Dit is met groot leedwese dat ons die dood van dr. Roderick C. Meredith bekend maak. Hy was Hoofredakteur van die Tomorrow’s World/Wêreld van Môre-tydskrif en Voorsittende Evangelis van die Lewende Kerk van God. Hy het aan kanker gely en het op 18 Mei 2017 rustig gesterf. Hy sou 87 jaar oud gewees het in Junie 2017.

’n Groot begrafnis het gevolg. ’n Hoërskool-ouditorium was stampvol met kennisse uit Australië, België, Kanada en van regoor die Verenigde State. Die diens het met ’n 18-minuut-video begin wat bestaan het uit opregte huldeblyke van predikers van die Lewende Kerk van God van regoor die wêreld. Twee van sy vier seuns het gepraat van sy geloof, volharding en onwrikbare toewyding aan die waarheid van God se Werk en sy erns om die Evangelie aan die wêreld te verkondig. Mnr. Richard Ames, aanbieder van die Tomorrow’s World beeldsendings en dr. Meredith se eie swaer, het persoonlike herinneringe opgehaal en ons herinner aan ons hoop – die opstanding uit die dood.

Die diens is afgesluit met een van dr. Meredith se gunsteling liedjies. “I’ll Walk with God” uit die film The Student Prince en is oorgeklank met die kragtige tenoorstem van Mario Lanza. In die rolprent word die liedjie gehoor wanneer Karl Franz dit oor die kis van sy oupa sing terwyl hy insig kry van sy nuwe rol as koning. Soos met die fiktiewe Karl Franz, het die hoë ampte wat Roderick Meredith beklee het, hom nederig gemaak en hy het ’n diepe insig gehad van hoe noodsaaklik dit is om met God te wandel. Ek kon nie help nie, maar ek was persoonlik diep geraak toe ek daarna geluister het en gekyk het na sy kis op die verhoog.

Dr. Meredith se dood was nie onverwags nie. Teen die einde kon hy nie meer loop nie, maar soos sy seun ons herinner het, het hy nooit opgehou om met God te wandel nie. Hy het gereeld opgemerk: “Ek het ’n vol lewe geleef. Ek vrees nie die dood nie. My lewe is in God se hande en ek sien uit om te gaan slaap en wakker te word in die opstanding”. Daar was geen twyfel in sy gemoed waaroor die lewe gaan en wat ons hoop werklik is nie.

’n Merkwaardige lewe

Daar kan so baie gesê word oor die lewe van hierdie merkwaardige man. In die hoërskool was hy ’n uitblinker myl-atleet op die baan en sportveld en hy het Golden Gloves-bokstitels gewen in Joplin, Missouri, waar hy grootgeword het. Dit was dalk hierdie sterk vasberadenheid om nooit op te gee nie, hetsy met hardloop of boks, wat hom daartoe gelei het om soveel te bereik. Hy is baie keer in die lewe platgeslaan, maar hy het nooit opgegee nie.

Nadat hy aan die waarheid van die Bybel bekendgestel is, het hy by Ambassador College in Pasadena, Kalifornië, ingeskryf, waar hy intiem bevriend geraak het met mnr. Herbert W. Armstrong. Dr. Meredith was een van die eerste evangeliste wat in 1952 deur mnr. Armstrong ingeseën is. Hy het meer as 64 jaar in die Werk wat Christus deur mnr. Armstrong begin het, gedien. Hy was welbekend vir die onderrig van Eerstejaar Bybelklasse (die Evangelies en Handelinge) en die sendbriewe van Paulus, by Ambassador College en hy was verskeie kere die Adjunk-Kanselier van al drie die Ambassador College-kampusse: Pasadena, Kalifornië; Big Sandy, Texas; en Bricket Wood, Engeland. Hy het ook baie jare lank as Direkteur van Kerkadministrasie van die Wêreldwye Kerk van God gedien en ’n aantal gemeentes gelei.

Na die dood van mnr. Herbert Armstrong het die volgende leier van die Wêreldwye Kerk van God, dr. Meredith en verskeie ander getroue manne oor die hoof gesien. Daardie kerk is in ’n radikaal ander rigting gelei en die Bybelse waarhede versaak om die wêreld te behaag. Dr. Meredith is uiteindelik gedwing om uit te gaan omdat hy geweier het om met die afvalligheid saam te gaan. Hy het ’n keuse gehad: Hy kon óf aftree óf hy kon die Werk wat God deur mnr. Armstrong begin het, laat herleef. Hy het laasgenoemde gekies en op 62-jarige ouderdom, in 1993, begin hy die Global Church of God wat later bekend geraak het as die Lewende Kerk van God, in ’n poging om die oorspronklike Christelikheid te hervestig. Ander mense het gou by hom aangesluit aangesien dit duidelik geword het dat die Wêreldwye Kerk van God steeds dieper in die afvallige Christendom gesink het.

Selfs ná die gedeeltelike verlamming van ’n beroerte in 2008, het dr. Meredith homself gedryf om voort te gaan om die Evangelie van die Koninkryk van God aan die wêreld te verkondig en om die kudde te versorg. Sy grootste wens was dat die Werk waarin hy so lank gearbei het, vorentoe sal gaan in eenheid en krag onder Jesus Christus. Tot Februarie 2017 was hy aktief in die Werk; hy het elke dag ingekom na die kantoor, vergaderings gehou en briewe en artikels geskryf. Sy nalatenskap leef voort in die Lewende Kerk van God, waar hy wêreldwyd toesig gehou het oor meer as 350 gemeentes in 55 lande.

As bewys van die omvang van sy invloed, het huldeblyke van regoor die wêreld gekom: Duitsland, Frankryk, die Verenigde Koninkryk, die Ierse Republiek, Australië, die Filippyne, Papoea-Nieu-Guinee, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Togo, Suid-Afrika, Mauritius, Haïti, St Lucia, Guadeloupe, Guyana, sowel as van baie mense regoor die Verenigde State en Kanada. Dit is net ’n kortlys!

’n Passie om die Waarheid te verkondig

Een opmerking wat ek baie kere gehoor het oor dr. Meredith, was: “Hy vertel dit soos dit is!” Hoe dikwels het ek nie in my binneste gelag nie wanneer ek die kommentaar onthou wat ek gehoor het toe ’n jong man wat een van ons lewendige aanbiedings (Tomorrow’s World presentations) bygewoon het, aan my gesê het: “Ek is regtig lief vir die ou kêrel. Hy vertel dit soos dit is”. Dr. Meredith het ’n indruk gemaak op hierdie jongman en op ander soos hy, al het hulle nie sy naam onthou nie. Hulle was bewus van die intensiteit, die opregtheid en die waarheid waarmee hy as die hoofaanbieder op die Tomorrow’s World gepraat het.

Ons word dikwels gevra wat ons glo en dr. Meredith het dit opgesom in sy boekie, Herstel Oorspronklike Christenskap. Indien hulle eerlik wil wees, sal feitlik alle kundige teoloë erken dat die Christelikheid, soos ons dit vandag ken, nie deur Jesus Christus en Sy Apostels herken sal word nie. Dr. Meredith boekstaaf hierdie feit in hierdie kragtige boekie. Ek hoop u almal volg sy reeks oor die Protestantse Hervorming wat in hierdie uitgawe voortgesit word. Sy meesterstesis vorm die grondslag van hierdie reeks en hy het die laaste maande van sy lewe ywerig daaraan gewerk om seker te maak dat die ware geskiedenis van hierdie beweging bewaar en bekend bly. Hierdie reeks toon dat die Protestantse Hervorming nie is wat dit dikwels voorgee om te wees nie.

Sy boekie oor die Antichris is ook ’n vreeslose verklaring van die waarheid. Soos hy so dikwels met groot krag en emosie gesê het, “Stof u Bybel af! Moenie mý glo omdat ek dit sê nie! Glo dit omdat u dit in u eie Bybel lees!” Hy het dikwels sy gehoor uitgedaag: “Kontroleer wat ek sê!” Met ander woorde, kyk na wat hy verkondig het en bewys of hy reg of verkeerd was. Hoe gereeld hoor u dat hoofstroom predikante u uitdaag om dit te doen?

Dr. Meredith word gemis deur diegene van ons wat in sy Eerstejaar Bybelklasse gesit het, deur diegene van ons wat saam met hom in die bediening van die Lewende Kerk van God gedien het, deur lede van die Kerk van God regoor die wêreld en deur familie en vriende. Hy word oorleef deur sy suster, die vrou van mnr. Richard Ames, sowel as ses kinders, tien kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Dr. Meredith, u het ’n groot wedren gehardloop. U het ’n goeie geveg geveg. U het die geloof behou. Daar word dus vir u ’n kroon van geregtigheid bewaar. Rus in die Here. Ons sien daarna uit om u te sien tydens die opstanding van die regverdiges met die verskyning van ons Here en Verlosser, Jesus Christus!