In die gebied van die land waar ek vir baie jare gewoon het, is daar gereelde advertensies vir herstelwerk aan fondamente. Baie van die grond in hierdie gebied is klei en dit is geneig om met verloop van tyd te kraak en te skuif. Dit veroorsaak struktuurskade aan die geboue self. Soms is die skade gering en soms is dit ernstig, maar geen struktuur kan meer solied en stewiger wees as die fondament waarop dit gebou is nie.

Wanneer die fondament van ’n gebou skuif, skuif gedeeltes van die gebou ook. Soms is dit sigbaar deur haarlynkrake in die mure of plafon. Ander tye, as die verskuiwing groter is, kan die vloer merkbaar skuins loop en deure mag moeilik oop- en toemaak. ’n Gebrekkige fondament kan baie probleme veroorsaak en kan nogal ernstig wees.

Dit is nie slegs die geval met huise en ander geboue nie, maar ook in ons lewens! Wat is die grondslag waarop u lewe gebou is? Is dit solied? Kan daarop gereken word om nooit te kraak nie? Ons het baie mense geken en lief gehad wie se lewens dramaties verander en in sommige gevalle selfs in duie gestort het. Hoe kan u verseker dat so iets nooit met u gebeur nie?

Jesus van Nasaret het grootgeword terwyl Hy die boubedryf van Sy stiefvader, Josef, aangeleer het. Hy het goed geweet hoe om ’n sterk, stewige struktuur te bou. Jesus het van tyd tot tyd gedurende sy bediening, vergelykings van die boubedryf in Sy gelykenisse getref. In Mattheus 7:24-27 is ’n bekende voorbeeld waar Hy twee mans beskryf wat huise op verskillende fondamente bou. Een man bou op sand terwyl die ander op ’n rots bou. Aanvanklik het beide huise reg gelyk, maar toe ’n groot storm kom, het een huis staande gebly terwyl die ander ineengestort het. Christus gebruik hierdie gelykenis om ons te leer dat ’n lewe wat op ’n stewige grondslag gebou word, op gehoorsaamheid aan Sy leringe gebaseer is. Gehoorsaamheid aan God is die enigste manier om die lewensstorms die hoof te bied.

Die Bybel maak dit duidelik dat Jesus Christus ons fondament moet wees. Hy is die Rots waarop die Kerk self gebou is (sien Mattheus 16:18). Dit beteken dat die ware Kerk dit wat Christus self beoefen en geleer het, sal doen. Verder moet Hy die persoonlike grondslag wees waarop elkeen van ons ons lewens bou. Wat presies beteken dit en hoe kan ons dit toepas? 

In ’n brief aan die Kerk in Korinte, benadruk die apostel Paulus dat hy “Christus wat gekruisig is” preek wat vir die Grieke dwaasheid en vir die Jode ’n struikelblok is (1 Korintiërs 1:22-23). Die Jode het gesoek na ’n wonderteken uit die hemel, terwyl die Grieke wou hê dat alles logies moes wees en sin maak. Die Jode het gestruikel by die gedagte aan ’n Messias wat gely en gesterf het, omdat hulle ’n Messias verwag het wat “skok en vrees” onder die heidene sou teweegbring. Vir die Grieke het ’n lydende Redder eenvoudig net nie sin gemaak nie. Hulle het nie die logika daarin gesien nie. Hulle het almal hul eie verwagtings gehad en die Goddelike plan het nie aan hul vooropgestelde idees voldoen nie.

Die klem van Paulus se boodskap was baie anders as wat hierdie groepe verwag het. Hy verduidelik dat hy hom “voorgeneem [het] om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Korintiërs 2:2). Paulus se boodskap fokus in geheel op Jesus Christus – nie bloot Christus as persoon nie, maar ook Sy voorbeeld en boodskap! Paulus sê aan die Korintiërs: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ’n bekwame boumeester die fondament gelê, en ’n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (1 Korintiërs 3:9-11).

Die apostel Paulus het beklemtoon dat Jesus Christus die grondslag moet wees waarop alles gebou word. Is Hy die grondslag in u lewe? Hoe kan u seker wees? As Hy nie is nie, gaan wat u ook al bou, uiteindelik kraak en verkrummel omdat daar geen ander seker fondament kan wees nie. Onthou, Jesus self het verduidelik dat om op die Rots te bou nie net beteken om te luister na wat Hy geleer het nie, maar om dit ook in ons lewens toe te pas (Mattheus 7:24). Hoe lyk ’n lewe dan wat op Jesus Christus gebou is? Hoe kan ons een hê?

'n Lewe van oorgawe

’n Lewe wat gebou is op die grondslag van Jesus Christus, sal allereers ’n lewe van oorgawe wees. Geen lewe wat op eiesinnigheid gebou word kan werklik geestelik suksesvol wees nie. Jesus benadruk aan Sy luisteraars: “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (Johannes 6:38).

Die moeilikste taak vir enige van ons is moontlik om ons eiesinnigheid op te gee. Menslik gesproke, wil ons almal ons eie sin hê! Vrees staan gereeld in die pad om op God eerder as op onsself te steun, aangesien ons nie heeltemal seker is wat God in gedagte het nie. Gevolglik poog ons om onsself te beskerm teen dit wat ons as seerkry of verlies ervaar.

Jesus het baie godsdiensleiers van Sy tyd vergelyk met klein kindertjies wat op die markplein speel. Hulle was redelik gefrustreerd, eerstens met Johannes die Doper en later met Jesus Self, want nie een van die twee wou volgens hulle pype dans nie (sien Mattheus 11:16-19). Hoewel Johannes die eerste direkte profeet van God in vier eeue was om op die toneel te verskyn en Jesus die Messias Self was, het nie een van die twee aan die godsdiensleiers se verwagtinge voldoen nie. Die gevolg was dat die meeste godsdiensleiers God se ware diensknegte verwerp het. Die godsdiensleiers van Christus se tyd was nie totaal oorgegee aan God se wil nie; hulle wou dinge op hul eie manier doen.

Die kragtigste verhaal wat oorgawe illustreer, is seker die beskrywing van Jesus Christus se gebed tot die Vader net voor Sy inhegtenisname en daaropvolgende kruisiging. Die verskrikking van wat reg voor Hom gelê het was skynbaar oorweldigend met Sy en die dissipels se aankoms in die Tuin van Getsémané, kort na afloop van hul Pasgamaal. Christus het na ’n afgesonderde plek ’n entjie weg van die dissipels gegaan en Sy hart uitgestort in sielpynigende gebed tot die Vader. Hy het met sulke intensiteit gebid dat Hy bloed gesweet het. Jesus het tot die Vader uitgeroep en gesê “as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” indien daar enige ander manier is om God se plan te volbring. “Nogtans” verklaar Hy, “nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (sien Mattheus 26:36-39). Jesus Christus het alle tekens van eiesinnigheid volkome oorgegee en God se wil onvoorwaardelik gesoek. ’n Lewe wat gebou is op die grondslag van Jesus Christus kan niks anders as ’n lewe van oorgawe wees nie!

'n Lewe van toewyding

Om “toegewyd” te wees beteken om afgesonder te wees vir goddelike diens. Toewyding was ’n konsep wat dikwels in die Ou Testament aangewend is om iets te beskryf wat aan God behoort of aan Hom opgedra was. Offerandes, tiendes en selfs die stam van Levi was beskryf as “toegewyd” of opgedra aan God en Sy nut. Toe Israel aanvanklik die Beloofde Land binnegegaan het, was die hele stad Jerigo – verteenwoordigend van die eerstelinge van Israel se oorwinning – toegewy aan God. Dit was ’n baie ernstige saak. Toe Agan in die geheim van die goud en kledingstukke geneem het, het dit God se vloek oor die hele nasie gebring, omdat Agan dit wat God vir Homself toegeëien het, vir hom persoonlik geneem het.

Jesus Christus het Sy lewe beskou as totaal toegewy aan God. Johannes 4 vertel ons dat Jesus en Sy dissipels vanaf Judéa na Galiléa gereis en op pad in Samaria gestop het. Terwyl die dissipels na die dorp gegaan het om kos te koop, het Jesus by die put gewag. Teen die tyd dat die dissipels teruggekeer het, het ’n menigte om Jesus begin vergader. Hy het aan hulle God se plan en doel verduidelik. Die dissipels was angstig om die maal te begin en het Jesus aangemoedig om te eet. “Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie”, het Jesus vir hulle gesê. Verward oor waar Hy die voedsel gekry het, het die dissipels die saak onder mekaar bespreek. Toe Hy besef dat hulle die betekenis nie verstaan nie, verduidelik Jesus voorts: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34).

Vir die dissipels het die lewe in die algemeen om fisiese dinge gewentel. Jesus Christus daarenteen het geleef om Sy Vader te behaag en om die geestelike werk wat aan Hom toevertrou was, te voltooi. Sy lewe was geheel en al aan God en Sy diens toegewy. Daarom moet ’n lewe wat op die grondslag van Jesus Christus gebou word, ’n lewe van toewyding wees.

Wat presies beteken dit vir ons? Christus het beslis die normale verantwoordelikhede van alledaagse lewe uitgevoer. As jong mens het Jesus toegeneem in wysheid (Lukas 2:52), voor die aanvang van Sy bediening as timmerman gewerk (Markus 6:3) en tyd gevind om sosiale geleenthede by te woon (Johannes 2:1-2). Ten spyte daarvan was Hy tog van jongs af diep bewus van die behoefte om in die dinge van Sy Vader betrokke te wees (Lukas 2:49). Jesus Christus het Sy vervulling van God se doel vir Hom eerste gestel.

’n Lewe van nederigheid

Trots is ’n algemene menslike swakheid. As jong man het Benjamin Franklin ’n projek begin met die doel om morele volmaaktheid te bereik. Hy het ’n baie eenvoudige plan gehad: hy het ’n lys van deugde gemaak wat hy wou opneem in sy karakter en het begin deur aan een deug op ’n slag te werk! Hy het beplan om nadat hy ’n gewoonte van een gemaak het, na die volgende aan te beweeg, totdat hy uiteindelik die hele lys uitgevoer het. Franklin het meer probleme met sommige deugde as met ander gehad, en uiteindelik die onmoontlikheid van sy taak besef. Die deug wat hy die uitdaagendste gevind het, was nederigheid. Uiteindelik het hy in frustrasie verklaar: “Ek is bevrees dat as ek ooit werklik nederig word, ek trots sal wees daarop”.

Dit is duidelik dat nederigheid nie iets is wat vanself kom nie. Aan die ander kant verklaar die Bybel tog duidelik: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jakobus 4:6). As daar ooit iemand was wat geregtig was daarop om trots te voel, was dit sekerlik Jesus van Nasaret. Tog verklaar Jesus in Mattheus 11:29: “Ek is sagmoedig en nederig van hart”. Hoekom was dit? Dit was omdat Jesus ten volle gefokus was op die Vader eerder as op Homself. Hy het geredelik erken dat Hy niks uit Homself kon doen nie, en dat dit die Vader was wat die werk gedoen het (Johannes 5:30; 14:10). Ware nederigheid spruit voort daaruit dat ons onsself in vergelyking met God en Sy grootheid sien. Trots kom van ’n selfvoldane lewensbenadering en sluit dikwels illusies van selfonderhouding in. ’n Lewe wat op die grondslag van Jesus Christus gebou is, sal ’n lewe van nederigheid wees.

’n Lewe van diens

Jesus Christus het dikwels oor die Koninkryk van God gepraat. Sy dissipels het verstaan dat Hy oor ’n letterlike Koninkryk gepraat het en dat hulle eendag posisies van leierskap in daardie Koninkryk sou beërf. Hulle opvatting van wat dit beteken om ’n leier te wees is egter grootliks gevorm deur die voorbeeld van die regeringleiers wat hulle in die Romeinse Ryk van hul tyd gesien het. Van tyd tot tyd het hulle geargumenteer oor watter dissipel die grootste in die komende Koninkryk sou wees. Jesus wou hê dat hulle moes verstaan dat ware grootheid nie gebaseer was daarop dat ander hulle dien nie, maar eerder daarop dat elkeen van hulle ’n lewe van diens aan ander lei. “Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees” het Jesus verduidelik (Mattheus 23:11).

Op die aand van hul laaste Pasga saam, het Jesus Sy dissipels geskok. Nadat hulle aan tafel aangesit het vir hul maal, het Hy van die tafel af opgestaan, Sy boonste kleed opsy gesit, ’n handdoek en ’n bak water geneem en begin om Sy dissipels se voete te was. Dit was ’n taak van nederige diens, gewoonlik bestem vir die dienskneg met die laagste rang in die huishouding. Toe Hy klaarmaak om na die tafel terug te keer, vra Jesus Sy dissipels: “Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het? Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen” (Johannes 13:12-15). Jesus Christus het onderrig dat ’n lewe wat goed geleef word, ’n lewe van diens aan ander behoort te wees. Dit is presies die teenoorgestelde van die selfgesentreerde lewe wat verteenwoordigend is van die natuurlike, vleeslike benadering. As ons op die grondslag van Jesus Christus bou, sal ons nie ’n lewe van selfsugtige toegewing nie, maar eerder ’n lewe van diens aan ander lei.

’n Lewe van liefde

Selfbevrediging en trots is voortspruitend uit die feit dat meeste mense verlief is op hulself. Dit kom vanself om besorg te wees oor onsself. Trouens, selfs wanneer mense iets vir ander doen, is dit moontlik dat hulle ’n verskeidenheid motiewe kan hê. Selfs dade van selfopoffering kan soms gemotiveer wees deur die behoefte aan selfverheerliking. Let op wat die apostel Paulus verduidelik in 1 Korintiërs 13:1-3: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword. En al sou ek … al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê ... En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie”. Om die “liefdevolle” ding sonder ware liefde te doen, sal ons “niks” baat nie!

Waarom is liefde so belangrik? God is besig om ’n familie te bou, en gesonde families het gesonde verhoudings. Elke gesonde familie se verhoudings is gebaseer op liefde. Ons verhoudings met mekaar en met God Self, moet gebaseer wees op ware liefde. Dit was die onderliggende grondslag van alles wat Jesus Christus gedoen het. “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:13). Nie alleenlik was liefde die basis waarom Christus gedoen het wat Hy gedoen het nie, maar was ook die kenmerkende eienskap van Sy ware volgelinge: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; ... Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34-35). ’n Lewe wat op die grondslag van Jesus Christus gebou is, sal ’n lewe wees wat gebaseer is op liefde vir God en liefde vir ander mense.

’n Lewe van gehoorsaamheid

Een van die grondbeginsels van ware liefde teenoor God is gehoorsaamheid aan Sy gebooie. Soos die apostel Johannes in 1 Johannes 5:2-3 verduidelik: “Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie”. Eenvoudig gestel, as gehoorsaamheid nie op liefde gebaseer is nie, sal dit nie hou nie! Die Fariseërs het daarop geroem dat hul gehoorsaam aan God se wet was, maar hulle gehoorsaamheid het vinnig in duie gestort toe hulle persoonlik bedreig gevoel het deur Christus se bediening (sien Johannes 11:47-48). Hulle het medepligtiges geword om vals getuies om te koop en het selfs die dood van ’n totaal onskuldige bewerkstellig. Hierdie dade behels direkte ongehoorsaamheid aan die Tien Gebooie, maar dit het nie in hulle pad gestaan nie. Hulle gehoorsaamheid kon nie onder druk volgehou word nie.

Jesus Christus het ’n lewe van algehele gehoorsaamheid aan die Vader gelei. Hy het Sy Vader se gebooie onderhou (Johannes 15:10) en Sy dissipels onderrig om Sy voorbeeld te volg. In teenstelling met die leerstellings van die algemene Christendom, het Christus dit duidelik gemaak dat Hy nie gekom het om weg te doen met die wet nie, maar eerder om die betekenis daarvan tot volheid te vervul (Mattheus 5:17). Om Jesus Christus as ons Here te erken, behels ’n lewenswyse van gehoorsaamheid (Mattheus 7:21). Om ons lewens op die grondslag van Jesus Christus te bou, beteken dat ons gehoorsaamheid aan God se gebooie as ’n lewenswyse sal beoefen.

'n Lewe van geloof

Nie alleenlik is liefde noodsaaklik vir gesonde familieverhoudings nie, maar ook vertroue. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Hebreërs 11:6). As ons God nie volkome vertrou nie, sal ons Hom nie onvoorwaardelik en onder alle omstandighede gehoorsaam nie. Ons wil soms die lewe in ons eie hande neem en ons eie oplossings vir dinge soek. In teenstelling, sal dit vir God se familie moontlik wees om vir ewig in vrede en harmonie saam te woon, omdat elkeen in die familie op die Vader sal vertrou. Lede van Sy familie sal Sy woord glo en bereid wees om te volg wat ook al Hy beveel.

Ware geloof vloei voort uit ’n diep persoonlike verhouding met God – deur Hom werklik te leer ken. Jesus Christus het gekom om die Vader bekend te maak, en Hom herkenbaar te maak. Hy het die Vader in alle omstandighede volkome vertrou en gesê dat die dissipels dit ook kon doen (Johannes 16:26-27). Direk na die verheerliking op die berg, het ’n gebeurtenis plaasgevind wat Jesus Christus die geleentheid gegee het om Sy dissipels meer oor geloof te leer. Kort na Sy aankoms van die berg af, het ’n man na Hom gekom met ’n kind wat genesing dringend benodig het. 

Hierdie man het reeds na die dissipels gegaan, maar hulle kon nie die kind help nie. Die man het Jesus gesmeek om te help indien moontlik en om medelye te hê. “En Jesus sê vir hom: Wat dit betref – as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (Markus 9:23-24). Christus het die kind genees. Later het die dissipels na Jesus gekom en gevra waarom hulle nie self so ’n wonderwerk kon verrig nie. Christus het aan hulle verduidelik dat gebed en vas die sleutel tot so wonderwerkende geloof is (verse 28-29).

Jesus het deurgaans met God gewandel en gekommunikeer. Omdat Hy voortdurend daardie verhouding vertroetel het, was dit altyd vars en intiem. Voortspruitend uit daardie verhouding het ’n geloof en vertroue gekom wat nooit gewankel of twyfelagtig was nie. In die mate waartoe ons dieselfde soort verhouding nastreef, kan ons dieselfde soort geloof hê. As ons ons lewens bou op die grondslag van Jesus Christus, sal geloof ’n deurslaggewende deel van ons grondslag wees. 

Daar is geen ander grondslag behalwe die grondslag van Jesus Christus waarop ons kan bou wat nooit sal skuif of kraak nie. Hy is die enigste seker grondslag van ons lewens. Ons moet seker maak dat ons in elke opsig op Hom bou.