A Uachtarain agus a chairde” (President en vriende). Hierdie hartlike woorde van respek is deur Haar Majesteit Koningin Elizabeth II gebruik in ’n toespraak op ’n staatsbanket in Dublin se kasteel tydens haar eerste historiese besoek aan die Republiek van Ierland in Mei 2011. Ierland se president, Mary McAleese, het die uitnodiging om haar land te besoek aan die koningin gerig en was die eerste Ierse leier om dit te doen. Die president was sigbaar verras deur die koningin se woorde en het die woord, “Wow” gefluister toe sy die koningin in Ierland se moedertaal, Gallies [Gaelic] hoor praat.

Die koningin het voortgegaan: “Dit is hartseer en ’n betreurenswaardige werklikheid dat ons eilande deur die geskiedenis heen meer as hulle regmatige deel van hartseer, ontwrigting en verlies ervaar het”.

Waarom het die Engelse en die Iere dikwels ’n stormagtige verhouding gehad? Die rede hiervoor is deels te wyte daaraan dat hulle ’n gemeenskaplike voorouerlike oorsprong het. In werklikheid kan genealoë Elizabeth se afkoms terugspoor, deur die Skotse konings, tot by die Ard-Righ (Hoë Konings) van Ierland. Vir eeue lank het die koninklike huis van Ierland hulle konings in Tara, wes van Drogheda in Co. Meath, op dieselfde klip gekroon waar die Engelse monarge nou in Westminsterabdy gekroon word.

Om vas te stel waarom daar so baie bloedige, broederlike konflikte was, moet ’n mens die aard van die vier belangrikste volke wat die Smarageiland bewoon het verstaan. Laat ons dus sien wie die eerste Ierse setlaars was.

Firbolg en Tuatha de Danaan

“Die rasse wat die land bewoon het met die aankoms van die sogenaamde Milesiane, was hoofsaaklik die Firbolg en die Tuatha de Danaan en hulle is beslis nie deur die seëvierende Milesiane uitgewis nie” (The Story of the Irish Race, Seumas MacManus, bl.1).

Die 3,500-jarige geskiedenis van die Ierse volk is een van die bes bewaarde rekords, aangesien dit van een geslag na die volgende oorgedra is deur die seanachies (barde [sangers] en storievertellers). Die antieke rekords is nie op skrif gestel in boeke wat vernietig kon word nie, maar is in stede daarvan deur die gesproke woord in lang berymde verse oorgedra. Voordat die Vier Meesters, MacFirbis en Keating, die barde se woorde bewaar het in die 17de eeu, het Ierland nie ’n amptelike geskrewe geskiedenis gehad nie.

Die Firbolg het waarskynlik in die middel van die tweede millennium v.C. daar aangekom. Volgens Keating is hulle van die nageslag van Magog, die seun van Jafet (History of IrelandIrish Texts Society, Boek I, bl.139). Sommige geleerdes glo dat hierdie mense moontlik wel geassosieer kan word met die seevarende Fenisiërs wat bekend was daarvoor dat hulle koper, lood, tin en goud in die Britse Eilande gemyn het. Ierse goud is nog steeds ’n gesogte edelmetaal en nuwe goudmyne is onlangs in die graafskappe Tyrone en Wexford geopen.

Die Firbolgs se houvas op die eiland is spoedig uitgedaag deur ’n nuwe indringer, die Tuatha de Danaan. Die woord Tuatha beteken “stam”. Hulle was uit die stam van Dan, die seun van Jakob.

In Rigters 5:17 sing die Israelitiese rigter Deborah (ongeveer die 12de eeu v.C.) ’n lied wat die woorde insluit: “... Dan, waarom vertoef hy by die skepe?” Die Daniete, sowel as hulle bure, die Fenisiërs, was goed bekend as seevaarders en het heen en weer op die Middellandse See en deur die “pilare van Hercules” (Gibraltar) tot in die Atlantiese Oseaan en na Brittanje en Ierland gevaar. Sommige mense beweer dat hulle hulle eerste migrasie vanuit Egipte net voor die uittog uit Egipte (1446 v.C.) onderneem het en dat ’n tweede groep in 1213 v.C. gevolg het.

Teen die middel van die 17de eeu skryf MacFirbis dat “almal wat blonde hare het, groot van gestalte is, lief is vir musiek en perdry en toorkuns beoefen, van die Tuatha de Danaan-stam afkomstig is” (History of Ireland, Thomas Kelly, bl. 25). Moontlik is hulle hedendaagse afstammelinge nie so betrokke by toorkuns nie, maar perderesies is nog steeds ’n passie by die Iere en Ierse musiek is sinoniem met goeie tye en moontlik ’n bietjie Guinness daarby!

Die Milesiane

Die volgende groep immigrante het gedurende die tyd van koning Salomo (ongeveer 1000 v.C.) gearriveer. Salomo se stamboom het Peres, van die halwe stam van Juda, gevolg (sien Genesis 38:28-30). Die ander deel van die stam het na Klein-Asië gereis en bekend geword as die Milesiane (afgelei van die stad Miletus). “Hulle was behep met ’n hoë mate van politieke eenheid, ’n enkele koning sowel as ’n wyse en bestendige buitelandse beleid” (MacManus, bl. 7). Die Milesiane het teen die de Danaans geveg, hulle oorwin en hulle drie konings vermoor. Hulle het gou hulle eie koninklike lyn gevestig en hulle konings by Tara op die Lia Fail of “Stone of Destiny” gekroon.

Die Milesiane het hulle later hoofsaaklik in die noorde gevestig. Hulle konings is die Ard-Righ genoem (“Hoë Konings” wat geheers het oor die mindere konings van die baie Ierse stamme).

Die geskiedenis teken ’n ongelooflike aantal gebruike en wette wat in Ierland deur die Milesiane uitgevaardig is aan en wat sterk ooreenkoms toon met die insettinge en verordeninge wat deur Moses aan die Israeliete gegee is tydens hulle jare in die woestyn (1446 – 1406 v.C.). Hier volg ’n paar:
“Die voorraad geleen van ’n edele ... moes teruggegee word aan die einde van sewe jaar” (MacManus, bl. 293; sien Levitikus 25:1-10).
“Die grootste deel van die stam se grond was vry vir die gebruik van al die mense van die stam” (ibid., bl. 293; sien Levitikus 25:34).
“Die stelsel in Ierland was iets soortgelyk aan die patriargale stelsel van die ooste” (ibid., bl. 294).
“‘Geen persoon’ sê die wet, ‘sal in sy moeilikheid verdruk word nie’”(ibid., bl. 294; sien Levitikus 25:35).
“Hy [die priester of koning] moes sonder fisiese gebrek of misvorming wees” (ibid., bl. 295; Levitikus 21:17-23).

Die Skotte

Ierland is vir eeue lank Scotia genoem. Die naam is afgelei van die Scyths (Skithiërs). MacManus meld: “Hulle (die Gaels) het uit daardie groot ongedefinieerde streek, genaamd Skithië, gekom ... Hulle het na Ierland gekom deur Egipte, Kreta en Spanje” (ibid., bl. 8). Terwyl Niul, die kleinseun van Gael, in Egipte was, is hy met Scota, die Farao se dogter, getroud.

Die naam “Gaul” (Galliër) is afgelei van Gael, die volke wat deur die Grieke Kelte (Keltoi) genoem is. Dit vestig die Iere as een van die groot Keltiese nasies, saam met die Skotte, Corniërs [Cornish], Bretons, Wale [Walloons] (van België) en Wallisers [Welsh]. Trouens, die Franse naam vir Wallis is le Pays de Galles (die land van die Galliërs).DieKeltiese afkoms kan ook nagespoor word na baie van die Switsers, asook die Kelto-Iberiërs in Spanje en die Galasiërs van die Nuwe Testament.

Die Milesiaanse Ard-Righ het die Lia Fail kroningsklip in 478 n.C. met hulle saam geneem na Argyl, Skotland en later na Scone. Die Engelse het dit na Westminsterabdy geneem om die meeste van hulle konings en koninginne daarop te kroon. Baie van die Skotse nasate het tussen 1605 – 1697 in opeenvolgende migrasie-groepe teruggegaan na Ulster, tot ergernis van die de Danaanse suidelike Iere, tot vandag toe.

Die Koningin se verwysing na die “hartseer, ontwrigting en verlies” van die Ierse lyding in die hande van die Engelse heersers, was maar ’n kort en terloopse verwysing na wat vir die suidelike Iere pynlike en bittere herinneringe geword het en wat van geslag tot geslag oorgedra is. Nogtans lyk dit vir baie waarnemers of haar besoek en haar woorde die begin kan wees van ’n heling tussen die broers van Israel.

Sal dit voortgaan? Slegs die tyd sal leer.