Is die Wederkoms van Christus ’n mite of ’n versinnebeelding – of is dit die sleutel om u toekoms te verstaan?


Jesus Christus het Sy volgelinge aangesê om te bid: “... laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheus 6:10). Met al die verskriklike probleme van die samelewing reg rondom ons behoort dit duidelik te wees dat die Koninkryk van God nog nie hier is nie! Daar is egter hoop! Van die een kant van die Bybel tot die ander kant, vertel God se Woord ons dat die letterlike Koninkryk van God aan die einde van hierdie tydvak op die aarde gevestig sal word!

God lei hedendaagse Christene op om voor te berei om deel te wees van daardie regering met Christus aan die hoof. Nogtans lyk dit of miljoene belydende Christene salig onbewus is van hierdie opperste waarheid. Hulle is geleer om slegs maar te “glo” in die persoon van Christus en daarop staat te maak dat hulle “hemel-toe sal gaan” wanneer hulle sterf.

Ontelbare miljoene mense glo dat die Bybel se duidelike stellings aangaande Jesus Christus se letterlike Wederkoms na hierdie aarde slegs te vinde is in ’n paar vae gedeeltes in die Ou Testament, of in onduidelike sinne van die geheimsinnige boek Openbaring. Aangesien hulle verkies om die “maklik-verstaanbare” of “inspirerende” dele uit die Evangelies of moontlik die Psalms te lees, weet hulle dikwels nie – of gee hulle nie om – wat die res van die Bybel regtig verkondig nie. Sodanige mense faal heeltemal om te verstaan dat die boodskap van Christus se Wederkoms en die Koninkryk van God bykans die ganse Bybel deurdrenk nie! Dit is ons hoop. Dit is ’n sleutel tot ons lotsbestemming!

Kyk hoe Jesus vir Petrus die apostel en die ander dissipels bemoedig het. Petrus het uitgeroep na Jesus: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees?” Jesus het hul geantwoord: “Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Mattheus 19:27-28).

Jesus het duidelik van ’n letterlike regering gepraat wat hier op aarde gevestig gaan word! Dit is die rede waarom Hy ons aansê om te bid: “Laat u Koninkryk kom ... op die aarde”.

Teen die einde van Jesus se fisiese lewe het Sy dissipels aan Hom gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheus 24:3). Jesus het aan hulle verskeie “tekens” gegee om voor uit te kyk wat sou aandui dat Sy Wederkoms op hande is. Ten spyte van troumatiese wêreldgebeure wat hierdie tekens vervul, “verstaan” baie miljoene mense dit baie duidelik nog nie. Jesus verduidelik ook: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mattheus 24:37-39).

Christus se Wederkoms voorspel

Die apostel Paulus beskryf Christus se Wederkoms op hierdie wyse: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thessalonicense 4:16-17).

Dit is belangrik om daarop te let dat alhoewel die ware heiliges die neerdalende Christus “in die lug” sal ontmoet – dit die lug van hierdie aarde se atmosfeer is – belowe God nie aan Sy heiliges die ewige lewe “bo in die hemel” nie. Wanneer ons Handelinge 1:11 lees, sien ons dat Christus op dieselfde wyse sal terugkeer na die Olyfberg vanwaar Hy opgevaar het. God se woord is baie spesifiek oor hierdie besondere punt. Die profeet Sagaria was geïnspireer om te skryf: “En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg ...” (Sagaria 14:3-4). Christus sal dus letterlik weer ’n keer op daardie groot heuwel net oos van Jerusalem staan! Wat gebeur daarna?

“En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een” (vers 9). Christus die Koning sal die aarde regeer vanuit Jerusalem, en “al die nasies” (vers 16) sal na Jerusalem gaan tydens Jesus se aardse heerskappy en leer hoe om God se feesdae te onderhou soos Hy ons beveel het. Jesus sal duidelik oor fisiese nasies hier op aarde regeer. Waarom behoort Jesus na die aarde terug te keer? Ons kom tog goed op ons eie reg, of hoe? Die meeste mense is tog relatief welvarend, gesond en gelukkig? Uit die oogpunt van ’n alwetende, liefhebbende God, is dit werklik nodig vir Jesus Christus om weer te kom en oor hierdie aarde te heers as Koning van konings? Natuurlik!

Laat ons nou sewe sleutelredes ondersoek waarom God die lewende Jesus Christus weer na die aarde terug sal stuur – hierdie keer met totale mag en onoortreflike heerlikheid – om die mensdom te red van selfvernietiging en om hulle die korrekte lewenswyse te leer.

Rede 1: Ons vermoë tot kosmiese vernietiging

Reeds in die 1950’s het die wêreld bewus geword daarvan dat die mensdom binnekort hulself sal kan vernietig. President Dwight Eisenhower het gesê: “Die wetenskap skyn gereed te wees om, as laaste geskenk, die mag oor te dra om alle lewe van hierdie planeet uit te wis”.

Daardie tyd het ’n paar jaar later aangebreek. In die afgelope dekades het die wetenskap verskeie maniere ontwikkel om alle menslike lewe te vernietig. Dit sluit in atoom en waterstof wapens, chemiese en biologiese wapens, en sonder twyfel ander soorte wapens wat ontwikkel word terwyl ek hier skryf.

“Skurk-state” soos Noord-Korea, het kernwapen-tegnologie ontwikkel en Islamitiese militante soek maniere om “die bom” te bekom ten einde hulle vernietigende planne uit te voer.

Hetsy deur biologiese, chemiese of kernkrag-metodes, mense beskik nou oor die mag om alle lewe op aarde uit te wis. Terwyl Hy duidelik na ons tyd verwys – net voor Christus se Wederkoms – voorspel Jesus Christus: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:21-22).

Tot en met die laaste paar dekades, was dit vir die mensdom feitlik onmoontlik om hulself uit te wis. Deesdae is dit nie slegs ’n moontlikheid nie, dit is ’n sekerheid, soos Christus aandui – tensy God spoedig kragtig in die mens se sake ingryp. Ter wille van die “uitverkorenes” – ter wille van diegene wat hul werklik oorgegee het aan God en deur die Heilige Gees gelei word – sal God ingryp. Dít is die hoofrede waarom Jesus Christus na die aarde moet terugkeer!

Rede 2: Ongekende droogtes en hongersnode.

Verwysend na die tyd net voor Sy Wederkoms, sê Jesus: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (Mattheus 24:7).

Ontsettende hongersnode het die afgelope paar jaar regoor Afrika en Asië voorgekom. Groot gebiede in Texas en ander dele van die Verenigde State het die afgelope jare ernstige droogtes ervaar, wat herinner aan die “stofkom” jare. Genadiglik is werklike hongersnood en menslike uithongering nog nie dikwels in die Verenigde state of ander ontwikkelde lande ervaar nie, maar volgens Jesus Christus gaan dit alles verander!

Die boek Amos gee aan ons ’n waarskuwing. Terwyl Hy al twaalf stamme van Israel aanspreek en nie slegs “Juda” of die Joodse nasie nie, sê God: “Hoor hierdie woord wat die Here oor julle gespreek het, o kinders van Israel, oor die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, naamlik: Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal Ek by julle besoeking doen oor al julle ongeregtighede” (Amos 3:1-2).

Verder lees ons “... twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here. Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here” (Amos 4:8-9).

’n Tyd van afwisselende droogtes, oorstromings en hongersnood is duidelik voorspel om oor die moderne afstammelinge van antieke Israel te kom – tensy hulle hul bekeer en terugkeer na die ware God, op ’n wyse soos wat hulle nog nooit voorheen gedoen het nie! Die uitwerking van hierdie plae sal verskriklik wees en sal honderde miljoene lewens wêreldwyd verwoes!

Indien u nog nie verstaan hoe hierdie profesieë antieke Israel in verband bring met die Verenigde State en die nasies wat van die Britte afstam nie – sowel as die Joodse staat Israel – skryf asseblief aan ons streekkantoor naaste aan u (gelys op bl. 2 van hierdie tydskrif) en vra u gratis kopie aan van ons kragtige boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid Afrika? U het werklik hierdie boekie nodig om die profesieë wat in die nabye toekoms direk betrekking op die Verenigde State en die volke van Britse afkoms sal hê, te verstaan.

Rede 3: Afgryslike siekte-epidemies

Die Skrif waarsku: “... daar sal hongersnode wees en pessiektes” (Mattheus 24:7). Direk na die afwisselende oorstromings en droogtes wat hongersnood en massa-uithongering meebring, volg daar dus siekte-epidemies van ongekende omvang.

Hoe kan dit moontlik wees in ons moderne, wetenskaplike era?
Die antwoord is eenvoudig. Wanneer daar besoedelde water en besoedelde kos is – inherent tot die profesieë aangaande wêreldwye droogtes en hongersnood – word dit byna altyd gevolg deur siekte-epidemies. Voeg hierby die gevare van siektes soos VIGS en die toenemende gruwels van kwaadaardige bakterieë wat omtrent heeltemal bestand is teen enige soort antibiotiese behandeling, en u het ’n resep vir die onbeheerde verspreiding van verskriklike siekte-epidemies!

Wanneer Hy die straf beskryf wat binnekort oor die Verenigde State, Brittanje, Kanada, en die ander moderne afstammelinge van antieke Israel gaan kom, het God Esegiël geïnspireer om te skryf: “En jy, mensekind, neem vir jou ’n skerp swaard; as skeermes moet jy dit vir jou neem, en laat dit gaan oor jou hoof en oor jou baard; daarna moet jy vir jou ’n weegskaal neem en die hare verdeel: ’n derde deel moet jy binne-in die stad met vuur verbrand as die dae van die beleëring verby is; dan moet jy ’n derde deel neem en met die swaard stukkend kap rondom die stad, en ’n derde deel moet jy in die wind strooi; en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek” (Esegiël 5:1-2).

God verduidelik presies wat dit beteken: “’n Derde deel van jou sal aan die pes sterwe en deur hongersnood in jou omkom; en ’n derde deel sal deur die swaard rondom jou val; en ’n derde deel sal Ek na al die windstreke verstrooi, en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek” (vers 12).

Hierdie eindtydse plae sal die hele wêreld raak, nie slegs Israel nie. Nadat hy die “vier perderuiters” beskryf het wat valse profete, oorloë, hongersnode en verskriklike siekte-epidemies simboliseer, skryf Johannes: “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle [die vier perderuiters] is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde” (Openbaring 6:8). Die meeste geleerdes erken dat Johannes hier nie skryf oor een kwart van die aarde se land en see oppervlakte nie, maar oor een kwart van die bevolking van hierdie aarde teen die eindtyd. Aangesien die aarde se bevolking tans bykans 7 miljard mense is, praat hierdie profesie van die uitwissing van meer as 1.5 miljard mense!

Rede 4: Geweldige aardbewings en weersomwentelings

Dit lyk of daar elke jaar nuwe rekords opgestel word vir weerverwante en geologiese uiterstes. Die wêreld was geskok deur die verskriklike verwoesting wat aangerig is toe die Sumatra-Andaman aardbewing Suidelike Asië in Desember 2004 getref het. Die aardbewing, met ’n omvang van 9.1, en die daaropvolgende vloedgolf, het gelei tot ’n beraamde aantal sterftes van 230,000 en het meer as 1.6 miljoen mense ontwortel.

Bybelse profesieë dui aan dat hoe nader ons aan die einde van hierdie tydvak kom, meer en meer van hierdie rampe sal toeslaan – en hulle sal toenemend die Amerikaanse en ander Brits-afstammende volke tref. Ons onthou nog die verskriklike verwoesting van Orkaan Katrina wat in Augustus 2005 meer as $80 miljard skade veroorsaak het en 1.5 miljoen mense ontwortel het – wat dit die duurste Atlantiese orkaan nóg in aangetekende geskiedenis maak.

In mindere of meerdere mate sien ons toenemend gevalle van “ongure en onbestendige weersomstandighede” op plekke waar ons dit nooit sou verwag nie. Dit mag maklik wees om dit “toeval” te noem – indien u nie die Bybelse profesieë verstaan wat verwys na wat gebeur nie! Nogtans, dié wat verstaan, kan sien dat ons tot dusver slegs maar ’n ligte voorsmakie ondervind het van wat nog moet kom. Terwyl Christus se Wederkoms en die manjifieke tempel wat daardie tyd gebou sal word, beskryf word, sê God: “Want so sê die Here van die leërskare: ’n Rukkie nog, ’n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die Here van die leërskare” (Haggai 2:6-7). Uiteindelik sal al die nasies deur die Almagtige God geskud word met die mees kolossale skudding denkbaar, want Hy sê dat “elke berg en elke eiland” uit hulle plekke versit sal word (Openbaring 6:14).

As gevolg van opstand teen God en Sy fisiese en geestelike wette, sal mense letterlik tot hul sinne geskud moet word. In Sy groot genade, sal God die dae van daardie verskriklike tugtiging verkort sodat Christus mag kom as Koning van die konings om die mensdom te leer hoe om volgens God se fisiese en geestelike wette te leef, voordat die samelewing nog meer verdorwe raak as wat hulle reeds is!

Rede 5: Toenemende terreur

Nie so lank gelede nie het Amerikaners wat bekommerd was oor “terrorisme” oor die algemeen plaaslike ekstremiste gevrees. In die afgelope paar jaar het militante Islam egter honderde miljoene mense saamgesnoer in teenstand teen die Westerse demokrasieë, selfs nou dat die Verenigde State se militêre mag tot die uiterste beproef is in die “oorlog teen terrorisme”. Ons behoort te besef dat dit die uiteindelike doel van baie radikale Moslemleiers is om die wêreld te “verower” in dié sin dat alle mense óf Moslems word, totaal onderworpe aan Moslem-oorheersing, óf uiteindelik uitgewis word!

Kyk wat die historikus Bernard Lewis – ’n professor te Princeton Universiteit en wêreldbekend as een van die top kundiges oor Islam, aan ons sê oor die groeiende Moslem-bedreiging. In sy invloedryke boek, The Crisis of Islam, beskryf Lewis hoe ’n noemenswaardige getal Moslems – veral, maar nie uitsluitlik diegene wat ons fundamentaliste noem nie – vyandiggesind en gevaarlik is, nie omdat ons ’n vyand nodig het nie, maar hulle wel”. Hy verduidelik verder: “Deur die afgelope jare was daar ’n persepsie-verandering en gevolglik van taktiek onder die Moslems. Sommige van hulle sien nog steeds die Weste in die algemeen, en sy huidige leier die Verenigde State in die besonder, as die ou en onversoenbare vyand van Islam. Die een ernstige hindernis vir die herstel van God se geloof en wet tuis en hul uiteindelike universele triomf. Vir daardie mense is die enigste weg oorlog tot die dood toe, in die vervulling van wat hulle sien as die gebooie van hulle geloof” (bl. 28).

Omdat God “elke seun wat Hy liefhet tugtig en kasty”, sal die Almagtige God toelaat dat terroriste groter en groter suksesse behaal in hul aanvalle op die Westerse nasies – in die verwagting dat ons ons weë sal verander en in die wete dat Hy spoedig sal ingryp ten einde ons uit ons rebelse, miserabele weë te skud!

Rede 6: Die mensdom se laaste hoop op vrede het misluk!

In die lente van 1945 het afgevaardigdes in San Francisco vergader om die Verenigde Volke te stig. Hulle het gehoop om die foute wat gelei het tot die val van die Volkere Bond, wat na die Eerste Wêreldoorlog gestig is, te vermy. Toe die vergadering geopen is, het Generaal Jan Smuts van Suid Afrika verklaar: “Indien San Francisco misluk, dan sien ek niks anders as volslae rampspoed voor die mensdom nie”.

Meer as 60 jaar later, sal objektiewe waarnemers moet saamstem: Die mensdom se nalatingskap van “volslae rampspoed” het nog nie geëindig nie. Die Verenigde Volke het gefaal om die slagting in Kambodja te keer, die slagting in Rwanda, die bloedvergieting reg oor Joego-Slawië en die ontelbare ander gevalle van die mensdom se onmenslikheid teenoor die mens.

Meer as 50 jaar gelede het Amerika se Generaal Douglas MacArthur die probleem opgesom in ’n beroemde toespraak voor die Amerikaanse Kongres. Hy het gesê: “Die probleem is basies teologies van aard en behels ’n geestelike herlewing en verbetering van menslike karakter wat sal sinkroniseer met ons bykans onmeetbare vooruitgang in die wetenskap, kuns, letterkunde en alle materiële en kulturele vooruitgang van die laaste twee duisend jaar. Dit moet uit die gees wees as ons die vlees wil red” (The World’s Great Speeches, bl. 596, Dover Uitgewers, 1958).

Die mensdom se ware hoop is te vinde in die woord van God. Die boek Jakobus onthul ’n deel van ons probleem: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:1-3).

Rede 7: Jesus het belowe om terug te keer

Uiteindelik kom dit alles daarop neer of u werklik glo wat die Bybel duidelik sê. Die profeet Sagaria was geïnspireer om te skryf: “En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant ...” (Sagaria 14:3-4). Vers 9 vervolg: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een”.

Na Sy Wederkoms sal Christus oor die nasies op hierdie aarde regeer – nie bo in die hemel nie. Jesus het dit Self duidelik gemaak: “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Mattheus 25:31-34).
Glo u Hom?

’n Wesenlike deel van die “Goeie Nuus”

Die geloof in ’n letterlike duisendjarige heerskappy van Christus op aarde saam met die opgewekte heiliges was in werklikheid deel van die oorspronklike Evangelie – die boodskap wat deur die oorspronklike Apostoliese Kerk gepreek was en vir baie geslagte bewaar is deur God se getroue mense! Dit was egter geleidelik uitgeroei uit die belydende Christendom deur die redenasies en voorstellings van verskeie biskoppe en monnike tydens die Donker Eeue. Selfs die hoogsgerespekteerde sekulêre geskiedskrywer, Edward Gibbon het dit ontdek met sy omvangryke navorsing oor daardie tydperk. In sy toonaangewende werk, The Decline and Fall of the Roman Empire, skryf hy: “Die ou en populêre leerstelling van die Millennium was nou verbonde aan die Wederkoms van Christus. Net soos die werke van die skepping in ses dae voltooi is, sal hul tydsduur, volgens ’n tradisie wat aan die profeet Elia toegeskryf word, vasgestel wees op ses duisend jaar. Volgens dieselfde analogie sal hierdie lang periode van swoeg en twis, wat nou bykans verstreke is, gevolg word deur ’n vreugdevolle Sabbat van ’n duisend jaar; en dat Christus, bygestaan deur ’n groep triomfantlike heiliges en die uitverkorenes wat die dood vrygespring het of wat wonderbaarlik opgewek is, op die aarde sal regeer tot en met die tyd wat aangewys is vir die laaste en algemene opstanding” (The Decline and Fall, of the Roman Empire, Gibbon, Vol. 1, bl. 403).

Nog binne die leeftyd van baie van ons sal hierdie deel van die “Onse Vader” beantwoord word: “... laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheus 6:10).

Jesus het in die eerste persoon gepraat toe Hy belowe het om gou terug te keer: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Openbaring 22:12). Mag God gee dat ons “werke” welgevallig mag wees voor Sy aangesig sodat ons “beloning” werklik vervullend sal wees. Jesus Christus se Wederkoms is binnekort. Ons het sewe redes bespreek waarom Jesus se Wederkoms spoedig moet plaasvind om die mensdom te red – en nie die minste daarvan nie is dat Hy belowe het om dit te doen. Mag God daardie dag verhaas!