Die Skepper het die paaie van die oseaan tot stand gebring en Hy openbaar ook ons eie motiverings en behoeftes.

Waaraan dink ons wanneer ons sien dat die golwe op die strand breek? Dink ons aan onbeheersde ruwe krag? Hoewel dit skynbaar wild en onbeheersd is, verberg hierdie golwe in werklikheid ’n orde wat in die waters se aflandige beweging gevind word.

Die Skepper het ’n presiese ritme bewerk in die eb en vloed van die oseaan se water op ons planeet. Seestrome is onmiskenbaar georden in konsekwente, direk-gerigte bewegings van massiewe hoeveelhede water – so massief dat die Golfstroom, volgens die Nasionale Oseaan- en Atmosferiese Administrasie, 150 keer soveel water as die Amasone-rivier bevat. Seestrome se ligging, rigting en spoed word beïnvloed deur ’n komplekse wisselwerking tussen die aarde se aswenteling, winde, waterdigtheid of temperature, die getye asook eienskappe van die kus en seebodem. Hierdie “paaie van die see” beïnvloed beweging van andersins onbeweeglike dierspesies, sirkulasies van fitoplankton, migrasies van walvisse en selfs die aarde se weerspatrone (“Ocean Currents,NOAA.gov, Augustus 2011).

Die vader van moderne oseanografie, Matthew Fontaine Maury (1806-1873), was ’n bekende wetenskaplike van sy tyd. Hy was ook ’n bekwame sterrekundige, weerkundige, geoloog en kartograaf asook ’n Bybelstudent. Maury se dogter het in haar biografie oor haar vader geskryf: “Matthew Maury se vader was baie noukeurig wat betref die godsdienstige opleiding van sy gesin ... Hy het hulle saans en soggens bymekaar laat kom om die Psalm vir die dag, vers vir vers hardop te lees. Op hierdie manier het hierdie kaalvoetseun so bekend geraak met die Psalms van Dawid, dat hy ’n vers kon aanhaal asook die hoofstuk en nommer van die vers kon gee, asof hy die Bybel voor hom oop gehad het” (Diana Corbin, A Life of Matthew Fontaine Maury, 1888, bl. 8). ’n Monument wat ter nagedagtenis aan hom in Richmond, Virginia, opgerig is, beeld selfs ’n Bybel langs sy linkerbeen uit. Vandag sou Matthew Maury bestem gewees het om in akademiese en professionele vergetelheid te raak as gevolg van sy aandrang op die geloofwaardigheid van die Skrif. Was hy egter naïef – of was hy wys en insigryk?

 

Kartering van die paaie

Na ’n beenbreuk wat Maury se vlootloopbaan kortgeknip het, het hy 19 jaar lank ou skeepsjoernale en vlootrekords bestudeer en bottels met gewigte aan, op die water laat dryf met die doel om ’n teorie te bewys. Hy het onophoudelik tabelle en kaarte saamgestel en het vermoed dat seestrome die aarde se waters beheer. Wat het as inspirasie vir sy teorie gedien? Dit was die Psalms wat sy vader van sy jeug af in sy hart en verstand ingedril het. Psalm 8:9 vertel van die “voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see.”

Vir sy grafieke en kaarte van enkele seestrome op die see-oppervlak, het Maury eerbewyse en huldeblyke gekry en standbeelde is vir hom opgerig. Die volle kompleksiteit van die wisselwerking van skynbaar oneindige veranderlikes wat die planeet Aarde se weer beїnvloed, bly ’n uitdaging vir vandag se wetenskaplikes. Meteoroloë verwerk baie tera-grepe data, deur van superrekenaars met gesofistikeerde modellering gebruik te maak, maar tog sien ons dat korttermyn-weervoorspellings feitlik daagliks iewers misluk. Langtermyn-weervoorspellings is nog soveel meer onbetroubaar. Met selfs die mees gevorderde rekenaar kan niemand die model wat die Skepper saamgestel en ingespan het volgens Sy bevel, perfek modelleer nie.

Indien ’n Skepper-God duisende jare voor die wetenskaplike ontdekking daarvan, aanduidings van die paaie van die see opgeteken het, wat is nog in die Skrif verberg? Werp dieselfde God wat ons geskep het, lig op ons eie diepgesetelde motiverings en innerlike behoeftes? Daar is al na die Bybel verwys as ’n “lewenskaart”. Sou dieselfde God, die hoofweë van die menslike verstand en hart opteken?

 

Skepping van hoofweë

Die navorser en psigiater aan die Universiteit van Columbia, Norman Doidge, MD., beskryf die navorser, Paul Bach-y-Rita, se gebruik van ’n toestel wat blindes in staat gestel het om te sien. Volgens ’n artikel in die wetenskaplike joernaal, Nature van 1969 het sy werk meegebring dat dit selfs blindgebore mense gehelp het om te sien (“Vision Substitution by Tactile Image Projection”). Bach-y-Rita het ’n groot tandartsstoel, met ’n vibrerende rugleuning en ’n warboel van rekenaars, drade en ’n ateljeekamera gebruik wat saam, meer as 181,43 kilogram geweeg het. Die blinde persoon moes in die stoel ágter die kamera sit. Die seine vanaf die kamera is oorgedra na 400 vibrerende stimulators wat in rye op ’n metaalplaat binne-in die stoel se rugleuning was. Die stimulators wat soos beeldelemente [pixels] gefunksioneer het, het gedien as ’n “tasbare visie-toestel” wat die blinde persone in staat gestel het om voorwerpe soos byvoorbeeld ’n telefoon of blompot te lees en te herken. Op ’n skynbaar wonderbaarlike wyse het al die blinde persone ’n merkwaardige verandering vanaf tasbare sensasies na die “sien” van mense en voorwerpe gerapporteer en het selfs gekoes toe ’n bal na hulle toe gegooi is (Norman Doidge, The Brain That Changes Itself). Alhoewel dit onprakties was, het hierdie toestel ’n beginsel gedemonstreer wat nou as neuroplastisiteit bekend staan – die vermoë van die brein om te herbedraad en sy funksies aan te pas om aan eise om te verander, te voldoen. Sonder groot omslagtigheid het die brein van hierdie blinde persone, tasbare inligting na die visuele areas van die brein herlei. Die brein het nie net ’n ander roete of neurale senuwee-baan vir neurale boodskappe gekarteer nie, maar ook ’n nuwe bestemming daarvoor uitgesoek – iets wat voorheen as onmoontlik beskou was. Sedertdien het neurowetenskaplikes baie ander voorbeelde van neuroplastisiteit aangedui en selfs aangetoon hoe die brein die oppervlak van die serebrale korteks kan aanpas om te vergoed vir beskadigde areas. Dit is selfs toegepas om aan te toon dat misdadige of afwykende seksuele neigings as gevolg van gewoonte gevorm word in plaas daarvan dat dit aangebore is. Soos die neurowetenskaplike Carla Shatz dit saamgevat het: “Neurons that fire together wire together (neurone wat saam vuur is saam bedraad)” (Ter inligting: Dit beteken nuwe stroombane in die brein word gevorm deur herhaling.) (Doidge).

Die eise wat aan u gedagtes en gevoelens gestel word, vorm diepgegroefde hoofweë in u brein en hart. Ons keuses en inderdaad selfs ons gedagtes, het blywende gevolge. Die dinge waaraan ons aandag gee word ingegraveer in die stroombane van ons brein en in die wese van ons harte. Wonderbaarlik het koning Salamo, ’n wyse man uit die verre verlede, dit lank voor Doidge of Bach-y-Rita verstaan. Hy het gesê: “Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou. Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees, wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid” (Spreuke 4:25-27). Die dinge waaraan ons aandag gee, vestig hulleself en word vasgelegde groewe of gewoontes in ons lewe, hetsy ten goede of ten kwade.

Ons kies ons gedagtes, emosies, optredes en uiteindelik ons gewoontes. Kan ons ’n gewenste gevolg kies, sonder om die gepaardgaande hoofweg van die hart wat na daardie resultaat sal lei in ag te neem? Moenie verwag om die gewenste gevolge te kry wanneer jy die verkeerde besluite neem nie.

 

Vertrou die instruksies

As gevolg van Satan se eerste leuen, wantrou mense ons Godgegewe aanwysings om Sy weg te volg. Hy het vir Adam en Eva gesê dat God ons wil indoen (Génesis 3:4-5). In werklikheid voorsien God ons van ’n weg wat lei na vreugde (Psalm 16:11; Johannes 15:11), oorvloedige lewe (Johannes 10:10), vrede (Filippense 4:7) en gesonde verhoudings. Hy pleit by ons om daardie oorvloedige lewe te kies (Deuteronómium 30:15-20; Johannes 10:10) deur keuses te maak wat in ooreenstemming is met Sy leidende Wet van vryheid (Jakobus 1:25; 2:12), die Tien Gebooie (Exodus 20:1-17; Johannes 14:15).

Ons keuses en denke is belangrik. Eerstens word dit in die stroombane van ons brein vasgelê en word dit in die wese van ons harte deurweef. Dan bring dit vaste onveranderlike en blywende gevolge. Die Skepper weet dit goed. Hy het die magdom meganismes liefdevol ontwerp en gemaak wat álles vorm – van die paaie van die see tot by die hoofweë van ons harte. Geen liefdevolle, onbaatsugtige ouer werp ’n kind weg in die wêreld om te sink en te verdrink nie. God, ons liefdevolle Vader, het ons nie ankerloos gelaat om deur die chaotiese golwe van ons eie misleide emosies, gedagtes en optredes, rondgeslinger te word nie.

Maury het 19 jaar lank ou skeeps-joernale bestudeer op soek na die opgetekende paaie van die see en dit alles om ’n paar kaarte saam te stel. Maury het egter baie meer tyd daaraan bestee om die Bybel te ondersoek. Regverdig u hart se handleiding, die Bybel, nie dat u dit bestudeer nie?