Die wegraping sal nooit gebeur nie – u kan dit bewys met niks anders as die onweerlegbare bewys van die Bybel.
’n Groot deel van die belydende “Christendom” is behep met ’n mite – ’n mite wat hulle begrip van die eindtyd vertroebel, baie ander leerstellige waarhede van die Bybel versluier en ’n verraderlike valse hoop verskaf wat betref die Groot Verdrukking en die dae voor die Wederkoms van Jesus Christus. Dit is ’n mite wat baie algemeen geglo word. Ek het na verskeie stede gereis en Tomorrow’s World aanbiedings gegee in verband met die Evangelie van die Koninkryk van God en wat om te verwag voor Christus se Wederkoms. Sommige van die mees algemene vrae wat aan my gevra is, het rondom hierdie mite gegaan.
Dit is hoog tyd om ’n einde aan die mite van die wegraping te maak. In hierdie artikel sal ons die mite, direk vanuit die bladsye van die Bybel, ontmasker.
Indien ek ’n dollar gehad het vir elke vraag wat ek oor die wegraping gevra is, sou ek dalk hierdie artikel in die gemak van ’n limousine kon skryf. Wanneer kom dit? Is dit voor die Groot Verdrukking? Is dit gedurende die Verdrukking? Is dit daarna?
Die kern van die meeste van hierdie vrae is egter ’n méér fundamentele een wat ek ongelukkig nie naastenby so gereeld gevra is nie: Is die algemene geloof in die wegraping werklik Bybels?
Sonder om die uiteindelike slotsom te verklap, is die kort antwoord: Nee, dit is nie. Indien u egter in die versoeking sou wees om nou op te hou lees, moet nog nie ophou nie! Gee ons die geleentheid om dit uit die bladsye van u eie Bybel te bewys.
Wat is die wegraping-mite?
Ons behoort te begin deur so duidelik as moontlik te wees. Voordat ons dit wat die Bybel oor die “wegraping” sê, moet ons eers definieer wat ons eintlik met daardie woord bedoel, – aangesien die woord wegraping gebruik word om na baie verskillende faktore te verwys.
Die meeste mense gebruik die woord om hulle geloof aan te dui dat – voordat Jesus Christus terugkeer om die wêreld te regeer en voor die tyd van teëspoed en lyding bekend as die Groot Verdrukking – Christene regoor die planeet in die niet “weggeraap” sal word en na die hemel geneem sal word. Diegene wat nie Christene is nie, sal volgens hierdie geloof, geskok wees om te sien dat baie mense skielik sonder verduideliking verdwyn het; vliegtuie sal na die aarde tuimel wanneer hulle Christelike vlieëniers verdwyn en nie-Christelike mans of vrouens sal wanhopig wonder waarheen hulle Christen-eggenotes verdwyn het. Veronderstel dat die hele wêreld soek na die massa-verdwyning, die Groot Verdrukking ’n aanvang neem op diegene wat “agtergebly het”, soos die reeks boeke deur Tim LaHaye en Jerry Jenkins dit beskryf het. Dan, drie of sewe jaar later – afhangende van wie dit verduidelik – is die veronderstelling dat Jesus Christus Sy Heerskappy op planeet Aarde sal begin.
Hierdie idee van die wegraping wat beskou word as ’n geheimsinnige gebeurtenis wat Christene van die aarde af wegraap, word dikwels geassosieer met die woorde van die apostel Paulus wat vir ons sê dat “die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thessalonicense 4:16-17).
Hierdie is ’n belangrike gedeelte vir diegene wat in die wegraping glo, want in die Latynse Vulgaat-vertaling van vers 17, is die woord wat vertaal is as ons sal “in wolke weggevoer word”, rapiemur, afgelei van rapere. Vandaar dus die “wegraping”.
Paulus beskryf egter hier waaraan baie mense dink as “die wegraping” of praat hy oor iets heeltemal anders?
God wil hê dat ons Sy Woord sorgvuldig lees en die besonderhede bymekaar voeg om die volledigste prentjie moontlik te kry – om dít te doen, verg ywer. Paulus het vir sy bekende student, die evangelis Timótheüs, gesê: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Timótheüs 2:15).
Die profeet Jesaja het dieselfde gevra: “Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie” (Jesaja 28:9-10).
Laat ons doen wat God verwag – deur “die woord van die waarheid reg [te] sny” (2 Timótheüs 2:15) en voeg die hele Woord van God saam om ons te help om die waarheid oor die wegraping-teorie in te sien en om werklik te verstaan wat om gedurende die eindtyd te wagte te wees.
Aangesien idees so verskil in besonderhede wat betref die wegraping en wat dit werklik beteken, sal ons fokus op Bybelse gedeeltes wat ons kan help om die mees algemene elemente te verduidelik, wat sentraal is in die meeste mense se geloof met betrekking tot die wegraping. Hou dus hierdie drie belangrike vrae in gedagte terwyl u verder lees:
• Sal Christene regoor die wêreld skielik verdwyn sonder enige verduideliking?
• Sal Christene jare voor Jesus se Wederkoms in die lug opgeneem word?
• Sal Christene die Groot Verdrukking in die hemel deurbring?
Of die wegraping feit of fiksie is, hang af van die antwoorde op hierdie vrae. Indien ons kyk na wat die Bybel werklik sê sal gebeur met ware Christene tydens die Wederkoms van Jesus Christus, sal ons sien dat elkeen van hierdie vrae duidelik en eenvoudig in God se Woord beantwoord word. Wanneer ons dit doen, sal ons sien dat die gewilde idee van die wegraping niks meer as ’n populêre mite is nie.
Opstanding, nie “wegraping”
Word daar dus in die Bybel onderrig dat jare voordat Jesus in sigbare heerlikheid terugkeer om die aarde te regeer, Christene regoor die wêreld sal verdwyn en in die geheim in die hemel opgeneem sal word voor die tyd van wêreldse gruwels wat bekend staan as die Groot Verdrukking?
Nee, dit is nie. Ons kan dit begin besef wanneer ons teruggaan na 1 Thessalonicense 4, waar ons lees:
“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thessalonicense 4:13-17).
Te veel mense is so “in vervoering” (woordspeling bedoel) wanneer die wegraping in hierdie gedeelte gesien word dat hulle sleutelelemente oorslaan wat bewys dat Paulus nie oor hulle idee van ’n wegraping praat nie.
Paulus verwys byvoorbeeld na die tyd van die opstanding van die mense wat in Christus gesterf het – diegene wat hy beskryf as “die ontslapenes” en sê: “... en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” Hy sê ook dat “die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God”.
Lyk dit regtig na ’n stil, geheimsinnige verdwyning? Nee, glad nie. Dit lyk altans baie meer soos ’n triomfantlike gebeurtenis wat vir die wêreld die terugkerende Christus aangekondig.
Persoonlike menings oor hierdie onderwerp is egter nie ter sake nie – nie ons s’n nie en ook nie u s’n nie. In plaas daarvan om tot ’n slotsom te kom, laat ons kyk hoe die Bybel hierdie gebeurtenis elders beskryf – soos ons vroeër gelees het, “gebod op gebod … reël op reël … hier ’n bietjie, daar ’n bietjie (Jesaja 28:10).
Die apostel Paulus beskryf byvoorbeeld, presies dieselfde gebeurtenis in ’n ander gedeelte:
“Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Korinthiërs 15:50-53).
Ons behoort ’n paar belangrike besonderhede in hierdie gedeelte raak te sien: Nie net word die dooies in onverganklike heerlikheid opgewek nie, maar die wat gedurende daardie tyd leef, sal ook verander word, net soos ons in 1 Thessalonicense gesien het.
Sal dit egter stilweg gedoen word? Nie volgens die Bybel nie – weereens, net soos ons vroeër gesien het, sal dit gebeur met die geluid van ’n magtige basuin: “... in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:52).
Lees dit asseblief weer aandagtig deur: Dit sal nie net met enige basuin gebeur nie, maar by die laaste basuin. Dit impliseer dat daar opeenvolgende trompette sal wees met die opstanding en verheerliking van die heiliges wat by die laaste van daardie basuine sal plaasvind.
Dit laat ons met ’n vraag: Is daar enige Skrifgedeelte waar opeenvolgende trompette gedurende die eindtyd beskryf word? Indien daar is, dan het ons nou net die tyd van hierdie opstanding en transformasie van getroue Christene geïdentifiseer.
Die antwoord is dus: Ja. Inderdaad, die Bybel beskryf wel opeenvolgende trompette. Ons hoef nie daaroor te raai, te bespiegel, te spekuleer of daaroor te debatteer nie, want die Bybel maak dit duidelik. Sodoende openbaar dit duidelike antwoorde op ons drie oorspronklike vrae.
Die werklike volgorde van gebeure voor Christus se Wederkoms
In die boek Openbaring word ’n spesifieke volgorde van gebeure geopenbaar wat lei tot Jesus Christus se Wederkoms en die aanvang van die Koninkryk van God. Openbaring 6 dui die sewe profetiese seëls van Openbaring aan, wat die apostel Johannes in ’n visioen sien wat deur Jesus Christus een-vir-een oopgemaak word om die gebeure van die eindtyd wat voorlê, te openbaar. Die eerste vier seëls verteenwoordig die vier perderuiters van die Apokalips, wat wêreldwye godsdienstige misleiding, oorlogvoering, hongersnood en siektes simboliseer. In vers 8 staan daar dat “aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”
Die profetiese reeks gebeure gaan voort met die vyfde seël, wat ’n marteling van baie ware Christene beskryf. In Matthéüs 24:21 beskryf Jesus hierdie tyd en sê: “... dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.” Dit is ’n tyd so verskriklik dat geen tyd vóór of daarná ooit daarmee vergelyk sal kan word nie.
Na twee-en-’n-half jaar van hierdie verdrukking, sal die sesde seël oopgemaak word en die hemelse tekens sal plaasvind: ’n Groot aardbewing, die son wat verduister word, die maan wat so rooi soos bloed word, die sterre wat van die hemel val en elke berg en eiland op aarde word geskud. Hierdie gebeurtenisse kondig aan dat God op die punt staan om persoonlik in wêreldsake in te gryp. Daardie tyd word deur die profeet Jesaja beskryf as “’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion” (Jesaja 34:8).
Hierdie jaar-lange dag van die Here sal begin wanneer die sewende seël van Openbaring oopgemaak word. Ons lees hiervan in Openbaring 8:1-2: “En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee.”
Ons kan in Openbaring met hierdie inligting sien waar opeenvolgende trompette in eindtydgebeure voorkom – presies wat Paulus se beskrywing vir ons gesê het om te verwag. Na die ritte van die vier ruiters in die eindtyd, die Groot Verdrukking en die hemelse tekens, kom ons by die reeks trompette waarvan die apostel Paulus geskryf het.
Die eerste ses trompette se geskal sal verwoestend wees. ’n Derde van die aarde se plantegroei sal verbrand word, ’n derde van die see sal in bloed verander, ’n derde van skepe en seelewe sal vernietig word, ’n derde van die planeet se water sal bitter word en ’n derde van die son, maan en sterre sal ophou skyn. Daarna, in die mees vernietigende militêre veldslag in die geskiedenis, word ’n derde van die mensdom uitgewis. Die Skrif noem die dag van die Here “groot en uitermate” (Joël 2:11) – en dit word met ’n rede gedoen. Hierdie jaar-lange reeks katastrofiese gebeure sal God se toorn verteenwoordig wat op die onboetvaardige mensdom ontketen word. (Sien ons artikel elders in hierdie uitgawe oor hoe om te ontsnap van Armagéddon.)
Hierdie verskrikkings is egter net die eerste ses van sewe trompette. Die sewende en laaste basuin word beskryf in Openbaring 11:15: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”
Paulus skryf dat met hierdie sewende basuin, wat die gesag van die Koninkryk van God regoor die wêreld verklaar, die opstanding sal plaasvind. Dit is dán wanneer getroue Christene uit die verlede en die hede versamel en met onsterflikheid verheerlik sal word en Christus in die lug sal ontmoet. Sodra hulle as onsterflike geestelike wesens uit die dood opgewek is, sal hulle Sy bruid word en dan sal hulle by Hom aansluit om Sy vyande te oorwin en om die heerskappy van God se Koninkryk in te huldig.
Wat bewys al hierdie dinge? Dat daar géén geheime “verdwyning” sal wees nie. Jesus Christus het trouens hierdie oomblik persóónlik aan Sy dissipels beskryf om die openbare aard van hierdie gebeurtenis so duidelik soos daglig te maak. U kan dit self lees in die bekende profetiese toespraak wat Christus op die Olyfberg gegee het:
“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan” (Matthéüs 24:29-31).
Ons kan sekerlik sien dat hierdie gedeeltes nie in afsondering van mekaar beskou behoort te word nie. Die beskrywings van eindtydgebeure is bestendig en in perfekte volgorde: Die Groot Verdrukking, die hemelse tekens, die sewe basuine, Christus se Wederkoms na die aarde met die laaste basuin en die opstanding, byeenkoms en verheerliking van ware Christene wanneer die Koninkryk van God sy pragtige en genesende heerskappy begin.
Waar sal daardie heerskappy begin? Nie in die hemel nie. Inteendeel, daardie verheerlikte Christene sal nou reeds konings en priesters vir hulle God gemaak wees en hulle sal op die aarde heers (Openbaring 5:10).
Niemand sal soos mis voor die son verdwyn en hulle ongeredde geliefdes sal nie wonder waarheen hulle gegaan het nie. Alle oë sal die Wederkoms van Jesus Christus sien en alle ore sal dit hoor. Die “wegraping” is ’n tragiese misverstand wat die wonderlike waarheid van die Skrif verberg.
Wie sal tydens die Groot Verdrukking beskerm word?
Indien u daarop gelet het, het u waarskynlik besef dat ons nou ons oorspronklike drie vrae beantwoord het.
Sal Christene regoor die wêreld geheimsinnig en sonder verduideliking verdwyn? Ons sien die antwoorde in die bladsye van die Bybel: Nee, hulle sal nie. Christene sal uit die dood opgewek word of verander word om by hulle Verlosser aan te sluit gedurende die eerste opstanding – op dieselfde tyd wanneer al die volke van die aarde Jesus Christus se Wederkoms sal sien.
Sal Christene jare voor Jesus se Wederkoms weggeraap word om te heers? Weereens: Nee, hulle sal nie. Die opstanding van ware Christene sal plaasvind met die heel laaste basuin – die sewende – wanneer Christus as Heerser van die wêreld ingehuldig sal word – slegs dae voordat Satan vir ’n duisend jaar gebind sal word, soos dit in Openbaring 20 beskryf is.
Ten slotte, sal Christene die jare van die Groot Verdrukking in die hemel deurbring? Weereens, die “wegraping” stem nie ooreen met die Skrif nie. Ware Christene sal opgewek word om Christus te ontmoet by die aanvang van Sy Heerskappy na die Groot Verdrukking. Inderdaad sal hulle van daardie oomblik af – as Sy onderdanige bruid – ’n duisend jaar lank saam met Hom op hierdie aarde regeer.
Dit mag sommige mense aanvanklik bekommerd maak: Beteken dit dat elke Christen deur die Groot Verdrukking moet gaan?
Nee, stellig nie. Sommige Christene sal wel daardie verskriklike tyd verduur, terwyl ander Christene beskerm sal word – hoewel nie deur ’n “wegraping” nie. Hulle sal beskerm word hier op die planeet Aarde. God hou nogtans baie besonderhede terug waarvan net Hy weet, Hy maak dit duidelik in ’n aantal gedeeltes.
Ons lees byvoorbeeld in Openbaring 12 van die Kerk gedurende die eindtyd wat gesimboliseer word deur ’n vrou. Sy word vervolg deur die duiwel, wat gesimboliseer word deur ’n draakagtige slang. In vers 14 lees ons dat “twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd.” Die “tyd en tye en ’n halwe tyd” is die drie-en-’n-half jaar wat die twee-en-’n-half jaar van die Groot Verdrukking en die jaar-lange dag van die Here behels waarvan ons vroeër gelees het.
Hierdie gedeelte maak dit baie duidelik dat, terwyl ’n gedeelte van die Kerk beskerm sal word, hierdie beskerming nie in die hemel sal wees nie. Let daarop dat die gedeelte sê “die vrou” word beskerm in “die woestyn” – ’n woord wat nooit deur die Bybel gebruik word om die hemel te beskryf nie, maar dit word wel gebruik om plekke hier op Aarde te beskryf.
Indien ons toelaat dat God Sy eie Woord vertolk – wat altyd die beste idee is – dan moet ons saamstem dat sommige Christene gedurende die Groot Verdrukking beskerm sal word, maar dat hulle beskerming nie in die hemel sal wees nie, soos baie aanhangers van die wegraping probeer om ons te laat glo. Daardie beskerming sal net hier iewers op die planeet Aarde beskikbaar gemaak word.
Ons behoort egter ook daarop te let dat nie alle Christene beskerm sal word nie. Soos ons in vers 17 lees, “die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” Ja, sommige Christene – “teen haar ander nakomelinge” (Openbaring 12:17) – moet die beproewings van die Groot Verdrukking en die woede van Satan die duiwel, verduur.
Die verskil tussen die een groep wat beskerm word en die ander groep wat in die verdrukking ingestuur word, word weerspieël in Christus se opmerkings aan die twee kerke van profetiese eindtye van Openbaring 3. Jesus sê aan die ywerige Christene van Filadelfía dat Hy hulle sal “bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom” (vers 10), terwyl aan die louwarm Christene van Laodicéa gesê word: “Ek raai julle aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is”. Hulle moet dus vervolg word aangesien hulle Sy tugtiging nodig het (verse 18-19).
Vir meer oor die uiters belangrike briewe aan die sewe Kerke van Openbaring 2-3, kan u mnr. Gerald Weston se “Sewe briewe aan sewe kerke” in ons November-Desember 2024-uitgawe lees. Dit is ook beskikbaar by wvm.co.za. Die apostel Johannes beskryf die Laodicénse Christene wat deur die verdrukking moet gaan aangesien hulle nie die noodsaaklikheid om te bekeer insien en te verander nie – hulle is te selftevrede met wat hulle dínk hulle reeds weet en te gewillig om hulle aktiewe gehoorsaamheid aan God prys te gee.
Daar is ’n rede waarom Jesus Christus in verband met die tye wat kom vir ons almal sê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).
Ja, daar sal beskerming wees tydens die hoogtepunt van die aardskuddende gebeure in die eindtyd – nie in ’n “wegraping” na die hemel nie, maar in werklikheid net hier iewers op die aarde – vir ywerige, getroue Christene wat nie bereid is om ’n skikking aan te gaan oor die waarheid wat God aan hulle gewys het nie.


