Wat hou die toekoms in vir die Verenigde State, Brittanje, Australië, Kanada, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en die ander Engelsprekende nasies van Britse afkoms – die sogenaamde “Anglo-Saksiese” nasies van die wêreld? Wat hou die toekoms in vir die Midde-Oosterse nasie, Israel? Gedurende die afgelope paar jaar het nuusberigte dramatiese gebeure uitgebeeld wat in hierdie streke voorgekom het – gebeure wat nie geïsoleerde voorvalle was nie, maar wat in werklikheid toenemende tendense reflekteer, wat niks goeds voorspel nie. Alhoewel die moderne wêreldse media geen verband kan sien tussen die hedendaagse tendense en die antieke Bybelse profesieë nie, het die Skrif inderwaarheid lank gelede reeds voorspel wat nou met die hedendaagse afstammelinge van antieke Israel gebeur asook wat nog in die toekoms gaangebeur. Nog belangriker is dat die Bybel ook verduidelik waarom.

Onheilspellende weersfaktore

Die Golfkus en oostelike kusstrook van die Verenigde State is die afgelope paar jaar deur groot orkane verwoes. Terselfdertyd het geweldige oorstromings met uitgebreide skade aan eiendom langs die Mississippi- en Missouririviere voorgekom. Tans ly meer as 60% van sentraal Amerika onder uitermatige droogtetoestande, wat die veegetalle uitdun en aansienlik verminderde oes-opbrengste tot gevolg het. Watervlakke in die Mississippirivier wat daal, dreig om vragbote in hierdie uiters belangrike waterweg tot stilstand te bring. Gedurende hierdie selfde periode het die Verenigde Koninkryk uiterste weersomstandighede ervaar: Sterk winde, hewige reënstorms en ernstige oorstromings wat dele van die land verwoes. Gedurende die laaste aantal jare het Australasia ernstige oorstromings, verwoestende brande, aardbewings en die langste, ernstigste droogte wat tot dusver aangeteken is ervaar. Dit alles is nie geïsoleerde gevalle nie!

Onheilspellende morele faktore

Oor die laaste paar dekades het die invloed van Bybelse waardes op die openbare terrein in die Engelssprekende nasies, asook die nasies van noordwestelike Europa, vervaag. Kerkbywoning het afgeneem, openbare gebede is ontmoedig of verbied en gedrag wat vroeër as sonde gebrandmerk was word nou aangemoedig en geprys. Die saambly van ongetroude pare, homoseksuele gedrag en huwelike met dieselfde-geslag word nie net deur politici en teoloë ondersteun en goedgekeur nie – in sommige gevalle word dit ook deur hulle self beoefen. Onlangs het die Nasionale Katedraal in Washington, DC aangekondig dat huwelike met dieselfde geslag in hierdie baie belangrike gebou voltrek gaan word. In Januarie 2013 het die Amerikaanse President Barack Obama met sy tweede intreerede gesê hy beskou homoseksuele verhoudings “gelykstaande” aan liefde binne die huwelik soos tussen ’n man en ’n vrou. Intussen het Australië bekend geraak as ’n “homoseksueel-vriendelike” land, bekend vir Sydney se “Gay en Lesbiese Mardi Gras”. Soortgelyke tendense kan in die Verenigde Koninkryk waargeneem word. Pornografie en prostitusie is algemeen beskikbaar en word nou regoor die wêreld via die Internet versprei – waarvan baie in Amerika vervaardig word. Dit is geen verrassing dat statistiek toon dat die Engelssprekende nasies die wêreldleiers in egskeidings en buite-egtelike kinders is. Hierdie is nie geïsoleerde feite nie – dit is deel van ’n groter prentjie.

Onheilspellende geo-politiese faktore

Amerika en Brittanje, twee nasies wat vir die laaste paar eeue die wêreld oorheers het, het nou albei te kampe met ernstige finansiële probleme. Om die tekorte te verminder besnoei hulle grootliks aan hulle verdedegingsuitgawes en dit terwyl hulle vyande hulle militêre uitgawes verhoog. Amerika se belastingswanbestuur bedreig ook die toekoms van die dollar. Namate die wêreld ’n gevaarliker plek word, is Amerika en Brittanje – eens die wêreld se polisieman – al hoe minder in staat om ’n stabiliserende rol te speel en om hulle kwesbare bondgenote soos Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika te verdedig. Ander nasies tree nou na vore ongeag Amerika en haar Anglo-Saksiese bondgenote. Argentinië is weer besig om lawaai te maak om beheer te verkry oor die Falkland-eilande. In die Midde Ooste trotseer Israel vuurpylaanvalle, dreigemente van invalle en voortdurende opstande wat dreig om die land uitmekaar te skeur. Leiers van die Moslem Broederskap in Egipte – wat verklarings van Iran napraat – sê dat “Israel teen die einde van die dekade nie meer sal bestaan nie”.

Profesieë neem gestalte aan

Waarom kom daar nou so baie onheilspellende tendense te voorskyn in hierdie nasies? Die antwoorde word gevind in Bybelse profesieë. Min mense besef vandag dat die Anglo-Saksiese volke van Noordwes-Europese afkoms ’n noue verbintenis met die Israeliete van die Bybel het. God het Sy wette aan die Israeliete gegee – nie omdat hulle beter is as enigiemand anders nie, maar sodat hulle ’n lig vir die wêreld kon wees en ’n voorbeeld vir ander nasies. God het gesê dat hulle geseën sal wees indien hulle Sy wette gehoorsaam – wette wat ’n huwelik as ’n heilige verbintenis tussen ’n man en ’n vrou definieer (Genesis 2:24) en Hy maak bekend dat Hy egskeiding haat (Maleagi 2:16). God stel dit duidelik dat homoseksualiteit ’n gruwel is (Levitikus 18:22) en dat owerspel – seks buite die huwelik – ’n ernstige sonde is (1 Korinthiërs 6:9-11, 15-18).

Dit is betreurenswaardig dat die politieke en godsdienstige leiers van die hedendaagse nasies wat van Israel afstam, hierdie Bybelse wette van God grootliks geignoreer of vergeet het. In ’n onlangse onderhoud het die Dekaan van Washinton se Nasionale Katedraal, met betrekking tot die onlangse regverdiging van dieselfde-geslag huwelike gesê: “Ek het die Skrifte bestudeer en ek glo dit is die regte ding om te doen”.

Wat die meeste mense vergeet, is dat God ons waarsku oor die ernstige gevolge vir diegene wat aan Sy wette ongehoorsaam is en hulle van Hom distansieer. Ons lees: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp ... dan sal Ék dit ook aan julle doen ... julle haters sal oor julle heers ... Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper [droogte] ... Ek sal julle stede puinhope maak” (Levitikus 26:14-15, 17, 19, 31-32). Ook: “Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God ... Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak ... Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees” (Deuteronomium 28:15, 43-44). Dit is wat vandag gebeur, maar min mense sien egter die verband tussen die antieke profesieë en die hedendaagse tendense.

God se profetiese boodskappe aan die antieke Israeliete is verseker steeds van toepassing op die hedendaagse Israelitiese nasies. Jeremia verkondig. “Want my volk is dwaas; My ken hulle nie ... slim is hulle om kwaad te doen ... die profete profeteer vals ... en my volk wil dit graag so hê” (Jeremia 4:22, 5:31). Jesaja waarsku: “... jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak” (Jesaja 3:12). Hosea sê: “Die profeet word ’n dwaas, die man van die gees ’n waansinnige, weens die grootheid van jou ongeregtigheid ... Hulle is diep korrup ... Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai ... Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het” (Hosea 9:7-9, 8:7, 1).

Talle profesieë waarsku dat “onheil” die Israelitiese nasies “aan die einde van die dae sal teëkom” (Deuteronomium 31:29) en dat die ondergang en val van die Israelitiese nasies skielik sal kom (Deuteronomium 28:20; Jesaja 9:14, 29:5, 30:13). Hosea voorspel: “En die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en Israel en Efraim [vandag die lande wat van die Britte afstam en die VSA] sal struikel deur hulle ongeregtigheid; ook Juda [die Midde Oosterse nasie van Israel] sal saam met hulle struikel” (Hosea 5:5). Dit sal die uiteinde wees van die onheilspellende tendense wat deesdae in die hedendaagse Israelitiese nasies ontplooi – tensy hulle mense, individueel en nasionaal, hulle sonde erken en hulle bekeer! Vir meer inligting oor hierdie wesenlike onderwerp, lees ons boekie oor Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?