Vyf honderd jaar gelede het ’n Renaissance–skrywer ’n voorskrif vir effektiewe regering gegee. Watter lesse, goed of sleg, kan ons daaruit leer?

Glo u dat “die geskiedenis geskryf is deur die oorwinnaars”? Voel u “die doel heilig die middele”? Indien u saamstem, is u dit verskuldig aan ’n berugte filosoof wat vyf honderd jaar gelede geleef het.


In 2013 is die 500ste herdenking van ’n bekende klein boekie, The Prince, geskryf deur ’n Europese edelman, Niccolo Machiavelli, gevier. Daardie boek wat hy in 1513 geskryf het (maar wat eers na sy dood gepubliseer is), is een van die bekendste en invloedrykste boeke oor die politiek wat nog ooit geskryf is. Dit het selfs die naam “Machiavellies” gegee aan die sedelose praktyke wat dit voorstaan – soos om te konkel en te bedrieg vir die verkryging en behoud van mag.

Machiavelli het geleef van 1469-1527 tydens ’n onstuimige tyd in die Italiaanse geskiedenis. Sy familie was eeue lank ryk en invloedryk, maar sy pa, hoewel hy geleerd was, was insolvent en het gesukkel om ’n bestaan te maak. Machiavelli het vir ’n groot gedeelte van sy lewe gesoek na die rykdom en mag wat by sy pa ontbreek het.

Tydens Machiavelli se lewe was Italië verdeeld en die groot adellike families was in ’n doolhof van bakleiery vir beheer, beide teen mekaar asook teen buitelandse magte. Om in Florence – ’n stad wat as ’n aparte republiek bestaan het – vir of teen byvoorbeeld die Medici-familie of ’n bepaalde pous te wees, kon óf ’n hoë pos óf tronkstraf beteken het. Machiavelli het beide ervaar. Hierdie magte het die wêreld se siening van hierdie talentvolle, maar sedelose diplomaat, administrateur en politieke filosoof gevorm.

Vandag kan ’n verkeerde besluit in jou loopbaan jou dwing om van werk te verander: Vir Machiavelli in Florence kon dit tronkstraf of die dood beteken. Hierdie vyandige omgewing word weerspieël in die siniese uitkyk wat Machiavelli bewoord in The Prince: Dat ’n heerser gelei behoort te word deur die noodsaaklikheid om mag te kry en te behou eerder as deur ’n morele kode. Machiavelli raai die opkomende en ambisieuse leier aan dat die voorskrifte van mag die primêre oorweging behoort te wees in elke beleid en handeling.

Die algemene siening van Machiavelli kan reg opgesom word deur die volgende beskrywing in die Encyclopaedia Britannica se inskrywing oor die man: “Die eerste en mees volgehoue siening oor wie Machiavelli is, is dié van ’n leermeester van boosheid. ... Om homself te handhaaf moet ’n prins leer hoe om nie goed te wees nie en om hierdie kennis te gebruik of nie te gebruik nie, ‘na gelang van behoefte’ ... as gevolg van hierdie standpunt kan Machiavelli beskou word as die stigter van die modernepolitieke wetenskap, ’n dissipline wat gebaseer is op die werklike toedrag van sake in die wêreld, teenoor hoe die wêreld moontlik mag wees ... Die onsedelike interpretasie wat gevestig is op Machiavelli se gereelde uitweg na ‘noodsaaklikheid’ om aksies te verskoon wat andersins as immoreel veroordeel kan word”.

Die Machiavelliaanse persoonlikheid

Wat was Machiavelli se beskouing van die politieke wetenskap? In The Prince, gee hy ’n aantal reëls vir die heersers, met inbegrip van:
•    Betoon nooit nederigheid nie, dit is meer effektief om arrogant te wees wanneer met ander mense omgegaan word.
•    Moraliteit en waardes is vir die swakkelinge; invloedryke mense behoort vry te voel om te lieg, te bedrieg en te mislei om hulle doel te bereik.
•    Dit is beter om gevrees te word as geliefd te wees.
•    Om gewild en seker van mag te wees, hoef ’n prins nie eerbaar te wees nie, hy kan net so voorkom.

Is daar mense wat vandag werklik leef volgens die manier wat Machiavelli voorgestel het? In die vroeë sewentigerjare, het die sielkundiges Richard Christie en Florence L. Geis ’n studie gepubliseer wat ’n bepaalde tipe persoonlikheid identifiseer wat gekenmerk word deur manipulasie in verhoudings en sinisme oor die menslike natuur. Hulle het ’n toets uitgevoer waarin stellings was soos: “Verskaf nooit aan enigiemand die werklike rede waarom u iets gedoen het nie, tensy dit voordelig is om dit te doen ... Die beste manier om mense te behandel, is om hulle te vertel wat hulle graag wil hoor ... Enige een wat iemand anders heeltemal vertrou, soek moeilikheid”.

Respondente wat saamgestem het met sulke uitlatings het hoë punte verwerf en is High Machs genoem. Daar is gevind dat hulle geneig was om ’n “Machiavelliaanse” persoonlikheid te hê. Aan die ander kant sal iemand wat lae punte behaal het as ’n Machiavelliaan geneig wees om saam te stem met stellings soos: “Dit is nooit reg om vir iemand anders te lieg nie ... Die meeste mense is basies goed en vriendelik ... ’n Mens behoort slegs tot aksie oor te gaan wanneer dit moreel reg is”.

Die sielkundige Harriet B. Braiker het in sy kommentaar op die studie geskryf:

“Machiavelliaanse persoonlikhede is verbind tot die stelling dat ’n gewenste einddoel feitlik enige middel regverdig. Machiavelliaanisme word omskryf as ’n manipulerende strategie van maatskaplike interaksie en ’n persoonlikheidstyl wat gebruik maak van ander mense as instrumente vir persoonlike gewin ... High Machs beïnvloed of manipuleer ander mense op voorspelbare maniere, met behulp van taktieke wat ander mense uitbuit, selfsugtig en byna altyd bedrieglik is.

High Machs is geneig om ’n kenmerkende groep te vorm. Hulle is geneig om sjarmant, selfversekerd en welsprekend te wees; maar hulle is ook arrogant, berekenend en sinies en geneig om te manipuleer en uit te buit. Tydens laboratorium-eksperiment-speletjies vertoon High Machs ’n ywerige en opportunistiese sin van tydsberekening en dit lyk asof hulle veral munt slaan uit situasies waar daar dubbelsinnighede binne die reëls is” (Who’s Pulling Your Strings?, Harriet B. Braiker, Ph.D., bll. 85-87).

Ander “Machiavelliane”?

Machiavelli het sy idees kragtig aangebied, maar hy was nie eerste om hierdie dinge uit te dink nie. Die ou Griekse dramaturg Euripides het geskryf: “As verkeerd ooit reg kan wees, vir ’n troon se onthalwe is verkeerd heeltemal reg – mag God in alles gevrees word” (Phoenician Maidens, reëls 524-25). Machiavelli kon dit self nie beter gesê het nie en inderdaad, as ’n geleerde man van sy tyd, kon hy waarskynlik Euripides se toneelspel gelees het of ’n opvoering daarvan gesien het.

Die invloedryke Duitse generaal en militêre teoretikus Karl von Clausewitz, het oorlog “die voortsetting van politiek op ander maniere” genoem. Deesdae lyk dit selfs ofpolitiek ’n oorlog op ’n ander manier geword het. Kandidate en amptenare is voortdurend betrokke in politieke gevegte deur sarsies persverklarings en politieke propaganda af te vuur. Net soos in die verlede het vandag se aspirant-leiers ’n sterk begeerte om hulleself te laat geld in magsposisies en sal hulle bykans enige maatreël aanwend om dit te verkry.

Die apostel Jakobus verduidelik waarom dit so is: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog” (Jakobus 4:1-2). Dit gaan alles oor twee heeltemal verskillende lewenswyses: “Gee versus neem”. In baie opsigte is dit so eenvoudig soos dit. God is liefde en Sy ware aard en karakter is liefde en besorgdheid vir ander – die manier van “gee”. Die manier van die politiek van hierdie wêreld is egter “neem” – gefokus op die “self” – in gehoorsaamheid aan ’n heel ander regeerder.

Die ware prins van ons huidige wêreld

Jesus Christus het die ware prins [owerste] van hierdie huidige wêreld geïdentifiseer toe Hy aan Sy dissipels gesê het: “... die owerste van die wêreld is aan kom en het aan My niks nie” en “... omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is ...” en “... nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 14:30, 16:11, 12:31). Jesus het selfs daarna verwys dat die owerste [prins] ’n koninkryk in hierdie wêreld het (Mattheüs 12:26) en die apostel Paulus het gesê dat hy die werklike “god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4) is. Hierdie owerste [prins] begeer die rol van heerser en god.

Na wie het Jesus verwys as die heerser van vandag se wêreld? Die Bybel onthul dat hierdie wêreld ’n geestelike heerser het wat al die ambisies en eiesinnigheid van vandag se ambisieuse regeerders verpersoonlik. Let op na die eiesinnige, ambisieuse aard wat hierdie voormalige aartsengel verteenwoordig: “Ek wil opklim in die hemel ...” en “... my troon verhef bo die sterre ...” Hierdie geestelike wese is eens Lucifer genoem – die “ligbringer” – maar in sy opsetlike opstand teen God die Almagtige het hy Satan, of die “Teëstander”, geword.

“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wilopklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jesaja 14:12-14)

Let egter op wat God sê van hierdie bose wese se finale bestemming: “Ja, in die doderyk [graf] sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?” (verse 15-16).

’n Ander Prins is aan die kom

In teenstelling met hierdie bose prins – die “owerste van die mag van die lug” (Efesiërs 2:2) – sê die Skrif aan ons dat ’n ander Prins binnekort na die aarde sal kom – die “Prins van Vrede”. Jesus Christus het ’n weg aan ons geleer wat baie verskil van dié van Machiavelli. In die Nuwe Testament vind ons dat vrede een van die grootste deugde is wat mense (ingeslote heersers) behoort na te streef. Vrede word as een van die vrugte van God se Heilige Gees genoem (“... liefde, blydskap, vrede ...” Galasiërs 5:22).

Die Skrif toon dat Christus sal terugkeer as die leier van ’n magtige leër, maar Hy sal Sy mag gebruik om ’n vredevolle Koninkryk te vestig en om daaroor te heers. Die profeet Daniël het ’n visioen opgeteken van die wederkoms van Jesus Christus aan die einde van hierdie tydperk en die vestiging van Sy regering op aarde. In daardie visioen vernietig Christus die bestaande aardse stelsel wat God se regering verwerp. Die visioen begin met die uitbeelding van ’n reeks voormalige wêreldryke, wat geheers het en wat gereelde lesers van hierdie tydskrif weet bestaan uit die Babiloniese, Medo-Persiese, Grieks-Macedoniese en Romeinse ryke; wat dan uitloop op die goeie nuus van God se Koninkryk:

“U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud [Babiloniese Ryk], sy bors en sy arms van silwer [Medo-Persiese Ryk], sy buik en sy lendene van koper [Grieks-Macedoniese Ryk], sy bene van yster [Romeinse Ryk], sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei [eindtydse herlewing van die Romeinse Ryk]. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Daniël 2:31-35).

In die Skrif gebruik God dikwels die beeld van ’n berg om ’n regering te simboliseer. Hier verwys die berg wat groei om “die hele aarde” te vul, na die “heilige berg van God” – Sy regering op aarde. God sê deur die profeet Jesaja: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Dit is nie net ’n verwysing na Christus se hoofkwartier in Jerusalem nie, maar na ’n regering wat sal groei totdat dit “die hele aarde gevul” en die huidige goddelose regerings vervang het.

Jesus het, nadat Hy 40 dae gevas het, selfs na hierdie berg verwys toe Satan Hom versoek het. Dit was Satan se berg – sy regering en koninkryke – wat Jesus gesien het toe Satan sê: “Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee” (Lukas 4:6). Hierdie wêreld en sy mag en regering het inderdaad aan Satan behoort – sy berg is baie werklik – baie mense het hulle gedeelte van sy verleidelike aanbod aanvaar.

Jesus het natuurlik onthou wat Hy baie eeue tevore in Daniel 2 voorspel het: “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak ... maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots [berg] geword wat die hele aarde gevul het” (Daniël 2:34-35). Jesus het Satan se aanbod van die hand gewys en hom trouens met die asem van sy lippe weggeblaas toe Hy sê: “Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Lukas 4:8). Diegene wat hulleself vandag as volgelinge van Machiavelli beskou aanvaar in wese ’n aanbod van die verkeerde prins!

Vanuit die hart?

Die moderne politieke wetenskap erken dat hoewel The Prince 500 jaar gelede geskrywe is, dit die moderne politieke denke deur en deur beïnvloed het en dit steeds doen. Vandag se politici verstaan egter nie dat die beginsels wat in daardie boek tot uitdrukking kom die korrupte gees van ’n stelsel wat binnekort tot ’n einde sal kom verteenwoordig nie. Gelukkig kan Christene vandag afsonderlik wees van daardie stelsel en God se Kerk streef daarna om volgens Sy manier te regeer, weg van die sinisme en manipulasie wat Machiavelli aanbeveel het.

Wat is Machiavelli se nalatenskap, vyf honderd jaar na The Prince? Tydens sy leeftyd het hy beslis ander werke ook geskryf, waarvan sommige ’n heel ander siening van die regeerder se rol het. Sy Discourses on Livy bevat byvoorbeeld raad oor hoe om republieke te bewaar. Toegewyde historici betwis die mate waarin The Prince Machiavelli se ware gevoelens weerspieël. Ons weet in elk geval dat Machiavelli in die inleidingsbrief van The Prince sê dat sy klein boekie alles bevat wat hy weet. ’n Mens kan dus daaruit aflei dat The Prince uit die skatte van sy hart kom. In plaas daarvan kyk Christene gelukkig na ’n Prins wat baie anders is – die Prins van Vrede – as dié Een van wie hulle waardes vandaan kom en wat binnekort sal terugkeer om ’n regering te lei wat baie verskil van dít wat Machiavelli beskryf.