In ’n onlangse opname deur die vermaaklikheidsfirma Bowlero is bevind dat die gemiddelde Amerikaner elke jaar 131 dae verveeld is. ’n Studie wat gedoen is in opdrag van die versekeringsmaatskappy Cigna het bevind dat 61 persent van Amerikaners eensaam voel. Kan u u voorstel dat diegene tot in ewigheid so sal voel soos wat hulle nou in die huidige lewe voel?

Dit is duidelik dat indien daar ’n hiernamaals bestaan, dit liewer iets meer sal wees as in hierdie huidige lewe. Hoe kan ons egter weet? Hoe kan ons na al die menings kyk en verstaan waarom ons vir ewig sou wou leef?

 

Sluit aan by die “siel van die wêreld”?

Die idee om by die dood “een te word met die kosmiese essensie” bestaan al duisende jare lank. In antieke tye het sommige mense geglo dat die siele van hulle konings met die dood in die hemelliggame soos die planete, maan en son binnegegaan. “Plutarch het verklaar dat die Egiptiese priesters uitdruklik geleer het dat ‘Cronus, Osiris, Horus en al hulle ander vernaamste gode voorheen mense was, maar dat hulle siele na hulle dood na die een of ander hemelliggaam gemigreer het en die lewende geeste van hulle nuwe hemelse wonings geword het’” (John Garnier, The Worship of the Dead, bl. 14). ’n Toenemende getal Amerikaners is besig om ’n weergawe van hierdie leerstelling aan te neem; ’n Pew Research opname het bevind dat 33 persent van die mense wat ondervra is aan een of ander vorm van reïnkarnasie glo (“‘New Age’ beliefs common among both religious and nonreligious Americans,” 1 Oktober 2018).

Die Bybel beskryf wel dat opgewekte Christene ’n groter eenheid met God sal verkry. Jesus Christus het vir Sy dissipels gebid: “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is” (Johannes 17:22-23). Mense wat geestelike wesens word, sal egter ook verskillende geestelike liggame en persoonlikhede hê; hulle sal nie net deel wees van ’n stom en blinde kosmiese krag nie. Die apostel Paulus verduidelik wat met die liggaam van ’n persoon sal gebeur wat in ’n graf in die grond begrawe is: “’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam” (1 Korinthiërs 15:44).

Die ewige lewe gaan nie net daaroor om te verander na ’n ander energieke toestand nie – dit gaan oor ’n hegte, gehoorsame verhouding met ’n ware, persoonlike God (Johannes 17:3). Wat sal die heiliges egter vir ewig doen?

 

Om vir ewig na glorie te staar?

Is die uiteindelike doel van die ewigheid vir ons om saligheid te verkry deur in die aangesig van God te kyk of vir ewig op wolke te dryf? In 1336 het pous Benedictus XII die Rooms-Katolieke se idee van die hiernamaals beskryf: “Ná so ’n intuïtiewe en aangesig-tot-aangesig-visie en genot vir hierdie siele begin het of sal begin, het dieselfde visie en genot voortgegaan en sal dit voortduur sonder enige onderbreking en sonder einde tot die laaste oordeel en van dan af tot in ewigheid” (“Benedictus Deus: On the Beatific Vision of God,” The Christian Faith in the Doctrinal Documents of the Catholic Church).

Om na die aangesig van God te kyk sal ’n ontsagwekkende en opwindende ervaring wees, soos die apostel Johannes verduidelik: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:2). Om God die Vader op Sy troon te sien en om vir Jesus Christus te sien – wie se gesig soos die son skyn – sal opwindend wees. Sal die heiliges egter eenvoudig onophoudelik na Hulle staar?

Die opstanding van die heiliges moet sekerlik ’n groter doel hê as om net na God te staar of op wolke rond te sit. Wat is daardie doel egter?

 

Is plesier die doel?

Baie mense stel geluk gelyk aan sensuele plesier – goeie kos, pragtige besienswaardighede en seksuele vervulling. Die antieke Iere het geglo dat die goeie mense met die dood na ’n land van ewige jeug reis, waar die son nooit agter die wolke verdwyn nie en waar al die Ierse vroue baie mooi is (Gregg Stebben, Everything You Need to Know About Religion, bl. 16). Die Koran beeld Moslems uit wat die ewige lewe “op trone deurbring wat met goud en edelgesteentes geweef is en agteroor daarop lê, van aangesig tot aangesig. Hulle sal deur onsterflike seuns bedien word, met bekers en kanne en ’n glas van die vloeiende wyn, waarvan hulle nie hoofpyn of bedwelm sal raak nie. Ook vrugte wat hulle kan kies asook vleis van voëls wat hulle verkies. Daar sal Houris (mooi vroue) wees met groot, pragtige oë (as vrouens vir die vromes), net soos bewaarde pêrels. ’n Beloning vir wat hulle gedoen het” (Surah 56:15-24, NobleQuran.com).

Sensuele geluk in die hiernamaals – veral met betrekking tot seks – is lank reeds ’n wyd aanvaarde idee. Die professor in godsdiens, Alan F. Segal, van Barnard College het ’n paar jaar gelede aan die AARP Magazine gesê: “Amerikaners beskou die lewe na die dood as ’n baie dinamiese ding. ’n Mens hoor nie regtig van engele en vlerke wat op wolke sit en melodieë speel nie ... Hulle praat oor humor in die hiernamaals, voortgesette opleiding, verenigde gesinne – soos ’n aftrede sonder finansiële behoeftes ... Baie mense glo dat daar seks in die hiernamaals sal wees en dat dit meer genotvol sal wees”.

Christus het wel gesê dat die primêre taak van opgewekte heiliges op die aarde sal wees, nie in die hemel nie en dat dit opwindend en vervullend sal wees. In die gelykenis van die talente verwys Hy na die Koninkryk as “die vreugde van jou heer” (Matthéüs 25:21). In Matthéüs 5:5 leer Hy ons: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” – nie die hemel nie. Openbaring 21 beskryf ’n “nuwe aarde”, met die “heilige stad” wat op aarde neerdaal om vir ewig die woonplek van God te wees. Na Sy opstanding verskyn Jesus aan Sy dissipels in menslike gedaante en geniet Hy selfs ’n maaltyd van vis en heuning saam met hulle (Lukas 24:42).

Die fisiese skepping om by God te woon sal ’n pragtige en aangename plek vir die opgewekte heiliges wees. Die bevrediging van die sintuie sal nogtans nie die uiteindelike doelwit van die opgewekte Christene op die aarde wees nie. Christus het byvoorbeeld verduidelik dat seksualiteit nie deel sal wees van wat die opgewekte heiliges sal ervaar nie; want “in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel” (Matthéüs 22:30).

Om in die Koninkryk van God te leef – onder God se Wette, deur Sy Gees – sal ’n vreugdevolle ervaring wees, maar geluk op sigself sal nie die uiteindelike doel en oogmerk van die ewige lewe wees nie.

 

Herstel wat verlore geraak het

Om ons geestelike bestemming te verstaan, moet ons die opdrag in herinnering roep wat God gegee het toe mense die eerste keer op die aarde geplaas is. God het aan Adam en Eva heerskappy gegee “oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Génesis 1:26). Aan die menslike gesin is die verantwoordelikheid gegee om te heers oor God se skepping. Op sy beurt moes Adam dit bewerk en bewaak. Hy en sy nageslag moes help in God se skeppingswerk om die aarde te verbeter en te verfraai.

Adam het nie die toets van gehoorsaamheid geslaag nie en Satan die duiwel kon die hele mensdom verlei en mislei (Openbaring 12:9). Deur die werk van die Messias – Jesus se lewe, offer, opstanding en Wederkoms – sal die duiwel uiteindelik omvergewerp word (Openbaring 20:2, 10). Met Christus se Wederkoms sal die toestand van die aarde terugkeer om weer te wees soos die tuin van Eden (Jesaja 51:3).

Wie sal egter deur God gebruik word om die wêreld te herstel? Die opgewekte heiliges. Die Skrif beskryf hulle rol duidelik: “... en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). God gee ook aan Sy heiliges opdrag: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Openbaring 2:25-26).

In die gelykenis van die ponde verduidelik Christus die leierskapsrol wat die opgewekte heiliges sal ontvang as beloning vir hulle getroue diens: “En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:16-17). Die rol van die heiliges sal wees om saam met Christus oor die aarde te heers (Openbaring 3:12, 21).

Wat sal egter gebeur ná die algemene opstanding, nadat die millennium – die geprofeteerde duisendjarige bewind van Jesus Christus, op aarde verby is (Openbaring 20:4, 12)? Wat sal die heiliges doen nadat gehoorsame en bekeerde mense verheerlik is en die onboetvaardiges in ’n poel van vuur tot as verbrand is (Maleági 4:3)?

 

Meer as die aarde

God het die apostel Paulus geïnspireer om oor ons uiteindelike bestemming te skryf: “Want aan die engele het Hy die toekomstige wêreld waarvan ons spreek, nie onderwerp nie; maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel” (Hebreërs 2:5-7). Die opgewekte heiliges sal God nie net help om oor die aarde te heers nie; hulle sal ook die engele “oordeel” – oor hulle regeer (1 Korinthiërs 6:2-3).

Daar is nog meer. Paulus het verder geskryf: “Alle dinge het U onder sy voete gestel” (Hebreërs 2:8). Wat bedoel Paulus met “alle dinge”? Die Griekse woord wat hier gebruik word, ta panta, is allesomvattend, wat beteken “alles, enige, elke, die geheel” (BibleHub.com). Alles sal onder die heerskappy van die opgewekte heiliges geplaas en in Sy Koninkryk bewerkstellig word.

Met ander woorde, alhoewel alle dinge – die ganse heelal – tans nie onder die heerskappy van die mensdom is nie, sal dit wel wees (Hebreërs 2:8). Kan ons dit begryp? Net soos God aan die mens oorspronklik gesag en heerskappy oor die aarde gegee het, is Sy uiteindelike doel dat ons oor die ganse heelal sal heers. Net soos dit bedoel was dat ons die aarde bewerk en verfraai, roep God ons ook om Hom te help om die verlate planete in die uitgestrekte heelal te herontwerp en te “beplant” (Jesaja 51:16).

 

’n Werk wat nie sal eindig nie

Wanneer God die man en vrou geskape het, het Hy hulle “na Sy beeld” geskape (Génesis 1:27). Terwyl die diere volgens die verskillende diersoorte gemaak is, is mense na die Godsoort gemaak. Alle lede van die menslike gesin wat deur God geskep is, word tereg Sy kinders genoem. Deur Sy werking ín ons deur die inwoning van Sy Gees, kan wedergeborenes deel word van God se geestelike gesin. Soos Jesus vir Nikodémus gesê het: “... as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3).

Wanneer vind hierdie “tweede geboorte” plaas? By die opstanding. Jesus Christus het tydens Sy opstanding die “Eersgeborene” uit die dood geword (Kolossense 1:18; Openbaring 1:5; Romeine 8:29). Aangesien Hy die “eerste” is, dui dit daarop dat ander wedergeborenes sal volg. Paulus verduidelik dat Christus “verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode” (Romeine 1:4).

God wil Sy “Gesinsbesigheid”, heerskappy, oor die ganse heelal met Sy kinders deel. Die mens se doel is om in die Gesin van God ingebore te word as die “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” (Romeine 8:17).

Die ewige lewe – die grootste geskenk wat God aan Sy kinders kan skenk – sal ’n groot en ontsagwekkende doel meebring. Dit is nie net vir ’n onbepaalde menslike bestaan nie. Dit is nie bedoel om by die “siel van die wêreld” aan te sluit nie. Dit is nie om sensuele plesier na te jaag of selfs om “hemelse geluk” te verkry nie. As lede van die Goddelike Gesin van God, sal gehoorsame, getroue, opgewekte heiliges vir ewig deelneem aan die werk en opdrag van die Gesin – om vir ewig oor die ganse heelal in vrede en geregtigheid te regeer en dit te verfraai.

Dank God vir ons ontsaglike potensiaal en mag God die dag bespoedig wanneer Sy plan vir elkeen van ons voltooi sal wees.