Die mensdom ontwikkel nuwe en meer vreesaanjaende tegnologie waarmee hulle hulleself kan vernietig, terwyl politieke en sosiale spanning wêreldwyd toeneem. Sal die jare in die nabye toekoms wêreldwye kernvernietiging bring, of sal dit ’n era van permanente vrede inlui?

Sal die geprofeteerde “Slag van Armageddon” binnekort verwoesting en dood op ons planeet saai? Wat sal “Armageddon” vir u en u geliefdes beteken? Wat sal egter hierná gebeur?

U Bybel openbaar ’n skrikwekkende tyd wat voorlê – maar daar is uiteindelik hoop! Lees verder om meer te wete te kom oor hierdie wonderlike waarheid!


“Opregtheid” is nie genoeg nie

In die eerste dekade van die 21ste eeu besef die meeste van ons dat ons in ’n baie gevaarlike wêreld leef. Slegs ses dekades gelede is ’n nuwe wapen met ongekende kapasiteit vir die eerste keer losgelaat toe die Verenigde State atoombomme oor die stede van Hirosjima en Nagasaki in Japan op 6 en 9 Augustus 1945 laat val het. ’n Nuwe era van massavernietiging het aangebreek. 

Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het generaal Douglas MacArthur, die hoofbevelvoerder van die Geallieerde Magte, Japan se onvoorwaardelike oorgawe aanvaar. Aan boord van die oorlogskip, die U.S.S. Missouri, het generaal MacArthur die gevaar en die keuse wat die mensdom in hierdie nuwe era in die gesig staar, as volg opgesom:

“Militêre bondgenootskappe, magsbalanse en Volkebonde het almal op hulle beurt gefaal, wat die smeltkroes van oorlog as die enigste ander uitweg gelaat het. Die volslae vernietigingsmag van oorlog skakel nou hierdie alternatief uit. Ons het ons laaste kans gehad. Indien ons nie die een of ander groter en meer billike stelsel kan bedink nie, sal ons Armageddon voor die deur lê. Die probleem is basies teologies en behels ’n geestelike vernuwing en die verbetering van die menslike karakter wat sal saamval met die bykans ongekende vooruitgang in wetenskap, kuns, literatuur en alle materiële- en kulturele ontwikkelings van die afgelope tweeduisend jaar. Dit moet uit die gees kom as ons die vlees wil red”.

Die mens sal voortgaan om ’n weg na vrede te soek. Indien hulle egter nie die Skepper-God en Sy opperheerskappy oor die planeet Aarde erken nie, sal die nasies uiteindelik misluk. Die apostel Paulus het bykans 2 000 jaar gelede oor die mensdom se gewelddadige en anti-God neigings geskryf: “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Romeine 3:15-18). 

Soos ons sal sien, onthul Bybelse profesie dat die Derde Wêreldoorlog op die horison wink. Die grootste oorlog in mense heugenis sal in die Midde-Ooste uitbreek. Nasies sal hulle militêre mag gebruik om grootskaalse dood en verwoesting te saai. Hulle sal in die noordelike deel van Israel byeenkom vir die klimaktiese stryd wat u Bybel “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” noem (Openbaring 16:14). Die meeste kommentators verwys na hierdie ontsagwekkende gebeurtenis as “Armageddon”, “die finale stryd tussen goed en kwaad”. Wie sal oorwin? Sal die mensdom oorleef? U Bybel bied die antwoord en die goeie nuus aan ons wat verder strek as alle lewe op ons planeet wat vandag wêreldwyd bedreig word. U behoort die volgorde van profetiese gebeure te verstaan en u fisies en geestelik daarop voor te berei.

Ons kerntydperk

Bestaan daar tans enige gevaar van ’n kernoorlog? Internasionale verdrae het moontlik wel die vrese vir Koue-oorlog verminder. Sedert 1968 het meer as 180 nasies die verdrag onderteken wat hulle daartoe verbind om nie kernwapens te ontwikkel nie. Verskeie kernmoondhede het egter nie die verdrag onderteken nie, terwyl die agterdog bestaan dat baie van die moondhede wat dit wel onderteken het, nie die bepalings daarvan nakom nie. Jesus het geprofeteer oor hierdie gevaarlike tye waarin ons leef: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:21-22).

Christus het nie hier van geestelike redding gepraat nie. Hy het gepraat van die potensiële uitwissing van die ganse mensdom, ’n wêreldslagting, die uitwissing van alle lewe op die aarde! Hierdie gevaar word nie slegs deur Bybelkenners erken nie, maar ook deur gerespekteerde wetenskaplikes. The Bulletin of Atomic Scientistsmonitor die gevare wat bestaan om in hierdie kerntydperk te leef en dui daardie gevaar aan deur middel van sy “Doomsday Clock” [Oordeelsdaghorlosie]. Die wetenskaplikes glo dat hoe nader die wysers aan middernag beweeg, hoe nader beweeg die mensdom aan kernuitwissing. Op 17 Januarie 2007 het die Bulletin die horlosiewyser na vyf minute voor middernag aangeskuif en die aankondiging gemaak: “Ons staan op die drumpel van ’n tweede atoomtydperk. Die wêreld het sedert die eerste atoombomme oor Hirosjima en Nagasaki laat val is, nog nooit sulke gevaarlike keuses in die gesig gestaar nie”.

’n Vroeëre persverklaring in die Bulletin het die omvang van slegs twee nasies se kernarsenale beskryf: “Tussen hulle twee beskik Rusland en die Verenigde State steeds oor meer as 30 000 kernwapens, strategies en takties, in verskeie stadia van gereedheid. Nege jaar na die val van die Berlynse muur, beskik die Verenigde State en Rusland tesame oor ongeveer 7 000 plofkoppe wat gereed is om in minder as 15 minute afgevuur te word”. Die mensdom beskik nou oor die middele om homself sonder veel waarskuwing te vernietig. Sal ons ons eie vernietiging teweegbring? Sal Armageddon ’n rol in die mensdom se ondergang speel?

Ons sal dalk nooit weet presies hoe naby ons al gekom het aan foute wat ’n onbesonne kernoorlog kon ontketen nie. Dit is tans bekend dat ten minste nege nasies oor kernwapens beskik. Twee van hulle is by uitstek die wêreld se grootste kernmoondhede. Die Verenigde State, die enigste land wat al kernwapens teen ’n ander land gebruik het – het meer as 10 000 kernplofkoppe in sy arsenaal, wat minder is as die 31 000 waaroor hy in 1966 beskik het. Die Verenigde State is tans die enigste land wat, sover bekend, van sy kernwapens buite sy eie landsgrense ontplooi het, met soveel as 150 plofkoppe wat gestoor word by tien lugmagbasisse in sewe NAVO-lande. Volgens ’n verslag, Taking Stock: Worldwide Nuclear Deployments van ’n Nasionale Hulpbron Verdedigingsraad, is die oorgrote meerderheid van die VSA se kernarsenaal egter oor 14 state versprei, met Nieu-Mexico, Georgia, Washington, Nevada en Noord-Dakota wat sowat 70% van die totaal huisves.

Daar word beraam dat Rusland ten minste 15 000 aktiewe kernplofkoppe besit wat minder is as die meer as 40 000 wat die Sowjet-Unie in 1986 ontplooi het. Tydens die Sowjet-Unie se bloeitydperk het sy kernarsenaal oor honderde plekke in Oos-Europa gestrek tot in 14 van die 15 Sowjet-republieke. Na berig word is daardie plofkoppe tans gekonsolideer tot slegs 90 terreine in Rusland.

In vergelyking hiermee, blyk Frankryk se beraamde 450 kernplofkoppe op vier terreine, China se 200 tot 400 op 20 terreine en die Verenigde Koninkryk se bykans 200, nie veel te wees nie. In die Bulletin of the Atomic Scientists se “Vyf minute voor middernag”-verslag van Januarie 2007, word aangedui dat, indien die VSA en Rusland ooreenkom om vir die volgende 25 jaar een plofkop per dag te demonteer, hulle steeds oor meer kernwapens sal beskik as al die ander kernmoondhede saam. 

Israel, Indië en Pakistan beskik oor ’n onbekende aantal kernwapens. Beramings met betrekking tot die grootte van Israel se kernarsenaal wissel van ongeveer 75 tot soveel as 200. Indië en Pakistan s’n word beraam op minder as 50 elk. Hou hierdie nasies se klein arsenale ’n ernstige bedreiging in? Joseph Biden, die VSA senator van Delaware, het die Pakistanse situasie in perspektief geplaas tydens ’n toespraak wat hy op 8 November 2007 vir studente aan die St. Anselm Kollege in New Hampshire gelewer het: “Dit is moeilik om ’n groter nagmerrie vir Amerika voor te stel indien die wêreld se tweede grootste Moslemnasie, wat oor ’n arsenaal van kernwapens beskik sowel as ’n bevolking groter as dié van Iran, Irak, Afghanistan en Noord-Korea saam, ’n mislukte staat sou word in die hande van die fundamentaliste”.

Ander nasies staan weer op die drumpel van grootskaalse kernontwikkeling. In Oktober 2006 het die Noord-Koreaanse nuusagentskap, KCNA, gesê dat Noord-Korea se kernwapenvermoëns “vrede en stabiliteit” in die streek sou handhaaf en dat dit ’n “groot sprong vorentoe in die opbou van ’n groot, vooruitstrewende, magtige sosialistiese nasie was” en word dit ’n “geskiedkundige gebeurtenis wat geluk aan die militêre mag en ons mense gebring het” genoem. Aangesien Noord-Korea se Rodong-missiele ’n plofkop kan afvuur met ’n reikafstand van tot 1,280 km, het hierdie kernontwikkeling baie van die Asiatiese nasies ontstel.

Iran is waarskynlik die mees noemenswaardige land wat, sover bekend, besig is met die ontwikkeling van kerntegnologie, maar is beslis nie die enigste nie. Mohammed El Baradei, direkteur-generaal van die Internasionale Atoomenergie-Agentskap, het gesê dat daar by beraming nog 20 tot 30 ander lande is wat ook oor dié vermoë beskik, selfs al het hulle nie ten doel om kernwapentegnologie te beoefen nie. 

Wanneer ons aan die vernietigingsvermoë van kernwapens dink, sien ons moontlik in ons geestesoog die kernontploffings wat in Augustus 1945 in Hirosjima en Nagasaki plaasgevind het. Dit is egter nodig dat ons begryp dat die hedendaagse “strategiese plofkoppe” veel dodeliker is as die wapens wat aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog deur ons onthou word. By Hirosjima het ’n 15-kiloton bom ’n stad platgevee en is 100 000 mense dood. Die hedendaagse kleiner “strategiese plofkoppe” weeg gemiddeld sowat 200-kiloton en selfs bomme van een-megaton is al gebou.

Wat sou die gevolge vir u stad of dorp wees indien dit die teiken sou word van ’n een-megaton kernbom? Na ’n kernbom se skokgolf met sy geweldige hitte-uitstraling en intense vrystelling van X-strale, word kragtige vuurstorms in sy omgewing ontketen. Hoeveel mense sal deur slegs een so ’n bom sterf? Dr. Alan F. Phillips beskryf dit só: “Daar word beraam dat wanneer ’n enkele een-megaton bom ’n stad met ’n inwonertal van een of twee miljoen mense tref, een-derde van die inwoners onmiddellik sou sterf of dodelik beseer word, een-derde ernstig beseer word en die res geen of slegs ligte beserings sou opdoen. Hierdie aantal beseerdes sou, indien hulle na al die hospitale in Noord-Amerika versprei word, omtrent ’n derde van die totale aantal beddens beset en uit die aard van die saak kan geen hospitaal ’n inname van ernstige gevalle binne die bestek van ’n paar dae behoorlik hanteer nie” (Position Paper Physicians for Global Survival, Canada, Oktober 1995).

Ten minste een kernongeluk wat in 1986 plaasgevind het, illustreer die lyding en gevaar wat voortvloei uit sulke omvangryke bestraling. Die filmmaker, Maryann de Leo, berig die volgende oor haar besoek aan die verlate Oekraïniese dorp, Pripyat, wat permanent ontruim was na die kernreaktor-ramp in 1986 by Chernobyl: “Op ’n sonnige Sondagoggend in Kiev, buite die Minskaia metrostasie en voor ’n Oekraïniese McDonald’s, luier ’n vaartbelynde geel toerbus se enjin. Die bestuurder wag vir passasiers wat op pad is na die spergebied, ’n radioaktiewe niemandsland wat twee dekades gelede ontstaan het as gevolg van die kernongeluk by Chernobyl. Kort voor lank kom sowat 20 mense, meestal Oekraïners en Russe, by die bus bymekaar. Twee jong mans met donker hare deel wit-en-blou bestralingsbestandehazmat-oorpakke, geel plastiese oliejasse en bottels water uit. Een van die dagreisigers heet Alex. Hy is in Pripyat gebore en het daar grootgeword en gewoon totdat hy 10 jaar oud was. Noudat hy 30 is, is hy deel van ’n gemeenskap wat meestal uit jongmense bestaan wat voorheen in Pripyat gewoon het, ’n vergete stad wat in 1970 gebou is vir die werkers by die Chernobyl kernkragstasie, ongeveer 3 kilometer daarvandaan. In daardie tyd is Pripyat die Stad van die Toekoms genoem. In plaas daarvan, is die stad egter op 27 April 1986 ontruim toe sy inwoners die eerste en tot dusver die enigste, permanente kernvlugtelinge in die wêreld geword het.

“Die uitstappie, wat deur die voormalige inwoners van Pripyat gereël is, het saamgeval met die 20ste herdenking van die ontploffing ... Terwyl die bus noordwaarts gery het in die rigting van die spergebied, die 29 kilometer-wye gebied rondom die reaktor, het die organiseerders beeldmateriaal oor Pripyat vertoon. Nadat ’n paar verstellings gemaak is aan die bus se foutiewe videospeler, het grusame tonele hulle begin afspeel op die klein skermpie, wat die nagevolge van die brand by die kernreaktor uitbeeld. Vinnig saamgeflansde swart-en-wit beeldmateriaal wat deur noodwerkers gefotografeer is toon grafiese beelde van mans wat onuitspreeklike lyding verduur, met stukke vel wat afval en ernstige brandwonde oor hulle hele liggame. Daarna kyk ons na die massa-uittog uit Pripyat, wat 2 000 stad- en skoolbusse insluit en teen ’n slakkepas uit die stad beweeg, soos een of ander vreemde begrafnisstoet.

“Verder is daar ook beeldmateriaal van 26 April, die dag waarop die ontploffing plaasgevind het, voordat inwoners van die gevaar geweet het. Tuisvideo’s vang oomblikke vas van doodgewone troues, onduidelike blou videomateriaal van bruide in wit rokke en glimlaggende bruidegomme ... Dit lyk na die laaste plek op aarde waar die Sowjet-Unie nog leef. Die woord ‘bestraling’ word glad nie genoem nie. Met jou aankoms ontvang jy ’n klein hangertjie (’n miniatuur dosimeter) wat jy om jou nek dra. 

“Dit is alles deel van hierdie kammaland waar almal sê dat alles in orde is. Nadat ’n mens egter ’n rukkie daar is, begin mens dit ook self glo. Dalk is bestraling nie so erg nie. Moontlik pas die liggaam wel aan. Muise word nie geaffekteer nie en mense dalk ook nie” (The First Nuclear Refugees Come HomeDiscover, Junie 2007).

Die voormalige inwoners van Pripyat, wat nie veilig na hulle huise kan terugkeer vir langer as ’n vlugtige besoek nie, het eerstehands die verskriklike vernietigende uitwerking op die omgewing deur die mens veroorsaak, ervaar. Indien dit is soos Voltaire geskryf het dat “optimisme die waansin is om daarop aan te dring dat alles goed gaan terwyl ons ellendig is”, is die voormalige inwoners van Pripyat dan waansinnig?

Bybelkenners weet dat ons in ’n gevaarlike wêreld woon en dat die gevaar steeds toeneem. Hulle weet egter ook dat daar met reg rede tot hoop is – tot optimisme – waaroor ons meer te wete sal kom in hierdie boekie.

Meer as veertig jaar en langer voor die Chernobyl-kern-versmelting, het die Russe sowel as die Amerikaners; asook miljoene ander mense op die planeet Aarde, onder die konstante bedreiging van ’n kernoorlog geleef. Gedurende die “Koue Oorlog” van die 1950’s het hierdie bedreiging soos ’n wolk oor die Verenigde State en die Sowjet-Unie gehang en burgers van albei lande het koorsagtig begin om bomskuilings te bou. In 1962 het die “Kubaanse missielkrisis” ’n verskrikte wêreld tot op die randjie van kernvernietiging gebring. Vroeg in 2008 was dit bekend dat ten minste nege nasies wêreldwyd – die VSA, Rusland, China, Frankryk, Israel, die Verenigde Koninkryk, Indië, Pakistan en Noord-Korea – kernwapens getoets het terwyl verskeie ander lande naarstigtelik gewerk het om kernvermoëns te bekom.

Iran se ambisie wat kerntegnologie aanbetref, het die Inter-national Jerusalem Postaangespoor om ’n Israeliese vegvliegtuig op sy voorblad te plaas bokant die opskrif: “Die hoogste prys: Indien alle ander dinge sou faal, sou Israel in staat wees om Iran se kernprogram met geweld te beëindig?” Die artikel het berig: “Omdat Iran voortgaan met sy program, ten spyte van teenkanting van die VN en die internasionale gemeenskap, het Egipte, Algerië, Saoedi-Arabië, Marokko, Tunisië en die Verenigde Arabiese Emirate vroeg in November aangekondig dat hulle van voorneme is om te begin met die opgradering van hulle kern-energieprogramme. Van die genoemde ses lande, is Egipte en Algerië by verre die mees gevorderd op dié gebied. Volgens gerugte beplan Turkye ook om met ’n kernprogram te begin (12-18 Januarie 2007, bl. 15). U kan meer te wete kom van die gebeure wat vir daardie streek geprofeteer is, deur ons gratis, insiggewende boekie, Die Midde-Ooste in Profesie, aan te vra.

Sedert die ineenstorting van die Sowjet-Unie, is daar baie minder vrees vir ’n kernkatastrofe. Is ons egter werklik veilig? Rusland en die Verenigde State kan selfs vandag hulle kernmissiele binne 15 minute na kennisgewing afvuur. Onderduimse state gaan voort om hulle atoomvermoëns te ontwikkel. Die bedreiging van kernterrorisme word ook al groter namate die toestelle, as gevolg van beter tegnologie, al hoe kleiner gemaak word deur ’n toenemende aantal wetenskaplikes wat die nodige kennis het.

Die terreur het nou selfs na die buitenste ruim versprei. Generaal Joseph-Ashy, ’n afgetrede hoofbevelvoerder van die Verenigde State se Ruimtebeheer, het dit só gestel: “Ons gaan vanuit die ruimte veg en ons gaan in die ruimte veg ... Daarom het die VSA programme ontwikkel in gerigte energie en tref-om-te-dood-meganismes ... Ons sal eendag vanuit die ruimte betrokke wees by teikens op die aarde soos skepe, vliegtuie en landteikens” (aangehaal van Waging War in Space,The Nation, 27 Desember 1999).

In Januarie 2007 het China die derde nasie (naas die VSA en Rusland) geword om ’n ruimtesatelliet af te skiet. P; Amptenare van China se naaste buurlande, Japan en Australië, het die vrees uitgespreek dat hierdie maneuver dalk op ’n nuwe wapenwedloop in die ruimte mag dui.

Is nog ’n wêreldoorlog om die draai? Weet u wat die Bybel onthul? Die meeste Bybelkenners is bewus van die groot klimaktiese eindtydse gebeurtenis wat bekend staan as die “Slag van Armageddon”. Wat is egter hierdie slag en hoe sal dit u en u gesin raak?

“Dit was soos Armageddon”!

Wanneer enige groot ramp ons wêreld in die gesig staar, hoor ons dikwels kommentators sê: “Dit is soos Armageddon”! Volgens ’n BBC-nuusberig kan ’n geslepe rekenaarvirus ’n “digitale Armageddon” tot gevolg hê. Die sakeskrywer, Michael Panzer het die Financial Armageddon gepubliseer, waarin gewaarsku word teen ekonomiese rampspoed wat kan lei tot hiperinflasie en ’n maatskaplike ineenstorting. In die TIME-tydskrif word verwys na die reënwoude wat verdwyn en diere-spesies wat uitsterf as ’n “dreigende Armageddon”. 

“Dit was ’n atoomwinter. Dit was soos Armageddon. Dit het soos die einde van die wêreld gelyk”, het die brandbestryder, Mitch Mendler van San Diego gesê toe hulle die vernietigende brande in Oktober 2007 in Suid-Kalifornië moes bestry. Presies hoe, of sal, “Armageddon” lyk? U Bybel het die antwoord!

Die geskiedenis se grootste klimaktiese stryd ooit, aan die einde van hierdie huidige tydvak, word in Openbaring, die laaste boek in u Bybel beskryf. “En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” (Openbaring 16:16). Hoe en waarom sal die leërmagte daar versamel? Net twee verse vroeër lees ons: “Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:14).

Let hierop! Die werklike stryd word nie die slag van Armageddon genoem nie. Dit word die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” genoem. Die voorbereidings vir die stryd begin egter by Armageddon. Wat of waar presies is hierdie plek dan? Die woord Armageddon is ’n transkripsie van die oorspronklike Hebreeuse woorde har megiddo, wat “heuwel van Megiddo” of “die berg van Megiddo” beteken.

Megiddo is in Israel geleë, ongeveer 88 kilometer noord van Jerusalem. In antieke tye het dit die hoofhandelsroete tussen Egipte en Damaskus beskerm. Dit kyk ook uit oor die grootste vallei in Israel, naamlik die laagte van Jisreël of die Vallei van Esdraelon. Die Ou Testament verwys na verskeie groot veldslae wat hier plaasgevind het. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Britse generaal Allenby die Turkse militêre magte hier verslaan in ’n slag wat bekend geword het as die “Veldslag van Megiddo”.

Met al die geskiedkundige veldslae wat by Megiddo plaasgevind het, asook die rol daarvan in profesie, het die woord “Armageddon” die simboliese verwysing na enige grootskaalse vernietiging geword. Die mens het verskeie vreesaanjaende wapens vir massavernietiging uitgevind. Is dit hierdie wapens wat ons Armageddon sal veroorsaak? 

Dodelike dreigemente vir planeet Aarde

In 2006 het ABC News ’n program Last Days on Earth ver-vaardig. Hulle sê: Last Days on Earth neem kykers tot binne in die sewe dodelikste bedreigings vir die mensdom. Sommige van hulle beskik oor die vermoë om ons te laat uitsterf, terwyl ander weer die planeet kan vernietig; dit alles kan die einde van ons beskawing tot gevolg hê. Hierdie “dodelikste bedreigings” sluit die volgende in: ’n Kernoorlog, supervulkane, asteroïdes en pessiektes. Die CNN-reeks Planet in Peril handel oor die grootskaalse vernietiging van woude en die toename in die aantal diere-spesies wat besig is om uit te sterf. Terwyl geweldige bedreigings vir ons planeet aan ons voorgehou word, het die televisiekanaal History Channel die week van 22 Oktober 2007 as “Armageddon-week” verklaar. Die voormalige VSA visepresident en Nobel-Vredespryswenner, Al Gore, het die rolprent, An Inconvenient Truth, vervaardig. Hy het gesê: “Al die oorwinnings en al die tragedies, al die oorloë, al die hongersnode, al die belangrike vooruitgang ... dit is ons enigste tuiste. Dit is wat op die spel is: Ons vermoë om te leef op planeet Aarde en om ’n toekoms as ’n beskawing te kan hê”. In die promosieveldtog van dié rolprent maak Paramount Classics die volgende stelling: “Die mensdom sit op ’n tydbom. Indien die meeste van die wêreld se wetenskaplikes reg is, het ons slegs tien jaar om ’n grootskaalse katastrofe te voorkom, wat ons ganse planeet in ’n tolvlug van grootse vernietiging kan stuur en uiterste weerstoestande, oorstromings, droogtes, epidemies en moordende hittegolwe, veel erger as wat ons nog ooit ervaar het, tot gevolg sal hê”. 

In ’n ander rolprent getiteld The 11th Hour waarvan die vertelling asook die regie waargeneem is deur Leonardo DiCaprio word gemeld: “Die tragedie is die potensiële uitwissing van die mensdom en dit is nie slegs die elfde uur nie, maar dit is alreeds 11:59”.

Bykomend tot die kommer oor kerwapens, is chemiese en biologiese wapens ook ’n toenemende bedreiging. Daar het egter nou ’n nuwe bedreiging op die horison verskyn: Saam met die gevreesde kern-, biologiese en chemiese (KBC) wapens van massavernietiging, beloof ’n nuwe kategorie – genetika, nano-tegnologie en robotika (GNR) – om nuwe verskrikkings vir die 21ste eeu te bring.

Bill Joy, stigter van die Sun Microsystems en ook een van die eerste pioniers van die mini-rekenaarera, skryf in die April 2000-uitgawe van die Wired-tydskrif ’n ontstellende artikel met die titel “Why the Future Doesn’t Need Us”. In dié artikel skenk Joy oorweging aan die moontlike uitwerking van hierdie nuwe GNR-tegnologie op ’n oorlogsugtige mensdom: “Ek dink dit is glad nie oordrewe om te sê dat ons op die punt staan om die ergste euwel ooit te vervolmaak nie – ’n euwel waarvan die moontlikheid veel verder strek as die nalating wat wapens van massavernietiging aan die nasie-state gebring het naamlik ’n onverwagte en verskriklike bemagtiging van goddelose individue”. 

Joy is egter nie die enigste een wat tot hierdie ontnugterende slotsom kom nie. Die joernalis Gideon Rose, bied die volgende ontleding: “Die werklik moeilike probleem sal ’n nuwe soort strewe na die verkryging van chemiese, biologiese en kuberwapens deur subnasionale rolspelers soos terroristegroepe, kultusse of omgekrapte individue tot gevolg hê. Hierdie wapens is maklik om te vervaardig, moeilik om op te spoor en moeilik verdedigbaar. Dit beteken dat, selfs al bestee die VSA miljarde dollars op ’n stelsel om Noord-Koreaanse missiele neer te skiet, ons steeds die soortgelyke dreigende probleem die hoof sal moet bied om oordeelsdagkultusse of toekomstige Unabombers, wat gewapen is met dodelike virusse, te stuit” (Will Everyone Have the Bomb?Time Magazine, 22 Mei 2000, bl. 103).

Te midde van al ons wetenskaplike vooruitgang in bewapening, het die mens se onmenslike wreedheid teenoor sy medemens nie tot ’n einde gekom nie. Van Kosovo tot by Kashmir, van Oos-Timor tot by Tsjetsjnië, neem oorloë en menseslagtings steeds toe. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het gruweldade teenoor nasies of volke onverpoos voortgegaan. Die Newsweek berig dat “the Genocide Convention ‘dade wat gepleeg word met die doel om ’n nasionale, etniese, rasse of godsdiensgroep algeheel of gedeeltelik uit te wis’ onwettig verklaar het. Na-oorlogse gruweldade [sluit in]: Bosnië: Driehonderd-duisend mense dood, twee miljoen ontwortel; Kambodja: Een miljoen dood, vyfhonderd-duisend ontwortel; Rwanda: Een miljoen dood, drie-en-’n-half-miljoen ontwortel”.

Wanneer ons sulke euwels aanskou, is dit duidelik waarom oordeel oor ons planeet gevel sal word. Tog is daar ook goeie nuus ná die slegte nuus. Jesus Christus, die grootste beriggewer en profeet in die ganse geskiedenis van die mensdom, verseker ons dat hierdie wandade beëindig sal word: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14).

Versamel vir oorlog

In die Skrif word aangedui dat Armageddon die versamelplek sal wees vir die klimaktiese veldslag van die Groot Dag van die Almagtige God. Massiewe leërmagte sal in die vallei van Esdraelon saamtrek om met die finale oorlogvoering te begin. Waar pas Armageddon dan in die panorama van profesie in? Die apostel Johannes het die bekende vier ruiters van Openbaring aan ons beskryf. Hulle simboliseer, in volgorde, vals christusse en vals godsdiens, oorlog en die vernietigende uitwerking daarvan, hongersnood wat gewoonlik op oorlog volg asook peste en siektes wat uitbreek as gevolg van hongersnood.

Let op wat in die Bybel gesê word oor die verskriklike ver-nietiging wat deur hierdie vier ruiters aangerig sal word: “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle [die vier ruiters] is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8).

Het die nasies hulle wapens neergelê sedert die Tweede Wêreldoorlog? Nee! Gedurende die laaste helfte van die 20ste eeu het miljoene mense regoor die wêreld onder oorlog gely, van Korea en Indo-China tot by Bosnië en Oos-Afrika, asook die voortgesette konflik in die Midde-Ooste. Deesdae is daar min lande wat nie deur konflik geraak word nie. Die 2006 Conflict Barometer, wat deur die Heidelbergse Instituut vir Internasionale Konfliknavorsing gepubliseer is, lewer hierdie ontnugterende verslag: “In 2006 was daar 278 politieke konflikte. Ses hiervan was oorloë en 29 ernstige krisisse, wat ’n totaal van 35 konflikte is wat met ontsaglike geweld uitgevoer is. Drie-en-tagtig konflikte was geklassifiseer as krisisse, wat beteken dat geweld slegs af en toe gebruik was. Altesaam 118 konflikte was gewelddadig”.

Al die vernietiging wat ons sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog gesien het, sal nietig wees in vergelyking met die dood wat op die planeet Aarde sal voorkom teen die einde van hierdie tydvak. ’n Kwart van alle mense op aarde sal sterf namate oorlog, hongersnood en siektes oor die aarde versprei.

Benewens die Bybel, is daar tans enigiemand anders wat sodanige vernietiging as ’n moontlikheid sien? Ja, inderdaad. Deur ’n vergelyking te tref tussen die risiko van genetiese manipulasie en die “Swart Dood” wat Europa in die 14de eeu verwoes het, lewer die skrywer, Joy, die volgende kommentaar: “My eie groot bekommernis met genetiese ingenieurswese is ... dat dit in staat is om, hetsy militêr, per abuis of deur ’n doelgerigte terroriste-aksie, ’n ‘Wit Plaag’ te skep” (Wired, April 2000, bl. 249). Hedendaagse wetenskaplikes besef dat hierdie gruwels moontlik net agter die bult kan lê!

Die mensdom hoef egter nie na genetiese manipulasies te kyk om verwoesting te voorspel nie. ’n Verdere dodelike tendens is hitte en droogte. Die wêreldtemperatuur is besig om dramaties te verander. Slegs ’n paar jaar gelede, tydens die somer van 2003, het meer as 20 000 mense in Italië gesterf as gevolg van ’n ongekende hittegolf. Tot soveel as 10 000 mense is ook in Frankryk dood weens die intense hitte van daardie somer. In 2007 het die “US Drought Monitor”,wat gepubliseer is deur die VSA se departement van landbou en die Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie, verskeie state in die westelike gedeelte van die VSA geklassifiseer as plekke wat “erge” of “uiterste” droogte ervaar. 

Verskeie state in die suidoostelike deel van die VSA ervaar ook die hoogste graad van “uitsonderlike” droogte. Soos wat ons vroeër gelees het, het die droogtetoestande in Suid-Kalifornië in Oktober 2007 wydverspreide windaangedrewe brande vererger en aangehelp. Meer as 200 000 hektaar grond en 1,700 huise is vernietig in wat brandbestryders beskryf het as ’n onbeheerbare vuurpoel. 

Sal die suidwestelike deel van die VSA in staat wees om ’n groeiende bevolking in die toekoms te onderhou? Op die voorblad van die New York Times-tydskrif van 21 Oktober 2007, was die volgende vraag: “Die perfekte droogte: Sal bevolkingsgroei en klimaatsverandering die Weste sonder water laat?” In dieselfde tydskrif maak die skrywer, Jon Gertner, die volgende opmerking: “Die vooruitsig in die suidweste tydens die afgelope somer was net so ontnugterend. ’n Katastrofiese vermindering in die vloei van die Colorado-rivier, wat oorwegend gevoed word deur gesmelte sneeu vanaf die Rocky Mountains, het altyd gedien as ’n soort gedagte-eksperiment vir wateringenieurs, ’n risiko situasie buite die grense van hulle praktiese verbeeldings. Sowat 30 miljoen mense is afhanklik van daardie water. ’n Groot vermindering in die vloei van die rivier, sal chaos in sewe state tot gevolg hê: Colorado, Utah, Wyoming, Nieu-Mexico, Arizona, Nevada en Kalifornië”. Gertner gaan voort deur ’n wetenskaplike van die Universiteit van Colombia, Richard Seager, wat onlangs ’n studie van die huidige droë toestande voltooi het, aan te haal: “Dit kan nie meer ’n droogte genoem word nie, omdat dit nou oorgaan in ’n droër klimaat. Niemand praat daarvan dat daar droogte in die Saharawoestyn is nie” (The Future Is Drying Up, bll. 70, 74).

Die Australiese vasteland beleef ook ’n ongekende droogte. Australië se Nasionale Klimaatsentrum het in November 2007 ’n verslag uitgereik waarin droogtetoestande dwarsoor die dorre vasteland beskryf word. Hoewel noordwestelike Australië baie nat toestande beleef het, het ander groot streke sedert November 2001 “die laagste reënval op rekord” beleef, gepaardgaande met ongewone hitte. In die Murray-Darlingkom het die reënval vanaf November 2001 tot Oktober 2007 geskiedkundige laagtepunte geëwenaar of verbygesteek, 75% van die kom het reënvalvlakke gehad wat in die laagste 10% lê sedert daar met rekordhouding begin is. 

In die VSA kan ouer Amerikaners wat in die Midweste woon, steeds die “Stofkom”-toestande van 1933 tot 1939 onthou, wat die verwoesting van die Groot Vlakte-state tot gevolg gehad het. Sal sulke toestande weer voorkom of selfs erger word? Sal ons meer uitgebreide droogtes in Amerika, Kanada, Groot Brittanje, Australië, Suid-Afrika en Nieu-Seeland ervaar? Die Skepper-God waarsku ons by monde van die profeet Amos: “Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here” (Amos 4:7-8). Indien ons ons nie heelhartig tot God wend nie, sal ons swaar gestraf word.

Sewe seëls onthul ons toekoms

Die bekende “vier ruiters van die apokalips” simboliseer die vernietiging van groot dele van die planeet Aarde en die dood van biljoene mense. Dit is belangrik dat u die volgorde van hierdie ontsagwekkende profetiese mylpale sal verstaan ten einde uself en u geliefdes voor te berei op dit wat voorlê. In die Bybel word onthul dat ses groot profetiese gebeure, met inbegrip van die bekende “vier ruiters”, tot die Slag van Armageddon sal lei. Daardie veldslag, soos ons sal sien, is uiteindelik deel van die geprofeteerde “sewende seël”. Wat is hierdie geheimsinnige, geprofeteerde seëls en hoe kan ons die betekenis daarvan verstaan? 

Openbaring, die laaste boek in u Bybel, bly vir die meeste mense ’n raaisel. Sommige mense dink dat dit bloot ’n versinnebeelding is. Ander mense beweer dat dit handel oor geskiedkundige gebeure. Besef u egter dat hierdie boek, in sy beskrywing van die sewe seëls, die eindtydse profesie uitstippel? U kan dus weet hoe die eindtydse gebeure sal ontplooi en hoe om u daarop voor te berei! Dit is belangrik dat u die sewe seëls van Openbaring sal verstaan. Vir ’n meer volledige verduideliking oor die geheimenisse van Openbaring, kan u gerus ons gratis boekie,Openbaring: Die Verborgenheid Onthul!, aanvra.

Rondom 95 n.C. het die apostel Johannes die geïnspireerde woorde van God in Openbaring neergeskryf. Johannes is na die eiland Patmos, wat net langs die suidwestelike kus van Turkye in die Egeïese See is, verban. Die eiland was in die eerste eeu as ’n Romeinse strafkolonie gebruik. Hy skryf: “Ek, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus” (Openbaring 1:9).

God het die apostel Johannes gekies om die Apokalips, of Openbaring, aan te teken. Soos die Skrif verduidelik, was dit Johannes “wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus – alles wat hy gesien het” (vers 2). Let op die seën wat uitgespreek word oor diegene wat die boek Openbaring met erns bestudeer: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (vers 3).

Die hele mensdom is onkundig oor een van die belangrikste boeke wat nog ooit geskryf is! God het opsetlik die diepe betekenis van hierdie raaiselagtige boek versluier vir diegene wat geestelik blind is – wat beteken dat Hy die betekenis daarvan vir die meeste mense op aarde versluier het.

Selfs Adam Clarke, die bekende Bybelverklaarder, vind dit moeilik om enige sin uit Openbaring te maak. Clarke skryf: “Ek was vir ’n geruime tyd van voorneme om myself nie met hierdie boek te bemoei nie, want ek het besef dat ek niks bevredigends daaroor sou kon lewer nie” (Preface to the Revelation of St. John, bl. 966).

U kan egter die boek Openbaring verstaan. Let daarop dat dit die Openbaring van Jesus Christus is en nie dié van die Heilige Johannes, soos sommige mense die boek noem nie. Wat is dus die doel van hierdie openbaring deur Jesus? Dit is om “aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur” (Openbaring 1:1). Die doel van die boek is nie om die waarheid te versluier nie, maar om die gebeure te onthul wat tot Christus se wederkoms sal lei! Trouens, die woord “apokalips”, het sy oorprong in die Griekse woord apokalupsis, wat “onthulling” of “ontsluiering” beteken. Dit is belangrik dat u sal weet wat hierdie profetiese gebeure is! 

Die sewe seëls onthul profetiese gebeure wat in die nabye toekoms sal plaasvind. In Openbaring 5 lees ons van ’n boekrol wat met sewe seëls geseël is. Johannes begin ween omdat daar aanvanklik “niemand” is wat waardig is om die boek te open nie. “Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek” (vers 5). Die Leeu uit die stam van Juda is Jesus Christus en Hy begin om die boekrol wat met die sewe seëls verseël is, te open.

In Openbaring 6 lees ons die beskrywing van ses van daardie seëls. Die eerste vier seëls staan bekend as die vier perderuiters van die Apokalips. Die apostel Johannes beskryf die Lam, Jesus Christus, wat die eerste seël oopmaak. “En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ’n donderslag: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (vers 1-2).

Wat word deur die wit perd en sy ruiter voorgestel? Sommige kommentators sê verkeerdelik dat dit Christus verteenwoordig, omdat die beeld soortgelyk is aan die beskrywing van Christus wat in Openbaring 19 gegee word. Sou ons egter die beskrywing in Openbaring 19 vergelyk met dié van die eerste ruiter, is daar opmerksame verskille. Christus kom met baie krone (vers 12), nie met slegs een kroon nie. Hy kom met ’n swaard (19:15) nie ’n boog soos in Openbaring 6 nie.

Christus is die Openbaarder. Hy onthul wat die betekenis van hierdie wit perd is. Jesus beskryf die tekens van Sy wederkoms en die opeenvolging van gebeure, wat saamval met die seëls van Openbaring. “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Mattheüs 24:4-5).

Hierdie wit perd en sy ruiter verteenwoordig valse godsdienste – “valse christusse” (vers 24). In Mattheüs 24 gaan Jesus voort om die volgorde van die gebeure te beskryf: Oorlog, hongersnood, pessiektes en verdrukking. Jesus is die Een wat die seëls van Openbaring verklaar. Hy sê aan ons: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word terwille van my Naam” (verse 6-9).

Die tweede seël onthul ’n ruiter op ’n rooi perd, wat die mag het om vrede van die aarde af weg te neem. Die derde seël stel ’n ruiter op ’n swart perd voor, wat voedselskaarste en die gevolglike hongersnood verteenwoordig. Die vierde seël toon ’n ruiter op ’n vaal perd, wie se naam Dood is. Soos ons gesien het, het hierdie vier ruiters die mag om ’n kwart van ons planeet dood te maak “met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8). 

Jesus praat ook van die pessiektes wat gewoonlik op ’n hongersnood volg. In Mattheüs 24 sien ons dat Jesus die betekenis van hierdie seëls waarvan Hy gepraat het bevestig:

•    Misleidende godsdiens (Mattheüs 24:4) – die eerste seël, of die eerste van die vier ruiters.
•    Oorloë (Mattheüs 24:6-7) – die tweede seël, of die tweede van die vier ruiters. 
•    Hongersnode (Mattheüs 24:7) – die derde seël, of die derde van die vier ruiters.
•    Pessiektes (Mattheüs 24:7) – die vierde seël, of die vierde van die vier ruiters. 
•    Verdrukking, godsdiensvervolging en martelaarskap (Mattheüs 24:9-10) – die vyfde seël.

Die Gruwel van die Verwoesting

In Mattheüs 24 gee Jesus ook ’n ander baie spesifieke teken van die toekomstige Groot Verdrukking wat voorlê. “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Mattheüs 24:15-16).

Dit is nodig dat ons verstaan waaroor hierdie gruwel van verwoesting gaan. Volgens geskiedenis het die Griekse heerser, Antiochus Epiphanes, in 167 v.C. ’n dekreet uitgevaardig wat verdere offerandes in die tempel in Jerusalem verbied, net soos Daniël voorspel het. “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Daniël 11:31).

Bo en behalwe die afskaffing van die daaglikse offers, het Antiochus ook ’n standbeeld van Jupiter Olimpus in die tempel opgerig en almal beveel om dit te aanbid. Hierdie gruwel, wat ook in Daniël 8 vermeld word, is ’n versinnebeelding van ’n eindtydse gebeurtenis. In die toekoms sal eindtydse diere-offers weer afgeskaf word, hierdie keer 1 290 dae voor Christus se wederkoms. “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11).

Jesus waarsku Sy volgelinge om op die uitkyk te wees vir ’n eindtydse gruwel van verwoesting! Net soos Antiochus Epiphanes die tempel in 167 v.C. ontheilig en die offers afgeskaf het, so sal ’n goddelose owerheid Joodse tempeloffers in die toekoms verbied. Trouens, die apostel Paulus waarsku teen ’n groot valse profeet wat in die heilige plek sal staan. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

In die eerste eeu het Christene uit Jerusalem na die dorp Pella gevlug en die verwoesting vrygespring wat in 70 n.C. deur die Romeinse leër in Jerusalem aangerig is. (Skryf asseblief om ’n gratis eksemplaar van ons boekie, God se Kerk deur die eeue, aan te vra en sodoende meer te wete te kom oor hoe God se Kerk gestig is, gegroei het en deur die eeue verskriklike vervolging weerstaan het). Die konteks hier is egter die “voleinding van die wêreld” (Mattheüs 24:3). Jesus beskryf hierdie tydperk as die “groot verdrukking” (vers 21) – die tyd van Satan se wraak en bose vervolging. “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Jesus sê dat hierdie tyd van verdrukking die ergste ooit sal wees (Mattheüs 24:21). Volgens die geskiedenis van die wêreld is hierdie mate van boosheid nog nooit ervaar nie ten spyte van al die gruweldade en volksmoorde wat ons in die verlede geken het.

Ons lees: “En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd” (Openbaring 12:13-14). Die Bybelse simbool vir die Kerk is ’n vrou (vergelyk Efesiërs 5:22-32). God sal Sy ware heiliges, ware Christene, teen die Groot Verdrukking beskerm. Dit is nie ’n geheime wegraping nie. Daar is geen sodanige gebeurtenis in die Bybel nie. Let daarop dat die vrou na “haar plek” in die woestyn geneem word. Dan agtervolg die draak daardie louwarm Christene wat hulle nie intens daarop toegespits het om te groei in die genade en kennis van Christus nie. “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openbaring 12:17). Satan sal die van die Kerk wat oorbly en die afstammelinge van Jakob aanval. “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7). Tydens hierdie unieke tyd in die ganse geskiedenis, die Groot Verdrukking, sal Satan se wraak op die afstammelinge van Jakob neerkom, nie net die Jode nie, maar ook die Amerikaanse en Britse afstammelinge sowel as die nasies van noordwes-Europa. Ons behoort beslis die waarskuwing ter harte te neem!

Namate Christus se wederkoms naderkom, sal God al hoe kragtiger in menslike gebeure ingryp. Dramatiese astrologiese en aardse aktiwiteite sal almal se aandag trek. Let op die volgende: “... en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:14-17). Wie se wraak sal op die nasies uitgestort word? Die Lam van God, Jesus Christus, sal toornig wees! Waarom? Omdat die oorgrote meerderheid van die bewoners van die wêreld teen God in opstand gekom en die weg van boosheid gevolg het. Johannes verduidelik dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19), of, “dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is” (NV).

Ons wêreld van vandag ken nie die ware God nie, maar diegene wat in die wêreld van môre gaan leef, sal God die Vader en Sy Seun, Jesus Christus ken! Mense sal ontvanklik wees vir onderrig. Na die Groot Verdrukking, die Dag van die Here en Armageddon, sal die nasies nederig wees. Hulle sal selfs die weê van God en die Bybel wil leer ken! Neem kennis: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vas staan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom” (Jesaja 2:2). Alle nasies sal na die nuutgestigte wêreldhoofstad Jerusalem gaan waar Jesus Christus as Koning van die konings en Here van die here sal regeer. “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel” (vers 3). Hulle sal die kennis van God se lewenswyse begeer! Het u tans daardie begeerte? Let op wat die Messias, die Koning, Jesus Christus, in die Millennium sal onderrig. “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (vers 3). Daardie woord is reeds tot u beskikking, in u Bybel. Die Bybel is God se geskenk aan ons – ons behoort dit daagliks te lees! Soos Jesus sê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32).

Die hemelse tekens

Die vier perderuiters sal hulle spoed versnel namate ons die Dag van die Here nader. Soos ons gesien het, word hulle in Openbaring 6 onthul wanneer Christus die eerste vier seëls oopmaak. Wat gebeur wanneer die vyfde seël oopgemaak word? “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het” (Openbaring 6:9).

Hier word die martelaarskap van die heiliges, die ware Christene, beskryf. In die eerste eeu het keiser Nero die Christene gewelddadig vervolg en hulle om die lewe gebring. ’n Groot eindtydse vervolging van heiliges word ook deur hierdie vyfde seël voorspel. Jesus voorspel hierdie toekomstige verdrukking in Mattheüs 24:9. Dan maak Jesus die sesde seël oop, waartydens die hemelse tekens onthul sal word en wat mense regoor ons planeet sal skok. Wat is hierdie hemelse tekens? “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed” (Openbaring 6:12).

Hierdie toekomstige kosmiese versteurings sal vir die ganse mensdom ’n waarskuwing wees. Gedurende die eerste eeu, rondom die tyd van Jesus se kruisiging en opstanding, was daar ook hemelse tekens (Lukas 23:44-45). Die apostel Petrus verwys daarna in sy Pinksterboodskap: “Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, ... En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Handelinge 2:14-21).

Die apostel Petrus het aan hulle opdrag gegee om hulle te bekeer en hulle te laat doop (Handelinge 2:38) en 3 000 mense is daardie dag gedoop!

Let nou op die eindtydse profetiese tekens. In Openbaring 6 gaan die apostel Johannes voort: “... en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:13-14).

Sal asteroïdes en meteoriete katastrofiese skade aan alle lewe op aarde aanrig? Sal God uiteindelik asteroïdes, klein of groot, gebruik om onbekeerde, opstandige nasies en volke te straf? Die Skrif toon duidelik dat reuse haelkorrels mense en eiendomsal vergruis. “Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar, het van die hemel af op die mense geval. En die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat die plaag verskriklik groot was” (Openbaring 16:21 NV).

Rolprente soos 1997 se Asteroid en 1998 se Armageddon en Deep Impact, het uitgebeeld hoe asteroïdes alle lewe op aarde bedreig. Is daar enige werklike gevaar dat kleiner asteroïdes ons planeet kan tref? Die skrywer John Roach, waarsku inNational Geographic News: “Volgens navorsers is dit byna ’n uitgemaakte saak dat die aarde deur ’n asteroïede getref sal word, wat groot genoeg sal wees om ’n groot persentasie van lewe op die planeet, waaronder meer as ’n miljard mense, uitgewis sal word. Aangesien sulke rampspoedige botsings egter gemiddeld ongeveer slegs een keer elke miljoen jaar voorkom, is dit dan werklik nodig om daaroor bekommerd te wees?” (Killer Asteroids: A Real But Remote Risk?, 19 Junie 2003). Ja, Bybelse profesie onthul dat ons baie bekommerd behoort te wees!

Nie net sal asteroïdes en meteoriete mense die skrik op die lyf jaag nie, maar massiewe aardbewings sal ook die planeet Aarde skud. Soos die apostel Johannes in ’n visioen gesien het: “Al die berge en eilande is uit hulle plekke versit”. Iemand wat al ooit ’n groot aardbewing beleef het, soos talle mense in Kalifornië, weet hoe skrikwekkend aardbewings kan wees. ’n Mens se knieë en bene voel swak en wankelrig, selfs al is ’n mens nie ernstig beseer nie. U voel dalk veilig omdat u stad of streek nie ’n geskiedenis van aardbewings het nie. In ’n TIME-tydskrif se hoofberig herinner die skrywer George J. Church ons: “Aardbewings is onvoorspelbaar. Dit slaan bykans sonder uitsondering toe, nie net op tye wat niemand verwag nie, maar ook op plekke waar niemand dit verwag nie en geen twee aardbewings is presies dieselfde nie” (30 Januarie 1995).

Hoe kragtig kan aardbewings wees? Die geskiedkundige aardbewing in die Mississippi-vallei op 16 Desember 1811, naby Nieu-Madrid, Missouri, het in werklikheid die vloei van die Mississippirivier omgekeer! Die reeks aardbewings het geskatte lesings van onderskeidelik 8.6, 8.4 en 8.8 op die Richterskaal gehad. Soos die Time Almanac 2001 dit stel: “Dit is die grootste reeks aardbewings bekend wat nog ooit in Noord-Amerika plaasgevind het” (bl. 614).

Natuurrampe het honderde duisende mense in die onlangse verlede laat omkom. In Oktober 2005 het ’n massiewe aardbewing met ’n lesing van 7.6 Pakistan getref, waartydens bykans 90 000 mense dood en meer as drie miljoen mense haweloos gelaat is. In Augustus 2005 het die orkaan Katrina die stad New Orleans verwoes en die lewens van miljoene mense langs die Amerikaanse kus van die Golf van Mexico ontwrig. Op 26 Desember 2004 het die Sumatra-aardbewing, met ’n lesing van 9.1 en die daaropvolgende vloedgolf, die lewens van meer as 280 000 mense regoor Suid-Asië geëis.

Aardbewings en “hemelse tekens” sal die Dag van die Here, die tyd van God se toorn en oordeel oor ’n ondankbare en opstandige wêreld, inlui. Jesus Christus, die Lam, sal toornig wees. Hy sal God se regverdige oordeel vel. Die Dag van die Here staan ook bekend as “die groot dag van Sy toorn” (Openbaring 6:17)!

Sommige kritici sê: “Daar was nog altyd aardbewings. Vulkaniese uitbarstings en ander rampe wat die omgewing ontwrig, het nog altyd voorgekom. Dit wat ons deesdae ervaar, beteken nie dat die Wederkoms enigsins nader is nie”. Dit is ongelooflik, maar namate eindtydse gebeure toeneem in intensiteit, sal sommige spotters dit tot op die laaste oomblik wil ontken, tot wanneer hulle deur God Self gekonfronteer sal word en Hy Sy oordeel sal uitstort oor die opstandige mensdom. Kort nadat Jesus oor Sy wederkoms gepraat het, het Hy gesê: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien,dat dit naby is, voor die deur” (Mattheüs 24:32-33). Jesus beveel al Sy ware volgelinge om kennis te neem van hierdie tekens.

Ja, daar was nog altyd siniese mense en twyfelaars, maar dit is nou die tyd om wakker te word en kennis te neem van wat oral in die wêreld gebeur. God praat met die profeet Esegiël oor hierdie skeptici en spotters. “Mensekind, wat is dit vir ’n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik: Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie” (Esegiël 12:22). Wat sê God oor die mensdom se skeptisisme? “Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here Here: Ek maak ’n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie. Maar sê vir hulle: Die dae is naby, en die woord van elke gesig” (Esegiël 12:23). Dit is nodig om ons oë oop te hou vir wat God besig is om te doen – nou en namate die eindtyd naderkom en die seëls oor ons wêreld losgelaat word. 

Raamwerk vir profesie

Dit is belangrik dat ons die volgorde van die tydsverloop wat sal lei tot Christus se wederkoms, sal verstaan. Daar is drie belangrike profetiese mylpale in die aanloop tot Sy wederkoms:

•    Die Groot Verdrukking
•    Die Hemelse Tekens
•    Die Dag van die Here

Hierdie drie gebeurtenisse strek oor ’n tydperk van ongeveer drie-en-’n-half jaar. Daar is meer as 30 profesieë in u Bybel wat verwys na die Dag van die Here. Hoe lank is die Dag van die Here? Twee teksverse bied die antwoord. Waar verwys word na God se oordeel oor die nasies, skryf Jesaja: “Want die Here hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion” (Jesaja 34:8). Jesaja 63:4 dui ook aan dat die Dag van die Here, in eindtydse profesie die tyd wat Christus se wederkoms voorafgaan, ’n tydperk van een jaar is!

Aanvullend tot hierdie mylpale waarna verwys word, onthul Openbaring vier deurlopende gebeurtenisse wat in hierdie tydperk van drie-en-’n-half jaar sal voortduur (sien tabel op bladsy 27). Wat is hierdie vier deurlopende gebeurtenisse wat gedurende die drie-en-’n-half jaar sal plaasvind? Die eerste gebeurtenis is dat Jerusalem vir 42 maande deur heidene vertrap sal word (Openbaring 11:1-2). Die tweede gebeurtenis verwys na die Twee Getuies wat vir 1 260 dae lank sal profeteer (Openbaring 11:3). Die derde gebeurtenis verwys na die tyd wanneer die kerk in die “woestyn” sal wees en word deur die Bybel beskryf as “’n tyd en tye en ’n halwe tyd” – Bybelse taal vir drie-en-’n-half jaar (Openbaring 12:13-17). Die vrou wat hier in Openbaring 12 beskryf word, simboliseer die Kerk. Die vierde gebeurtenis verwys na die Dier wat in sy finale herlewing vir 42 maande voortbestaan (Openbaring 13:1-5). Hierdie Dier simboliseer ’n herleefde Romeinse Ryk. Vra gerus ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring, aan vir meer besonderhede oor hierdie belangrike onderwerp. Hierdie herleefde Dier verwys na ’n supermoondheid wat sal wedywer en uiteindelik die Verenigde State sal oortref. Hou Europese gebeure dop terwyl hierdie Dier gereed maak om op die toneel te verskyn.

Drie belangrike mylpale lei tot die wederkoms van Christus. Die Groot Verdrukking sal ongeveer twee-en-’n-half jaar lank duur. Hierna sal die hemelse tekens mense regoor die wêreld skok. Die Hemelse Tekens sal die Dag van die Here inlui. Die Dag van die Here verwys na die profetiese tydperk van een jaar wat sal lei na Christus se wederkoms. Daar is dus vier deurlopende gebeurtenisse gedurende hierdie drie-en-’n-half jaar periode: Jerusalem sal deur die heidene vertrap word; die twee getuies sal profeteer; die Kerk sal in die “woestyn” onderhou word en die Diermoondheid sal vir 42 maande die wêreld domineer. 

Die Dag van die Here

Die Dag van die Here is ’n belangrike profetiese gebeurtenis wat die lewe van elke menslike wese op aarde sal beïnvloed. U behoort die betekenis van die Dag van die Here, die kragtige implikasie daarvan, asook die plek daarvan in profesie te verstaan. Die groot profete van die Bybel, naamlik Jesaja, Jeremia en Esegiël het daarna verwys. Die sogenaamde “kleiner profete” – Joël, Amos, Obadja, Sefanja, Sagaria en Maleagi – beklemtoon ook hierdie gebeurtenis. Selfs die apostels Petrus en Paulus skryf daaroor. Die Dag van die Here dui op die sewende seël van Openbaring wat uit sewe basuinplae bestaan, waardeur God die nasies sal oordeel. Die sewende basuinplaag sluit Armageddon in!

Soos ons in Openbaring 6 lees, verwys die sesde seël, of die hemelse tekens, na die inleiding tot die Dag van die Here, wat ook bekend staan as “die groot dag van sy toorn” (Openbaring 6:17)! Wat is hierdie Dag van die Here dan? Dit is die hoogtepunt in die tydperk van God se oordeel oor die nasies. Dit is die tyd wanneer die Almagtige God op ’n meer direkte en kragdadige wyse sal ingryp in menslike sake. Die Holman Bible Dictionary beskryf die Dag van die Here soos volg: “Die tyd wanneer God Sy soewereiniteit oor menslike mag en menslike bestaan openbaar”. 

Die boek Openbaring beklemtoon die profetiese gebeure wat sal lei tot die wederkoms van die Messias, Jesus Christus. Die apostel Johannes skryf in Openbaring 1:10: “Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ’n groot stem gehoor, soos van ’n basuin”. Johannes beskryf nie hier ’n dag van die week, soos sommige verklaarders glo nie. Hy verwys hier na die belangrike profetiese tydperk wat in die res van die boek as die Dag van die Here beskryf word. In Openbaring verwys die uitdrukking “Dag van die Here” duidelik na die tema van die boek in geheel, die profetiese Dag van die Here wat ’n hoogtepunt sal bereik met Jesus Christus se wederkoms as Koning van die konings en Here van die here!

Ons behoort te verstaan dat Johannes nie hier verwys na Sondag as die Dag van die Here nie. Indien dit so was, sou hy na Sondag verwys het as die “eerste dag” van die week, soos hy daarna verwys in die Evangelie volgens Johannes. Jesus Self, wat die sewende-dag Sabbat eerbiedig het, het gesê Hy is Here van die Sabbat (Markus 2:27-28)! Hy het nie van Sondag gepraat nie! 

Soos ons reeds vasgestel het verwys hierdie jaarlange Dag van die Here na die sewende seël van Openbaring. Verder bestaan die sewende seël uit sewe trompette wat plae of oordele uitbasuin. Johannes skryf in Openbaring 8:1: “En toe Hy [Christus] die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee”. Hulle word voorafgegaan deur “donderslae en weerligte en aardbewing” (vers 5).

Die eerste vier trompette kondig die ekologiese verwoesting aan wat ons planeet sal teister. ’n Derde van alle bome word verbrand en al die groen gras ook. ’n Derde van alle lewende wesens in die see sterf; ’n derde van al die skepe op die see word vernietig. ’n Derde van die riviere en fonteine word vergiftig. ’n Derde van die hemel word verduister.

Let op Joël se ontstellende waarskuwing: “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van dieHere kom, want hy is naby – ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ’n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie” (Joël 2:1-2).

Die trompet word gebruik om ’n waarskuwing te rig – om mense te help om voor te berei op groot veldslae, of soos hier beskryf word, ’n invalsmag! Hier waarsku die profeet Joël van ’n unieke tyd in die ganse geskiedenis. Die volgende vers beskryf verskriklike vernietiging, ’n verskroeide aarde gedragspatroon – alles word vernietig agtergelaat. “Voor hom uit verteer ’n vuur, en agter hom brand ’n vlam; voor hom lyk die land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit ’n woeste wildernis; ook kan niks daaraan ontkom nie” (vers 3). Gedurende die Dag van die Here sal aanvallende leërs uitgestrekte gebiede afbrand. Die mensdom sal ook verskriklike ontwrigting in die hemele sien, asook totale vernietiging op die aarde. “Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in. En die Here verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” (Joël 2:10-11).

God noem hierdie vernietigende heidense mag Sy leër! Soos ons later sal sien, sal ’n magtige leër bestaande uit 200 miljoen manskappe, troepe na die Midde-Ooste stuur wat volgens profesie een-derde van die aarde se bevolking sal vernietig. Die Almagtige God sal op dramatiese wyse in die mensdom se sake ingryp. Grootskaalse oorloë sal uitbreek wanneer God Sy oordeel oor die nasies vel.

Nie net sal wyd uitgestrekte gebiede deur militêre wapentuig vernietig word nie, maar die landbou sal ook deur ongelooflike ekologiese verwoesting vernietig word. “Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind” (Joël 1:4). In Oktober 2007 het The West Australian News soos volg berig: “Die jongste bedreiging vir Wes-Australië se reeds verlaagde graanoeste en gesogte veevoer is springkane ... Verlede jaar het die Departement $11,1 miljoen bestee om 450 000 hektaar, wat strek oor ongeveer 70 graafskappe deur die noordelike, sentrale en suidelike landboustreke, te bespuit. Boere het hierdie pogings geëwenaar. Hoewel die veldtog grootliks suksesvol was, was die peste se getalle groot genoeg om ongeveer 70 dorpe binne te dring en het dit sterk genoeg gebly om die suidkus te bereik en eiers te lê om sodoende die jongste generasie voort te bring”. 

In die nabye toekoms sal insekplae waarmee sommige nasies vandag geteister word, onbeduidend wees in vergelyking met bogenoemde. Wanneer God Sy straf uitspreek oor rebelse nasies tydens die toekomstige Dag van die Here, sal Hy ’n beroep doen op die nasies om hulleself te verootmoedig en te bekeer! Natuurlik hoef ek en u nie tot dan te wag nie! Namate ons die toekomstige Dag van die Here nader, sien ons dat God ’n beroep op Sy mense doen om hulleself te verootmoedig: “Heilig ’n vasdag, roep ’n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die Here julle God, en roep tot die Here. Ag, die dag! Want naby is die dag van die Here, en hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige” (Joël 1:14-15).

Dit is nodig om te onthou dat, so verwoestend as wat hierdie gebeure ookal mag wees, dit lei na die wonderlike hoop wat ons almal het, die wederkoms van die Messias, Jesus Christus! God sal die nasies op die Dag van die Here oordeel, maar Hy sal ook ’n tyd vir herskepping voorberei.

Let op die volgende: “En die Here brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die Here sal ’n toevlug wees vir sy volk en ’n skuilplek vir die kinders van Israel. Dan sal julle weet dat Ek die Here julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg; dan sal Jerusalem ’n heiligdom wees waar geen vreemdes meer deur sal trek nie” (Joël 3:16-17). Ja, ons hoop lê in die Verlosser en Sy toekomstige heerskappy oor al die nasies!

Die laaste drie basuinplae word die wee-uitsprake genoem. Die woord “wee” is ’n uitroep van smart! “En ek het gesien en gehoor ’n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met ’n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas!” (Openbaring 8:13).

Openbaring 9 beskryf die eerste wee of die vyfde trompetplaag. Die vyfde engel blaas ’n trompet wat militêre aksie van stapel stuur wat vyf maande lank duur. Die apostel Johannes beskryf die oorlog in apokaliptiese terme: “En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog. En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen. En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond [Satan]; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion. Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë” (Openbaring 9:9-12).

Die tweede wee, of die sesde trompetplaag, word uitgebeeld deur simbole van perde en ruiters. Hier sien ons ’n hewige militêre teenaanval. Ons lees: “En die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat” (verse 13-14).

Ons behoort kennis te neem van die een spesifieke Bybelse sleutel wat van hulp kan wees in ons poging om die toekoms van die Midde-Ooste te verstaan, die profesieë rakende die Eufraatrivier. Die Eufraatrivier loop vanaf Turkye deur Sirië en Irak tot by die Persiese Golf. Die nasie van Iran lê direk oos van Irak.

’n Leër wat bestaan uit 200 miljoen man en wat volgens profesie ’n derde van die planeet se bevolking sal uitwis, se troepe sal weswaarts oor die Eufraatrivier beweeg. “Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (vers 15-18).

Dit is ’n wêreldoorlog wat hier beskryf word! Tydens hierdie fase van die Derde Wêreldoorlog, sal miljarde mense sneuwel! Jesus het gesê dat, tensy daardie tydperk ingekort word, geen vlees gespaar sal word nie – alle lewe op die planeet Aarde vernietig sou word (Mattheüs 24:21-22).

Dan weerklink die sewende trompet. Vir Christene is die klank van die sewende basuin goeie nuus omdat dit Jesus Christus se wederkoms en die vestiging van die Koninkryk van God op die planeet Aarde aankondig. Dit is nodig dat ons almal ons geestelik voorberei vir daardie tyd! “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Pre-, Post- of Amillenialisme?

Sommige teoloë verkondig verkeerdelik dat daar geen letterlike duisendjarige Vrederyk van Christus op die planeet Aarde sal wees nie. Hierdie lering word amillennialisme genoem. Andere onderrig weer verkeerdelik dat die Kerk se mag en invloed, dalk oor duisende of tienduisende jare, sal toeneem en dat miljarde mense tot bekering gebring sal word. Dit sal sedelikheid en vrede na ons planeet bring, voordat Christus sal terugkeer om Sy laaste oordeel te vel. Hierdie valse leerstelling staan as postmillenialisme bekend.

Die Bybel daarenteen, verkondig premillenialisme – dat Jesus Christus voor die Millennium sal terugkeer en saam met die heiliges op die planeet Aarde sal regeer vir eenduisend jaar lank. Met die sewende trompetgeskal, sal Jesus Christus die Heerser van die planeet Aarde word en getroue Christene wat in hulle grafte is, sal opgewek word tot onsterflikheid en heerlikheid. Let op hierdie bemoedigende stelling: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (1 Thessalonicense 4:16). Opregte Christene wat steeds ten tye van Christus se wederkoms leef, sal van sterflikheid na onsterflikheid verander word. “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Korintiërs 15:51-53). Christene wat opgewek word sal dan hulle heerskappy saam met Christus op die planeet Aarde begin. Onthou: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Die vestiging van die Koninkryk van God op die planeet Aarde sal ’n ontsagwekkende gebeurtenis wees! Regdeur die geskiedenis het die wêreld op hierdie groot mylpaal gewag! Ons het Christus se wederkoms na die Aarde nodig! Die mensdom het nie blywende vrede na die wêreld gebring nie. Net meer as 60 jaar gelede het die mensdom die eerste atoombomme in Hirosjima en Nagasaki laat ontplof. Vir die eerste keer in die geskiedenis het die mensdom die vermoë besit om homself uit te wis – algehele wêreldvernietiging het ’n werklike gevaar geword.

Die meeste van ons is deeglik bewus daarvan dat ’n kernoorlog ons nog steeds in die 21ste eeu bedreig! Dit is vir ons nodig dat Christus terugkeer om vrede, regverdigheid en God se weg na die mensdom te bring! Die goeie nuus is dat die jaarlange tydperk wat die Dag van die Here genoem word, ’n hoogtepunt sal bereik met die aankondiging van die goeie nuus dat Christus al die koninkryke en regerings van hierdie wêreld oorneem!

Die sewende trompet

Die sewende trompet word ook die derde wee genoem! Waarom? Omdat dit ook die sewe laaste plae sal aankondig! Dit is ’n intense vervulling van die dag van God se toorn en oordeel oor opstandige nasies. “En ek het ’n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele met die sewe laaste plae, want daarmee is die grimmigheid van God voleindig” (Openbaring 15:1).

Dit is nodig dat ons die werklikheid in die gesig staar. Lees die beskrywing van hierdie laaste sewe plae in Openbaring 16. Dit sluit plae in van pynlike swere op diegene wat die Dier en sy beeld aanbid. Dit sluit ook selfs nog meer giftige riviere en seë in, tot so ’n mate dat “al die lewende wesens in die see ... gesterwe [het]” (Openbaring 16:3). Die son sal warmer word en uitermatige hittegolwe tot gevolg hê wat diegene wat hulle nie van hulle sondes wil bekeer nie, sal pynig! 

Hier volg die skrikwekkende beskrywing van dit wat die sesde engel op ’n opstandige mensdom loslaat: “En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word. En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (vers 12-14).

So ongelooflik as wat dit ookal mag voorkom, is die opstandige nasies van die planeet Aarde so mislei, verwaand en kwaad, dat hulle sal probeer om teen die terugkerende Koning van die konings en Here van die here te veg; baie van hulle sal glo dit is ’n invaller vanuit die buitenste ruimte!

Oorlog teen Christus!

“Die konings van die aarde”, met inbegrip van die Dier, die geprofeteerde Europese supermoondheid; wat die herleefde Romeinse Ryk is, sal die Midde-Ooste binneval. Die konings van die Ooste, wat normaalweg teen die Diermoondheid sou veg, sal ook na die Midde-Ooste opruk. In plaas daarvan om mekaar die stryd aan te sê, sal hulle egter saamstaan teen ’n invaller vanuit die buitenste ruimte, Jesus Christus! “En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Openbaring 16:16). Die leërmagte van die wêreld sal daar bymekaarkom om teen Jesus Christus, die Aanvoerder van die Hemelse leërskare, oorlog te voer! Die apostel Johannes skryf: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:11-16).

Wanneer Christus na die planeet Aarde terugkeer, sal Hy al Sy vyande oordeel en oorwin. Johannes gaan voort: “En ek het die dier (die geprofeteerde militêre diktator) en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom (Christus) wat op die perd sit, en teen sy leër” (vers 19).

Verbasend genoeg, sal die nasies soos ons reeds gesien het, steeds teen die seëvierende Koning van die Hemelse leërskare wil veg! Satan se demone, gevalle engele, sal daardie leërmagte wat op die punt was om mekaar en alle lewe op die aarde uit te wis, saamsnoer. Hierdie opponerende magte sal dan by mekaar aansluit om teen Christus te veg met Sy wederkoms.

Hierdie leërmagte kom by Megiddo byeen om teen Christus en Sy leërmag te veg. Dié oorlog of stryd word “die oorlog van die groot dag van die almagtige God” genoem. Waar sal hierdie stryd egter plaasvind? Die profeet Joël lig ons in dat hierdie beslissende stryd naby Jerusalem sal plaasvind. “Want kyk, in dié dae en in dié tyd ... sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou” (Joël 3:1-2).

Die dal van Jósafat wat ook die Kidronvallei genoem word, is geleë tussen Jerusalem en die Olyfberg en strek suidwaarts. Die wêreld se leërmagte sal van Megiddo af suidwaarts beweeg om by Jerusalem teen Jesus Christus te veg. Gedurende die grootste klimaktiese stryd van alle tye, sal die Skepper-God seëvier, terwyl nietige mense sal misluk in hulle vergeefse poging om God te oorwin.

Dwase generaals sal gou besef hoe magteloos hulle teen die almagtige, goddelike mag van God is! Let op wat die uitslag van daardie stryd sal wees: “Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; ... En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg” (Sagaria 14:2-4). Let op die verskriklike straf wat oor hierdie opstandige, bose leërs sal kom. “En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond” (vers 12).

Johannes skryf: “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Openbaring 19:20-21).

Jesus sal die grootste militêre mag wat nog ooit byeengebring is heeltemal oorwin. Hy sal terugkeer as Koning van die konings en Here van die here om aan hierdie oorloggeteisterde planeet ’n duisend jaar van vrede te bring. “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9).

God sal ’n mensdom wat verdoem is red

God sal ingryp om die mensdom van algehele uitwissing te red. Die sewende trompet sal ’n nuwe wêreldregering aankondig, ’n nuwe wêreldorde onder die Koning van die konings, Jesus Christus: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Dit is die goeie nuus; die evangelie wat hierdie bejammerens-waardige wêreld so broodnodig het. Ja, die wêreld sal Armageddon oorleef. Waarom? Omdat daar getroue Christene is om wie se onthalwe die wêreld gered sal word. Soos Jesus in Mattheüs 24:22 sê: “... maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word”. God sal die wêreld red om Sy lewenswyse en vrede vir ’n duisend jaar lank te demonstreer. Die Vredevors, die Messias, Jesus Christus, sal alle nasies leer watdie weg na wêreldvrede is. Hoe lank sal die wêreld hierdie vreedsame heerskappy van Christus en die heiliges beleef? Die apostel Johannes beskryf daardie tyd: “... en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank ... Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:4, 6).

Die wêreld sal nie geheel en al uitgewis word in ’n kernslagting nie. God sal egter die nasies oordeel, met inbegrip van die Westerse nasies wat skynheilig geword het en wel ’n vorm van goddelikheid aanhang, maar tog die krag daarvan misken (2 Timotheüs 3:5). Daar word ’n beroep op elkeen van ons gedoen om geestelik wakker te wees, waaksaam te bly en geestelik toegerus te wees. Jesus sê: “Kyk, Ek kom soos ’n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie” (Openbaring 16:15).

Ons behoort almal uit te sien na Christus se wederkoms. Dit is nou die tyd om onsself geestelik voor te berei – om tot bekering te kom en ons lewens te verander! Soek God op in gebed. Bestudeer u Bybel en verbind u daartoe om daarvolgens te leef (Mattheüs 4:4). Sien uit na ’n wêreld onder die Vredevors, Jesus Christus, wanneer al die nasies sal leer hoe om volgens die Bybel, die wet van God, die regering van God en die liefde van God te leef. Hedendaagse Christene maak hulleself gereed om Jesus Christus in God se Koninkryk by te staan, waar hulle aan ander mense die Weg sal leer wat hulle van hulle Verlosser geleer het (Jesaja 30:20-21; Openbaring 5:10).

Ná Armageddon

Sal die wêreld Armageddon oorleef? Sal ons die realiteit van ’n “tweede atoomtydperk” en die toekomstige verwoesting van ’n Derde Wêreldoorlog kan trotseer? Jesus waarsku ons almal betreffende die eindtyd en die Groot Verdrukking: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Mattheüs 24:22). Die goeie nuus is dat Christus as die Koning van die konings en Here van die here sal terugkeer (Openbaring 19:16). Onthou Sy bemoedigende belofte dat Hy sal terugkeer aarde toe en die Koninkryk van God hier sal vestig. Hy het aan Sy dissipels gesê: “Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:2-3). Die evangelie, of die goeie nuus van die Koninkryk verkondig ’n nuwe tydperk van vrede en voorspoed vir die wêreld. Christus sal op die aarde regeer: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sagaria 14:4). Die Koning sal regeer vanuit Jerusalem, die nuwe hoofstad van die wêreld. Getroue Christene, die heiliges, sal Hom dien en saam met Hom regeer: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

Getroue Christene sal die Koninkryk van God beërwe: “... en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid” (Daniël 7:18). Daardie heiliges sal deel van die eerste opstanding wees wanneer Christus terugkeer. Hulle sal op die planeet Aarde regeer, onder die Koning van die konings en hulle sal miljarde mense tydens die Millennium help. Met Christus se wederkoms, aan die begin van die Millennium, sal hulle opgewek of verander word en hulle sal onsterflikheid ontvang (1 Korintiërs 15:51-54). Hulle sal “ook die beeld van die hemelse dra” (vers 49). Hulle sal oor heerlikheid, mag, onsterflikheid en ’n geestelike liggaam beskik.

Onthou dat Jesus na Sy opstanding na die hemel opgevaar het en Sy voor-vleesgeworde heerlikheid aan Hom teruggegee is. Let op: “... sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:16). Tog, na Sy opstanding, was Jesus steeds in staat om Homself in die vlees te laat verskyn; Hy het aan Sy dissipels verskyn en brood en vis met hulle gedeel (Johannes 21:13). Die heiliges sal ook in staat wees om hulleself in ’n vleeslike gedaante aan die fisiese nasies te openbaar gedurende die Millennium. As konings en priesters sal hulle regeer en onderrig gee. Trouens, die priesters in antieke Israel was die leermeesters. Gedurende die Millennium sal die getroue Christene van vandag onderrig gee in God se lewenswyse, die weg van die waarheid, die weg van die Bybel, die lewenswyse wat Christus uitgebeeld en aan andere geleer het. As konings en priesters sal hulle aan die wêreld die weg na vrede leer: “Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20-21).

Ons het in die Bybel gesien dat getroue Christene vir eenduisend jaar saam met Jesus Christus as konings en priesters op die aarde sal heers. God bedoel wat Hy sê. Die tyd sal aanbreek wanneer al die nasies die ware God sal ken. “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9).

God se Koninkryk sal op die planeet Aarde heers. Jerusalem sal die hoofstad van die wêreld wees! Let op hierdie inspirerende profesie: “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg” (Sagaria 8:3). Getroue Christene sal Jesus Christus hier op aarde as konings en priesters dien – nie in die hemel soos dit verkeerdelik deur baie mense verkondig word nie! 

Na die duisend jaar sal Satan die duiwel weer vrygelaat word om die nasies te mislei. Diegene wat dan volgelinge van daardie bedrieër is, sal deur vuur uit die hemel verteer word (Openbaring 20:9). Satan en sy demone sal in die poel van vuur gewerp word (Mattheüs 25:41). Dan, tydens die Laaste Oordeel, sal die Boek van die Lewe vir die eerste keer vir miljarde mense geopen word. Dit is die tyd van die tweede opstanding; die tyd van oordeel wanneer aan baie van u vriende en familie, wat nooit ’n werklike geleentheid vir verlossing gehad het nie (vergelyk 2 Korintiërs 4:4), daardie geleentheid gebied sal word. Wat sal gebeur na die Laaste Wit Troon-oordeel? “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openbaring 20:14-15).

Dit is die werklike helse vuur waarna u Bybel verwys. Na die Wit Troon Oordeel sal al die onbekeerde mense wat nog ooit geleef het, in die poel van vuur vernietig word. Al daardie mense wat Christus gehoorsaam en Hom as hulle Verlosser – as Heer en Meester – aanvaar het, sal verheerlikte kinders van God wees, wat vir ewig sal leef as lede in die onsterflike huisgesin van God. Die apostel Petrus skryf dat ons planeet dan heeltemal deur vuur gesuiwer sal word: “Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Petrus 3:10).

Wanneer Christus na die planeet Aarde terugkeer, sal Hy al Sy vyande aan Hom onderwerp. Hy sal die nasies en hulle sterk leërmagte wat met Sy wederkoms teen Hom sal veg, oorwin. Die Dag van die Here, wat Armageddon insluit, sal God se oordeel oor die nasies bring. Soos ons reeds gesien het, verwys die Dag van die Here in ’n sekere sin na die jaar wat Christus se wederkoms voorafgaan. In ’n ander sin, strek dit dwarsdeur die Millennium en tot in alle ewigheid. Die aarde sal vernuwe word en so ook die hemele. Daarna sal God se hemelse troon na ’n gesuiwerde aarde neerdaal: “En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openbaring 21:3).

Let daarop dat God nie slegs die planeet Aarde aan die Christene gee nie (Mattheüs 5:5), maar dat Hy aan ons “alles”, die ganse heelal, gee: “Hy wat oorwin, sal allesbeërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7; vergelyk Romeine 8:32). Dit is God se doel om ons voor te berei op die vermoë om oor die heelal te heers. Ons sal in staat wees om in ’n oogwenk na verafgeleë sterrestelsels te “reis”. Tyd en ruimte sal ons nie beperk nie. 
Dit is God se wil dat ons die skepping sal bevry van verval en korrupsie. Paulus skryf immers: “... dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:21).

U persoonlike toekoms

Ons wêreld – met sy opstandige, Godverwerpende weë – stuur af op Armageddon. Jesus Christus sal die nasies gedurende die Dag van die Here en Armageddon oordeel. Die Groot Verdrukking, wat daardie tydvak sal inlui, is ’n tydperk van afrekening vir al die afstammelinge van Jakob – die Verenigde State en die nasies van Britse afkoms, sowel as die nasies van Noordwes-Europa (asook Suid-Afrikaners), so ook die Joodse volk. Dit is die tyd van “benoudheid vir Jakob”. “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7). Vra gerus aan vir ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, vir ’n meer omvattende verduideliking van daardie oordeelstyd.

Sal u persoonlik hierdie gevaarlike tye wat voorlê oorleef? Dit is nodig dat ons verstaan dat God ’n belofte gemaak het om diegene, wat hulle deur Jesus Christus tot Hom bekeer, te beskerm. Hy sal vir Sy Kerk sorg tydens die drie-en-’n-half jaar van die Groot Verdrukking, die Dag van die Here en Armageddon. “En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou (simbolies van die Kerk, verg. Efesiërs 5:22-32) gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd” (Openbaring 12:13-14).

Die Kerk word nie weggeraap nie, maar geniet goddelike beskerming in die woestyn, in “haar plek” op hierdie aarde, gedurende die laaste uitbarsting van oorlog voor Christus se wederkoms. Wat kan u doen? Wat behoort u te doen? God lig ons in deur middel van die profeet Sefanja: “Soek die Here, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid – miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die Here” (Sefanja 2:3). Ja, God sal Sy mense “wegsteek” gedurende die traumatiese tye wat voorlê. Hy verwag egter van ons om geestelik wakker en waaksaam te wees. Jesus waarsku ons: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

U behoort wêreldgebeure dop te hou in die mate wat dit verband hou met Bybelprofesieë. Dit is ook nodig dat u bid dat u in staat sal wees om voor Christus te staan met Sy wederkoms. God bied aan ons ’n keuse: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronomium 30:19). U behoort die lewe sowel as die verlossing wat God aan u bied deur Jesus Christus, te kies! U behoort u te bekeer en gedoop te word, soos die apostel Petrus op Pinksterdag gepreek het (Handelinge 2:38). Indien u die stadium in u lewe bereik het waar u uself daartoe verbind het om u lewenstyl te verander en u lewe aan Jesus Christus oor te gee, versoek ons u om met een van ons leraars in verbinding te tree. U mag daarin belangstel om ons insiggewende boekie,Behoort u gedoop te word?, te lees.Skryf net aan ons streekskantoor waarvan die besonderhede agter in hierdie boekie gelys is. 

God het ’n wonderlike plan van verlossing vir die ganse mensdom. Hy wil hê dat u tot in alle ewigheid deel van Sy familie sal wees. Paulus skryf: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efesiërs 3:14-15).

Een van die ontsagwekkendste gebeurtenisse wat Christene sal ervaar, is om tot in ewigheid deel te wees van Christus se liefdevolle familie. Dit is ’n koningshuis (1 Petrus 2:5, 9). Jesus Christus sal terugkeer as Koning van die konings en Here van die here. Jesus Christus het “ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Ja, ons sal konings en priesters wees wat onder ons Verlosser, Jesus Christus, sal heers!

God het ’n ontsagwekkende bestemming in gedagte vir Sy getroue kinders. Ons sal tot in alle ewigheid aktief, vervuld en volkome gelukkig wees. Waar die profeet Jesaja die koms van die Messias en Sy ewige Koninkryk voorspel, skryf hy: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jesaja 9:5-6).

Wil u ook deel hê aan die glorieryke toekoms wat God vir u beplan? Sien u uit na die dag wanneer God die Vader se genadetroon na die aarde sal kom? Slegs dan sal daar uiteindelik geen verdere pyn, lyding en dood meer wees nie. Johannes skryf oor ons inspirerende uiteindelike bestemming: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Hierdie is die ewigheid wat God vir u beplan. Mag God u help om Sy groot liefde en doel vir u lewe te verstaan. Dit is nou die tyd om u lewenswyse te verander. Dit is nou die tyd om gereed te maak vir die uitdagende tye wat voorlê en om ons oë op God te rig vir beskerming gedurende die Groot Verdrukking, die Dag van die Here en Armageddon. Mag u uitsien na God se toekomstige Koninkryk, u potensiële toekoms in die glorieryke familie van God en daarna tot in ewigheid!