Vriendskappe word gebou deur tyd saam te spandeer. Wie is u beste vriend? Hoe kan u ’n hegter verhouding bou?

’n Jaar of meer van koronavirusverwante inperkings het groot druk geplaas op baie vriendskappe. Een skrywer het in The New Yorker geskryf: “Dit was nie maklik om ons hele sosiale lewe ten volle aanlyn uit te leef nie. Terwyl die afgelope maande oneindig moeiliker sou gewees het sonder Zoom, FaceTime en WhatsApp, is dit nie ’n plaasvervanger daarvan om geliefdes in die regte lewe te kan sien nie. Tegnologie wek dikwels die indruk van valse nabyheid wat kan lei tot ’n gebrek daaraan om ’n poging aan te wend om moeite te doen met daaglikse verhoudings” (“Has the pandemic changed our friendships forever?,” 22 April 2021).

Vriendskappe word gebou en in stand gehou deur tyd saam deur te bring – iets wat die pandemie vir baie mense baie moeilik gemaak het. Dink aan hoeveel tyd dit verg om ’n ware vriendskap te ontwikkel. In 2018 het navorsers aan die Universiteit van Kansas bevind dat dit minstens 200 uur neem van tyd saam spandeer voordat mense ’n hegte vriendskap vorm (“How to Make Friends? Study Reveals Time It Takes,” News.ku.edu, 28 Maart 2018). Om die vriendskap dan te onderhou, verg meer tyd saam om ervarings en kwesbaarheid te deel met diegene wat ons geleer het om te vertrou en wie geleer het om ons te vertrou.

Sommige regerings het die uitdagings wat eensaamheid meebring erken en het probeer om hulle burgers te help. ’n Hoofopskrif vroeër in 2021 het ongewone nuus gedeel: “Japan stel ’n ‘Minister vir Eensaamheid’ aan na styging in selfdood gevalle” (The Independent, 25 Februarie 2021). Ja, sommige mense het só depressief geraak tydens die pandemie se inperkings dat hulle hul eie lewe geneem het.

Gereelde lesers van die Wêreld van Môre weet dat die Bybel gevul is met waarhede oor profesie, leerstellings en ons ongelooflike toekoms as kinders van die Skepper-God. Hoeveel van ons besef egter dat die Bybel ook vir ons sleutels gee om vriendskappe te bevorder asook om die probleem van eensaamheid aan te spreek? Het u goeie vriende? ’n Beste vriend? Hoe kan u ’n hegter verhouding met u beste vriend bou?

 

Dawid en Jónatan

Koning Dawid van ouds is voordat hy koning geword het deur die profeet Samuel gesalf om koning Saul op te volg (1 Samuel 16). Baie van u weet van Dawid se oorwinning oor die Filistynse reus Góliat en sy daaropvolgende militêre oorwinnings. Koning Saul het jaloers geraak op Dawid en hom twee keer probeer doodmaak sodat sy eie seun Jónatan die volgende koning kon word. Jónatan het egter Dawid se beste vriend geword en het besluit om Dawid teen koning Saul se woede te beskerm. “So het Jónatan dan ’n verbond gesluit met die huis van Dawid. En die Here het dit geëis van die hand van Dawid se vyande. En Jónatan het Dawid weer laat sweer by sy liefde vir hom; want hy het hom liefgehad met die liefde van sy siel” (1 Samuel 20:16-17).

Hierdie seldsame voorbeeld van getroue en liefdevolle vriendskap was binne die konteks van God se seën. Onthou die merkwaardige stelling in Handelinge 13:22 oor Dawid se karakter: “En nadat Hy [God] hom [koning Saul] afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, ’n man na my hart, wat al my welbehae sal doen” (Handelinge 13:22).

Koning Dawid het tog geweet dat sy hegste verhouding met God was, wat hom geseën en hom deur talle beproewings gedra het. Nadat hy deur sy ou vriend Agitófel verraai is, het Dawid gedink: “Maar ek, ek roep God aan, en die Here sal my verlos. Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem” (Psalm 55:17-18).

My vriende, ek en u het dieselfde hegte verhouding met God nodig. Ons lees: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jakobus 4:8). Jakobus noem ook: Die aartsvader “Abraham het God geglo ... en hy is ’n vriend van God genoem” (Jakobus 2:23). Wie is u beste vriend?

Deur die jare heen het ek baie, baie vriende gehad, maar wie is my beste vriend? God het my geseën met ’n wonderlike vrou en ons is nou al meer as 57 jaar getroud. Wat het ons bymekaar gebring en gehou? Ons het soortgelyke agtergronde gehad wat betref kultuur en opvoeding, maar wat ons vriendskap en ons liefde, verstewig het, was die lewenswyse waarvoor God ons geroep het om te leef. Dit is die lewenswyse waaroor u in die tydskrif Wêreld van Môre gelees het. Ek en my vrou is nie net vriende nie, maar ook ’n gesin en God roep baie mense nie net tot bekering nie, maar tot volle lidmaatskap van Sy Gesin.

 

Bevry uself van eensaamheid

Lesers wat lank reeds die Tomorrow’s World lees, onthou dalk ’n bemoedigende artikel deur ’n skrywer Phil Sena. In ons Maart-April 2010 uitgawe het hy die probleem van eensaamheid ondersoek en maniere voorgestel om die siklus van eensaamheid te help verbreek:

Maak kontak met ander mense. Daar is ander mense wat van dieselfde dinge hou as waarvan u hou of wat dieselfde dinge glo as wat u glo. Alhoewel dit aanvanklik moeilik mag wees, kan u ’n poging aanwend om van daardie mense te ontmoet. Dit sal u lewe verander. Reik uit na mense wat u belangstellings deel en u eensaamheid sal binnekort tot ’n einde kom. Een van die beste maniere om eensaamheid te oorkom, is om te besef dat daar ander eensame mense is en dat u hulle dalk kan help. Is daar iemand in u gemeenskap wat hulp nodig het? Dit hoef nie iets groots te wees nie; dalk net om tyd te neem om na ’n bejaarde wat ingehok is te luister of om ’n niggie of nefie aan te moedig deur saam ’n balspeletjie te speel. Om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak, sal ’n groot verskil in u eie lewe maak (“Bevry uself van eensaamheid”).

Ja, u kan na ander mense uitreik. Bid en vra God om u te help om u naaste lief te hê (Markus 12:31). Dit is die tweede groot Gebod wat God ons gee. Die meeste mense weet van dié “Goue Reël” – maar hoeveel mense beoefen dit as ’n lewenswyse? Jesus het dit so gestel: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete” (Matthéüs 7:12).

Een van die skrywers van Tomorrow’s World, Rod McNair, het ’n nuttige artikel in die Tomorrow’s World tydskrif van Januarie-Februarie 2020 geskryf wat aan ons vyf beginsels gee om eensaamheid te oorkom. U kan die hele artikel aanlyn lees by TomorrowsWorld.org, maar in hierdie kort oorsig deel ek net sy vyfde beginsel: “Spandeer tyd saam met u belangrikste Vriend”. Voor Sy kruisiging het Jesus Christus vir Sy dissipels gesê: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie ... Maar Ek het julle vriende genoem” (Johannes 15:15). Dit is ’n wonderlike verklaring van die Verlosser van die hele mensdom! (“Iemand om mee te praat”.)

Het u u Verlosser se aanbod van vriendskap aanvaar? Indien wel, wat het u in gemeen met u Vriend? Wat doen u om na aan Hom te bly? Let op wat Jesus van Sy vriende gevra het: “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad; bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Johannes 15:9-10). Natuurlik sal u dit nie volmaak doen nie; maar terwyl u probeer, selfs wanneer u die doel mis, sal u volgehoue poging u verhouding met u Vriend en Verlosser opbou en versterk!

Terwyl alle goeie vriende beslis probeer om mekaar te help, het u Vriend – Jesus Christus – iets aangebied wat niemand anders kan bied nie; Hy het u redding en die ewige lewe belowe indien u daardie belofte aanvaar en Hom toelaat om Sy heilige en regverdige lewe in u te leef! Hy het gedoen wat geen ander vriend kon doen nie. Hy het die straf van u sondes betaal deur Sy eie onskuldige bloed te vergiet. Wat ’n wonderlike liefde! Inderdaad, God is liefde (1 Johannes 4:8, 16).

 

’n Paar beginsels van vriendskap

Hoe kan ons ware vriendskap beoefen? Kom ons kyk na die patriarg Job en sy drie vriende. Om Job te toets, het God toegelaat dat Satan hom met groot lyding teister. Let op dat alhoewel Job se vriende hom verkeerd beoordeel het, hulle steeds ’n buitengewone bereidwilligheid getoon het om in Job se lyding te deel. “En hulle het by hom op die grond gaan sit, sewe dae en sewe nagte lank, sonder dat iemand ’n woord met hom gepraat het; want hulle het gesien dat die smart baie groot was” (Job 2:13). Hulle was bereid om vir ’n lang tydperk stil te sit om hulle vriend te ondersteun. Sou u die deernis en geduld vir ’n vriend hê om vir sewe dae in stilte te sit? Dit is ware toewyding. Die boek Spreuke wys ons ook op belangrike beginsels van vriendskap:

  • “Die regverdige laat sy pad vir hom wys deur ’n vriend” [kies sy vriende versigtig] (Spreuke 12:26, NV). Baie mense maak die fout om hulle karakter en beginsels op te offer net om ’n vriend te hê. Indien u ’n getroue vriend is, sal u opstaan vir Goddelike beginsels en dit nooit opoffer nie.
  • “Wie ’n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ’n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar” (Spreuke 17:9). ’n Getroue vriend openbaar nie argeloos iemand se swakhede nie, maar streef daarna om hom of haar te help om ’n karakterfout te oorkom.
  • “Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood” (Spreuke 17:17). Die Nuwe Vertaling stel dit só: “Op ’n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood.”

 

Leer u Vriend ken

Hoe beter ons Jesus Christus leer ken, hoe meer sal ons die waarheid ervaar dat Hy ons beste Vriend is. Natuurlik wil ons meer leer oor ons naaste vriende. U mag dalk verbaas wees om te hoor hoeveel mense ’n skokkende valse beeld van Christus en Sy leerstellings aanvaar het. Selfs die apostel Paulus het dit sien gebeur en het die broeders van Korinthe gewaarsku: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:3-4).

Dit is wel so dat sommige van die broerders in Korinthe ’n valse evangelie aanvaar het wat ’n valse Jesus verkondig het. Hoe kan u seker wees dat u die ware Jesus ken? Onthou die Jesus van u Bybel:

  • Het die weeklikse sewende-dag Sabbat onderhou – nie Sondag nie. Markus 2:28 herinner ons daaraan dat Hy Here van die Sabbat is.
  • Is in die herfs {in die Noordelike Halfrond} gebore, toe die skaapwagters in die oop veld gebly het (Lukas 2:8). U sal dalk u eie navorsing wil doen om vas te stel wie se verjaardag werklik in antieke tye op 25 Desember gevier is.
  • Het ons geleer dat ons die Tien Gebooie moet onderhou. Lees Matthéüs 19:17 en vergelyk dít met wat so baie mense valslik in Christus se naam verkondig.
  • Het die Bybelse Feeste en jaarlikse Heilige dae onderhou. Let op dat Hy volgens Johannes 7 die Huttefees onderhou het. Nie Hy óf Sy dissipels het heidense vakansiedae gevier of dit met bedrieglike “Christelike” name verdoesel nie.

Geagte lesers, ek raai u regtig aan om die Nuwe Testament vanuit ’n vars perspektief te lees. Lees wat Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes oor Hom skryf. Dit is nodig dat u die Bybel bestudeer en die ware Jesus leer ken. U sal Hom baie anders vind as die tradisionele beelde wat regoor die wêreld opgedis word!

 

Wat is u Vriend besig om te doen?

Weet u waar Jesus Christus nou is? Hy is aan die regterhand van Sy Vader se troon in die hemel (Romeine 8:34). Hoe lyk Hy? Die Skrif gee vir ons ’n beskrywing van Sy voorkoms, wat openbaar dat Hy beklee is “met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ’n oond, en sy stem soos die stem van baie waters” (Openbaring 1:13-15). Is u geleer om u Verlosser voor te stel as ’n lang maer persoon met lang hare en met ’n bleek vel? Dit is nie akkuraat nie, aangesien Hy ’n timmerman was wat harde fisiese werk in die stede van Galiléa gedoen het en dit is ook nie akkuraat van die opgestane Christus vandag nie!

Wat is u vriend besig om te doen? Hy is u Voorbidder en Hoëpriester! “terwyl ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Hebreërs 4:14-15). Wat beteken Christus se priesterskap dus vir u? “Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ’n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebreërs 7:24-25). Ja, die ware Jesus van u Bybel leef altyd om vir u en u sondes en probleme in te tree!

Jesus Christus is nie net besig met Sy werk in die Hemel nie, Hy doen ook nou ’n Werk op die aarde, wat die weg voorberei vir Sy Wederkoms! Hy het Sy Kerk opdrag gegee om Sy ware Evangelie te verkondig. “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matthéüs 24:14). Let op dat Christus se Evangelie die goeie nuus is van die toekomstige Koninkryk van God (Markus 1:14-15). Christus sal die Koning wees wat oor daardie Koninkryk regeer! Kan u u voorstel dat enigiemand lojaliteit en liefde vir ’n Koning verkondig, maar Sy Koninkryk teëstaan? Ongelukkig doen baie mense vandag presies dit wanneer hulle hul getrouheid aan Christus bely, maar weier om die Wette van Sy Koninkryk te gehoorsaam!

 

Spandeer tyd saam met u vriend

Ons het vroeër gesien dat vriendskappe, selfs gewone menslike vriendskappe, tyd neem om te ontwikkel en meer tyd neem om te verdiep en in stand gehou te word. Vriende spandeer tyd saam – hetsy persoonlik of via rekenaarskerms tydens ’n pandemie-inperking. Hulle vind maniere om hulle lewens met mekaar te deel. Deel u dus u lewe met u Verlosser en verál met Sy Vader? Hoeveel tyd spandeer u aan gebed? Gebed sal u nader aan God bring wanneer u u bekommernisse en begeertes aan Hom bekend maak, wanneer u Sy vergifnis en genade vra en u Hom dank vir alles wat Hy vir u gedoen het.

U is dalk bekend met dit wat baie mense “die Onse Vader” noem. Ongelukkig herhaal baie belydende Christene net die woorde daarvan soos ’n rympie, sonder om ooit te besef dat Jesus dit as ’n “voorbeeld” gegee het vir ons gebede, nie as ’n rympie wat geleer word soos ’n voordrag nie (Matthéüs 6:9-13). Let op waarteen Jesus die dissipels gewaarsku het voordat Hy aan hulle die modelgebed wat dien as voorbeeld gegee het: “En as julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word” (Matthéüs 6:7). Sommige mense dink hulle is baie vroom en godsdienstig deur dieselfde woorde herhaaldelik te prewel. Dit is nie wat Jesus wil hê nie! Hy wil hê dat ons uit ons harte sal bid, nie om net die woorde van “die Onse Vader” – of enige ander gebed – te herhaal sonder om te dink nie! Let op dat Hy wil hê dat ons tot ons Vader in die Hemel sal bid – net soos Hy gedoen het! Jesus het nie gekom om Sy Vader se plek in te neem nie, maar om Sy Vader aan u en aan my te openbaar (Matthéüs 11:27).

Die meeste van ons, selfs al is ons ’n bietjie skaam, leer om gemaklik te wees om met ’n paar goeie vriende te gesels. Deur dit te besef kan u hierdie soort nabyheid met u Verlosser hê. Moontlik voel u dat u nie weet waaroor om te bid nie. Indien wel, maak net u Bybel oop by die boek Psalms. Dawid het ’n hegte band met sy Here, die ewige God, gehad. Die Psalms van Dawid beskryf sy opregte gevoel vir God so uit sy hart. Hy het sy vrese en sy probleme gedeel en het selfs sy ontsag en verwondering oor die uitgestrektheid van die heelal wat God geskep het, uitgespreek. Kyk veral na Psalms 8, 18, 19 en 24 en u sal deur Dawid se voorbeeld geïnspireer word.

 

Vir altyd saam met u vriend?

Terwyl u bid, onthou om een versoek in te sluit wat Jesus ons gevra het om te bid: “... laat u Koninkryk kom” (Matthéüs 6:10). U Vriend sal binnekort na hierdie aarde terugkeer as die Koning van die konings en Prins van vrede. Hy sal hierdie vleeslike, selfsugtige, strydende wêreld verander en die resultaat sal ’n millennium van vrede en voorspoed wees. Dit is die ware Evangelie – die ware Goeie Nuus. Sal u gereed wees?

Jesus het vir ons gesê: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word” (Markus 16:16). Het u gedoen soos u Vriend gevra het? Indien u by die plek in u lewe gekom het waar u tot bekering gekom het en Christus se offer aangeneem het – Sy gestorte bloed tot vergewing van u sondes en indien u Sy gesag oor u lewe aanvaar het, moedig ek u aan om in aanraking te kom met een van die vele leraars wat deel is van hierdie Werk. Kontak die streekkantoor die naaste aan u, soos dit gelys is op bladsy 2 van hierdie tydskrif.

Wanneer u deel word van God se Kerk, word u ook “seuns en dogters” van die Almagtige (2 Korinthiërs 6:18) en dus nie net vriende van ons Here nie, maar ook broers en susters van Sy baie ander vriende. Hebreërs 2:11 sê vir ons “om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie”. Onthou dat dit God die Vader is na wie “elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efésiërs 3:15).

Deur elke Sabbat saam met mede-lidmate van die liggaam van Christus bymekaar te kom (1 Korinthiërs 12:27), sal u baie mense leer ken wat u belangstellings en veral u liefde vir u Verlosser en Sy Vader deel. U sal die bevrediging hê om te weet dat u deel is van die “eerstelinge” – die klein aantal mense wat God in hierdie tyd roep om die prediking van Sy ware Evangelie te ondersteun en vir die Koninkryk van God voor te berei.

Jesus is “die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Hy is die “opstanding en die lewe” (Johannes 11:25). Ons lees dat “daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Daardie selfde Jesus wil u beste Vriend wees. Sal u reageer op Sy roepstem?