarde uit te werk nie.

Een skriftuur wat predikers geslagte lank al op hierdie wyse misbruik is 2 Korintiërs 6:2 waar God sê: “In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil [redding, NV]”.

Beteken dié vers dat hierdie “die” dag van heil of redding is en dat daar geen ander dag is nie? Die antwoord is eenvoudig ’n kwessie van korrekte vertaling. Geleerdes is dit eens dat die eerste deel van die vers hierbo ’n direkte aanhaling is uit Jesaja 49:8. In beide die Ou en Nuwe Vertaling is daar egter ’n vertalingsfout, want vers 8 behoort so te lees: “In ’n tyd van die welbehae het Ek u verhoor, en in ’n dag van heil het Ek u gehelp” (The Holy Scriptures, Jewish Publication Society of America; ons beklemtoning). Pas nou die beginsel in Jesaja 49 toe, en u sien dat Paulus eintlik besig is om die Kerk in Korinte te vermaan om NIE God se genade tevergeefs te ontvang nie (vers 1). Dié Korintiërs was reeds geroep – reeds in God se Kerk. Dus sê hierdie gedeelte gewis nie dat dit die ENIGSTE dag van redding is vir die hele mensdom nie. Inteendeel, soos baie Bybelkommentators wel erken, vermaan dié gedeelte die reeds bekeerde gelowiges om hul eie redding “uit te werk” tot die einde toe (verwys A Commentary on the Pauline Epistles, Charles B Williams, Moody, 1953).

Soos ons gesien het, wil God hê dat almal die kennis van verlossing moet hê. Maar Hy probeer beslis nie om almal NOU te red nie. Aangesien die meeste mense nog nooit in ENIGE vorm van “Christelikheid” geglo het nie, sou ons dan moes aanneem dat God eintlik hulpeloos is, NIE IN STAAT IS om uit te voer wat Hy beplan nie!

Het Jesus probeer om Mense te “Red”?

’n Baie algemene wanbegrip – wat gebaseer is op ’n MISverstand oor die onderwerp van hierdie boekie – is dat Jesus Christus gekom het om mense te “red” gedurende Sy bediening hier op aarde. Hy het egter nie! In der waarheid het Jesus – deur Sy ver­soenings­­dood – dit moontlik gemaak vir diegene wie die Vader “roep” om NA Sy dood en opstanding met God versoen te word.

Naby die einde van Sy lewe in die vlees, het Jesus Sy dissipels vertel, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Joh. 14:16). Selfs Jesus se dissipels het toe nog nie die inwonende teen­woordigheid en Krag van die Heilige Gees gehad nie. Hulle was toe nog NIE bekeerd nie! Soos Jesus aan Petrus gesê het, “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag BEKEERD is, moet jy jou broeders versterk” (Luk. 22:32). Johannes was geïnspireerd om van Jesus se leeftyd te skryf, “En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie” (Joh. 7:39).

Dus was niemand, in ’n tegniese sin, gedurende Jesus se menslike bediening “bekeerd” nie. Niemand het die Heilige Gees ontvang voor Pinksterdag, na Jesus se dood en opstanding nie. (Hand. 2). Ver­basend soos dit vir sommige mag klink, het Jesus nie eers probeer om die menigte gedurende Sy bediening te bekeer nie. Jesus het NIE “probeer” om die ganse mensdom toe te bekeer nie, net so min as wat God nou probeer om die ganse mensdom te red!

DINK.

Baie van u – net soos ek – was in die Sondag­skool geleer dat Jesus in gelykenisse gepraat het sodat Hy die betekenis “meer duidelik kon maak”. Ek onthou vandag nog goed hoe my Sondagskoolklas geleer is dat, omdat die meeste van Jesus se toehoorders boere, vissermanne en skaapwagters was, Jesus hulle geleer het deur middel van gelyke­nisse, waarin Hy gebruik gemaak het van landbou­kundige voorbeelde, sodat hierdie eenvoudige werkende mense beter kon verstaan.

Maar, wat sê die Bybel werklik? Presies die TEEN­OORGESTELDE! Jesus het vir die Apostels gesê: “Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en NIE SIEN NIE; en hoor en hoor, en NIE VERSTAAN NIE, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie” (Mark. 4:11-12). Weereens, Jesus het nie probeer om hierdie mense te “red” nie – nie op daardie tydstip nie!

Dit is vir die meeste belydende Christene moeilik om te verstaan. Hulle is oor en oor geleer dat Christus, die Apostels en alle ware Christene besig is met ’n “siele-red” sending! Dit word dan ook ten minste geïmpliseer dat tensy mense in hierdie huidige lewe gered word, hulle VIR EWIG “verlore” is.

As u egter die vier Evangelies en die Boek Handelinge noukeurig lees, word dit duidelik dat die OORGROOTTE MEERDERHEID van die mense wat geleef het gedurende Jesus en die Apostels se leeftyd NOOIT tot enige vorm van Christelikheid bekeer is nie! Was hulle almal gemeen en vieslike mense? Was hulle almal in direkte opstand teen God? Is hulle almal vir ewig “verdoem”? Was die werk van Jesus en die Apostels ’n TOTALE MIS­LUKKING? Natuurlik nie!

Net soos die meeste van die wysgere met wie Paulus in die Areopagus geredeneer het (Hand. 17:18-34), het die meeste mense van daardie tyd GEEN IDEE van die ware Skepper God gehad nie. Hulle het net nie geweet nie. God het hulle NIE probeer “roep” nie, nie op daardie tydstip nie. Weereens, dit is alles ’n kwessie van TYDS­BEREKENING, ’n kwessie van wanneer God besluit om hierdie BILJOENE mense te roep wat weg van God geleef het vir die afgelope 6,000 jaar.

Selfs Israel was Verblind

Soos ons gesien het, gebruik God Israel as ’n tipe van die ganse mensdom. Verskeie skrifgedeeltes in God se Woord openbaar hierdie beginsel: “eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Joh. 4:22; Hand. 20:21; Rom. 1:16; 2:9). So het Christus en die Apostels dan ook eers vir die Jode gepreek. Later, in Han­de­linge 10, vind ons die verhaal van hoe God Petrus gelei het om verlossing aan die nie-Jode beskik­baar te stel, beginnende met Cornelius se huis­gesin.

Hoekom is die Jode, en die oorgrote meerderheid van die afstammelinge van die “verlore tien stamme”, nie almal bekeerde Christene nie? Omdat, soos ook met die res van die mensdom, God hulle almal heeltemal VERBLIND het sodat hulle nie kan verstaan nie!

Die geïnspireerde Paulus het in die boek aan die Romeine dit aangaande die mense van Israel verduidelik: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie” (Rom. 10:3). Let egter op dat hierdie mense die geregtigheid van God “nie ken nie”, omdat God hulle nog nie “geroep” het nie.

Let op Paulus se verduideliking: “Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard. Soos geskrywe is: God het hulle gegee ’n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe” (Rom. 11:7-8). Die New King James Vertaling gee vers 7 as volg aan: “What then? Israel has not obtained what it seeks; but the elect have obtained it, and the rest were BLINDED”.

Maar het God hierdie mense VIR EWIG “verblind”? Natuurlik nie. Soos ons verduidelik het, God is ’n regverdige God. Hy sal elke klas mens in Sy eie tyd roep. Dit is presies wat die hoofstroom Christene NIE verstaan nie. Hier is God se antwoord op hierdie raaisel: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (verse 25-26).

So die “hele” Israel SAL gered word! Soos ons u nou gaan wys is daar ’n tyd wat kom, ’n “dag van OORDEEL”, wanneer die skille vanaf die oë van alle mense afgehaal gaan word wat deur die eeue heen verblind was. Die ou vooroordele en ou valshede sal dan finaal verwyder word. Dan sal hulle kan SIEN. Hulle sal dan uiteindelik die groot DOEL, wat God hier op die aarde uitwerk, duidelik kan sien en verstaan. Hulle sal verstaan HOEKOM God toege­laat het dat die mensdom as ’n geheel hul gang in geestelike blindheid gegaan het vir die afgelope 6,000 jaar.

’n Tyd van OORDEEL

Onthou, Jesus het gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh. 6:44). ’n Geïnspireerde apostel Paulus skryf: “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie” (1 Kor. 1:26). Beteken dit dat die “groot” en beroemde mans en vroue van alle eeue dus GEDOEM is? Dat hulle NIE ’n kans vir verlossing gaan kry nie?

Natuurlik nie!

Wat van die arrogante leiers uit vergange se dae wat ontelbare miljoene mense doodgemaak, verkrag en mishandel het? Húlle het tog nog NOOIT GEHOOR van die ware Jesus Christus of Sy bood­skap nie. Interessant genoeg, gee Jesus Self die antwoord: “Wee jou Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeels­dag as vir julle” (Matt. 11:21-22).

Die “oordeelsdag” – soos ons sal sien – is NIE bloot ’n tyd van vonnisoplegging nie. Inteendeel, dit is ’n toekomstige tyd wanneer God die BILJOENE dooies sal opwek en hulle verstand en hart sal open om Sy doel te begryp. Hulle sal dan geoordeel word volgens hul reaksie – nádat hulle ’n ware geleentheid gegun is om werklik te kan verstaan!

Lees nou verse 23-24 en let op Jesus se verbasende stelling: “En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou”. Dink ’n bietjie daaroor! Selfs die seksueel afwykendes van Sodom [homo­seksuele] sal dit “verdraagliker” vind in die OOR­DEELS­DAG as daardie mense van Kapérnaüm wat Christus persoonlik geken het en Hom verwerp het!

Nou hoe dan so?

Die antwoord is dat hierdie antieke volke – so VOL SONDE as wat hulle was – geen KENNIS gehad het van die ware God of Sy weë nie. Christus sou eers honderde jare later as die Verlosser kom. Nogtans het ons gesien dat daar GEEN ANDER NAAM is waardeur ons gered kan word nie.

Soos ons ook gesien het, het Satan, die “god” van hierdie wêreld, die ongelowiges VERBLIND. Die meeste mense van vandag KAN NIE die Bybel of God se plan verstaan nie. Hulle is nog nie geroep nie.

Daarby is Satan die Duiwel die magtige geestelike wese “wat die HELE WÊRELD verlei” (Op. 12:9). In talle van Sy profesieë praat God van die sluier van geestelike BLINDHEID wat die meerderheid van mense se begrip bedek. Hy praat ook van ’n tyd wanneer Hy daardie sluier sal vernietig met Christus se terugkeer na die aarde. “En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide SLUIER wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek” (Jes. 25:7-8).

Wanneer word die sluier vernietig? Wanneer kom die “oordeelsdag” vir die BILJOENE mense wat deur die eeue nie ’n WARE geleentheid gehad het om God se wil te leer ken en die ware Jesus Christus van die Bybel as hulle Verlosser aan te neem nie?

Die “Laaste Oordeel” by die Groot Wit Troon

In die boek van Openbaring vind ons die tydvolgorde van profesieë duideliker uiteengesit as in enige ander boek in die Bybel. Openbaring 19:11-21 beskryf Christus se glorieryke wederkoms as Koning van die konings (verse 14-16). Dan, nadat Hy die leërs van die komende Europese diktator genaamd “die Dier” verslaan, werp Christus hom en die vals godsdiensleier in die vuurpoel (vers 20).

In Openbaring 20:1 beskryf God verder ’n magtige engel wat na die aarde neerdaal: “En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word” (verse 2-3). Let daarop dat hierdie gedeelte ook sê dat Satan die nasies van die wêreld VERLEI (mislei).

Nadat Satan gebind is, sal die glorieryke duisendjarige heerskappy van Christus op die aarde begin. Let ook op dat Openbaring wys dat die ware Christene saam met Christus sal leef en regeer as konings “die duisend jaar lank” (vers 4). Dan: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings REGEER duisend jaar lank” (vers 6).

Ware Christene wat werklik deur God geroep is, verstaan Sy plan en doel. Hulle weet dat hulle nou opgelei word om konings en priesters te wees in die toekomstige regering van Christus hier op aarde, en dat hulle selfs oor ENGELE sal regeer! (1 Kor. 6:1-3). Die toekomstige duisendjarige heerskappy van Christus en die heiliges (Dan. 7:26-27) sal ’n wonder­like geleentheid wees om te help, te bemoedig en om God se ware weë te leer aan die magdom verwarde mense op aarde.

Maar, vra ons weer, wat gebeur met die tallose BILJOENE “verblinde” mense wie se lewens NIE tot in daardie millennium oorgaan nie, en wat NOOIT die ware God of Sy plan geken het nie?

Lees net verder in Openbaring 20! Ná die beskrywing van ’n redelik kort tydperk wanneer Satan losgelaat word uit sy tronk en gou weer ’n menigte mense VERLEI (verse 7-10), begin God se Woord ons te vertel van die periode van Die Laaste Oordeel. Maar voordat u daarvan lees, gaan vir ’n oomblik terug na vers 5 wat eintlik ’n invoeging is net ná die beskrywing van die heiliges se heerskappy van 1,000 jaar. Ons lees: “En die ANDER DODE het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie”.

Die “ander dode”? Ja! Dit is daardie BILJOENE mense uit die vorige eeue wat NOOIT tot redding geroep is nie en natuurlik GEEN KANS gehad het om in die eerste opstanding te wees nie.

Let op wat sê Openbaring 20:11-12: “En ek het ’n GROOT WIT TROON gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is GE­OORDEEL na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke”.

’n Waarlik ONTSAGWEKKENDE Gebeurtenis

Moontlik die ONTSAGWEKKENDSTE gebeurtenis in die mens se geskiedenis word dan beskryf, ’n tyd wanneer ALLE mense – die onbekendes, die beroem­des en die berugtes – regtig sal verstaan waarom hulle gebore is! Hierdie voormalige afge­storwenes, insluitend baie van u eie voorouers, word beskryf waar hulle “voor God staan” – natuurlik ná ’n OPSTANDING uit die dood. Dan word die “boeke” oopgemaak. Die woord “boeke” is hier vertaal uit die Griekse woord biblion, dieselfde woord wat as “Bybel” vertaal is. Dus verwys dit na die boeke van die Bybel!

Uiteindelik gaan hierdie voorheen verblinde mense uit die vorige eeue – insluitend ons eie tyd – die boeke van die Bybel leer ken, want hulle begrip vir die Bybel gaan “geopen” word. Die sluier wat in die verlede oor hulle was, is dan VERNIETIG. Uiteindelik het hierdie mense hulle eerste werklike kans om God te leer ken en om te besluit of hulle hul gaan bekeer en die ware Christus as Heer en Verlosser aanvaar, en of hulle hul eie gang wil gaan.

Nóg ’n boek word oopgemaak, die “boek van die lewe”. Paulus sê dat die heiliges se name in die “boek van die lewe” opgeteken is (Fil. 4:3). Open­baring 21:27 sê dat die inwoners van die Nuwe Jerusalem “net die [is] wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam”.

Die geleentheid op die ewige lewe word uiteindelik gegee aan hierdie menigte mense, “klein en groot”. Hulle word opgewek uit die dood tot ’n fisiese lewe van omtrent 100 jaar. Dié periode is lank genoeg om hulle ’n goeie geleentheid te bied om te kan ontwikkel – en hulle beproef en getoets kan word om te bepaal of hulle gewillig is om GOD se lewenswyse vir ewig uit te leef (Jes. 65:20). Hulle sal geroep word en sal hul kans hê om die Bybel te bestudeer en te verstaan. Dan – en SLEGS dan – sê God, sal dié mense wat uit die dood opgewek is, “geoordeel [word] na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (Op. 20:12). Nadat hulle dus ’n ware kans gehad het om die Waarheid te leer ken en daarop te reageer, word hierdie mense geoordeel volgens hul reaksie tot en gehoorsaamheid aan die leringe in die boeke van die Bybel. Jakobus is geïnspireer om te sê: “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood” (Jak. 2:17-26).

Moenie ’n fout maak nie, AS hierdie biljoene voormalig verblinde mense slegs volgens die dade in hul vorige lewens geoordeel moet word, toe baie van hulle diewe, hoere, diktators en vals profete was, dan sou hulle ALMAL beslis in die vuurpoel GESTERF HET, want in hul vorige lewens het hulle NIE die enigste naam onder die hemel wat salig maak, aangeneem nie. Hulle het hulle NIE waarlik bekeer (Hand. 2:38) en van hul verkeerde weë weggedraai nie. Hulle het NIE hul lewens oorgegee aan Christus en Hom toegelaat om hulle, deur die Heilige Gees, te vorm en te fatsoeneer nie, om hulle te help om “TOE [TE] NEEM in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker” nie (2 Pet. 3:18).

God handhaaf NIE dubbele standaarde nie. Hierdie ontelbare massa mense verdien ’n WARE kans om geoordeel te word NADAT hulle die Waarheid van God leer ken het! Tog dink talle teoloë en predikers – wat self mislei is – dat God op een of ander manier baie van ons onbekeerde vriende en familie asook die mensemassa van die verlede sal red SONDER dat hulle ooit tot ware BEKERING gekom, en hulself waarlik aan die Lewende Christus OORGEGEE het. Hierdie teoloë kan nie verder VER­KEERD wees nie.

Mag God u egter help om die waarheid te verstaan rakende die BILJOENE Boeddhiste, Sjintoïste, Moslems en ander mense deur die eeue heen wat nie “gered” is nie, NOOIT werklik ’n kans gehad het om Jesus Christus aan te neem nie. Mag Hy u ook help om die waarheid te verstaan rakende al die mense wat in die verlede en die hede slegs ’n vals Christus geken het (2 Kor. 11:4), maar hul lewens nooit REGTIG oorgegee het aan die Christus van die Bybel en Hom toegelaat het om hul lewens te REGEER nie!

GEEN ANDER VERDUIDELIKING vir hierdie godsdienstige dilemma maak waarlik enige sin nie! Die antwoord was nog die hele tyd in u eie Bybel. Die Bybel praat NIE van ’n tweede kans nie. Die Bybel leer dat daar vir elkeen ’n WARE kans sal wees om die Waarheid te leer en daaraan gehoorsaam te wees. Dit is die Waarheid wat ’n opregte en regverdige God op Sy gesette tyd aan dié massa mense gaan openbaar.

Die Vallei van Droë Bene

Nog ’n Sleutelskriftuur wat hierdie deel van God se plan verduidelik, vind ons in Esegiël 37. Hier lees ons die bekende verhaal van die “droë bene”. Maar – wag ’n bietjie – dit is NIE net ’n “storie” nie. Dit is eintlik ’n beskrywing van een van die roerendste en ONTSAGWEKKENDSTE gebeurtenisse in die mens se geskiedenis.

Laat ons dit verstaan.

Alhoewel hierdie gedeelte sonder twyfel ’n tipiese verwysing is na die verlore tien stamme van Israel wat herstel en later herenig word met Juda (verse 15-22), verwys dit ook letterlik na wat gaan gebeur met die tallose miljoene mense van die hele huis van Israel. Of u dit besef of nie, die moderne afstam­melinge van daardie verlore tien stamme is die heden­daagse Amerika en Brittanje en die vrede­liewende, demokratiese volke van Noordwes Europa. Skryf gerus vir die boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, en bestudeer die boekie vir BEWYSE van dié nasies se oorsprong. Soos met al ons leesstof is dit ook gratis op aanvraag beskikbaar.

Wat gebeur met daardie mense, waarvan die meeste deur die eeue heen MISLEI is?

Eerstens, onthou ’n sleutelbeginsel van God se manier van dinge doen. Dit word meer as een keer in die Bybel genoem, op verskillende maniere. Lees eers Romeine 1:16: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, EERSTE vir die Jood en ook vir die Griek”. Romeine 2:9-10 sê dieselfde. Lees dan vers 11 in die Nuwe Vertaling: “God trek immers NIEMAND voor nie”. Dus moet God, op Sy gesette tyd, elkeen ’n ware kans gee om gered te word as Hy ’n regverdige God is en nie sekere mense voortrek nie. Dit is net ’n kwessie van die regte TYDSBEREKENING – God s’n.

In Esegiël 37 openbaar God dat die ontelbare miljoene Israeliete wat voorheen VERBLIND was vir Sy Waarheid in ’n spesiale opstanding uit die dood opgewek gaan word, NIE om tot ’n doemvonnis veroordeel te word nie, maar om God se Heilige Gees dan te ontvang wat hulle sal help om die Waarheid te verstaan en te gehoorsaam. Bestudeer Esegiël 37 versigtig, vers vir vers. Let daarop dat God vir Esegiël ’n visioen gee van die geweldige vallei van “droë bene” en aan Esegiël vra: “Kan hierdie bene LEWENDIG WORD?” (vers 3). God begin dan Sy retoriese vraag te antwoord deur die bene aan te spreek: “... Ek bring gees in julle in, sodat julle LEWENDIG kan word” (vers 5). “En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ’n vel oor julle trek en GEES [asem] in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal WEET dat Ek die Here is” (vers 6).

God werk eerstens met die Israeliete, Sy gekose volk, as ’n tipe van hoe Hy met die GANSE mens­dom sal werk. Onthou, God trek NIEMAND voor nie! Hy is duidelik van plan om verblinde Israeliete uit die dood op te wek en hulle ’n ware kans te gee om Hom en Sy wonderlike plan vir die mensdom te leer ken.

Terwyl hierdie groot skare in die visioen uit die dood opgewek word, word hulle beskryf as ’n “ontsaglike groot leër” (vers 10). Wie was hulle? God antwoord Self: “Mensekind, hierdie bene is die HELE HUIS VAN ISRAEL” (vers 11). Dus moet hierdie leër van droë bene nie net die verlore tien stamme insluit wat voorheen verblind was nie, maar ook die Joodse volk wat óók blind was vir die boodskap van die ware Messias en die manjifieke plan wat Hy en God die Vader vir alle mense in werking gestel het.

Al hierdie Israeliete was sondaars, net soos alle ander mense (Rom. 3:23). Dus is hulle, in hierdie eerste opstanding, eers bang en hulle voel skuldig: “Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!” (Eseg. 37:11). Maar God sê: “Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle bring in die land van Israel. En julle sal weet dat Ek die Here is as Ek julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal MY GEES in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal WEET dat Ek, die Here, dit gespreek en gedoen het” (verse 12-14). As ’n tipe van die hele mensdom, sal hierdie ontelbare BILJOENE mense ’n WARE kans gegee word om te verstaan, om hulle God te gehoorsaam en om bekeer te word en met SY GEES gevul te word.

Ontsagwekkende SEËNINGE deur God se PLAN

Meeste van ons het ’n geliefde, ’n vriend of ’n “ou Oom Koos” wat miskien ’n alkoholis is, gereeld God se naam ydelik gebruik en selde Kerk toe gaan. “Oom Koos” of “Tant Tien” is egter dikwels gawe mense, vriendelik en hulpvaardig. Hulle maak miskien net geen belydenis van Christelikheid nie. Is hulle vir ewig VERDOEM?

Dink daaraan!

Soos u tot die volle gewaarwording van God se waarheid kom, sal u al hoe meer tot die besef kom dat die meeste belydende Christene maar min weet van wat ware Christelikheid werklik behels. Saam met die res van die mensdom, is hulle maar net besig om die lesse van menslike ervaring te skryf gedurende hulle leeftyd. Hulle sal hierdie opstanding gedurende die Groot Wit Troon Oordeel nodig hê om die lesse wat hulle in menslike lyding en onder­vinding geskryf het, werklik te leer.

Miskien het u die grap gehoor van die godsdienstige ou wat besoek gaan aflê het by sy vriend wat nie meer kerkdienste bywoon nie. “Kom terug Kerk toe, Gert. Almal hou nog van jou en jy mag selfs sommige van Pastoor Vervelig se preke geniet”. Maar Gert maak verskonings en sê dan, “Ek wil nie terug gaan en deelgenootskap hê met al daardie skynheiliges nie!”

“Ag, dis alles reg”, antwoord sy vriend, “daar is altyd plek vir nog een!”

Ons mag moontlik lag oor die waarheid van hierdie storie, maar diep in ons WEET ons dat baie kerkgangers en belydende Christene in werklikheid skynheilig is. Hulle woon kerkdienste by as ’n maat­skaplike funksie, of omrede hulle dit kan gebruik om hulle besigheid of profesie daardeur te bevorder, of vir een of ander nie-godsdienstige rede. Hulle lewens weerspieël gladnie die vrugte van die Heilige Gees nie.

Maar soos ons gesien het, vertel God se geïnspireerde Woord ons, “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie” (Rom. 8:9). So ’n persoon is nie ’n ware Christen nie!

Is al hierdie afvalliges, of swak en dikwels skynheilige individue, vir ewig “verlore”? Die enigste weg wat die geleerdes om hierdie dilemma kan bedink is om met oplossings te kom wat direkte weersprekings is van wat in die Woord staan. Maar kennis van die ontsagwekkende plan van God – wat die Waarheid aangaande die Groot Wit Troon Oordeel behels – is die ENIGSTE oplossing wat volgens beide die Bybel en logika sin maak. Dit volg omdat dit die Waarheid is.

Die mees aangrypendste van alles is miskien die ontelbare miljoene mense wie se lewens deur die eeue heen kort geknip is deur die een of ander sinnelose tragedie. Die mense het NOOIT die Evan­gelie van Christus ten volle begryp of ’n werklike kans gehad om die waarheid van God se Woord te leer, hulle te bekeer van hulle sondes en die werklike Jesus Christus van die Bybel te aanvaar as Heer en Saligmaker nie. Is al die liewe klein kindertjies, gees­te­­like vertraagde individue of ander met verskillende gestremdhede of versagtende om­standig­hede AF­GE­SNY van die ewige lewe?

Sekerlik nie!

Hierdie mense sal ’n werklike geleentheid gegun word tot saligheid in die Groot Wit Troon Oordeel tydperk. Hulle sal dan ware kennis omtrent God en Sy ontsagwekkende PLAN gegee word. Die oor­grootte meerderheid van hulle sal ongetwyfeld kies om hulle Skepper te gehoorsaam en die ewige lewe volgens Sy terme te aanvaar wanneer hulle hierdie geleentheid kry.

Sinnelose Tragedies of Geleenthede om te Leer?

Weereens vriende, ons moet realisties wees. God se Woord maak dit duidelik dat die meeste mense NOOIT “geroep” is in hierdie tydvak nie, selfs die meeste mense in hierdie “Christelike” gemeenskap. Miljoene mag weet van God, maar hulle “ken” God nie werklik nie. God sê vir ons, “Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Joh. 2:4). Weer, “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46).

Miljoene mense in die Verenigde State, Kanada, Brittanje en Europa praat van God. Hulle doen egter nie naastenby wat God beveel nie. Jesus Christus beveel, “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande LIEFHÊ; SEËN die wat vir julle vervloek, DOEN GOED aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matt. 5:43-44). Die afgelope paar honderd jaar het die meeste van die afgryslike oorloë en slagtings in Europa begin. HOEKOM? Omdat – selfs in die “hart” van die sogenaamde “Christendom” – mense nie die werklike God van die Bybel “ken” nie.

Letterlik honderde voorbeelde kan gebruik word om hierdie punt te bewys. Een onvergeetlike voorbeeld kom na vore. Dit is in die vorm van ’n persoonlike brief wat later vrygestel en as outentiek verklaar is. Sommige van u mag dit reeds tevore gesien het. Hierdie brief is deur ’n Duitse soldaat aan sy predikant pa geskryf gedurende die slag van Stalingrad waarin 91,000 Duitse soldate deur die Russe gevange geneem is (waarvan slegs 5,000 oorleef en na Duitsland terug gekeer het) in Januarie, 1943:

“... Om God in Stalingrad te bevraagteken is om Hom te ontken. Ek moet u dit vertel, liewe vader, en ek is dubbel jammer daaroor. U het my groot gemaak, omdat ek geen moeder gehad het nie, en u het altyd God voor my oë en siel gehou. Ek is dubbel spyt oor my woorde omdat hulle my laaste sal wees. Hierna sal ek geen ander kan spreek wat kan kompenseer of versoen nie.

U is ’n prediker, vader. In jou laaste brief sê mens net wat waar is, of wat jy glo om waar te wees. Ek het vir God gesoek in elke bomkrater, in elke verwoeste huis, in elke hoekie, tussen al my kamerade wanneer ek in my loopgraaf lê, en in die lug. God het Hom nie openbaar toe my hart na Hom uitgeroep het nie. Huise was vernietig. My kamerade was net so dapper of lafhartig as ek. Honger en moord was op die aarde. Maar God was nie daar nie. Nee, vader, daar is geen God nie. Ek skryf dit weer, en weet dat dit vreeslik is en ek dit nie kan regstel nie. As daar na alles ’n God sal wees, dan sal dit net met u wees, in die gesangboeke en gebede, die vrome gesegdes van priesters en pastore, die gelui van klokke, en die reuk van wierook. Maar nie in Stalingrad nie” (Brief 17, Last Letters from Stalingrad, Vertaal deur John E. Vetter, Coronet Press, 1955).

Watter diepgaande pyn moes daardie belydende Christelike predikant ervaar het toe hy sy seun se brief gelees het, “maar God was NIE daar nie. Nee, vader, daar IS GEEN GOD NIE” [Ons beklem­toning]. As daardie jong man die Waarheid omtrent God se Plan verstaan het, sou hy ten minste geweet het dat almal om hom, wat mekaar doodmaak, geestelik VERBLIND was. Die belydende predikante en priesters wat hulle geseën en na die slagveld gestuur het, was ook moontlik VERBLIND. Later, in ’n spesiale opstanding, sal hulle ’n werklike kans gegee word – hulle EERSTE werklike kans – om God te ken en Sy wil te DOEN!

Soos ons aan die BILJOENE mans en vrouens dink wat deur die eeue heen tragies gesterf het, oënskynlik sinnelose sterftes, dan moet dit uiters bemoedigend en selfs inspirerend wees om te besef dat daardie tragiese sterftes by Stalingrad, in Hitler se konsentrasiekampe, op die slagvelde van Kam­bodja, in die sinking van die Titanic en in miljoene ander grusame situasies – daardie sterftes NIE die “einde” van diegene is wat daarby betrokke was nie.

Die God van totale liefde en begrip het ontsag­wekkende planne vir daardie ontelbare miljoene mense wat na Sy beeld geskape is. Hy gaan hulle NIE vergeet nie. Maar, weereens, Hy gaan hulle NIE in Sy Koninkryk “in smokkel” deur ’n “sydeur” sonder dat hulle tot ’n werklike bekering en die regte aanvaarding van die ware Jesus Christus as Salig­maker en Here gekom het nie. Hulle oë sal, inteen­deel, in die luisterryke Groot Wit Troon Oordeel geopen word vir die voortreflike DOEL wat God in gedagte het vir die hele mensdom.

Die lyding wat hierdie mense ervaar het, die ondervindinge wat hulle visie verbreed het, die lesse wat hulle “geskryf” het deur daardie traumatiese ondervindinge – dit alles sal NIE tevergeefs wees nie. Hulle sal weer LEEF, hulle sal weer LIEFHê. As hulle harte reg is, sal hulle weer VREUGDE ervaar. ’n Inspirerende skrifgedeelte kom in gedagte wat sekerlik net so van toepassing is op hierdie “besondere” opstanding as wat dit op die eerste opstanding is: “En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus” (1 Kor. 15:54-57).

God se Voorneme STAAN

As Hollywood en die musiekbedryf werklik die groot VREUGDE en GEJUIG kon uitbeeld wat hier­die skares mense sal voel wanneer hulle weer lewen­dig word en HULLE GOD LEER KEN, sou dit ’n asemrowende skouspel wees! Liedjieskrywers sou AANGRYPENDE liedjies van lof en VREUGDE kon komponeer oor hierdie oorweldigende gebeurtenis in die lang geskiedenis van die mensdom. Miskien sal hulle dit wel eendag doen, in die Koninkryk van God!

Daar het u dit nou!

Die Almagtige God probeer NIE om almal nou te red nie. As dit die geval was, sou ALMAL gered gewees het! God laat egter die mensdom toe om hul eie gang te gaan vir 6,000 jaar van menslike geskiedenis, onder die bose invloed van Satan die duiwel (Ef. 2:2). God tree af en toe tussenbeide, wanneer Hy wil, om Sy hoofdoelwitte te bewerkstellig in die opkoms en ondergang van nasies en koninkryke. Hy tree ook tussenbeide om sekere individue te roep om deel te wees van Sy Kerk – die “klein kuddetjie” (Luk. 12:32), om hulle voor te berei om konings en priesters te wees onder Christus se leiding in die toekomstige Koninkryk van God hier op aarde (Op. 2:26-27; 5:9-10).

Maar die oorgrote meerderheid van die mensdom is deur God Self VERBLIND. Hulle het die geleentheid nodig om deur eie ondervinding en menslike lyding te leer dat hulle weë glad nie goed afloop nie!

Dan, op Sy gesette tyd, tydens Die Laaste Oordeel by die Groot Wit Troon, sal God hulle opwek tot fisiese lewe, hulle roep en geestelike insig gee, en die gehoorsames vervul met Sy Heilige Gees. Eindelik sal Hy hulle saligheid gee in die Koninkryk van God. Ja, miskien kon God dit op ’n ander manier gedoen het. Maar die meeste mense moet egter uit dure menslike ondervinding leer dat die mens se weë VERKEERD is. Wanneer hulle dan die geleent­heid kry om ware insig te bekom, sal hulle GOD SE LEWENSWYSE soveel meer waardeer.

Nadat Paulus beskryf het hoe God uiteindelik, volgens Sy tydsbepaling, die “hele Israel” gaan red (Rom. 11:26), is die apostel Paulus deur ons Skepper geïnspireer om ons aan te sê: “Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees. o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeur­grondelik is Sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (verse 32-36).

Om die waarheid te sê, dit is slegs God se ware Kerk wat hierdie diepgaande Waarheid verstaan – en baie ander fundamentele waarhede wat nie deur hierdie wêreld se beleidende Christene verstaan word nie. Die Lewende Kerk van God, wie die Wêreld van Môre-tydskrif asook al ons boekies publiseer, is toegewyd om die Christenskap van die Apostels te hervestig. U kan vriendelike mense ontmoet om saam te aanbid – mense wat probeer om die volle Waarheid van die Bybel uit te leef – maar u sal aan ons moet skryf of ons bel indien u sou belangstel. Indien die Grote God besig is om u verstand te open moet u asseblief seker maak dat u ons “deurkyk”. Maak seker dat u skryf vir die ander boekies waarna ons agterin hierdie boekie verwys en bestudeer dit werklik. “BEPROEF alle dinge; behou die goeie” (1 Thess. 5:21).

Maak ook seker dat u inskryf vir die Wêreld van Môre Bybelstudiekursus en bestudeer dit deeglik. Dan sal u tot die werklike BEGRIP kom van die ontsag­­wekkende DOEL van God – asook hoe om daar­die doel te vervul. Soos gewoonlik word die boekies, die studiekursus en AL ons literatuur absoluut GRATIS uitgestuur, sonder enige verplig­ting.

Maar vir u eie onthalwe, vertrou ons dat u sal REAGEER op die Waarheid. Indien God u verstand open is daar geen rede hoekom u deur die Groot Verdrukking en die sewe laaste plae moet gaan nie, of hoekom u in die graf moet lê vir die volgende duisend jaar, in afwagting van die Groot Wit Troon Oordeel nie.