V: Verwys die Bybel se stelling “die Gees in die mens” (Job 32:8, 18) na God se Heilige Gees, of na ’n “onsterflike siel” in mense wesens?

A: Die antwoord is – nie een van die twee nie! Hoe dit ook al sy, daar is ’n “gees” in alle mense (Sagaria 12:1). Die meeste belydende Christene glo dat hierdie gees ’n “onsterflike siel” is wat in ons leef en ons by die dood verlaat. Om die waarheid te sê kom hierdie idee nie uit die Bybel nie, maar van antieke Egiptenare af; dit het ons bereik deur die Grieke, wat die idee eerste gewild gemaak het deur die geskrifte van Plato.

In teenstelling verduidelik Jesus dat ’n “siel” (Grieks soma, Hebreeus nephesh, verwys na ’n fisiese lewe en nie na ’n geestelike wese nie) vernietig kan word (Mattheus 10:28)! Esegiël het gesê dat “die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4, 20). Ons sien dus dat die “siel” nie onvernietigbaar is nie. Met sy skepping het die mens “’n lewende siel” geword (Genesis 2:7). Die mens het nie ’n siel nie. Die mens is ’n “siel”. Wat is hierdie “gees” dan wat in elke mense wese is – en wat is die doel daarvan?

Toe God Adam en Eva geskape het, het Hy hulle die asem van die lewe gegee en ook ’n nie-fisiese element, die menslike gees, in hul brein geplaas. Diere kan nie die dinge van die mens weet nie. “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” (1 Korintiërs 2:11). Hierdie geestelike kern, in samewerking met die fisiese brein, maak die menslike intellek moontlik – die mens se vermoë om te dink, te redeneer, te beplan en te skep. God het nie hierdie vermoë aan die diere gegee nie; hulle maak geheel en al staat op instink.

Op dieselfde manier, net soos geen dier die dinge van die mens kan weet nie, kan geen mens die geestelik geopenbaarde dinge van God behoorlik verstaan sonder ’n ander geestelike element nie. Die Bybel onthul dat die mens geskape is met ’n behoefte aan ’n ander gees – die Heilige Gees van God – wat met die menslike gees in die verstand werk. Met God se Heilige Gees kan ons dan die geestelike dimensie verstaan, insluitend die “dieptes van God” (verse 9-12). “So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God” (1 Korintiërs 2:11).

Deur God se plan van verlossing kan ons die Heilige Gees van God ontvang (Handelinge 2:38; Johannes 7:38-39), wat bygevoeg word tot ons menslike gees. Ons is geestelik “verwek” van God wanneer ons die Heilige Gees ontvang. God is besig om ’n Gesin te skep (Efesiërs 3:14-15; 1 Johannes 3:1-3). Die menslike gees in die mens en die Heilige Gees van God verenig om ’n geestelik verwekte kind van God te maak (Romeine 8:14-17, NV), net soos die manlike spermsel en die vroulike eiersel verenig om ’n verwekte (maar nog nie gereed vir geboorte) menslike wese te vorm. Ons groei dan geestelik regdeur ons lewens, totdat ons weer gebore word tydens die opstanding en tot die Godgesin toetree as goddelike wesens wat geheel en al uit gees saamgestel is.