Teoloë en filosowe kan dit nie kleinkry nie. Indien God genadig en goed is – maar ook almagtig – waarom is daar sulke verskriklike lyding? Die rubriekskrywer en kommentator Walter Lippman skryf: “Die heel grootste verwarring in teologie is om die oneindige goedheid van God met Sy almagtigheid te versoen. Niks plaas groter druk op die gewone mens se geloof as die bestaan van uiters redelose lyding in die heelal nie”.

Nog ’n skrywer, Walter Kaufmann, stel dit so: “Geloof in onsterflikheid, soos om in Satan te glo, laat die oeroue vraag onbeantwoord, naamlik: is God nie in staat om lyding te voorkom nie en is Hy dus nie almagtig nie? Of is Hy in staat om dit te voorkom, maar onwillig en dus nie genadig nie? Is Hy regverdig?”

Oor die laaste eeu het onbeskryflike lyding plaasgevind. Twee wêreldoorloë het groot dele van Europa en Asië vernietig en tienmiljoene mense dood en beseer gelaat. Despote het regdeur die vorige eeu deel gehad aan volks- en massamoorde op onskuldiges. Die euwels van oorlog, onderdrukking, rassisme, siektes en natuurrampe (om maar ’n paar te noem) gaan steeds onverpoos voort ten spyte van die mensdom se pogings om dit die hoof te bied. Indien God genadig is, hoe kan hierdie dinge so wees?

Soms, wanneer mense gekonfronteer word met die groot lyding in die wêreld, raak hulle ontmoedig. Hulle kom tot die gevolgtrekking dat daar nie ’n God kan wees nie, of dat hy ongeërg is, anders sou Hy nooit sulke pyn toelaat nie. Hoe sou u dit verduidelik?

Baie “teoloë” is wesenlik filosowe wat oor God en geestelike aangeleenthede redeneer. Teologie – die woord beteken “godstudie” – het in oertye ontstaan deur die politeïstiese Grieke wat geglo het dat geestelike kennis deur redenasie verkry kon word. Die een ware God – die God van Abraham, Isak, Jakob, Moses, die profete en die Apostels – sê egter dat Hy Homself deur Sy Woord aan ons openbaar. Daar is dinge wat ons slegs deur Sy openbaring kan weet – dinge soos wat reg en verkeerd is en Sy plan vir die mensdom. Wat God in Sy Woord openbaar aangaande die lyding van die mensdom, is uiters insiggewend en bemoedigend.

Die kort antwoord

Die kort antwoord is soos volg: Die mens kan nie terselfdertyd vryheid van keuse en vryskelding van lyding hê nie. God het vir die mens vrye morele keuses gegee. Daarom kan God goed, genadig en almagtig wees en nie altyd ingryp om ons te red van die gevolge van ons keuses nie – veral nie wanneer daardie keuses indruis teen dít wat Hy vir ons gesê het reg en verkeerd is nie. God laat ons toe om ons keuses te maak in hierdie huidige tyd waar boosheid nie net bestaan nie, maar hoogty vier. Maar hoe het ons wêreld so geraak? U Bybel verduidelik.

In die derde hoofstuk van Genesis lees ons die verhaal van die aanvanklike rebellie van Adam en Eva teen God: “Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:1-5).

Ons weet uit ander dele van die Bybel (Openbaring 12:9; 20:2) dat die slang Satan is – ’n rebelse engel wat tevore as Lucifer bekend gestaan het. Dit is nie omdat Eva onintelligent was dat Satan haar kon mislei nie. Dit was omdat sy die vrugte wou hê. “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet” (Genesis 3:6).

Om te besluit wat waarlik reg en verkeerd is, is die God wat alle dinge weet se bevoegdheid. Satan het egter vir Adam en Eva verlei met die groot leuen dat hulle goddelike mag sou hê om te kan onderskei tussen goed en kwaad – sonder rampspoedige gevolge. Hy het in effek vir hulle gesê dat die mens sy eie morele wette “maatskaplik kan saamstel” en dat geen lyding daaruit sou voortspruit nie. Adam en Eva het gou die omvang van Satan se misleiding besef. In Genesis 3:14-19 beskryf God die pyn en lyding wat uit hul ongehoorsaamheid gespruit het. Hierdie wesenlike situasie het sedertdien vir die mens voortgeduur.

Die mens behou steeds vir homself die kennis van goed en kwaad – reg en verkeerd – voor. Hulle bou instellings en morele stelsels op die onvaste fondasie van menslike insig en tot so ’n mate dat daardie stelsels herken dat dit wat God as reg en verkeerd onthul, geneig is om goeie vrugte af te werp. Tot die mate wat hulle God se goddelike morele wet oortree – ’n handeling wat sonde genoem word – misluk hulle, wat groot lyding vir die mensdom meebring (1 Johannes 3:4). Waarom laat God toe dat die mens ly? In ’n belangrike sin, ly die wêreld omdat hulle daarop aandring. “Natuurlike oorsake” dra by tot die lyding van die mensdom, maar baie van die wêreld se lyding spruit uit sy geestelike mislukkings.

In die verhaal van Genesis 3 wat vroeër genoem is, het Satan vir Eva mislei, maar die vertelling maak dit duidelik dat Eva die misleiding aanvaar het omdat dit haar toegelaat het om te doen wat sy reeds wou doen. Die Bybel sê dat Satan die “hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9) en baie sondes werk op daardie manier. Om die probleem te illustreer, laat ons onsself ’n storie indink van ’n heel ongewone winkel wat deur Satan bedryf word.

Satan se “winkeltjie van misleidings”

Satan het op ’n dag besluit om ’n winkel met die naam “Satan se winkeltjie van misleidings” in ’n besige straat naby ’n groot universiteit oop te maak. Hy leun eendag teen sy deurkosyn toe ’n geleerde man wat ontsteld en gefrustreerd lyk, met die sypaadjie aangestap kom.

“Aarde, Professor” roep Satan uit, “wat is fout?”
Die professor was diep in gedagte, maar gaan staan, kyk op en besluit om sy penarie te verduidelik. Satan leun steeds gemaklik in die deur terwyl sy potensiële kliënt nader kom.

“Ek het baie oor die wêreld geleer,” verduidelik die professor, “en daar is baie aanloklike dinge wat ek sou wou doen, maar hierdie Joods-Christelike morele stelsel is vir my uiters ongerieflik. Dit is te beperkend vir iemand so gesofistikeerd soos ek, maar ek kon myself nie daaruit redeneer nie”.

Satan spring kiertsregop en sê: “Man, jy is net op die regte plek! Kom in! Ek het hier ’n lieflike misleidinkie wat jou in staat sal stel om te doen net wat jy wil terwyl jy nog steeds morele gesag kan afdwing. Jy gaan mal wees daaroor!” Terwyl hy agter die toonbank van sy winkel instap, verduidelik Satan verder: “Wat ek vandag vir jou het, is die moderne, hersiene weergawe van ’n klassieke misleiding wat ek meer as twee duisend jaar gelede aan ’n groep antieke Grieke, die Sofiste, verkoop het. Ek sal jou herinner hoe dit toe gegaan het” sê hy en begin voorlees uit ’n goeie boek oor intellektuele geskiedenis.

“Volgens Sofiste soos Protagorus, was die mens die maatstaf van alle dinge en moes sy eie individuele oordeel aangaande alledaagse dinge, die basis vorm van sy persoonlike geloof en optrede – nie naïewe meedoening aan tradisionele geloof nie ... teenstrydige argumente, hetsy godsdienstig of filosofies, kon nie staande bly teen kritiese argumente nie. Die uiteindelike waarde van enige oortuiging of mening kan slegs beoordeel word deur die praktiese bruikbaarheid daarvan in die voldoening aan individuele behoeftes in die lewe”.

“Sofiste het herken dat elke persoon sy eie ervaring en daarom sy eie realiteit gehad het. Op die ou end, het hulle geredeneer, is alle begrip subjektiewe menings. Werklike objektiwiteit is onmoontlik. Al waarop ’n mens met reg aanspraak kan maak om werklik te weet, is waarskynlikhede, nie besliste waarhede nie .... Gevolglik het die Sofiste die afleiding gemaak ten gunste van buigbare ateïsme of agnostisme in metafisika en situasiemoraliteit in etiek. Aangesien godsdienstige geloof, politiese strukture en morele gedragsreëls nou beskou word as menslik ingestelde konvensies, is alles nou oop vir fundamentele bevraagtekening en verandering” (The Passion of the Western Mind, Richard Tarnas, bll. 27-29, klem ons eie).

Satan gaan voort: “Dit is hoe ek dit destyds in die goeie ou dae van antieke Griekeland verkoop het, maar my moderne semanties-versterkte weergawe lyk só: “Aangesien daar geen God is nie, is alle morele stelsels maatskaplik saamgestel en is dus ewe geldig”. Satan grinnik en voeg by: “Ek is gek na daardie woord ‘geldig’. Dit verwar hulle altyd.” Hy gaan voort: “As jy jouself en andere van hierdie beginsel kan oortuig, kan jy jou eie reëls maak en steeds morele gesag uitoefen! Jou grootse oorweging sal jou eie persoonlike krag wees en jy sal vir jouself ’n god wees wat goed en kwaad ken!”

Die professor was in ekstase. “Dankie, Satan” sê hy opgewek. “Ek sal dit dadelik toepas”.

Hanteer dit

Wat is een manier hoe jy daardie misleiding logies kan hanteer? Dis maklik. Die vraag is nie of alle morele stelsels ewe geldig is nie; die vraag is of alle morele stelsels gelyke uitkomste het. Hulle het nie, soos ons maklik kan waarneem uit die geskiedenis en ons daaglikse lewens. Ons – individueel en gesamentlik as samelewings – het vryheid van keuse, maar afhangend van wat ons kies, mag die gevolge – vir ander en vir onsself – goed of kwaad wees.

Kan die mensdom dus verwag om terselfdertyd vryheid van keuse sowel as vryskelding van lyding te hê? Natuurlik nie. Ons kan sien hoe verkeerde morele keuses wat deur individue en samelewings gemaak word, gevolge het en lyding veroorsaak. Net omdat ons beoog dat ’n maatskaplik saamgestelde morele stelsel goeie gevolge moet hê, beteken nie dat dit so sal wees nie. Verkeerde morele keuses bring swak resultate, hetsy of ons dink dit so behoort te wees al dan nie. Ongeag wat die antieke Sofiste en hul moderne “gesofistikeerde” nakomelinge glo, benodig goddelike wette nie ons toestemming om te bestaan en te werk nie. Dit bestaan objektief en aangesien ware morele wette nie maatskaplik saamgestel is nie, moet die mens besef dat dit ’n gewer het. Volle kennis daarvan moet onthullend wees. Die goeie nuus is dat ons ’n bron van kennis het wat onthul wat waarlik reg en verkeerd is, maar die slegte nuus is dat, soos Adam en Eva, baie min mense gehoorsaam wil wees.

“Die ware Jakob”

Wat onthul God aan die mensdom aangaande hierdie kwessie? Sy kennis is baie groter as ons s’n. “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:8-9).

God onthul dat “daar ... geen deurgronding van sy verstand [is] nie” (Jesaja 40:28). “Want die woord van die HERE is reg, en al sy werk is met trou. Hy het geregtigheid en reg lief; die aarde is vol van die goedertierenheid van die HERE” (Psalm 33:4-5) “en my geregtigheid [word] nie verbreek ... nie” (Jesaja 51:6). “Ook is u geregtigheid, o God, tot in die hoogte; U wat groot dinge gedoen het, o God, wie is soos U?” (Psalm 71:19).

Die laaste vraag kom reg tot die punt. In terme van regverdigheid (om die eienskap te hê om regverdig te wees) wie is soos God? Natuurlik niemand nie, want mense is nie alwetend of almagtig nie. Die mens dring egter daarop aan om die kennis van reg en verkeerd vir homself toe te eien en vir duisende jare was die gevolge rampspoedig – vir individue sowel as vir samelewings. Die apostel Paulus waarsku die Kerk in Galasië: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai” (Galasiërs 6:7-8).

Dit is nie te sê dat wanneer een van ons geliefdes siek word of deur die lewe se hartseer getref word, hy of sy dit altyd oor hom- of haarself gebring het nie. Allermins. Lyding kan deur ander se optrede veroorsaak word – soos in motorongelukke – of bloot deur tyd en lotgeval in ’n era waar die mens in geheel daarop aandring om hul eie ding te doen. God is egter werklik besorg oor ons lyding en beloof dat die huidige gemors wat die mens veroorsaak het, nie blywend sal wees nie: “En die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek” (Jesaja 25:8).

Is God onbetrokke?

Die Bybel leer ons dat God die mens in hierdie era toelaat om sy eie weg te volg, sy eie foute te maak en sy eie gevolge te dra. Sommige mense doen ander doelbewus kwaad aan, terwyl andere kwaad doen weens misleiding. Daarby erken die Bybel ook dat ons nie alles in ons lewens beheer nie. Natuurrampe vind plaas “want tyd en lotgeval tref hulle almal” (Prediker 9:11). Is God egter onbetrokke in mensesake? Inteendeel! God is baie betrokke en die Bybel is vol van die talle verskillende maniere waarop Hy betrokke is. Hier volg maar net ’n paar.

Die Bybel onthul dat God ’n plan het vir die mensdom. Eenvoudig gestel, “Hy [bring] baie kinders na die heerlikheid” (Hebreërs 2:10), en Jesus is “die eersgeborene ... onder baie broeders” (Romeine 8:29). In hiérdie tyd van die mens se rebellie, laat God egter die wêreld toe om die gevolge te leer van die verwerping van Sy leefwyse – Sy goddelike morele wet. God het gesê dat wanneer ons genoeg mag bekom het, ons onsself sou vernietig tensy Hy sou ingryp. Jesus stel dit eenvoudig in die Bergpredikasie: “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:22). God sê dat Hy ingryp in die mens se sake ten einde Sy plan vir die mensdom te volbring. Daardie belofte is ’n groot bron van hoop vir ’n wêreld vol sorge, want wanneer God ingryp, doen Hy dit om Sy belofte gestand te doen.

God se ingryping in die lewens van diegene wat Hy in Sy Kerk geroep het, is nog ’n manier hoe Hy betrokke is. Jesus sê byvoorbeeld: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44). Wanneer die Vader ons trek, gee Hy bekering en met die doop vergewe Hy ons sondes deur onverdiende genade. Deur Jesus se offer, het ons “verlossing ... deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes” (Kolossense 1:14). Die gawe en werking van God se Heilige Gees is ’n wonderbaarlike ingryping in die lewe van elkeen van God se kinders. Dit is God se Gees wat ons in staat stel om te leef soos Hy beveel het en wat ons innerlik hervorm namate ons so leef. “Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:13). Dit is ’n belangrike en geseënde ingryping. Die begripsvermoë en gehoorsaamheid wat God se Gees te weeg bring, is vandag afwesig in die mensdom, maar dit sal nie altyd so wees nie. “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees” (Joël 2:28). “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Esegiël 36:26-27).

God verhoor gebede en Hy is betrokke by ons as persone op baie maniere – soos byvoorbeeld in genesing. Paulus onderrig: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:14-16). God gee om vir Sy kinders, hoor ons gebede en lei ons uit ons beproewings uit. “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korintiërs 10:13). God sal ingryp om selfs ons persoonlike beproewings tot ons voordeel te laat uitwerk indien ons Hom gehoorsaam. “En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:27-28).

God sê dat Hy vir enige lid van die samelewing mag ingryp bloot uit Sy genade, goedheid en meegevoel. “Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm” (Romeine 9:14-15).

Hierdie is maar net ’n paar van talle Bybelse voorbeelde waar God aktief deelneem in die lewens van die mensdom, die Kerk van God in geheel, individuele lidmate en ander lede van die samelewing. Dit is duidelik dat God bereid is om baie betrokke te wees in ons lewens in hierdie era, selfs al verwerp die mensdom Hom voortdurend.

Waarom laat God dus toe dat die mensdom swaarkry? Die kort antwoord is dat die mens daarop aandring. Die hele wêreld is vir lank reeds mislei om te dink dat hulle reg en verkeerd maatskaplik vir hulself kan bepaal, maar hulle kan nie; God sê dat ons nie bevoeg is nie. Die wêreld het die pad gekies waarop hy is en moet vir ’n tyd lank die gevolge van daardie keuse dra. Daar kan nie beide vryheid van keuse en vryskelding van lyding wees solank die wêreld God verwerp en ontken nie. Daar is slegte gevolge en bose uitkomste omdat die gevolge van alle morele stelsels nie dieselfde is nie. Dit is die gevolg van slegs een ding. Werklike morele wette bestaan, hetsy die wêreld dit glo al dan nie en daardie goddelike wet moet deur die Gewer daarvan openbaar word. Ongelukkig woon ons steeds in ’n bose tydvak waarin daar steeds baie lyding voorkom.

Indien ons egter in God glo en Hom gehoorsaam, kan ons toegang hê tot Sy oneindige wysheid, want: “Die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige” (Psalm 19:8). In God se oë is selfs die ongesofistikeerde persoon wat Hom glo, wyser as daardie wêreldse professor. Indien ons egter nie glo en gehoorsaam is nie, is ons op ons eie en dit is waar die wêreld hom tans bevind.

Deur die eeue het God se Kerk beslis groot vervolging beleef. Soos Jesus verduidelik: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:18-19). Tesame met vervolging het die Kerk ook nog te make met “tyd en lotgeval” en versoekings en beproewings “wat menslik is”. Paulus verseker egter die mense in die Kerk, selfs in hierdie bose tydperk “dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk” (Romeine 8:28).

Daarby het die Kerk die bemoediging dat hulle weet dat daar ’n besliste hoop vir die wêreld is. “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). God beloof dat die dag kom dat Hy sal ingryp met ’n “ysterhand” om Sy Koninkryk te vestig en die mensdom van homself te red.

Paulus skryf: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” (Romeine 8:16-19).

Selfs al ly die wêreld, het die Kerk nou die seën van God se leefwyse en ’n besliste belofte vir die toekoms.