Wat dink God van menslike seksualiteit? Behoort dit ’n bron van skaamte te wees? Is “enigiets toelaatbaar” – of onthul u Bybel belangrike waarhede aangaande Christene en seks?


Ons moderne kultuur is deurdrenk met seks. Sommige mense beskou dit as “verbode vrugte”, terwyl ander weer probeer om dit in al sy vorms te ondervind. Wat beteken dit egter vir ’n Christen? Watter rol behoort dit in u lewe te speel?

Daar was ’n tyd – selfs in sommige van u wat hierdie artikel lees se leeftyd – toe dit as ’n skande beskou was wanneer seksuele onsedelikheid as gewilde vermaak ligtelik opgeneem is. Filmmakers het die “Hays Code” nagekom en televisie-netwerke het van hulle departemente verantwoordelik vir “uitsending-standaarde” verwag om seker te maak dat hulle programme geskik was vir die hele gesin. Seksuele aktiwiteite – indien dit enigsins bespreek was – is uitgebeeld as iets wat bedoel is om in privaatheid deur ’n man en sy vrou gedeel te word.

Vandag word seksuele perversiteit egter algemeen – selfs gereeld – in rolprente en op televisie vertoon. Talle studies het getoon dat pornografie die gewildste kykstof is wat op die Internet beskikbaar is. In die media, net soos in so baie persoonlike verhoudings, word toenemende huweliksontrou as ’n grap beskou en seksuele losbandigheid word as normaal aanvaar. Die feit dat sommige seksuele bedrywighede inherent immoreel is – hoewel sommige mense dit op die kort termyn genotvol mag vind – word deesdae deur miljoene mense as verouderd afgemaak.

Selfs die antieke instelling van die huwelik word in ons moderne samelewing aangeval. Ou standaarde verkrummel namate miljoene mense in “oop” huwelike leef – terwyl ander daarna streef om die betekenis van die huwelik te herdefinieer. “Gay huwelike” – wat selfs 20 of 30 jaar gelede ondenkbaar was – word al hoe meer aanvaar. DieGallup Poll berig in Mei 2011 dat 53% kiesers dieselfde-geslag huwelike ondersteun het – ’n skokkende toename sedert 1996, toe net 27% ten gunste was van sodanige verbintenisse (For First Time, Majority of Americans Favor Legal Gay Marriage, 20 Mei 2011).

Waar pas seks dan in al hierdie veranderings in? Behoort getroude pare seks te hanteer as iets skandeliks? Is om ongetroud te bly, ’n hoër ideaal vir ware Christene? Is dit “sonde” vir twee volwassenes wat beide daartoe instem om fisieke intimiteit te deel? Is daar objektiewe standaarde vir sondigheid wat vandag nog steeds geld? Wie is bevoeg om sondige gedrag en gesindhede te bepaal? Is daar nog enige sin daarin om in ons moderne tyd na te volg wat die Bybel ons leer? Indien wel, wat gebeur met diegene wat die Bybel se standaarde verontagsaam?

Ons sien uit die geskiedenis dat wanneer mans en vroue egbreuk pleeg en ontrou is in hulle huwelike, die gesin as eenheid daaronder ly. Terwyl die Romeinse Ryk op sy hoogtepunt was het hulle sterk gesinsbande beklemtoon, maar hierdie klem het later verander en die Ryk het agteruitgegaan. Geleerdes het die agteruitgang in karakter en sedelikheid, wat bygedra het tot die Ryk se ondergang, gedokumenteer. Die historikus E. B. Castle skryf dat, benewens die probleem van sakemanne se afwesigheid van hulle gesinne, daar ’n ander probleem was wat bygedra het tot die agteruitgang. Dit was “die volgehoue onverskillige houding teenoor die huweliksband, die toename van egskeidings en die groeiende vryheid en onverskilligheid in vroue se sedes, wat bygedra het tot ’n verslapping van die vroeëre gesinseenheid. Die Romeinse karakter was egter op sy beste toe die gesinseenheid sterk was” (Ancient Education and Today, bl. 119).

Sal ons moderne beskawing dieselfde patroon volg van Rome se agteruitgang? Die Romeinse filosoof Seneca, het in die eerste eeu n.C. geskryf dat hy opgemerk het dat “sommige adellike dames hulle lewensjare nie bereken het volgens die aantal konsuls nie, maar volgens dle aantal mans met wie hulle getrou het. Wanneer hulle hul huise verlaat het om met ander mans te trou, het hulle slegs getrou om weer te skei. Egskeiding is net gevrees solank as wat dit ongewoon was. Noudat dit feitlik in elke koerant verskyn, begin vroue dit doen waarvan hulle so baie lees. Kan enige iemand nog skaam kry oor owerspel, Noudat morele waardes so laag gedaal het dat ’n vrou net met haar man getroud bly, om haar minnaar te krenk? Kuisheid impliseer slegs onaantreklikheid” (On Benefits, Boek III, xvi).

Mans word ook verlei deur die valse beloftes van owerspel. Met toenemende toegang tot voorbehoedmiddels en die maklike beskikbaarheid van aborsie, het seksuele aktiwiteit in die afgelope paar dekades toegeneem. Mans sowel as vroue het begin glo dat hulle die gevolge van daardie aktiwiteite kan vryspring. Selfs die massamedia dra by tot ’n kultuur van onsedelikheid. Dit het baie verwoeste lewens tot gevolg. Miljoene mense neem nie die eenvoudige Bybelse vermaning ernstig op nie: “Jy mag nie egbreek nie” (Eksodus 20:14). Indien almal hierdie gebod – die sewende van die Tien Gebooie – onderhou het, sou almal se lewens baie gelukkiger en die samelewing baie meer stabiel gewees het.

Net soos God die Skepper is van die fisiese wette wat materie beheer, is Hy ook die Wetgewer wie se geestelike wette ons lewens reël. Hy bepaal wat sonde is (1 Johannes 3:4). Ons sal dink dat iemand wat probeer om die wet van swaartekrag te “ontken” en sy lewe waag deur vanaf ’n hoë hoogte af te spring belaglik is en hom spot. Hoeveel mense in ons samelewing probeer die gevolge ontken wanneer hulle God se geestelike wette oortree?

Ons moderne Westerse wêreld verwerp al hoe meer die Tien Gebooie en gaan voort op sy afwaartse neiging na immoraliteit. Presies hoe erg is dit? Die Barna Navorsingsgroep het tien sedelike gedragspatrone onder Amerikaners ondersoek en het hierdie ontstellende verslag gepubliseer: “Van die tien sedelike gedragspatrone wat geëvalueer is, het die meeste Amerikaners geglo dat die volgende drie aktiwiteite ‘moreel aanvaarbaar’ is: Dobbel (61%), saamwoon (60%) en seksuele fantasieë (59%). Vir byna die helfte van die volwasse bevolking was twee ander gedragspatrone ook moreel aanvaarbaar: Om ’n aborsie te hê (45%) en om ’n seksuele verhouding te hê met iemand van die teenoorgestelde geslag, anders as hulle eie eggenoot (42%). Ongeveer een-derde van die bevolking (38%) het pornografie goedgekeur, vloek (36%), dronkenskap (35%) en homoseksuele seks (30%). Die aktiwiteit wat die minste steun gehad het, was die gebruik van dwelms wat nie voorgeskryf is nie (17%)”. (Morality Continues to Decay 3 November 2003).

Wat sal gebeur met ’n samelewing wat sulke onsedelike waardes huldig? Van die begin tot einde openbaar die Bybel dat gehoorsaamheid aan God se wette seëninge meebring, maar ongehoorsaamheid vervloeking en straf. Dit is nie net ’n opvatting van die “Ou Testament” nie. Let wel: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7-8).

Ja, daar is oorsaak en gevolg in die lewe. Wanneer ons doen wat reg is het dit goeie gevolge, maar wanneer ons doen wat verkeerd is, bring ons sonde pynlike gevolge mee. Selfs wanneer die sonde vir ’n tyd lank lekker blyk te wees, sal die nagevolge verwoestend wees.

Alles in ag genome, is dit die beste om selibaat te bly? Sommige belydende Christene is van mening dat dit op die een of ander manier heiliger is om ongetroud te bly. Die apostel Paulus het egter nie met hierdie idee saamgestem nie, maar verduidelik: “... dit is beter om te trou as om van begeerte te brand” (1 Korinthiërs 7:9). Ons het die skandale gesien rondom duisende mense wat – onder die vaandel van hulle godsdiens – voorgegee het om ongetroud te bly – maar privaat die laakbaarste gedrag openbaar het. God heg geen waarde aan sulke skynheiligheid nie. Hy het die huwelik gegee as ’n goeie instelling waaraan Hy van die begin van die menslike bestaan af baie waarde geheg het. Dit was God wat aan Adam en Eva gesê het: “Wees vrugbaar en vermeerder” (Genesis 1:28).

Seks binne die huwelik

Goddelike seks binne die huwelik bind ’n man en sy vrou saam in liefde en intimiteit. Die verhouding tussen ’n man en sy vrou het ook ’n geestelike dimensie, soos die apostel Paulus verduidelik: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Efesiërs 5:25-27).

Ja, ’n man moet sy vrou liefhê soos Christus Sy Kerk liefhet! Paulus gaan voort: “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig” (verse 28-33).

God heg baie waarde aan die huwelik en gee Sy seën aan seksuele aktiwiteite binne die huwelik. “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet” (Hebreërs 13:4). Hy beveel selfs die man en die vrou om mekaar seksueel te dien (1 Korinthiërs 7:1-5).

Die Bybel is duidelik daaroor: God het seks gemaak om deur ’n man en sy vrou binne die huwelik gedeel te word. Enige ander seksuele verhouding is sonde. Kyk na die laaste deel van Hebreërs 13:4: “... want God sal hoereerders en egbrekers oordeel”. Ja, God is die regter! Seksueel-onsedelike individue behoort hulle te bekeer van hulle sondige “lewenstyl”! Verder beskryf die Bybel ook spesifieke seksuele dade wat verbied word, met inbegrip van vorms van seksuele perversiteit (sien Levitikus 18).

Net een hoofstuk verder, nadat hierdie verbode dade beskryf word, openbaar God die tweede groot gebod: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Jesus het hierdie gedeelte uit Levitikus in Mattheüs 22:39 aangehaal. Die eerste vier van die Tien Gebooie wys aan ons hoe om God lief te hê en die laaste ses wys aan ons hoe om ons naaste lief te hê. Jesus het gesê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Is u gewillig om God te gehoorsaam en die gebooie te onderhou?

Sommige state en nasies tree op asof hulle beter weet as God! Ondersteuning vir dieselfde-geslag verbintenisse is besig om al hoe meer algemener te word. Neem in ag dat in Amerika, hoewel baie state se grondwette wat so geformuleer is dat dit die huwelik definieer as tussen een man en een vrou, daar ten minste nege state is wat dieselfde-geslag huwelike gewettig het. Regoor die wêreld word dieselfde-geslag huwelike wetlik erken in Argentinië, België, Kanada, Denemarke, Ysland, Noorweë, Portugal, Suid-Afrika, Spanje en Swede. Die Midde-Oosterse staat van Israel erken dieselfde-geslag huwelike wat elders voltrek is, asook verskeie state in Brasilië en Mexiko. Wat ’n verwarring!

In die eerste eeu n.C. was die stad Korinthe in Griekeland, ’n wêreldwye handelsentrum – ook ’n heidense sentrum vol afgodery en seksuele onsedelikheid. Nietemin het baie Korinthiërs hulle bekeer van hulle sondige lewenstyl en Christene geword. Die apostel Paulus het hulle egter teen die versoekings gewaarsku: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9-10).

Beoefen u enige van daardie gedrag? God sê dat niemand wat dit doen, die koninkryk van God sal beërwe nie! Sommige van die Korinthiërs het hulle van daardie sondes bekeer – hulle is vergewe. Die apostel Paulus gaan voort: “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (vers 11).

Misleidende leierskap

In vandag se samelewing word baie mense mislei deur diegene wat voorgee om godsdienstige leiers te wees deur aan mense te sê dat hulle nie sondig nie, terwyl hulle in werklikheid die gebooie van God oortree. Die profeet Jeremia betreur hierdie valse leierskap en voorspel ernstige gevolge: “Sou Ek hieroor geen besoeking doen nie? spreek die Here. Of sou my siel hom nie wreek op ’n nasie soos hierdie een nie? ’n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?” (Jeremia 5:29-31).

Mense kon mislei word maar hulle “wil dit graag so hê”. Volgens die Barna Navorsingsgroep, keur baie mense wat hulself “Christene” noem, gedrag wat deur die Bybel as onsedelik beskou word, goed. Dit sluit in saamwoon (omskryf as om saam te woon met iemand van die teenoorgestelde geslag, sonder om getroud te wees). Barna berig: “Die grootste verskille tussen Protestante en Katolieke was geleë in hulle sienswyses van saamwoon (dit word deur 50% Protestante en 66% Katolieke), as sedelik aanvaarbaar beskou, seksuele fantasieë (51% en 63% onderskeidelik) en dobbel (52% en 70%, onderskeidelik)” (Morality Continues to Decay, 3 November 2003).

Sommige mense vermy fisiese egbreuk en dink dan dat hulle sonde kan vermy deur hulle owerspelige fantasieë in hul gedagtes te hou. Tog het Jesus Self geopenbaar dat dit moontlik is om sonde te pleeg in die gees, selfs sonder onwettige fisiese gedrag. “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheüs 5:28).

Ons Verlosser het gewaarsku: “Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal” (Mattheüs 15:18-19).

Hoeveel sondige seksuele fantasieë is in u gedagtes? Heelwat, indien u televisie kyk! ’n Televisie-program, The New Normal – ’n titel wat skynbaar nie bedoel is om ironies te wees nie – wat sy debuut in 2012 gemaak het, is ’n bejammeringswaardige voorbeeld van waarheen ons media klaarblyklik op pad is. Let op na die beskrywing van die program se promosie deur die NBC, die netwerk wat dit gebeeldsend het: “Deesdae kom gesinne in alle vorms voor – enkel pa’s, dubbel mammas, sperm-skenkers, eier-skenkers, one night stand-skenkers ... Dit is 2012 en enigiets is nou aanvaarbaar”.

Hoe beïnvloed hierdie tendense jong mense? Een verslag stel dit so: “Kyk ’n mens na die top 20 programme vir tienerkykers, bevat meer as agt uit tien (83%) seksuele inhoud, waarvan byna die helfte (49%) seksuele gedrag bevat en in een uit vyf (20%) is daar seksuele omgang. Die gewildste tiener-vertonings bevat gemiddeld 6,7 tonele met seksuele inhoud per minuut” (Sex on TV 3: a Biennial Report of the Kaiser Family Foundation, 2003). Die verslag gaan voort: “As jy aan tieners vra watter rol seks op die TV in hulle eie lewens speel, sê byna drie uit vier dit beïnvloed die seksuele gedrag van kinders van hulle ouderdom en een uit vier erken dat dit hul eie gedrag beïnvloed” (ibid.).

Ja, die massamedia beïnvloed wel ons gesindhede en gedrag. Ons moet waak teen die versoekings wat ons tot sonde aanspoor. Pornografie is ’n florerende besigheid regoor die wêreld en gee baie aanleiding tot seksuele misdade, met inbegrip van seksuele misbruik van kinders. In ’n Kanadese studie wat gedoen is oor veroordeelde kindermolesteerders, het 77% van dié wat seuns gemolesteer het en 87% van dié wat meisies gemolesteer het, gesê hulle is gereelde kykers van eksplisiete [hard-core]pornografie (Report on the Use of Pornography by Sexual Offenders, ’n Verslag aan die Federale Departement van Justisie, Ottawa, Kanada).

Alhoewel ons wêreld se media vol seksuele voorstellings, boodskappe en versoekings is, moet ’n Christen nie swig voor hierdie invloede nie. Let op die Skotse romanskryfster Margaret Oliphant se beroemde opmerking: “In die algemeen kom versoekings wanneer hulle gesoek word”. Ons moet onsself distansieer van die kwaad en naby God bly. Jesus leer ons om tot ons Vader in die hemel te bid: “En lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Mattheüs 6:13).

Indien u u verlustig in pornografie – of enige ander seksuele euwel – behoort u u daarvan te bekeer! U behoort op te hou om te sondig! U behoort daadwerklik iets te doen om die maklike toegang wat u tot seksuele versoekings het te verhoed! Die apostel Paulus gee hierdie ernstige opdrag: “Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ’n mens doen, is buite die liggaam, maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam” (1 Korinthiërs 6:18). Sommige mense glo dat seksuele sonde ’n “misdaad sonder slagoffers” is. God sê egter dat seksuele sonde ’n sonde teen u eie liggaam is!

Paulus gaan voort: “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (verse 19-20).

Is u bereid om u daartoe te verbind, indien u dit nie gedoen het nie, om God te verheerlik in u liggaam en in u gees? God se manier van lewe deur Christus, is ’n oorvloedige lewe, soos Jesus sê in Johannes 10:10. U kan daardie lewe van ware geluk smaak, as u die ontsaglike en wonderbaarlike geestelike wette van God nakom!