Die Bybel onthul dat Christene “konings en priesters” sal word wat saam met Christus sal regeer op aarde in die millenium (Op. 5:10; 1:6; 20:4-6). Die Bybel verduidelik dat God gekose mense voorberei om te funksioneer as burgerlike en godsdienstige leiers in die komende koninkryk van God. Baie mense vind dit moeilik om te glo, veral as die Bybel ook sê: “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie” (1 Kor. 1:26). U is nie alleen indien u soms wonder hoe u ooit oor stede en nasies sal kan regeer nie.

Dit is egter belangrik om te onthou dat God nie beplan om ons te gebruik soos wat ons nou is nie. Die Bybel verduidelik dat ons geroep word om te groei sodat ons as leiers kan funksioneer in die komende regering van God. Die gelykenis van die talente en die muntstukke (Mat. 25:14-19; Luk. 19:11-27) dui aan dat ons beloning direk in verhouding sal wees tot die mate waartoe ons groei en oorwin. Wanneer Jesus terugkeer, sal Hy met Sy bruid - die Kerk - trou. Die bruid word beskryf as ’n vrou wat “haarself gereed gemaak het” (Op. 19:7). Ons moet oorweeg: wat kan ons nou doen om effektiewe leiers in die toekoms te word?

Die grondslag van effektiewe leierskap berus op vaardighede en karakter. Individue wat hoop om leiers te word, moet sekere vaardighede verwerf en sekere karaktereienskappe ontwikkel. Ons sal in hierdie artikel fokus op vyf eienskappe van karakter en geassosieerde vaardighede wat leiers effektief maak. Dit is eienskappe wat enigeen wat ’n redelik poging aanwend kan ontwikkel. Hierdie eienskappe kan in kinders bevorder word deur ouers wat vooruit sien. Deur God te vra om u in hierdie proses te help kan u God toelaat om u as ’n instrument te vorm wat Hy in staat sal wees om nou te gebruik sowel as in Sy komende koninkryk.

Dink soos ’n leier

Die Bybel beklemtoon drie belangrike verstandelike kenmerke wat leiers moet ontwikkel om effektief te regeer: kennis, begrip en wysheid. Ons word nie met hierdie einskappe gebore nie - hulle moet ontwikkel. Jesus het die rebelse leiers van Sy tyd berispe oor hulle gebrek aan kennis. Toe die Sadduseërs Jesus uitgedaag het met ’n hipotetiese vraag oor die opstanding, het Jesus reguit geantwoord: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). Leiers moet goed ingelig wees - hulle moet hulle onderwerp ken. Dit is waarom Petrus Christene vermaan om te groei “in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18). Jesus sê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Kennis is mag. As u die waarheid ken - en onthou - sal u nie maklik mislei of op ’n dwaalspoor gelei word nie. Wanneer u die waarheid ken, kan u as ’n leier funksioneer en daardie waarheid aan andere leer. Die werk van die heiliges in God se koninkryk sal wees om aan die mensdom te verduidelik: “Dit is die weg, wandel daarop” (Jes. 30:20-21). Ten einde te groei tot ’n punt waar ons dit effektief kan doen, moet ons tyd bestee om die Bybel te bestudeer (2 Tim. 2:14-17) en om dit aan ons kinders te verduidelik.

Leiers het egter méér nodig as net kennis van feite. Salomo skryf: “Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit” (Spreuke 4:7). Begrip verg om te leer hoe feite bymekaar pas; wysheid verg die gebruik van kennis en begrip om die regte gevolgtrekkings te maak en goeie oordeel uit te oefen. Dit is moontlik om slim te wees (met baie kennis) maar dom besluite te neem wat ons - en diegene wat ons volg - in die moeilikheid laat beland omdat ons wysheid en begrip kortkom! Hoe kan u wysheid en begrip ontwikkel?

Die Bybel onthul: “Die beginsel [beginpunt] van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand” (Spreuke 9:10). Indien ons bereid is om nederig na God se Woord te kyk om uit te vind wat God oor ’n onderwerp onthul het, sal ons in die regte rigting gelei word. Ons kan dan soek na bykomende inligting wat inpas met daardie Bybelse beginsels. Ons word aangesê om wysheid aktief na te streef (Spreuke 2:1-12) en om oplettend te raak (Spreuke 1:20-33) sodat ons die oorsake van sukses en mislukking kan sien. Effektiewe leiers moet leer hoe om wyse raadgewers te identifiseer en hulle te raadpleeg (Spreuke 11:14). Die wysste raad kom van God en Sy Woord (Spr. 2:6). Dit is waarom Dawid skryf: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag ... U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Ps. 119:97, 105). Ambisieuse leiers sal wyse metgeselle kies en dit vermy om tyd te bestee met dwase persone of om tyd te mors in die najaag van dwase dinge (Spr. 13:20). Om biografieë te lees, outobiografieë of boeke oor groot leiers is ’n uitstekende manier om te leer hoe leiers dink. Deur oor die Bybel te mediteer sal u help om te verstaan hoe God dink (Fil.2:5). Effektiewe leiers leer voortdurend - en groei in kennis, begrip en wysheid. Wyse ouers help hulle kinders om te verstaan en dieselfde eienskappe te ontwikkel.

Ontwikkel durf en moed

Petrus stel dit dat, om te groei, ’n Christen spesifieke eienskappe by hul geloof moet voeg. Die eerste eienskap wat genoem word, is deugsaamheid (2 Pet. 1:5-11). Die Griekse woord vir deugsaamheid is arête, wat beteken sterkte, moed, onverskrokkenheid, standvastigheid, vasberadenheid. Jesus waarsku dat ware Christene vervolg sal word “maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matt. 10:22). Volharding verg moed en vasberadenheid. Regdeur die Bybel doen God voortdurend ’n beroep op leiers om moed te ontwikkel. Toe Joshua Moses as leier van Israel opgevolg het, het God vir hom gesê: “Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie” (Jos. 1:6-9). Toe Salomo die troon van Israel oorgeneem het, is hy deur sy vader Dawid as volg vermaan: “wees dan sterk en word ’n man; en onderhou die ordening van die HERE jou God deur te wandel in sy weë, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos geskrywe is in die wet van Moses” (1 Kon. 2:2-3). Jesus sê: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh. 14:15).

In ons moderne sekulêre samelewing verg dit moed en vasberadenheid om God se gebooie te onderhou. Die druk vandag, beide van binne en buite die Kerk, genoodsaak ons om toe te gee en in te pas by die waardes van die wêreld. Om vir die Waarheid op te staan, is nie maklik nie. Ons ontwikkel moed as ons versoekings weerstaan - deur te weier om in te gee wat betref die Sabbat en Heilige Dae, ongeag van wat ons vriende, familie of werkgewers dink of besluit om te doen. Ons beoefen waagmoed as ons volhou om die Werk te doen wanneer ander sê dat die Werk voltooi is. Jesus sê dat Hy vir ons by die Vader sal intree as ons bereid is om op God se manier te lewe, maar Hy waarsku ook dat “elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is” (Matt. 10:32-33). Om effektief te wees, moet leiers moed ontwikkel om die regte dinge te doen.

Leer spanwerk

Paulus beskryf die ware Kerk as die “liggaam van Christus” verenig en “saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee” (Ef. 4:12-16). Die menslike liggaam is in staat om te oorleef en op ’n gesonde wyse te funksioneer as al sy ledemate en stelsels saamwerk. God se Kerk moet op ’n soortgelyke manier funksioneer. Omdat ons egter menslik is en onderworpe aan Satan se verdelende invloed, het ons belangrike lesse om in hierdie verband te leer - net soos die Apostels moes (sien Hand. 15:36-40). Die Skrif gee vir ons belangrike opdragte aangaande spanwerk wat ons kan bestudeer en beoefen.

Een van die belangrikste maniere om spanwerk te bevorder, is om positief en dikwels met die spanmaats en spankaptein te kommunikeer. Wanneer die kommunikasiestelsels van die liggaam - senuwees en chemie - behoorlik werk, is die resultaat gekoördineerde en betydse bewegings. Wanneer die liggaam se kommunikasiestelsels ingee, funksioneer ons nie goed nie. Dit is dieselfde in ’n gesin, ’n kerk of enige organisasie. Dit is die taak van leiers en spanspelers om kommunikasie aan te moedig. Maleági het geskryf: “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer” (Mal. 3:16). Kommunikasie word vergemaklik wanneer ons aangename woorde besig in stede daarvan om kras vereistes te stel (Spr. 15:1), wanneer ons dit vermy om veroordelende uitlatings oor ander te maak en daarop fokus om ons eie lewens in orde te kry (Matt. 7:1-6). Jakobus meld dat wyse leiers moet leer om hul tong te beheer. Leiers wat leer hoe om God se Gees te gebruik, sal “vredeliewend, vriendelik, geseglik [tot rede - en tot God se Woord], vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins” wees (Jak. 3:17). Sulke individue sal toeganklik wees, respek vir ander hê en maklik wees om mee te praat. Hulle sê wat hulle bedoel en bedoel wat hulle sê. Effektiewe leiers word goeie kommunikeerders en bevorder kommunikasie - wat spanwerk bevorder.

Wees ferm maar buigbaar

Een groot slaggat vir enigeen in ’n leiersposisie is die misbruik van - of verkeerd verstaan van die verbruik van - mag. Dit is maklik om in vervoering te raak met mag en om op ’n “magseuforie” te gaan. Kinders - en baie wat soos kinders optree - geniet dit om in beheer te wees, selfs al vind ander wat daardeur geraak word die situasie nie aangenaam nie. Om te leer om te lei is ’n kuns wat opleiding en ondervinding verg. Leiers moet in staat wees om te kan sien wanneer om ferm te wees en wanneer om buigbaar te wees en aan te pas by veranderende omstandighede.

Die Bybel dui aan dat mans die leiding moet neem in gesinsverhoudings en vrouens moet onderdanig wees aan hierdie God-ingestelde struktuur (Ef. 5:22-23). Mans word ook opdrag gegee om “met begrip” met hulle vrouens te lewe (1 Pet. 3:7), wat beteken om sensitief te wees vir hulle vrouens se behoeftes, wense, hoop en drome. Dit is nie ’n teken van swakheid by die man nie, maar ’n aanduiding daarvan dat die man geleer het hoe om by ’n ander persoon aan te pas. Terwyl ’n vrou die gesag van haar man moet erken en daarby moet aanpas, moet sy steeds in staat wees om gesag uit te oefen in ’n wye verskeidenheid van omstandighede (Spr. 31:10-31). Sy moet ook leer wanneer om buigbaar en wanneer om ferm te wees. Vrouens kan hulle dogters lei tot ’n korrekte begrip van die huweliksverhouding deur die toepaslike volg van en ondersteuning aan hulle mans. Vaders lei hulle seuns deur te demonstreer hoe om aan te pas by en hoe om die behoeftes van hulle vrouens te verstaan.

Dieselfde vaardighede kan toegepas word in die Kerk. Paulus het vir die ouderlinge gesê het dat daar tye is om gesag uit te oefen - om te oortuig, te berispe en te vermaan (verwys 2 Tim. 4:1-2). Paulus het verstaan dat daar tye is om ferm te wees en tye om buigbaar te wees en aan te pas by situasies wat ontstaan. Wyse leiers leer om te sien wanneer hulle beheer moet neem en wanneer hulle moet volg en ondersteunend moet wees sodat die span hulle doel kan bereik. Die span word beskadig en selfs vernietig wanneer iemand aanneem dat ’n sekere verantwoordelikheid “sy persoonlike terrein” is en nie deur enigiemand anders gedoen kan word nie. Soms word werk geroteer sodat ander ondervinding kan opdoen en groei. Op gebiede waar ons eens gelei het mag ons later moet volg en ondersteunend wees - sonder om te mor en te kla. Om in staat te wees om gladweg aan te pas, is ’n kenmerk van ’n bekwame leier wat steeds leiding kan uitoefen en ’n voorbeeld kan stel, deur te volg.

Wees ’n verdienstelike dienaar

Ons leef in ’n wêreld wat byvoordele en posisie ophemel. Baie mense wil bo wees sodat hulle meer voordele kan hê. Dit is hoe menslike samelewings funksioneer. Tog het Jesus gesê: “elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien” (Matt. 20:26-28). Jesus het vir Sy selfgesentreerde dissipels gesê hulle moet daarop fokus om dienende leiers te word. Hoe kan u dit egter doen as u nooit in beheer van enigiets is nie?

Een van die mees effektiewe wyses waarop ’n leier kan dien (en ’n dienaar kán lei) is deur ’n voorbeeld te stel. Dit is waarom Jesus vir Sy dissipels gesê het: “laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Matt. 5:14-16). Ons stel ’n goeie voorbeeld wanneer ons die behoeftes van andere raaksien en daarin voldoen. Ons stel ’n voorbeeld deur gereeld dienste by te woon, deur andere aan te moedig en nie die boodskappe, leierskap of ander lidmate te kritiseer nie. Ons stel ’n voorbeeld deur hoe ons aantrek, waaroor ons praat en waaroor ons nie praat nie. Jakobus het opgemerk dat ’n persoon wat waarlik bekeer is, “uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon” (Jak. 3:13). Paulus het gesê dat ’n goddelike persoon sal fokus op wat ook al “eerbaar ... regverdig ... rein ... lieflik ... loflik is - [of op] watter deug en watter lof daar ook mag wees” (Fil. 4:8). Verdienstelike dienaars van God sal daarna streef om hierdie soort voorbeeld te stel omdat hulle God wil behaag en kwalifiseer om leiers in Sy komende Koninkryk te word.

Die vooruitsig om ’n toekomstige koning of priester te word - ’n toekomstige burger of godsdienstige leier, of albei - mag vêr en onwerklik lyk, maar dit is waarvoor u geroep is. Dit is ook waarom kinders gebore word. Om ’n leier te word vereis die bou van karakter en die ontwikkeling van vaardighede. Die proses behels bekering, verandering, groei en oorwinning. Dit is nie maklik nie maar dit is moontlik. Die beloning is ’n kroon - ’n geleentheid om saam met Jesus Christus te regeer en God se manier van lewe vir die wêreld te leer.