Miljoene mense sê hulle is op soek na die ware “standaarde” of “waardes”. Sommiges beproef verskillende “new age”-geloofstelsels, of verskeie idees en teorieë uit die populêre sielkunde. Die meningspeilers sê aan ons dat baie ander eenvoudig net “kies en keur” – deur verskillende idees en praktyke van verskillende gelowe saam te flans om hul eie godsdiens te skep.

Die meeste van hierdie mense wil graag in iets “betrokke raak”. Hulle voel dat die hoofstroom kerke waaruit hulle gekom het, nie in daardie behoefte voorsien het nie. Hulle gee te kenne dat leë geloof en leë rituele nie genoeg is om aan hul geestelike behoeftes vervulling te gee nie.

Nou goed.
Wat hulle dalk tog nie besef nie, is dat die werklike godsdiens van Jesus Christus ’n baie aktiewe godsdiens is. Dit het inderdaad spesifieke standaarde en waardes. Dit is ’n hele “lewenswyse”. Trouens, in Handelinge 9:2, het die vervolgsugtige Saulus briewe gevra wat hom sou bemagtig om beslag te lê op enige Christene in Damaskus “sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring”. Die geïnspireerde skrywer van die boek Handelinge vertel ons van Paulus: “En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig” (Handelinge 18:4). Aangaande Apollos ook: “... maar nadat Aquila en Priscilla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê” (vers 26).

In Handelinge 19:9 word ons vertel: “Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van ’n sekere Tiránnus samesprekings gehou”. Later weer: “En omtrent hierdie tyd het daar geen klein opskudding met betrekking tot die Weg ontstaan nie” (vers 23).

Wanneer die oorspronklike Christenskap betrag word, besef selfs buitestaanders dat hierdie vroeëre volgelinge van Christus oor baie meer as ’n leë geloof met uitgediende rituele beskik het. Hulle was “vuur en vlam” vir ’n weg van lewe! Die realiteit van die komende Koninkryk van God het passie en ywer aan hulle hele bestaan verleen!

Wat die moderne “soekers” ook nie besef nie, is dat ’n lewensweg gehelp het om Amerika en Kanada die groot nasies te maak wat hulle geword het. In Amerika se vroeë jare as ’n nasie, was die Judeo-Christelike etiek – hoe onvolmaak ookal toegepas – ’n reuse skans teen die soort morele verval wat gedurende die afgelope jare ervaar is.

Dit lyk nou of ons halsoorkop voortstorm om selfs die beperkte geestelike insig wat ons as ’n nasie gehad het en die basiese ordentlike lewenswyse wat ons bewandel het, oorboord te gooi. As ’n persoon wat grootgeword het in die Amerikaanse Mid-Weste in die 1930’s en 1940’s, onthou ek nog goed die byna algehele veiligheid van ons stad en woonbuurt. Bejaarde dames kon in die nag sonder vrees gaan wandel. Klein seuntjies en dogtertjies het in elke woonbuurt reg deur die hele stad “wegkruipertjie” en “blikaspaai” gespeel terwyl dit byna heeltemal donker was. Moord en verkragting was feitlik ongehoord. Baie mense het nie eens die moeite gedoen om snags hulle deure te sluit nie!

Destyds is almal geleer om respek vir gesag te hê en het dit grotendeels uitgeleef. Die Tien Gebooie was in baie skole en openbare plekke ten toon gestel.

Ons het egter vandag die “spoor” bystergeraak!
Namate ons as nasies ons gedistansieer het van God en van Sy wette, het die God van die hemel beslis aangedui dat Hy aan ons liefdevolle tugtiging moet gee om ons terug te bring na Hom toe. God het ons voorvaders gewaarsku dat, indien ons mense sou afdwaal en begin om “verderflik [te] handel” en om “[te] doen wat verkeerd is” in Sy oë, dan sal Hy ingryp om ons tot ons sinne te skud (Deuteronomium 4:23-25). God sê: “... dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word. En die Here sal julle onder die volke verstrooi, en ’n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die Here julle sal drywe” (verse 26-27). God sê van ons sal net ’n “klein klompie” oorbly en ons sal heeltemal afgodedienaars word, totdat ons werklik verootmoedig is en begin om Hom te “soek” met ons hele hart (verse 28-29).

Wanneer sal al hierdie dinge dan plaasvind? “As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister” (vers 30).

Ons is sekerlik nou in hierdie “laaste dae”! Ons is nou in staat om alle menslike lewe op hierdie planeet te vernietig, soos Jesus voorspel het in Mattheüs 24. Ons is nou uiters korrup, net soos die apostel Paulus in 2 Timótheüs 3:1-5 voorspel het vir die eindtyd: “MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (vers 1). Dit lyk dus of ’n aantal faktore nou begin saamval om die finale verootmoediging en tugtiging oor ons volke te bring. In ’n “tweeledige” profesie – van toepassing voor Israel se eerste ballingskap en nou weer teen die eindtyd – sê God: “En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper” (Levitikus 26:18-19).

Dit is een rede vir die bestaan van hierdie tydskrif. Ons wil al ons lesers waarsku aangaande die gevare wat voorlê, en om diegene te help wat God roep om volgens Sy weg te leef en om in hul eie lewens die oorspronklike Christenskap van Jesus en Sy Apostels terug te win – die enigste ware Christenskap en die Weg wat seëninge en vreugde sal bring, selfs te midde van ons wêreld vol beroeringe.

Ons by die Wêreld van Môre doen ons bes om, met God se hulp, die “Werk” te doen wat Jesus Christus ons beveel het. Lees gerus my artikel elders in hierdie tydskrif om meer te leer oor wat die Werk behels. Hierdie “Werk” om God se boodskap deur middel van hierdie tydskrif en die Tomorrow's World se TV-programme te verkondig, word nou deur God gebruik om die wêreld te waarsku, en om u te waarsku en te help – indien u bereid is om te luister. Ons word deur God gebruik om die weg te help voorberei vir die komende Koninkryk van God op hierdie aarde, wat alleenlik ware vrede en vreugde sal bring. Die ware God waarsku die misleide nasies (Openbaring 12:9) van hierdie wêreld: “Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie” (Habakuk 1:5).

Vir u eie onthalwe en oorlewing bid ek dat duisende van u, liewe lesers, met ’n oop gemoed sal studeer en bewys wat God op hierdie oomblik aan u sê en dat sommige van u bereid sal wees om te handel volgens die Waarheid van God terwyl u die geleentheid het. Hoe meer u opreg na “God soek”, hoe meer u bid en betrokke raak in hierdie ware eindtydse Werk wat Jesus Christus nou besig is om te doen, hoe meer sal u die opdrag, “maak vir julle skatte bymekaar in die hemel”, kan vervul (Mattheüs 6:19-21).

Die apostel Judas was geïnspireer om te skryf: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Let daarop dat die ware geloof reeds “eenmaal” aan die heiliges oorgelewer is. Dit mag nie verander, verdraai, mee weggedoen, afgewater of mee gepeuter word nie. Judas skryf verder: “Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (vers 4). Bose mense was in staat om tydens die Donker Middeleeue die hele lewenswyse, soos aan ons oorgelewer deur Christus en die Apostels, te verander en te verdraai.

Amerika, Kanada en ander volke van Britse afkoms sal nie bly voortbestaan soos ons hulle ken nie, tensy daar ’n diepgaande verandering kom in ons karakter – ’n nasionaleberou tot bekering en ’n terugkeer na die weg van God. Elkeen van ons kan egter individueel geseën en beskerm word gedurende die traumatiese tye wat voorlê, indienons bereid is om te lewe volgens die Weg wat Jesus Christus ons geleer het, om te veg – om “kragtig te stry” – vir die geloof wat “eenmaal” aan die heiliges oorgelewer is.