Die meeste mense glo enigiets wat deur hulle familie aan hulle geleer is terwyl hulle grootgeword het. Hoe kan u regtig aan uself bewys wat u behoort te glo? Behoort u net verskeie artikels of boeke oor godsdiens te lees en dan u besluit te neem of behoort u na die absolute ware bron – die Bybel – te gaan?

Indien u gewillig is, kan u aan uself bewys dat die Bybel absoluut deur God geïnspireer is en duidelik aan u vertel wat u behoort te glo! Jesus Christus het gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Alle gesaghebbendes is dit eens dat Hy duidelik na die geïnspireerde Bybel verwys het – die boek wat al hoe meer mense nie ken nie!

Indien u die moeite doen om die Bybel werklik oor verskeie onderwerpe te bestudeer, soos byvoorbeeld om “hemel toe te gaan”, sal u dikwels vind dat die Bybel presies die teenoorgestelde sê van wat die meeste mense glo! Jesus het gesê: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Die apostel Petrus het dit ook baie duidelik gestel dat God na koning Dawid verwys het as “’n man na my hart”. (Handelinge 13:22) – nie na die hemel gegaan het toe hy gesterf het nie, maar dat hy eerder “gesterf het en ook begrawe is” (Handelinge 2:29)! Die Bybel vertel herhaaldelik aan ons dat die ware volgelinge van Christus konings en priesters sal word – om Christus by te staan om eendag op hierdie aarde te heers (Openbaring 5:9-10), nie in die hemel nie.

Indien u die gewone Protestantse predikant sou vra of u veronderstel is om “die Tien Gebooie te onderhou”, sal hy u dikwels antwoord: “Nee, want die Tien Gebooie is aan die kruis vasgespyker en Christene het nie vandag nodig om dit te onderhou nie”. Tog het Jesus Christus herhaaldelik aan ons gesê dat ons elkeen van die Tien Gebooie moet gehoorsaam. Jesus verklaar nadruklik: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Matthéüs 5:17-19). ’n Rukkie later het Hy begin om ’n paar van die Tien Gebooie soos moord en egbreek op te noem om aan te toon van watter gebooie Hy gepraat het.

Die “geleerde” Protestantse kenners gebruik dikwels ’n slim manier om te probeer “wegdoen” met Christus se duidelike leerstelling oor God se Gebooie, deur te sê dit was omdat Christus “volgens Judaïsme” onderrig het en dus is al hierdie dinge nie vandag nodig nie. Wat het Christus egter hieroor te sê?

Christus is altyd dieselfde

Jesus het naby aan die einde van Sy menslike lewe aan Sy Apostels gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matthéüs 28:19-20).

Derhalwe, selfs Sy opstanding uit die dood en nadat alles wat nodig was aan die kruis vasgespyker was, het Christus Sy Apostels uitdruklik beveel om in die toekoms presies dieselfde dinge wat Hy hulle onderrig het, aan die mense te leer! Hoe kan mens dit enigsins “verdraai”? Tog is dit presies wat baie Bybel-ongeletterde Protestantse predikante op die ou einde doen!

Daarom my Vriende, behoort u te leer om die boek wat ons die Bybel noem – die geïnspireerde Woord van God – werklik te bestudeer. U behoort gereed en bereid te wees om te doen wat die Bybel werklik sê. Dan en slegs dan, sal u “ware godsdiens” verstaan en gewillig wees om te doen wat die Almagtige God ware Christene beveel om te doen!

Die Almagtige God het die skrywer van Hebreërs geïnspireer om aan ons te vertel: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Dus verander die Christus van die Bybel nie. Hy maak nie ewe skielik allerhande soorte “nuwe” en teenstrydige idees oor die huwelik, seks, moord, ens. bekend nie. Indien u gewillig is om te verstaan dat die Christus van die Bybel regdeur die hele Ou Testament die Een is wat van ewigheid af saam met God bestaan as die “Woord”, die Logos en die Woordvoerder vir God. Soos God die apostel Paulus geïnspireer het om aan ons in 1 Korinthiërs 10:3-4 te vertel, het die Israeliete “almal dieselfde geestelike spys geëet ... en almal dieselfde geestelike drank gedrink ... want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.” Soos baie Skrifture aandui, was Christus die God van antieke Israel! Dit was Christus wat die Tien Gebooie gegee het! Dit was Christus wat die sewendedag Sabbat ingestel het! Dit was Christus wat die jaarlikse Heilige feesdae ingestel het wat God beveel het alle Christene moet onderhou, soos die Pasga, Pinkster en die Huttefees! Trouens, die Almagtige God maak dit in profesie baie duidelik dat Christus al die nasies geweldig sal straf in die toekomstige Millennium indien hulle sou weier om die Huttefees te onderhou (Sagaria 14:16-19)!

Nou toe nou!

Waarom het u nog nooit gehoor dat hierdie dinge in die “hoofstroom kerke” gepreek word nie? Die Bybel maak dit trouens ook baie duidelik dat Satan die “god” van hierdie huidige wêreld is – hierdie huidige menslike samelewing (2 Korinthiërs 4:3-4). Die apostel Paulus verduidelik dat die duiwel “die owerste van die mag van die lug” is (Efésiërs 2:2), wat beteken dat hy effektief in beheer van die media is! Hy verblind die denke van baie mense deur die konstante bombardering van verkeerde inligting wat deur ons media uitgedra word om mense, veral ons jeug, te verwar oor wat reg of verkeerd is, oor die werklike aard van die mens en oor ware godsdiens! Dus, indien u regtig wil verstaan hoe om die Skepper werklik te aanbid en hoe om te leef om die ewige lewe te verkry, behoort u die Bybel eerder op só ’n manier te bestudeer soos u nog nooit tevore gedoen het nie!

Ware hulp vir werklike begrip!

Ons wat hierdie Werk van die lewende Christus doen is hier om u te help. Ek wil u in opregte liefde en spontane besorgdheid aanmoedig om die uiters nuttige korrespondensiekursus aan te vra wat ons aan diegene beskikbaar stel wat werklik bereid is om die Bybel te bestudeer. Ons het ook twee insiggewende boekies om u te help, indien u werklik wil verstaan. Die eerste boekie met die titel: Hervestig die oorspronklike Christenskap, sal u oë open oor wat met die oorspronklike Christenskap van Jesus gebeur het en hoe dit heeltemal vernietig en verdraaid geraak het tydens die “Donker Eeue” van hierdie wêreld se godsdienstige ontwikkeling. Ons insiggewende boekie met die titel Die Bybel: Feit of Fiksie? sal u ook werklik tot hulp wees om te bewys dat dit wat ons die Bybel noem, in werklikheid die openbaring van God aan die mensdom is. Albei hierdie boekies en die Wêreld van Môre-Bybelstudiekursus sal op u versoek absoluut gratis aan u gestuur word.

Indien u egter werklik begeer om vir ewig in die toekomstige Koninkryk van God te leef wanneer Christus weer as Koning van die konings kom, het u ook u deel om te doen! Wees dus bereid om daadwerklik op te tree en aan u Skepper te toon dat u regtig “die Waarheid” wil vind indien dit iewers is. Op een of ander wyse het God u by die plek gebring waar dit werklik geopenbaar word – soos u vir uself kan bewys indien u gewillig is! Stuur dus u versoek vir hierdie absoluut gratis materiaal aan en leer om die Bybel werklik te bestudeer en slaan al die skrifgedeeltes met ’n oop gemoed na oor enige gegewe onderwerp. Wees dan gewillig om “met God te wandel” en laat die ware Christus van die Bybel u lewe lei en Sy lewe in u leef deur die Heilige Gees (Galasiërs 2:20).