Baie mense in die wêreld fokus hulle aandag op sake wat betrekking het op voorregte en mag en tóg besit elkeen van ons die grootste voorreg van alles – om deur gebed toegang tot die troon van God te kry.

Vind u dat gebed ’n moeilike of minder aangename taak is? Wanneer u leer hoe om te bid word dit ’n groot voorreg wat lewensveranderende seëninge en voordele inhou!

Ons hoor soms van die “een persent” – die welvarende en magtige elite wat toegang tot voorregte en geleenthede het wat nie vir die meeste mense beskikbaar is nie. Hulle mag dalk deftige wonings, seiljagte en selfs persoonlike stralers besit. Beny ons hulle? Dink ons dat hulle rykdom hulle gelukkig maak?

Die bemoedigende waarheid is dat diegene wat die Bybel sowel as die God van die Bybel ken, ’n voorreg geniet wat nie met al die rykdom van die wêreld gekoop kan word nie. Baie min mense kan met vrymoedigheid met die heerser van hulle nasie praat, maar u kan u hart uitpraat in gesprek met Een wat baie magtiger is – die Heerser van die heelal!

Voel u dat God u gebede beantwoord? U Bybel openbaar belangrike sleutels tot beantwoorde gebed – sleutels wat nie bekend is aan wêreldse soekers na mag, besittings en plesier nie. Die God van die hemel bied aan u ’n voorreg wat wonderlike voordele en seëninge kan meebring. Dit is nodig dat u weet hoe u daardie seëninge deur die kragtige voorreg van gebed kan verkry.

Ons het almal behoeftes. Miljarde mense regoor die wêreld ly onder uiterste armoede, gebrek aan water, swak sanitêre toestande, oorloë, siektes en hongersnood. In die Westerse wêreld is ons gewoond aan ’n veel hoër lewenstandaard as dié in die sogenaamde minder ontwikkelde lande – nasies waarvan, volgens die Verenigde Nasies, die bruto inkomste per capita minder as $1,025 per jaar is. Baie min van ons in die geïndustrialiseerde Weste ervaar daardie soort armoede. Ons ervaar die spanning van terrorisme, skietvoorvalle by skole en ander vorms van geweld. Baie mense het ernstige mediese toestande en finansiële probleme. Waar kan ons hulp vind? Wat is die grootste bron van hulp wat beskikbaar is?

Wat is u behoeftes? Het u ’n tekort aan kos, klere, behuising of ’n werk? Heel moontlik is u behoeftes meer sosiaal van aard. U mag dalk vertroosting kortkom. U mag dalk vriende nodig hê. Moontlik kort u ’n beter verhouding met u eie gesinslede. Hoe kan u verseker dat daardie behoeftes vervul word? Natuurlik behoort u alles te doen wat menslik moontlik is en gebruik te maak van elke beskikbare hulpbron. U behoort egter nooit die kragtige voorreg van gebed te ignoreer nie! Met gebed kan dit wat onmoontlik lyk, moontlik raak deur God se genadige ingryping. Dink aan hierdie kragtige belofte waaroor die apostel Paulus geskryf het terwyl hy die Filippense lof toegeswaai het vir hulle gesindheid van vrygewigheid: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19).

Moontlik voel u afgeskeep of verstoot of onbelangrik, wanneer u sien hoe ons wêreld se politici en sakemanne professionele kontakte ontwikkel en guns van hulle soek wie in meer invloedryke poste of posisies is. Mense in die sakewêreld, die regering, die regslui, finansiële reuse en ander posisies van mag, gebruik dikwels hulle invloed namens diegene wat hulle vir hulp nader. Oxford Living Dictionaries definieer ’n “magsmakelaar (power broker)” as “’n persoon wat doelbewus deur hulle invloed en gekonkel die verspreiding van politieke of ekonomiese mag beïnvloed”.

Het u ’n “magsmakelaar” nodig om u te help om in die lewe te vorder? Wie sal u die meeste kan help? Wie sal u kan lei tot ware sukses en ware geluk? Liewe lesers, daar is geen hoër posisie as God se troon in die hemel nie. God beloof u Sy persoonlike liefde, genade en barmhartigheid. Verootmoedig uself, gaan op u knieë en bid tot u Vader in die hemel en u sal voordele verkry ver bo wat u uself kan indink. Is ek besig om te oordryf? Glad nie! Dit is ’n belofte wat ek al baie keer vir myself toegeëien het, met wonderlike resultate. God kan en sal buitengewone seëninge vir ons beskik, indien ons in geloof na Sy troon gaan. “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen” (Efésiërs 3:20-21).

Ja, God skenk aan ons die voorreg om deur gebed voor Sy troon in die hemel te kom. U Bybel wys u hoe om te bid sodat u God waarlik kan vertrou om aan al u behoeftes te voorsien en u “oorvloedig” te seën.

Soek God se wil

U het waarskynlik al gehoor van selfsugtige gebede of “gee my” gebede. Hulle fokus net daarop om God te vra: “Gee my wat ek ook al vra”. Mense wie se gebede nie verder gaan as dit nie, raak dikwels teleurgesteld.

Moet asseblief nie verkeerd verstaan nie – God wil waarlik die beste vir elkeen van ons hê. Ons kan dus vra dat in ons behoeftes voorsien word en ons behoort dit te vra. Wat is u gesindheid wanneer u vra? Is dit net daarop gemik om selfsugtig vooruit te kom? Is dit om u sin te kry, asof God u persoonlike hoofbediende of muntmasjien is? Kan u werklik verwag dat God u wense waar sal maak, indien daardie wense u sal seermaak of selfs in die pad van u ewige lewe sal staan? Natuurlik nie! Wanneer ons as Christene groei, kom ons wil nader aan God se wil. Let nou op die wonderlike belofte wat God aan diegene gee wat Sy wil bo hulle eie soek: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het” (1 Johannes 5:14-15).

Selfs Jesus die Christus (Grieks vir “Messias”) het Sy wil onderwerp aan die wil van Sy Vader. In die nag voordat Hy gekruisig is, het “... Hy ... Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Lukas 22:41-42). Indien daar ’n ander manier was, sou Christus iets anders gekies het as die verskriklike pynlike dood wat Hy gesterf het. Tog was Sy eerste prioriteit die wil van Sy Vader.

Christus het ons hierdie beginsel geleer toe Hy Sy dissipels die “modelgebed” gegee het (Mattheüs 6; Lukas 11). Wanneer ons Sy voorbeeld in ons eie gebede volg, begin ons deur ons Vader in die hemel aan te spreek en Sy naam te vereer. Ons bid dan vir die geprofeteerde Koninkryk van God om na die Aarde te kom. Let egter op die volgende aspek van ons gebed: “... laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matthéüs 6:10).

Ja, Christus het ons geleer om te bid dat God se wil hier op aarde sal geskied. Sy wil sluit die magtigste van nasies en die nederigstes van individue in. Dit mag in die begin dalk moeilik lyk om ons te onderwerp aan God se wil in ons lewens. Tog verseker God ons dat wanneer ons dit doen, ons tevredenheid, vertroosting, vertroue en gemoedsrus sal ervaar. Antieke koning Dawid het van hierdie vreugdevolle nederige gesindheid geskryf: “Ek het lus, o my God, om U welbehae te doen, en u wet is binne in my ingewande” (Psalm 40:9).

Wees eerlik met uself. Sou u eerder “dinge” wou hê wat ’n las en ’n bron van afguns kan word? Sou u eerder die “vreugde” wil hê wat spruit uit die wete dat u God se wil doen en die spesifieke seëninge ontvang wat Hy weet u nodig het? Hoe nader u aan God se wil kom, hoe meer kan u daardie vreugde hê. God openbaar Sy wil in die Bybel, van Génesis tot Openbaring. Lees u Bybel daagliks. Hoe meer u God se wil leer ken, hoe meer sal u gebede beantwoord word in harmonie met Sy sorg en omgee vir u!

Eis God se beloftes

Het u regtig ’n groot, duur huis nodig? Het u regtig ’n vinnige nuwe motor nodig? Het u miljoene en miljoene rande nodig? Ons liefdevolle God sal u nie dinge gee wat slegs u aandag aftrek van u liefdevolle, gehoorsame verhouding met Hom nie. Inteendeel, Hy sal u gee wat u nodig het en Hy sal u begeertes vervul wanneer hulle in ooreenstemming met Sy wil is. Twyfel nooit dat God u liefdevolle Vader is nie. Hoe groot is Sy liefde? Kom ons kyk na een voorbeeld uit die Skrif: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee; en as hy ’n vis vra, aan hom ’n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matthéüs 7:7-11). Indien ons glo dat normale menslike vaders hulle kinders opreg liefhet, behoort ons selfs meer vertroue in God se liefde vir ons te hê!

Stort u hart uit

Terwyl ons daarna streef om nader aan God te kom, behoort ons ons diepste denke en gevoelens met Hom in gebed te deel. Ons weet dat Hy nie altyd aan ons versoeke op ons eie tydrooster voldoen nie. Ons mag huiwerig wees om aan onsself te erken van ons verlange, ons frustrasie en ons diep begeerte om te weet wat Sy wil vir ons is. Hoe behoort ons op Hom te reageer? Ons behoort daarna te streef om in ons gebede so oop te wees soos wat koning Dawid van ouds in sy gebede was. Sommige van Dawid se gebede mag aanvanklik soos klagtes klink, soos wanneer hy uitroep: “Hoe lank, Here, sal U my altyddeur vergeet? Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg? ... Aanskou tog, verhoor my, Here, my God! Verlig my oë, sodat ek nie in die dood inslaap nie” (Psalm 13:2, 4).

Is u gefrustreerd? Deel u frustrasie met God. U menslike vriende en familie mag moeg word om van u diepste worstelings te hoor, maar God is geduldig en sal altyd daar wees vir u. Maak egter seker dat u nie net kla nie. U behoort die moed te hê om verantwoordelikheid vir u optrede te aanvaar. Erken u mislukkings, u oortredings, u foute en u verkeerde gewoontes, optredes en gedagtes. Moontlik het u 'n probleem met onbeheersde woede, dwelmmisbruik, vraatsug of seksuele wellus. Wat u ook al gedoen het, bely u sondes aan Hom. God gee ons hierdie belofte: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Johannes 1:9). God is gewillig om ons ons sondes te vergewe, indien ons dit erken, indien ons dit aan Hom bely – en indien ons bereid is om ons lewenswyse te verander. Wanneer dit lyk asof God nie u gebede beantwoord nie, mag Hy dalk besig wees om vir u sê: “Dit is nodig dat u eers om vergifnis vra en alles reg te stel sover dit vir u moontlik is”.

Johannes skryf ook; “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself, en die waarheid is nie in ons nie” (1 Johannes 1:8). Selfs koning Dawid, ’n man na God se eie hart (1 Samuel 13:14; Handelinge 13:22), het sy sonde aan God bely – owerspel met Batseba en deurdat hy haar man Uría, die Hetiet, na sy dood in die geveg gestuur het. Ten spyte van die erns van sy sonde, het Dawid nederig in diepe berou gebid en hy het op God se vergifnis vertrou. Sy woorde behoort in ons almal te weerklink: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde” (Psalm 51:3-4).

Hoe kan ons van ons sonde gereinig word? Die Saligmaker van die wêreld, soos Hy genoem word in Johannes 4:42 en 1 Johannes 4:14, het Sy bloed gestort om vir ons sonde te betaal. Johannes die Doper het van Hom getuig: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29).

Is u gewillig om te verander?

Ons moet bereid wees om ons van ons wêreldse gedrag en gesindhede te bekeer en eerder kies om in harmonie met God se Wet van liefde te leef – die Tien Gebooie en Christus se beklemtoning van daardie Gebooie. Dit is nodig om in die lig van die waarheid te wandel. God se Woord – die Bybel – is die waarheid (Johannes 17:17). Hou hierdie belofte in gedagte: “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Johannes 1:7). Wat ’n wonderlike voorreg wat God aan ons gegee het!

Kom nederig in gebed voor God, net soos koning Dawid, wie gesê het: “Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou” (Psalm 51:5-6).

U mag bekend wees met die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Die Fariseër was trots op sy godsdienstige rituele. Wat was die gesindheid van die tollenaar? “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: O God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13). Wat het Christus gesê oor die tollenaar se gesindheid? “Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word” (vers 14).

Moenie bang wees nie. God sal u seën as u u sondes in gebed bely. Wanneer u u sondes, bekommernisse en frustrasies met God deel, sal Hy u gemoedsrus gee. U kan dan groei en die weg van ’n oorvloedige en suksesvolle lewe aanleer! Roep uit tot Hom soos koning Dawid gedoen het: “Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees” (Psalm 51:12).

Volg die voorbeeld van die “modelgebed”

Mense verstaan dikwels die “modelgebed” verkeerd – dikwels die “Onse Vader” genoem – in Matthéüs 6 en Lukas 11. Ons Verlosser het ons nie hierdie gebed gegee om woordeliks te herhaal nie. Trouens, Hy gee ons hierdie waarskuwing: “En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word” (Matthéüs 6:7). Christelike gebed is nie die herhaling van ’n frase of vers nie. Die profeet Hosea het die onverskillige benadering van mense betreur wat hy rondom hom gesien het, vir wie gebed ’n gewoonte en roetine was: “Hulle roep nie na My met ’n opregte hart nie” (Hoséa 7:14). Christus wil hê dat ons beter sal doen – om uit die hart uit te bid en die onderwerpe aan te spreek wat Hy in Sy modelgebed beskryf.

Soos vroeër genoem, leer die modelgebed ons om tot ons Vader te bid en om Sy Naam te eer. Ja, dit is nodig om vir ons eie behoeftes te bid en om vergifnis vir onsself asook vir ander mense te vra (Matthéüs 6:11-12). Dit is nodig om te bid vir beskerming teen Satan en sy versoekings. Dit is egter ook nodig om te bid dat God se wil sal geskied en dat Sy Koninkryk op die aarde gevestig sal word. Waarom wil u hê dat God se Koninkryk sal kom? Vandag se wêreld is gevul met oorloë, geweld, armoede en katastrofiese natuurrampe, met inbegrip van aardbewings, tsoenami’s, orkane, tornado’s, oorstromings, droogtes en vulkaniese uitbarstings. Die wêreld van môre – die Koninkryk van God – sal juig met volhoubare landbou, reën in die regte seisoen, welvaart en vrede onder die nasies. Bid dat God se Koninkryk gou sal kom en sien uit na ’n glorieryke wêreld onder die liefdevolle heerskappy van die Koning van die konings en Here van die here – die Vredevors, die Messias – Christus Jesus.

Terwyl ons oor elke onderwerp in die modelgebed bid – in watter opsig dit op ons en ons huidige situasie van toepassing mag wees – bid ons volgens God se wil. Wanneer ons dit doen, behoort ons God se belofte in gedagte te hou: “En dit is die vrymoedigheid wat ons in Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Johannes 5:14).

Bid in Jesus se Naam

Terwyl God ons aan ons sê om vrymoedig voor Sy troon van genade te kom, is dit nodig dat ons verstaan dat ons ’n Groot Hoëpriester aan Sy regterhand het. Deur wie se gesag bid u tot God in die hemel? Let op wat ons Here en Verlosser aan Sy dissipels gesê het. “En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in My naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees” (Johannes 16:23-24).

Jesus Christus is ons groot Hoëpriester wat voorbidding vir ons doen (Hebreërs 7:25). Hy gee aan ons die gesag om tot God in die hemel te bid. Ons bid in Jesus se naam en deur Sy gesag. Aangesien Hy ons daardie gesag gegee het, kan ons met vrymoedigheid bid, soos ons gesien het in Hebreërs 4:16.

Ons kan met vertroue bid omdat Christus ons Hoëpriester en Verlosser is. Hy simpatiseer met ons swakhede. Hy weet hoe dit is om te ly. Hy was in alle opsigte versoek, net soos ons versoek word, maar tog was Hy sonder sonde (Hebreërs 4:15).

Dit is u voorreg!

God wil hê dat u Sy verwekte seun of dogter sal wees. Hy het Sy liefde bewys deur Sy seun te gee om vir u sondes te betaal. “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16).

Geagte lesers, die tyd is besig om min te word, terwyl die wêreld blindelings voortsnel

 na die Groot Verdrukking en Armagéddon. U het God se beskerming, leiding en versekering nodig. Dit is nou die tyd om God met u hele hart te soek. Onthou hierdie kragtige vermaning: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).

God in die hemel nooi u uit om deur die kragtige voorreg van gebed na Hom te kom. Gebruik hierdie sleutels vir beantwoorde gebed en u sal seëninge ervaar soos wat u nog nooit in u lewe ervaar het nie.