Die Christenwêreld is selektief oor wat hulle glo wat in die Bybel staan. Die Bybel sê dat “God liefde is” (1 Joh. 4:8) en dat ’n liefdevolle God Sy Seun gestuur het om te sterf vir die sondes van die wêreld (Joh. 3:16). Jesus het geleer dat ons God moet liefhê sowel as ons medemens en vyande (Matt. 5:44; 22:36-40). Vir eeue is hierdie edel leerstellings aangehang, maar nie altyd deur belydende Christene uitgeleef nie.

Dieselfde God het egter Sy profete gestuur om Sy verkose volk en die wêreld te waarsku dat ernstige gevolge sou volg indien Sy opdragte geïgnoreer en Sy wette oortree word (sien Deut. 28). Hierdie belangrike aspek van Bybelse lering was nooit gewild nie. Ongelukkig was die meeste van God se waarskuwings deur Sy profete verontagsaam en miljoene het verskriklike gevolge gedra as gevolg daarvan. Ons moderne wêreld sou wys wees om ag te slaan op die Bybelse profete, aangesien hulle waarskuwings uiteindelik fokus op die einde van hierdie era - die tye waarin ons leef. In der waarheid word God se profetiese waarskuwings vandag steeds gegee!

Sommige kritici hou vol dat die God van die Ou Testament ’n bloeddorstige tiran was, wat genot geput het uit die vernietiging van die wêreld met die vloed; hulle ignoreer die boosheid en korrupsie wat die mensdom aangehang het en sien nie dat God, vir die mens se eie beswil, ’n einde aan sy bose bestaan gebring het nie (Gen. 6:5-13). Voor die vloed het God vir Noag, ’n prediker van geregtigheid gestuur (2 Pet. 2:5) om die wêreld te waarsku van wat sou kom. Noag se waarskuwingsboodskap het ongeveer 100 jaar geduur (Gen. 5:32; 7:6). Dit strook met die optrede van ’n liefdevolle God. Die Bybel sê: “Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). Alhoewel God ’n waarskuwing vir byna ’n eeu uitgestuur het, het slegs Noag en sy gesin (agt mense) gehoor gegee aan God se boodskap. Almal het voortgegaan om hulle eie ding te doen, totdat dit te laat was en hulle in die vloed omgekom het (Matt. 24:36-39).

God het later gekies om met die volk Israel te werk. Hy het die Israeliete geseën en vir hulle Sy wette gegee sodat hulle vir die wêreld ’n voorbeeld kon stel (Deut. 4:1-8). Die rebelse, onafhanklike Israeliete het God egter vergeet, hul het Sy wette oortree en ander gelowe gevolg (Jer. 7:22-26). Uit besorgdheid vir Sy verkose volk het God ’n reeks profete gestuur om hulle te waarsku dat indien hulle nie hulle weë sou verander nie, hulle swaar gestraf sou word, insluitend rampspoedige nederlae en vreemde ballingskap. God se profete is aangesê om: “Roep uit die keel ... verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jes. 58:1).

Instede daarvan om na God se waarskuwings te luister, het die Israeliete God se profete geïgnoreer, gespot, vervolg en selfs vermoor. Daar was aan Jesaja gesê: “Profeteer vir ons nie wat reg is nie [ongemaklike waarhede]; spreek vleitaal vir ons” (Jes. 30:10) en later was hy deur sy eie landgenote middeldeur gesny. Jeremia was gedreig: “Jy mag nie profeteer in die Naam van die HERE nie, anders sal jy sterwe deur ons hand” (Jer. 11:21). Hy was verskeie kere deur sy eie mense in ’n put gegooi (Jer. 37:14-16; 38:6). As gevolg van die oortreding van God se wette en die minagting van Sy profete, het die nasies van Israel en Juda God se beskerming verloor, was hulle verslaan deur hulle vyande en was hulle weggevoer in ballingskap na Assirië en Babilon. Hulle het ’n hoë prys betaal vir hulle verontagsaming van God se waarskuwings.

Wat het dit dan vandag met ons te doen? Baie mense, wat die Here liefhet, besef nie dat een derde van die Bybel profesieë is nie, waarvan baie tweeledig is - wat beteken dat ’n aanvanklike, gedeeltelike vervulling in die verlede plaasgevind het, maar dat die uiteindelike vervulling selfs duisende jare later sal geskied! Baie profesieë het as hooffokus die gebeure rondom Christus se wederkoms aan die einde van hierdie era. Ongeveer 90% van Bybelprofesie het betrekking op die onmiddellike toekoms! Dit is ’n ontnugterende gedagte wat ons aandag behoort te geniet.

Jesus het nie alleen opdrag gegee aan Sy dissipels om die evangelie aan die wêreld te verkondig nie (Mark. 16:15); Hy het ook ’n boodskap gegee vir die “verlore skape” van die huis van Israel (Matt. 10:6) - die afstammelinge van die Israeliete wat in ballingskap weggevoer is na Assirië rondom 721 v.C. Hierdie mense het uiteindelik getrek na Noord-Wes Europa, Brittanje, Amerika en ander gesogte plekke op die aarde waar hulle geseën is deur God, as gevolg van die belofte wat Hy aan hulle voorvader Abraham gemaak het (Gen. 12:1-3). Jesus se dissipels moes aan Israelitiese nasies verduidelik waarom hulle deur God geseën en verkies was en watter gevolge hulle in die gesig sou staar, indien hulle Sy wette en opdragte sou kompromiseer of verwerp. Jesus het ook aan Sy dissipels gesê dat dit nie ’n gewilde boodskap sou wees nie (Matt. 10:16-20).

Baie belydende Christene glo vandag verkeerdelik dat die Ou Testament se profesieë lank gelede vervul is en nie meer van toepassing is nie. Daardie profesieë wat ’n vernietigende effek op moderne Israelitiese nasies sal hê, verskaf lewensbelangrike besonderhede oor wêreldgebeure vandag. Moses het die kinders van Israel gewaarsku en gesê dat “die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom” en dat “die HERE ... teen jou ’n nasie [sal] bring van ver” af (Deut. 31:29; 28:49). Jeremia noem hierdie periode “die tyd van Jakob se benoudheid” en het voorspel “aan die einde van die dae sal julle dit verstaan” (Jer. 30:7,24). Die Bybel verskaf ’n katalogus van sondes (lees ook Jer. 2:5,23; Eseg. 20; Hos. 3; Amos 2; Miga 2:3) waarvoor God ons mense, met die mees verstommende reeks strawwe wat die wêreld nog ooit gesien het, gaan reghelp (Jer. 4:18; 15:17). Jesus het vir Sy dissipels gesê om wêreldgebeure dop te hou sodat hulle sal weet as hierdie dinge begin gebeur (Matt. 24:42-43; Mark. 13:32-37). Daardie dissipels, wat wêreldgebeure dophou en waarsku aangaande die profetiese belangrikheid, sal as wagters vir Israel optree - ’n rol wat God lank gelede voorspel het (Eseg. 3:4; 17; 33:7). God wil hierdie waarskuwingsboodskap aan Sy mense gelewer hê omdat, soos Hy dit gestel het: “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie” (Eseg. 33:11).

Die Kerk van God het hierdie boodskap vir dekades gebring, alhoewel God gesê het dat “die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie ... want die hele huis van Israel het ’n harde voorhoof en ’n ongevoelige hart” (Eseg. 3:7). Omdat ons mense nie sal luister na God se waarskuwings om hulle te bekeer nie, sal God ons trotse nasies straf om ’n kragtige les te leer dat ongehoorsaamheid nie loon nie. God gaan ’n Europese mag gebruik wat gaan herleef uit die Romeinse Ryk - gelei deur ’n groot godsdiensleier en ’n misleidende politieke leier, genaamd “Die Dier” - om hierdie straf toe te dien as gevolg van ons nasionale sondes.

Dit is ontnugterend om ander stemme te hoor wat bewus raak van die gevaarlike weg wat ons nasies inslaan. Dosyne boeke en artikels is die afgelope jare gepubliseer wat die afname in Bybelgebaseerde moraliteit en die toenemende misdaad en geweld, egskeiding, dwelmmisbruik en godsdienstige verwarring wat die Israelitiese nasies teister, dokumenteer. Dieselfde probleme het die ou Griekse en Romeinse Ryke geteister voor hulle val. Die Skrif is aan die muur vir Amerika, Brittanje en ander nasies van Noord-Wes Europese afkoms. Sal ons betyds ag slaan op die waarskuwings of sal ons die foute van ons voorvaders herhaal? Bybelprofesie dui aan dat ons nasies nie sal luister na waarskuwings van God nie, maar u kan individueel ’n ander keuse uitoefen. U kan kies om uit die wêreld te kom en die leringe van u Bybel te volg. Versoek ons gratis boekie, Wat is ’n ware Christen? U kan nie bekostig om hierdie ontnugterende profesieë wat vandag werklikheid word, te ignoreer nie.