Watter god word werklik deur Kersfees geëer?

Met ’n terugblik oor die jare, raak dit al hoe duideliker dat die gaping tussen wat die Bybel vir ons sê om te doen en wat die sogenaamde volgelinge daarvan werklik doen, byna belaglike afmetings aangeneem het.

God het as voorbeeld hiervan Sy volk duidelik opdrag gegee om nie die weë van die heidense mense na te volg wat voorheen in die Beloofde Land gewoon het nie, veral wat betref die kwessie van die aanbidding van hulle gode. Hy het uitdruklik verklaar dat hulle nie die perverse manier van aanbidding op Hom sal toepas nie.

Let op Sy bevele: “Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom ... So mag julle nie doen met die HERE julle God nie” (Deuteronómium 12:2-4).

Daar is aan hulle opdrag gegee om ontslae te raak van heidense plekke van aanbidding op berge, op heuwels en “onder elke groen boom”. Interessant genoeg gebruik die Bybel hierdie term op tien plekke en elke geval verwys na heidense gebruike, rituele en verwronge optredes van heidense aanbidding wat deur die Israeliete beoefen is (vergelyk 1 Konings 14:23; 2 Konings 16:4; 17:10; 2 Kronieke 28:4; Jesaja 57:5; Jeremia 2:20; 3:6, 13; Eségiël 6:13).

Die valse “god” van Kersfees

Wat is die groot probleem met heidense gebruike in vandag se moderne, verligte wêreld? Gee God regtig om dat die belydende Christelike kerk die heidense aanbidding “gesuiwer” het? Hulle doen dit immers om Jesus te eer, nie waar nie?

Die geskiedkundige opnames is duidelik. Hier is net een van honderde gedokumenteerde heidense praktyke:

Attis het homself na bewering onder ’n denneboom vermink en het op die plek doodgebloei ... Na sy dood het Attis na bewering in ’n denneboom verander ... [In aanbiddingspraktyke] is ’n denneboom in die bos afgekap en in die heiligdom van Cybele gebring, waar dit as ’n groot godheid beskou is ... Opgesweep deur die wilde barbaarse musiek ... het hulle hul liggame met potskerwe of met messe gesny ten einde hulle vloeiende bloed op die altaar en die heilige boom te laat spat (Sir James George Frazer, “The Myth and Ritual of Attis,” The Golden Bough, 1922).

Soos die geskiedkundige optekeninge aandui, het Attis se bloedige optrede onder ’n immergroen boom, tesame met die herhaling daarvan deur Attis-aanbidders, die heidendom van sy seisoenale rooi en groen versierings voorsien.

Dit is voor die hand liggend dat “groen bome” en die godsdienstige rituele wat daaronder plaasgevind het vir God baie saak gemaak het. Geen assosiasie tussen die kersboom met sy ellendige ryk heidense oorsprong en Jesus Christus word in die Bybel gevind nie. Trouens, geen aspek van Kersfees met sy tradisies van misteltakkies, steekpalm, kerskranse, dennetakkies (almal groen en rooi wat die kleur van bloed aksentueer), uitruil van geskenke, gefuif en die viering van 25 Desember (die tyd van die wintersonstilstand) word nêrens op enige plek in God se Woord gevind nie – behalwe miskien, in die verwysing na heidene wat hulle gode “onder elke groen boom” dien.

Die ware God van die Bybel

Wat God wel in Sy Woord laat opteken het, is duidelik: “As die HERE jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die HERE jou God nie; want alles wat vir die HERE ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:29-32).

God het noukeurig uiteengesit hoe Hy aanbid wil word, maar die mensdom – onder die mag van Satan, die god van hierdie wêreld (2 Korinthiërs 4:4) – het daardie aanbidding verdraai, die naam van Jesus Christus geroof en ’n vervalste godsdiens geskep. Om u oë te laat oopgaan vir wat in heidense vakansietradisies verskuil is, bestel ons gratis boekie Satan se Vervalste Christendom of lees dit aanlyn by wvm.co.za.