“Die Geveg van Frankryk is oor, die Geveg van Brittanje gaan nou begin!”

Die Britse Eersteminister, Sir Winston Churchill, het hierdie beroemde aankondiging gemaak op 18 Junie 1940, slegs vier dae nadat Adolf Hitler se Nazi-troepe Parys binnegegaan het. Binne ’n maand sou die heldemoed van honderde vlieëniers van die Koninklike Lugmag se Spitfires en Hurricanes getoets word, telkens wanneer hulle van die Engelse vliegvelde opgestyg het, die swermende massas Luftwaffe vegvliegtuie tegemoet. Verliese aan beide kante was skokkend hoog, met ’n beraamde 915 Koninklike Lugmag vegvliegtuie wat verlore geraak het en 1 733 vliegtuie van die Luftwaffe wat afgeskiet is tussen 10 Julie en 31 Oktober.

Een besondere week – die week wat op 17 Augustus geëindig het – was vir albei kante die heel rampspoedigste. In daardie week alleen is 131 Koninklike Lugmag vliegtuie afgeskiet en Duitsland het omtrent twee keer soveel, in totaal 261, verloor. Nadat daardie konflik verby was, het Churchill aan die Britse Laerhuis gesê: “Nog nooit op die gebied van menslike konflik, was soveel verskuldig deur so baie aan so min nie”.

Gedurende daardie somer van 1940 het bekommerde Britte in die lug opgekyk en die kruis-en-dwars dampstrepe in die lug gesien. Skoolseuns het gehardloop om na die wrakstukke van die Duitse vliegtuie wat afgeskiet is, in die uitgestrekte graanlande te gaan kyk. Jong soldate se weduwees – Britse sowel as Duitse – het eensaam trane gestort nadat hulle gehoor het dat hul vlieënier-mans dood is.

Oorlog is ’n afgryslike gedoente. Was hierdie verskriklike lewensverlies die moeite werd? Waar staan Brittanje en Duitsland nou, 70 jaar later? Die Verdrag van Lisbon het nou hierdie twee voormalige vyande saamgebind in die Europese Unie.

Vir die kleinkinders van diegene wat die Geveg van Brittanje oorleef het, is Europa ’n totaal ander plek. Hulle nasies het vir 65 jaar vrede geken en hul bevolkings het geen begeerte om weer ’n wêreldoorlog te sien wat hul nasies verskeur nie. Waarom was daar dan so ’n kalmte in Europa?

Ondersteuners van die Europese Unie (EU) sal aan u sê dit is omdat ekonomiese harmonie kon vermag wat nóg die oorlog, nóg Amerika se na-oorlogse NATO-leierskap teweeg kon bring – vrede en gedeelde belange binne ’n unie van 27 lande. Skeptici sal aan u sê dat dit ’n brose ontladingspolitiek is, wat vir die oomblik saamgesnoer is deur gemeenskaplike selfbelang.

Brittanje raak sy pad byster

In die laaste 18 maande het Brittanje groot onsekerheid ervaar, namate dit gesukkel het om te herstel van die ergste resessie sedert die Groot Depressie. Die regerende Arbeidersparty se pogings ter ondersteuning van welbekende bankname, soos die Koninklike Bank van Skotland en Lloyds TSB, het die land in ’n see van rooi ink gelaat wat sonder twyfel bygedra het tot die party se nederlaag by die stembusse op 6 Mei 2010.

Intussen het Brittanje se nywerheidsproduksie, net soos regdeur al die geïndustrialiseerde Westerse nasies, gekrimp. Geen groot motorvervaardiger wat aan die Britte behoort, het in die land oorgebly nie. Die invloedryke Jaquar is nou in besit van die Indiese motorreus, Tata. Die hele Rover fabriek in Birmingham, is stukkie vir stukkie na China verskeep!

Groot Brittanje gaan nou gebuk onder ’n nasionale skuld van meer as £850 miljard – ’n syfer wat voorspel word om te styg tot £1.2 biljoen in die jare wat kom, soos wat die nasie geld leen om die ekonomie aan die gang te hou terwyl hulle hoop op ’n groei-gedrewe herstel. By dit alles handhaaf Brittanje die wêreld se derde hoogste lopende rekening tekort. Met uitvoere ter waarde van $468 miljard wat moet probeer vergoed vir $654 miljard se invoere, is daar ’n uitstaande handelstekort van $186 miljard. Die nasie se finansiële en ekonomiese oorspandering kan nie vir altyd voortgaan nie. In 2009 het die Standard and Poor Waardebepalingsagentskap Brittanje afgradeer na ’n AAA-minus waardebepaling, met ’n uitgestelde hersiene waardebepaling sodat eers gesien kan word wat die nasie se nuwe regering kan regkry ten opsigte van kostebesnoeiings.

Ten spyte van Brittanje se ongesteldheid is die nasie vyfde in die wêreld ten opsigte van ekonomiese produksie – tweede naas Duitsland in Europa. Nogtans sal baie mense in Europa graag wil sien dat Londen sy status verloor as die wêreld se leidende finansiële sentrum ten gunste van óf Zurich óf Frankfort. Indien dit sou gebeur, sal Brittanje se posisie nog verder versleg.

Sewentig jaar later is dit nie meer die Geveg “van” Brittanje nie, maar die Geveg “om” Brittanje. Die hele land weet dat hulle in die moeilikheid verkeer. Net soos die Griekse ekonomie wat onlangs in duie gestort het, is die Britse ekonomie ’n storie van ’n nasie wat ver bo hul vermoë leef. Brittanje se “van die balansstaat af” private finansierings-inisiatief projekte en die onbefondsde pensioenbetalings is groot verantwoordelikhede; alles in aanmerking geneem, kan die nasie nie vir baie lank volhou met die land se vinnig-groeiende maatskaplike uitgawes nie. Verlammende mediese kostes en werkloosheidsvoordele wat wetlik verskans is, plaas die nasie in ’n mededingende agterstand teenoor die lewendige Asiatiese ekonomieë. Net soos ryke in die verlede opgekom en ten gronde gegaan het, styg die Asiatiese nasies nou tot voorrang, terwyl die Britse nasie, in die wurggreep van skuld, tekens toon van naderende mislukking. Moeilike tye lê voor vir Brittanje en sy mense.

Ons weet nogtans dat die Almagtige God in beheer is van wêreldsake. Wat besig is om te gebeur moet gebeur vir ’n Goddelik verordineerde rede. Inderdaad, soos diegene wat lank reeds Die Wêreld van Môre lees en verstaan, die sleutel om Brittanje se moderne ongesteldheid te verstaan, word gevind in die bladsye van u Bybel waar antieke profesieë lig werp op huidige gebeure. Indien u nog nie ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? gelees het nie, nader asseblief ons streekkantoor die naaste aan u, of gaan na ons Webtuiste www.wvm.co.za, om u gratis kopie te bestel.

Wat is volgende?

Wat kan die Bybel aan ons sê oor die toekoms van Brittanje? Lank, gelede het God die nasie van Assirië militêr gebruik om rebelse Israel te straf, en Hy sal daardie nasie weer gebruik. Die geskiedenis dui aan dat antieke Assirië Israel in ballingskap weggevoer het in 721 v.C. Bybelse profesieë dui aan dat die moderne afstammelinge van antieke Assirië weereens van Israel slawe gaan maak. Bybelstudente wat hedendaagse Duitsland eien as die nasate van antieke Assirië en Brittanje as ’n nasaat van die Verlore Tien Stamme van Israel, kan begin verstaan hoe God Sy wil sal bewerk deur geopolitieke gebeure in die nabye toekoms. Hierdie scenario mag nouliks geloofwaardig wees vir wêreldlike waarnemers wat wêreldgebeure nou dophou, maar u Bybel maak dit duidelik. Om meer te leer oor hierdie skokkende verwikkelinge, vra asseblief vir ons gratis herdrukte artikel: Herrysende Duitsland: ’n Vierde Reich?

Die Ou-Testamentiese profeet Hosea het geskryf van ’n tyd wat al byna op ons is. Hy het verstaan dat in die eindtyd, die Huis van Israel na die Assiriërs sal gaan om hulp. Duitsland verkry tans voorrang in Europa (lees Die groei van ’n leier, elders in hierdie uitgawe) en bult sy ekonomiese spiere. Die tyd sal spoedig aanbreek dat ’n angstige Brittanje na Duitsland sal opsien om hulp. Lees hoe die profeet dit bewoord: “Toe Efraim sy krankheid sien ... het Efraim na Assur gegaan ... maar hý kan julle nie genees en julle van die sweer nie gesond maak nie” (Hosea 5:13).

Ook: “Wee Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy ... Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, (dit is hedendaagse Efraim, Groot Brittanje, saam met ander moderne afstammelinge van antieke Israel) ... teen die volk van my grimmigheid” (Jesaja 10:5-6).

Die vorige Assiriese ballingskap was brutaal en wreed vir die Israelitiese gevangenes. Die Tweede Wêreldoorlog herinner ons aan die groot wreedheid waartoe moderne Assirië in staat is. Om ekonomiese, politieke en uiteindelik fisiese gevangenes van Assirië te word, is geen geringe saak vir die eens groot Britse nasie nie. Sommige trots Britte mag nie daarvan hou om te hoor wat hul geprofeteerde toekoms is nie, maar ons by Die Wêreld van Môre het ’n verantwoordelikheid as “wagte” om die opdrag wat God gegee het, uit te voer (Esegiël 33:7; Mattheüs 24:42).

Dankie tog, die profesieë onthul ook dat die vooruitsigte nie net duister is nie. Presies wanneer dit lyk asof dinge op hul heel slegste is te midde van verwoestende eindtydse botsings, sal Jesus Christus terugkeer na planeet Aarde om as Koning van die konings in die glorieryke Koninkryk van God te regeer. Die wêreld sal dan ongeëwenaarde vrede en voorspoed geniet wanneer voormalige vyande vreedsaam sal saamkom onder Christus (Jesaja 19:24-25). Mag God daardie dag bespoedig!