In ons wêreld word die wetenskap en die Bybel voortdurend teen mekaar afgespeel en dit is waar dat daar beslis belangrike vrae is wat opgelos moet word. Baie van hierdie sogenaamde “konflikte” is egter illusies; wat voortspruit óf uit wanbegrip van die wetenskaplike gegewens óf uit onvermoë om die waarheid van God se woord te verstaan.

Een voorbeeld hiervan is die ouderdom van die aarde. Moet Christene hulleself distansieer van die huidige teorieë van befaamde geoloë ten einde die aansprake van die Bybel te aanvaar? Presies hoe oud is die aarde werklik?

Ons kan baie duidelik uit die Skrif sien dat die skepping van die plante, diere en die mens – Adam en Eva – ongeveer 6,000 jaar gelede plaasgevind het. Die Bybel gee aan ons genoeg inligting oor die ouderdom van die aartsvaders en hulle afstammelinge om tot hierdie gevolgtrekking, wat moeilik weerlê kan word, te kom. Oor die oorsprong van die mensdom in die Tuin van Eden – byna ses millennia gelede – is God se woord baie duidelik.

Net so duidelik kom byna alle befaamde geoloë wat op soek is na bewyse van ons planeet se ouderdom, tot die gevolgtrekking dat die aarde reeds baie lank bestaan! “Vra vir enige geoloog hoe oud die aarde is”, skryf Amerikaanse geoloog G. Brent Dalrymple, “en die kans is baie goed dat die antwoord baie na aan 4,54 [miljard] jaar sal wees” (The Age of the Earth, bl. 305). Hoewel toekomstige ontdekkings hierdie gevolgtrekking omver kan werp, is 4.5 miljard jaar redelik in ooreenstemming met ander bewyse van die aarde se ouderdom, soos verkry uit meteoriete en stof van die maan.

’n Ouderdom van 6,000 jaar is sekerlik baie ver van 4,540,000,000 af!

Tog het diegene wat die Bybel in hulle lewens beproef het, al geleer om dit te vertrou as die enigste woord van God. Wat  die Bybel dus werklik oor die ouderdom van die aarde? Heel verrassend sê dit baie meer sowel as baie minder as wat baie mense verstaan!

Ses letterlike dae – maar wanneer?

Dit is wonderbaarlik en letterlik waar dat “in ses dae die Here die hemel en die aarde gemaak (het), maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik” (Eksodus 31:17) en dit is ook waar dat hierdie “skeppingsweek” byna 6,000 jaar gelede plaasgevind het, net soos dit in die Skrif aangedui word. Wat baie mense egter miskyk is dat die planeet Aarde en die hemel rondom die aarde alreeds bestaan het voor die begin van daardie week!

Ons lees in die heel eerste vers van die Bybel, voor die gebeure van daardie week: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1). Soos ons sal sien, daardie aanvanklike “begin” van die aarde en die hemele – lank voor Adam en Eva voor die diere en die plante soos ons hulle ken – kon baie lank gelede gewees het!

Let egter noukeurig op na die tweede vers van Genesis, waaraan baie mense nie aandag gee nie en dus as gevolg van sy normale vertaling nie die duidelike betekenis raaksien nie: “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed” (Genesis 1:2). ’n Eenvoudige stelling, maar dit bevat heelwat meer as wat dit op die oog af blyk! Die woorde “woes en leeg” is uit die Hebreeuse woorde tohu en bohu vertaal. Hierdie twee woorde, wat net drie keer saam in die Skrif gebruik word, dui op ’n onbewoonbare woesteny – ’n toestand van verlatenheid of verwoesting. Dit is betekenisvol om daarop te let dat in die ander twee gedeeltes waar tohu en bohu saam gebruik word – Jesaja 34:11 en Jeremia 4:23 – daar aangedui word dat so ’n toestand van puin en verwoesting deur sonde teweeggebring is.

Boonop wys geleerdes daarop dat die Hebreeuse hayah – vertaal as “was” in Genesis 1:2 – elders die idee kan oordra van “geword het”. Later in Genesis, in die gedeelte wat die vernietiging van Sodom en Gomorra beskryf, lees ons Lot se vrou “het ’n soutpilaar geword [hayah]” (Genesis 19:26). Lot het sekerlik nie met ’n soutpilaar getrou nie, sy was nie altyd so nie! Net so kan Genesis 1:2 meer gepas, letterlik vertaal word as die aarde het ’n onherbergsame woesteny geword – die Hebreeus impliseer nie dat die aarde in daardie toestand geskep was nie!

Geskep in skoonheid, nie in chaos nie

Deur al hierdie feite bymekaar te voeg, verstaan ons dat God die hemele en die aarde as heeltemal ordelik en mooi geskape het, maar dat dit deur verskeie sondige handelinge woes en leeg – in puin en onbewoonbaar – geword het, met ’n behoefte aan hernuwing (vgl. Psalm 104:30), nog voordat die mens geskape is! Genesis 1:1-2 kan inderdaad akkuraat vertaal word as: “In die begin het God die hemele en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, nadat dit in puin gelê en onbewoonbar gemaak was, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.”

Beskryf die Bybel dus enige sonde of opstand teen God voor die skepping van Adam, wat so ’n chaos en verval kon meebring? Ja, dit word wel beskryf! Die Skrif vertel aan ons wat Satan gedoen het voordat hy vir Eva in die tuin van Eden ontmoet en haar verlei het om teen God te sondig (Genesis 3:1-5). God se Woord maak dit duidelik dat engele bestaan het voordat die aarde bestaan het en dat hulle gejubel het toe hulle sien die aarde se fondament word gelê (Job 38:6-7)! Lucifer – wat Satan die duiwel geword het – het in daardie tyd bestaan. Die Skrif beskryf aan ons dat hierdie korrupte, sondige wese die trotse engele tot ’n opstand gelei het (Esegiël 28:12-16; Jesaja 14:12-14) – ’n opstand wat volgens die Skrif een derde van die engele meegesleep het (Openbaring 12:4). Jesaja 14:14 beskryf hierdie trotse wese se begeerte om te “klim bo die hoogtes van die wolke” om God se einste troon vir homself op te eis – wat impliseer dat die verantwoordelikhede wat aan hom toegewys is onder die wolke was en dus op die aarde! Lucifer het die vrye keuse gehad om óf aan God gehoorsaam te wees, óf om ongehoorsaam te wees – deur te weier om God se opdrag uit te voer, het hy Satan geword – ’n teëstander van God.

Soos die gevolge van sonde maar altyd is, het Satan se opstand vernietiging en ondergang meegebring – in hierdie geval die verwoesting van die aarde wat onder sy beheer was en wat hy moes voorberei vir God se plan. Dit is hierdie chaotiese en vervalle verwoesting, tohu en bohu, wat ons weerspieël sien in die woorde van Genesis 1:2 en dit is die wonderbaarlike sesdaagse herstel van hierdie planeet – tot ’n toestand van prag en wonder geskik vir God se skepping van die mensdom – wat ons in die res van Genesis se eerste hoofstuk sien!

Soos ons dus kan sien, is daar genoeg bewyse in die woorde van die Skrif om die baie antieke ouderdom van die planeet Aarde te erken. Die Bybel se duidelike beskrywing van die skepping van die mens, byna 6,000 jaar gelede, is nie teenstrydig met die Bybel se beskrywing van die engele se aktiwiteite lank voor wat in Genesis 1:2 gebeur het nie – ’n handeling van lank gelede, toe die wêreld nog vir God se doeleindes aan Lucifer en sy engele toevertrou was, vóór die skepping van die mensdom.

Presies hoe lank gelede het dit alles gebeur? Hoe lank het Satan se opstand geduur? Het die dinosourusse gedurende daardie tyd bestaan? Was dit miljarde jare gelede – baie na aan die wetenskaplikes se skatting van ’n 4,5 miljard jaaroue aarde? Of was dit vroeër of later? Die Bybel swyg oor hierdie besonderhede. Daar is egter geen teenstrydigheid tussen die woorde van die Skrif en die algemene wetenskaplike opvatting dat die aarde ’n baie ou planeet is nie.

Die wetenskap onthul werklik baie verborgenhede wat nog opgelos moet word. Ons behoort egter nooit toe te laat dat die veranderende bevindings van die wetenskap – wat soms totaal met die volgende ontdekking verskil – veroorsaak dat ons twyfel oor wat die onveranderlike God in Sy woord sê nie! Die bewyse wat ons uit die geskiedenis en die wetenskap kry wanneer dit reg verstaan word, sal altyd ooreenstem met die woord van God. Soos Jesus Christus verklaar: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17)!