Waarom het die Westerse nasies die wêreld oor die afgelope vyf honderd jaar oorheers, nadat hulle vir eeue ver agter groot beskawings in Indië, China en die Moslemwêreld was? Waarom was ’n aantal klein landjies aan die westerse rand van die groot Eurasiese vasteland in staat om hulle kultuur regoor die wêreld te versprei terwyl ander kulture dit nie gedoen het nie? Waarom het ’n groepie waaghalsige seevaarders van Westelike Europa – Columbus in 1492, Vasco da Gama in 1499, Ferdinand Magellaan in die 1520’s en andere – die tydperk van ontdekking sowat ’n eeu vroeër ingelui met wêrelwye seevaarte in klein skepies, eerder as manne soos die groot Chinese Admiraal Zheng He, wat duisende kilometers oor die Indiese Oseaan gevaar het in groot skepe met waardevolle vragte?

Vrae soos hierdie het geleerdes vir eeue lank laat kopkrap. Die doelbewuste verwydering van kursusse uit skole en universiteite [se leerplanne] in die Westerse beskawing en die versuim om die rol van godsdiens of Bybelse profesie te bespreek, het belangrike elemente in die merkwaardige opgang van die Weste verberg. Gevolglik is baie mense vandag grootliks onkundig oor een van die mees dramatiese keerpunte in die geskiedenis van die wêreld – ’n transformasie van wêreldwye omvang wat deur sommige mense as “die wonderwerk van die Weste” bestempel word.

Wat het tot die opgang van die Westerse beskawing gelei? Hoe het dit gebeur en wat openbaar hierdie belangrike keerpunt oor God se hand in die geskiedenis?

Op soek na ’n oorsaak

Talle geleerdes het met idees na vore gekom om die merkwaardige opgang van die Weste te verklaar. In sy boek, Historians Debate the Rise of the West, het Jonathan Daly baie van hulle teorieë opgeteken. Sommige van hulle glo byvoorbeeld dat geografie en klimaat Europa bevoordeel het. Die verkryging en gebruik van navigasie-instrumente en gevorderde skeepsontwerp sowel as die ontwikkeling van kragtiger krygstoerusting het belangrike bydraes gelewer. Ander geleerdes het daarop gewys dat meer doeltreffende ekonomiese stelsels en produksiemetodes asook die groei van wêreldwye handelsnetwerke die Weste gehelp het. Andere het na die respek vir die wet en private eiendom verwys, die vrye uitruil van idees wat vernuwing bevorder het en mededinging wat die groei in wetenskap, tegnologie en kapitalisme gevoed het.

In teenstelling met die denkrigting van die Ooste, wat die verlede verheerlik het en begeer het om die status quo en eensgesindheid in die hede te handhaaf, het die Weste op vooruitgang gefokus en geleer om die kragte van die natuur in te span ter verbetering van die mensdom – asook vir winsgewendheid (Louis Rougier, The Genius of the West, bll. 89-91).

Saam met hierdie en ander faktore wat in Europa aan die gang was, het die “ewewig van die wêreld binne ’n ongelooflike kort tydjie verander ... Die omvang van die Europese kulturele prestasies in die sestiende en sewentiende eeue ... wek ’n gevoel van verwondering en verbasing.” (William H. McNeill, The Rise of the West: A History of the Human Community, bll. 574, 598). Tog, soos geskiedkundige Christopher Dawson uitwys, “dit lyk nie of enigeen van hierdie redes voldoende is om die omvang van die Europese oplewing te verklaar nie” (Religion and the Rise of Western Culture, bl. 15).

Die betekenisvolle rol van Godsdiens in Europa

Dawson meld ook dat die Britse geskiedkundige, Lord Acton, eens opgemerk het: “Godsdiens is die sleutel van die geskiedenis.” Terwyl moderne sekulêre geleerdes geneig is om die invloed van godsdiens op die geskiedenis te verwerp, het Bybelse beginsels wel ’n kritieke rol in die opgang van die Weste gespeel. Max Weber, ’n vooraanstaande Duitse sosioloog, “beklemtoon ’n samestelling van geskiedkundige kenmerke wat hy as uniek aan Europa beskou het,” veral die “radikale verandering in godsdienstige beskouing – van Katolisisme tot Protestantisme.” Sulke faktore “het die Weste tot materialistiese prominensie in die moderne wêreld gebring.” (Historians Debate the Rise of the West, bll. 8-9).

Ons reeks oor die Protestantse Hervorming – waarvan die tweede aflewering elders in hierdie tydskrif gevind kan word – opgeteken met noukeurige besonderhede van hierdie geweldige verandering in Europa se godsdienstige landskap, sowel as die baie afvallige leerstellings, leringe en gebruike wat Europese “Christelikheid” besmet het. Hoewel dit onder die verdraaïngs van Christus se leerstellings begrawe is, het sommige Bybelse waardes en beginsels oorgebly wat wel op ’n kragtige manier ’n merk op die Europese kultuur gemaak het. Jonathan Daly het opgemerk dat sommige geleerdes, soos dr. David Landes, die teenwoordigheid van Bybelse beginsels wat in die Europese beskawing gevestig is krediet gee soos die inboeseming van waardering van harde werk, verspreiding van geletterdheid (vir beide mans en vrouens), spaarsin, ywer en ander sedes.

Rodney Stark, ’n professor in sosiologie en vergelykende godsdienswetenskap, skryf dat moderne kundiges “gans te teësinnig is om die positiewe gevolge wat so ’n godsdienstige invloed op die kultuur van die Weste gehad het, te erken”. Hy verklaar verder dat die wetenskap soos ons dit ken, in Europa floreer het, eerder as elders “omdat die Europeërs in God geglo het as die Intelligente Ontwerper van ’n rasionele heelal” wat volgens wette werk wat ontdek en prakties gebruik kan word (How the West Won, bll. 5, 13, 315-317). In teenstelling hiermee funksioneer die heelal, volgens Islam, nie op wette nie, maar volgens die wil van Allah. Dit is nie bevorderlik vir die ontwikkeling van die wetenskap nie. Baie nuwighede in die Islamitiese wêreld was dus deur Jode en ander Christelike sektes gedrewe. Terwyl die Chinese die drukpers, meganiese horlosies en buskruit ontwikkel het, het hulle nooit die potensiaal van hierdie nuwighede ontgin nie omdat dit gedreig het om die stabiliteit van hulle samelewing te ontwrig. Islamitiese kaliefs het meganiese drukwerk om godsdienstige redes verbied (ibid., bll. 12-13, 33-45).

Nogtans is selfs hierdie insigte nie voldoende om die opgang van die Weste te verklaar nie.

Voorbereiding van die verhoog vir profetiese vervulling

Europa se opgang tot vernaamheid is hoofsaaklik moontlik gemaak deur die God van die Hemel, wat die vervulling van antieke profesieë deur die loop van die geskiedenis uitwerk. (Jesaja 46:8-11).

Die Bybel openbaar God “sit konings af en stel konings aan” en dat Hy bepaal wanneer en hoe lank konings regeer of nasies regeer (Daniël 2:21; Job 12:23). Dit is nie ’n toevalligheid dat die opgang van die Weste plaasgevind het net toe die Asiatiese samelewings inwaarts gekeer het en “skielik onversetlik geword het nie ... Hulle het hulleself van ’n veranderende buitewêreld afgesny net toe die Europese uitbreiding begin het” (Geoffrey Barraclough, Turning Points in World History, bl. 24). In die sestiende eeu toe die opgang van die Weste net begin het, het “dit gelyk asof niks dit kon keer nie.” (Historians Debate the Rise of the West, bl. 23). Waarom het een beskawing opgang gemaak en die ander amper gelyktydig agteruit gegaan?

Min mense verstaan vandag dat baie van die Westerse nasies Israeliete is – afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob – wat na Noordwes-Europa migreer het en daarná na ander dele van die wêreld. In Génesis 12:2-3 lees ons dat, as gevolg van Abraham se gehoorsaamheid, God aan Abraham en sy nageslag beloof het: “Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” God het Sy Wette aan die antieke Israeliete gegee, sodat hulle ’n voorbeeld en seën vir die mense van die wêreld kon wees (Deuteronómium 4:1-10). Alhoewel hulle met verloop van eeue baie van daardie Wette en begrippe verwerp het, het sommige van daardie Wette, konsepte en idees oorleef om deel te word van die grondslag van die Westerse beskawing wat die wêreld oor die afgelope vyf honderd jaar verander het. Die dramatiese opgang van die Weste – een van die belangrikste keerpunte in die geskiedenis van die wêreld – illustreer die akkuraatheid van hierdie profesieë en die krag van hierdie goddelik geïnspireerde idees. In toekomstige artikels in hierdie reeks sal ons sien hoe méér van hierdie profesieë vervul is.