Is regerings altyd korrup? Is individue altyd gulsig? Is daar ’n antwoord op die probleem van korrupsie?


’n Onlangse Zogby Internasionale meningspeiling het gevind dat 69.2 persent van Amerikaners “sterk saamstem” dat korrupsie ’n “noemenswaardige probleem in Washington, DC.” is. ’n Verdere 22.7 persent het gesê dat hulle “nogal saamstem” met daardie stelling, wat beteken dat meer as 90 persent korrupsie beskou as ’n noemenswaardige probleem in hulle regering!

Die somber geskiedenis van politiek – en geensins net in Amerika nie – is dat leiers in regerings dikwels hul eie belange dien, meer as die belange van diegene wat hulle regeer. Dit is dikwels ten koste van diegene aan wie hulle hul nogal toegewy het om te dien. Nou dat ’n nuwe President en ’n nuutverkose Kongres hulle stoele gaan inneem in die regering, sal hierdie staatsamptenare Amerika se hoop verwesenlik, of hul vrese bewaarheid? In die maande en jare wat voorlê, sal verkiesings in ander lande oor die wêreld heen nuwe beleide en beter regerings meebring, meer diens en minder selfsug?

Slegs die tyd sal ons leer. Indien die geskiedenis egter die antwoord verskaf, sal dieselfde kringloop – selfsug en selfs korrupsie en baantjies vir boeties – weer oor en oor herhaal word.

Waar gaan hierdie siklus eindig? Sal dit ooit eindig? Sal Amerika – en ander nasies regoor die wêreld – ooit regeer word in opregte gelykheid, geregtigheid en onselfsugtigheid, deur morele beginsels, tot die voordeel van diegene wat regeer word?

Die verrassende antwoord is “Ja!” Maar hoe en wanneer sal dit gebeur?

Regeer deur eie belange

Politieke wetenskaplikes het lank reeds waargeneem dat hebsug en allesverterende selfbelang onder regerende beamptes moontlik “die mees uitdagendste regeringsprobleem is wat baie lande teister” (Challenging Corruption in Asia, bl. 1). In onlangse jare was hoëvlak politieke leiers in die Filippyne, Indonesië, China en Thailand tussen diegene wat betrokke was in korrupsie-verwante aanklagte.

Bykomend hiertoe, het soveel as viermiljoen Zimbabwiërs uit hul land gevlug as gevolg van die beweerde korrupsie en wreedheid van hul nasie se president, Robert Mugabe. Pakistan se onlangs-verkose president, Asif Zardari, was daarvan beskuldig dat hy homself verryk het terwyl sy oorlede vrou, Benazir Bhutto, Eerste Minister was. Zardari het selfs die twyfelagtige bynaam, “mnr. 10 persent” verwerf as gevolg van sy beweerde korrupsie.

Volgens Genaro Garcia Luna, Mexico se sekretaris van openbare veiligheid, word 44 000 federale, staats- en plaaslike polisiemanne tans geëvalueer in ’n poging van daardie regering om korrupsie uit te wis. Die lys van lande wat te kampe het met korrupsie, gaan aan en aan.

Dit is egter nie net individuele lande wat worstel met korrupsie nie. Die Verenigde Nasies is self in ’n stryd gewikkel met korrupsie, soos die “voedsel vir olie” skandaal, waarin $21 miljard vermors is in transaksies met Suddam Hussein.

Nasies reg oor die wêreld het te kampe met die verskriklike agteruitgang wat veroorsaak word deur korrupsie en baantjies vir boeties. Westerse nasies is beslis nie immuun teen hierdie probleme nie. President George W. Bush was agtervolg deur beskuldigings dat hy vriende bevoordeel het gedurende sy ampstermyn. Sommige Amerikaners was verlede Desember geskok toe Rod Blagojevich, goewerneur van die staat Illinois, gearresteer was op federale aanklagte van sameswering en omkopery, maar vir ander was die arrestasie maar net die bevestiging van hul ergste vermoedens oor die korrupte politieke toestand in Illinois.

Is leiers noodwendig korrup? God het die basiese reëls vir leierskap duisende jare gelede neergelê. Hy sê deur die profeet Dawid: “Hy wat regverdig oor mense heers, wat regeer in eerbied teenoor God” (2 Samuel 23:3-4 NV). Moses het aan die Israeliete God se statute gegee wat korrupsie van regspleging in die regering verbied: “Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het” (Deuteronomium 16:19). Al te dikwels draai die wêreld ’n blinde oog na God se woord – en neem eerder ’n omkoopgeskenk aan.

Kan ons dit egter “korrupsie” noem wanneer nasies of individue gewone regspleging of moraliteit ter syde stel om beleide na te volg wat hulle beweer in “nasionale belang” is? Ja, ons kan. Oor en oor sien ons dat beslissings wat gelei word deur slegs een nasie se “eiebelang” – sonder inagneming van die oorhoofse beginsels van ’n hoër moraliteit en standaard wat sodanige beslissings sou verbied – dikwels aanleiding gee tot rampspoedige gevolge.

Baie Amerikaners is vandag, byvoorbeeld, verontrus deur Iran se haat teenoor die Verenigde State, maar besef nie dat Amerika ’n rol gespeel het om daardie haat op te wek nie. Dit was die Amerikaanse Sentrale Intelligensiediens wat in 1953 ’n rol gespeel het in die omverwerping van Iran se demokraties-verkose Eerste Minister, Mohammed Mossadegh. Waarom het Amerika ’n ander nasie se demokratiese proses ontwrig? Was dit om die “nasionale belange” te dien van die Amerikaanse bondgenoot, Groot Brittanje, wat ononderbroke toegang tot Iran se olie wou verseker, waaroor hulle ’n monopolie gehad het voor die nasionaliserings-beweging in Iran?

Regerings oral, in elke deel om die aarde – insluitende die Verenigde State – word al te dikwels bedryf deur selfsug en eiebelang, eerder as die riglyne van universele, oorkoepelende beginsels van moraliteit.

Werk selfsugtigheid?

Dit is verstommend, maar daar is mense wat glo dat uit-en-uit korrupsie goed kan wees vir ’n nasie se ekonomie en samelewing. Moontlik is dit een rede waarom korrupsie nog met ons is – daar is eenvoudig net nie algehele ooreenstemming dat dit verkeerd is nie.

Dit is soos die politieke wetenskaplike, Vito Tanzi, uitgewys het: “Nie so baie jare gelede nie, was die ekonomiese suksesse van die lande van Oos Asië deur sommige waarnemers toegeskryf aan ’n veronderstelde positiewe uitwerking van korrupsie in die fasilitering van besluitneming” (ibid., bl.1). Korrupsie kan nogtans ’n groot finansiële las plaas op ’n nasie se ekonomiese sukses; byvoorbeeld, volgens ’n amptelike beraming bedra die koste van Nigerië se korrupsie $400 miljard (“The good, the bad and the president,” Economist, 3 Januarie 2008).

Party mense verwys na die verstommende ekonomiese groei in korrupsie-belaaide gemeenskappe as ’n “stempel van goedkeuring” vir hul gebruike. Die Filippynse ekonoom, Alejandro Lichauco, wat vir die Manilla dagblad, Today, skryf, beweer dat korrupsie Indië nie verhinder het om ’n ekonomiese wêreldmoondheid te word nie: “Indië het vandag, ten spyte van deurlopende korrupsie en baantjies vir boeties, ’n ten volle geïndustrialiseerde ekonomie, selfonderhoudend in voedsel, ’n kernkrag moondheid met ’n groeikoers van 6% tot 7.8% oor die laaste paar jaar ... Indië vervaardig deesdae omtrent alle soort verbruikersgoedere, het ’n hoogsontwikkelde industrie van kapitale goedere ... en voorsien die wêreld van kundiges in inligtingstegnologie” (“The ultimate corruption”, 11 Maart 2000).

Bepleit ekonomiese groei egter die saak van korrupsie? Hoeveel meer sou ’n nasie nie kon groei sonder die verterende en afwaartse druk van korrupsie nie?

Sommige mense regverdig korrupsie omdat hulle dit beskou as ’n noodsaaklike manier om besigheid te bedryf en verkope te vermeerder. Hulle glo dat om “volgens die reëls te speel” hulle eintlik sal kortwiek in hul wedywering met ander besighede (Challenging Corruption in Asia, bl. 3). Soos skrywer Daniel Jordan Smith egter uitwys, kweek korrupsie in die regering ’n klimaat, soos ons nou in Nigerië sien, waar mense glo dat hulle hul moet “beroep op enige beskikbare middel om hul eie ekonomiese aspirasies te verwesentlik”, selfs tot die punt waar hulle die landswette verbreek (A Culture of Corruption: Everyday Deception and Popular Discontent in Nigeria, bl.30).

In die Weste is ons dikwels geskok en verras oor die regverdiging wat sommige mense aan korrupsie bied. Ons mag vinnig wees om die omkopery en “uitruil van geskenke” te betreur wat ons sien Asiatiese en Afrika nasies bedryf – maar wat sien ons as ons nader aan die tuisfront kyk? Ted Stevens was ’n “suksesvolle” senator – die langsdienende Republikein in die Senaat voor hy in verlede November se verkiesing verslaan is. Selfs al was hy aanhoudend aangekla van korrupsie en gevonnis op sewe aanklagte van wandade kort voor die verkiesing, wou bykans die helfte van Alaska se kiesers hom terugstuur na Washington. “Hy is goed vir Alaska”, het sommiges gesê en verskoon sy korrupsie omdat hulle voel dit hulle en hul staat bevoordeel het.

Kan mense se hebsug goed wees vir diegene wat hulle veronderstel is om te dien? Een klassieke uitdrukking van die “hebsug is goed”-idee was skandalig geuiter deur die karakter Gordon Gekko, in die 1987 rolprent Wall Street. Dit kon gesê wees dat die Amerikaanse regering ook voldoen het aan daardie uitdrukking, deur skulde aan te gaan vir biljoene dollars, onwillig te wees om skuld terug te betaal of om spandering in te kort. Die daling van die dollar se waarde, verhoging van die prys van olie en die ineenstorting van die huismark die afgelope jare, het veroorsaak dat hierdie skuldlas nog meer gevaarlik en riskant is.

Hebsug in die regering – of dit nou bedryf word as korrupsie of net eenvoudig verkwisting en materialisme – is baie verseker nie “goed” nie.

Selfs Salomo het daarvoor geswig

Moderne nasies is nie die eerstes om in ’n patroon van hebsug en verkwisting te verval nie. Bykans 3 000 jaar gelede het Koning Salomo die magtige ryk van Israel van sy vader Dawid, geërf. Salomo het tydens ’n tydperk van vrede en groot voorspoed oor antieke Israel regeer. Die Koningin van Skeba was verbaas oor hoe ’n wyse en verstandige leier Salomo was en hoe geseënd sy mense was (1 Konings 10:8). Salomo se voorspoed het egter na sy kop toe gegaan. Die koning het met ’n ambisieuse program begin om die beste van elke ding te ondervind, en niks van homself onthou nie. Hy het die storie in Prediker te boek gestel: “Ek, Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem ... Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik – terwyl my hart my met wysheid sou lei – en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae. Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant” (Prediker 1:12; 2:3-4).

As Israel se koning – die hoof van die regering – het Salomo ’n geweldige groot rykdom tot sy beskikking gehad en hy het dit kwistig op homself vermors! “Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook ’n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het” (vers 7). Selfs in Salomo se dag het leiers ydelik hul rykdom met dié van ander vergelyk!

Wat was die gevolg van Salomo se massiewe spanderingsprogram? Het dit aan hom geluk besorg? “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het – en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie” (vers 11). Dit was leeg. Dit was ydel. Dit was alles net mooi verniet.

Erger as dit, Salomo se eksperimente het vernietigende en langdurige gevolge vir sy nasie ingehou. Rehábeam het die troon betree na sy vader Salomo se dood en alles was nie wel in Israel nie. “... [Toe] kom Jeróbeam en die hele vergadering van Israel, en hulle het Rehábeam toegespreek en gesê: U vader het ons juk hard gemaak, maak u dan nou die harde diens van u vader en sy swaar juk wat hy ons opgelê het, ligter; dan sal ons u dien” (1 Konings 12:3-4).

Wat was die gevolg van Salomo se verkwisting? Dit het ’n swaar las geplaas op diegene wat hy regeer het. Nogtans, in plaas daarvan om wyslik die las op die volk ligter te maak, het Rehábeam gedreig om dit selfs nog swaarder te maak. ’n Burgeroorlog het gevolg en tien stamme het weggebreek van Rehábeam se leierskap. Rehábeam het koning oor Juda en Benjamin gebly, terwyl die ander stamme die noordelike nasie genaamd Israel, gevorm het. Salomo se spoggerige plan om die onbeperkte en steeds groter wordende rykdom van ’n koning te geniet, het ontaard in ’n volslae mislukking. Dit het leegheid vir die koning, en die verdeling van die koninkryk onder sy seun, meegebring.

Regering is bedoel vir diens nie vir selfsug nie

Alhoewel Israel se leiers dikwels gefaal het, het God dit duidelik gemaak dat dit nooit Sy bedoeling was dat hulle hul posisies van leierskap moes misbruik vir hul eie ydelheid en selfsug nie. Trouens, God het aan die Israeliete gesê ’n toekomstige koning van Israel “mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie ... Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie” (Deuteronomium 17:16-17). ’n Koning moes nie uitspattig leef ten koste van sy mense nie.

Hy was ook nie veronderstel om te regeer volgens sy eie belange en sy eie gerief nie. Hy moes volgens God se wette regeer! Hoe kon hy dan God se wette ken? Hy moes dit bestudeer as deel van sy werk. “En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê” (vers 18). Die koning moes sy eie, persoonlike afskrif van God se Wet skryf – en hy moes dit bestudeer!

“En dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die Here sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel” (verse 19-20). God het beveel dat die leiers van Israel Sy boek van die Wet moes lees – en volg – dit moes die riglyn wees waarvolgens die nasie regeer moes word.

Amerika, Kanada, Groot Brittanje, Australië, Nieu Seeland, Suid-Afrika en ander nasies van Noordwestelike Europa, is vandag die moderne afstammelinge van IsraelSal ons leiers God se woord bestudeer om hul besluite te lei oor hoe om die nasies te bestuur? Of sal hulle voortgaan met die nasionale neigings om God uit ons openbare plekke te verwyder, en om Sy naam, Sy Wette en Sy lewenswyse oneer aan te doen in die moderne Israel? Vir meer inligting oor wie die moderne nasies van Israel is, skryf asseblief en vra om ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

’n Toekomstige Dienende Koning

Daar kom spoedig ’n tydperk waartydens die mensdom ’n einde sal sien van die algemene korrupsie en koorsagtige hebsug wat so baie nasies en individue vandag raak. Wanneer die herrese Jesus Christus terugkeer na die Aarde om as Koning van die konings en Here van die here te regeer, sal Hy ’n duisendjarige welvarende regering inlui (Openbaring 17:14; 20:4).

Hoe sal Sy heerskappy wees? Een van Sy eerste prioriteite sal wees om die leiers te straf wat, eerder as om Sy kudde te laat wei, hulle geplunder het vir eie gewin. “Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die Here. Daarom, so sê die Here, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die Here” (Jeremia 23:1-2).

God is nie ingenome met leiers wat slegs hulself voed – wat slegs hul eie belange dien – ten koste van andere nie. Hy is die Een wat leiers aanstel of afstel (Daniël 4:32). Hy sal hulle verantwoordelik hou oor hoe hulle regeer het.

Jesus Christus sal as ’n heerser besondere aandag aan Sy kudde gee wanneer Hy Sy plek inneem as die Opperheerser op die planeet Aarde. Die moderne Israelitiese nasies, wat in ballingskap geneem sal wees as gevolg van hulle sondes, sal uit hulle slawerny bevry word en Christus die Koning, sal hulle vertroos en bemoedig. “En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig. En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die Here” (Jeremia 23:3-4).

Jesus Christus sal nie alleen regeer nie. Hy sal bygestaan word deur die verheerlikteherrese heiliges – die “eerste vrugte” – Christene wat in hierdie huidige tydperk hul lewens getrou geleef het, en hul oorgegee het om met die hulp van die Heilige Gees, te leer om Sy wet van liefde te gehoorsaam. Ja, dit beteken dat u en ek, wat vandag leef, ons Verlosser kan bystaan om in die Millennium te heers, as ons Hom werklik aanneem as ons Heer – ons “Baas” – en daarna streef om te doen wat Hy sê! Ons kan deel wees van Sy plan om verstandigheid en geregtigheid na die hele wêreld te bring!

Wat ’n wonderlike wêreld sal dit nie wees nie! “Kyk, die Here Here sal kom as ’n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. Hy sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (Jesaja 40:10-11).

Jesus Christus, die magtigste heerser wat die wêreld ooit sal ken, sal nie as ’n tiran regeer nie, maar as ’n liefdevolle herder. Hy sal ’n regverdige regter wees, wat die armes met billikheid en geregtigheid sal oordeel, sonder partydigheid (Jesaja 11:3-4).

Oorkom die liefde vir geld

Indien ons saam met Jesus Christus in Sy naderende Koninkryk wil wees, moet ons leer om die valse evangelie van verbruik, verkwisting en hebsug, nou te verwerp! Bykans 2 000 jaar gelede het die apostel Paulus aan Timotheüs hieroor geskryf. Hy skryf: “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ’n groot wins” (1 Timotheüs 6:6). Elkeen van ons behoort tevrede te wees met wat ons het. Ons moet leer om te waardeer wat ons het, en nie altyd daarna te streef om nog meer te bekom nie. Hebsug is nie goed nie.

Paulus gaan voort; “Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (verse 7-10).

Die liefde vir geld – selfsug, selfbeheptheid, hebsug en begerigheid – veroorsaak ontelbare ellende, individueel en op nasionale vlak. Jesus Christus waarsku ons: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Indien ons graag saam met Christus wil regeer, moet ons ag slaan op Sy raad en die versoeking om materialistiese doelwitte na te streef, weerstaan. Ons moet Hom eerder volg.

Moet nie swig vir hebsug nie. Ontwikkel ’n gees van tevredenheid en onbaatsugtigheid in diens van God en ander mense, deur die hulp van God se Gees. U sal dan voldoen aan God se wil en voorberei vir ’n beter wêreld wat kom.