Die meeste van u wat hierdie tydskrif lees, is vertroud met Tomorrow’s World se beeldsendings. In daardie uitsendings sluit hierdie tydskrif se hoofredakteur, dr. Roderick C. Meredith en twee ander aanbieders, mnr. Rod King en mnr. Wallace Smith by my aan om die ware Evangelie van die toekomstige Koninkryk van God met die kykers te deel.

Terloops, in hierdie uitgawe van die Wêreld van Môre-tydskrif verskyn artikels van ons al vier. Maak seker dat u dr. Meredith se kragtige artikel elders in hierdie tydskrif, “Waarom verkondig die meeste kerke nie die Waarheid nie?” lees. As ’n leser van die Wêreld van Môre-tydskrif, is u waarskynlik reeds deeglik bewus daarvan dat ons die suiwer waarheid van die Bybel verkondig, soos dit deur Jesus Christus en die Apostels verkondig en beoefen is. Die meeste hedendaagse kerke het ver afgedwaal van die onvervalste Bybelse leerstellings van Jesus Christus – selfs baie eerlike predikante erken dat hulle van beter weet, maar dat hulle eenvoudig verkondig wat húlle glo die mense graag wil hoor. Dr. Meredith se artikel is ’n kragtige uitdaging aan hulle en aan elkeen van ons, om vas te hou aan die waarheid van die Skrif.

Wie het dan die waarheid? God se Kerk het die waarheid! Presies wat is die waarheid en waar kan dit gevind word? Mnr. Smith se artikel elders in hierdie tydskrif vra hierdie lewensbelangrike vraag. In my artikel elders in hierdie tydskrif word hierdie tema van “waarheid” voortgesit en word die waardes wat die fondament van wat ware onderwys en opvoeding behoort te wees, ondersoek.

Mnr. King se artikel ondersoek ook die waarheid wat agter die Bybelse oorsprong van die hedendaagse Ierse volk lê.

Ons vier wat die Tomorrow’s World-beeldsendings aan die Engelssprekende nasies aanbied – in der waarheid die hele Tomorrow’s World/Wêreld van Môre se personeel – is baie dankbaar dat Christus besig is om meer deure dwarsoor die wêreld oop te maak vir die verkondiging van die Evangelie. In 2013 het ons begin om die Tomorrow’s World se TV-program in Rusland en omliggende gebiede uit te saai. Ons het ook begin om in Latyns-Amerika in Spaans oor die JBN-netwerk uit te saai en in Suider- en Sentraal-Afrika oor die CTV-netwerk. In Hong Kong word ’n spesiaal aangepaste weergawe van die Tomorrow’s World se beeldsending, met Chinese onderskrifte uitgesaai. ’n Aantal boekies is in Chinees beskikbaar op TomorrowsWorldHK.com.

Op 1 Januarie 2014 het ons begin met die uitsending van die Tomorrow’s World se TV-program in Indië, die nasie met die tweede grootste bevolking ter wêreld (1,2 miljard). Ons het met omsigtigheid met ’n beperkte gehoor van sowat 1,5 miljoen naby die stad, Goa, begin.

Op 21 Januarie 2014 was 90 miljoen huishoudings in staat om dié uitsending op Dinsdae om 07:00 v.m., OT op BET-netwerk te sien. Op 22 Januarie het ons op Woensdae, 08:00 n.m., Londen tyd, na 45 miljoen huishoudings in Europa en Noord-Afrika op Faith World se TV-netwerk begin uitsaai. Op 23 Januarie het ons op Donderdae oggende om 07:30 v.m., OT, na 50 miljoen huishoudings op die ION Nasional Cable Platform-netwerk begin uitsaai.

Dankie vir u ondersteuning en gebede vir hierdie media-inisiatief. Jesus het gesê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’ngetuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Christus het aan ons ’n opdrag gegee om die wêreld voor te berei vir Sy wederkoms!

Soos u weet, verkondig ons ook die Evangelie deur middel van die Internet – wat bereikbaar is vir die meeste nasies en ons is baie dankbaar vir ons Spaanse en Franse webwerwe, MundoManana.org en MondeDemain.org. Op dié twee webwerwe kan u die Tomorrow’s World se beeldsendings in Spaans en Frans sien en toegang verkry tot gratis publikasies. Duitssprekende intekenaars is vertroud met ons webwerf WeltVonMorgen.org. Dan het ons natuurlik ook die Engelstalige TomorrowsWorld.org webwerf vir Engelssprekendes regoor die wêreld.

Voorbereiding vir Christus se wederkoms

Die grootste gebeurtenis wat nog ooit in die mens se geskiedenis sal plaasvind, gaan binnekort gebeur – die wederkoms van Jesus Christus! Hy sal terugkeer na die planeet Aarde as Koning van die konings en Here van die here. Hy sal die Koninkryk van God op aarde vestig en al die nasies sal hulle onderwerp aan Sy goddelike heerskappy wat wêreldvrede, voorspoed, geregtigheid, kalmte, vreugde en geluk sal verseker.

Jesus het Sy dienaars opdrag gegee om die weg vir Sy koms voor te berei, deur die verkondiging van die Evangelie van die Koninkryk van God en deur die Westerse nasies te waarsku aangaande hulle sondes en ’n volk vir die Here voor te berei (Lukas 1:17). Die personeel van die Wêreld van Môre strewe daarna om hierdie opdrag, soos Christus beveel het, uit te voer.

Ongelukkig wil die wêreld net eenvoudig nie hierdie oplossing vir sy onoplosbare probleme aanvaar nie. Die menslike natuur is strydig met die liefde en die wette van God. Waarom? Die apostel Paulus skryf: “... omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7).

Sal die mensdom leer?

God het byna 6,000 jaar aan die mensdom gegee om te eksperimenteer met sy eie vleeslike, selfsugtige lewenswyses. Daardie tyd is vinnig besig om tot ’n einde te kom! God het aan ons vryheid van keuse gegee om selfsugtige onafhanklikheid te kies, maar die mense wat kies om in stryd met Sy wette van liefde te lewe, sal op “die harde manier moet leer”.

Selfs in die 21ste eeu, na twee wêreld-oorloë en talle plaaslike oorloë daarna, het ons nog nie die weg na vrede tussen nasies geleer nie. Waarom nie? Ons vind die antwoord in Romeine 3:17-18. Die apostel Paulus haal aan uit die profeet Jesaja en skryf: “... en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie”.

Wanneer tragedies plaasvind, soek mense soms na God vir begrip en vertroosting. Volgens Barna Navorsing, het kerkbywoning na 11 September 2001 in Amerika met sowat 25% toegeneem, maar net twee maande later het ’n November meningspeiling getoon dat kerkbywoning “terug was na normale vlakke”. (How America’s Faith Has Changed Since 9-11, 26 November 2001).

Wanneer sal ons leer? Indien ons nie nasionaal sowel as individueel berou tot bekering toon nie, sal God op die ou einde ’n nuwe supermoondheid, waarna in die Bybel verwys word as “die dier”, toelaat om ons Westerse nasies te oorwin – met miljoene mense wat in ballingskap weggevoer sal word voordat Christus sal terugkeer om Sy Koninkryk te vestig en die nasies wat gevange geneem is weer vry te laat. Na Christus se wederkoms as Koning van die konings en Here van die here, sal die nasies te staan kom voor die werklikheid wat hulle eens verwerp het. Christus sal oor alle nasies regeer: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9)! Gedurende daardie tyd sal al die nasies die weg na vrede by die Prins van Vrede leer (Jesaja 2:4, 9:6-7).

Daar is egter ’n manier om daardie toekomstige ballingskap vry te spring, indien u Christus toelaat om nou u lewe te regeer! God roep nou duisende mense om hulle van hulle vleeslike gesindheid te bekeer en om eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek (Mattheüs 6:33).

Elke jaar bring ons nader aan Christus se wederkoms na hierdie aarde. Ons weet dat Hy die Een is wat deure oopmaak vir die verkondiging van die Evangelie. “En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie: Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ’n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Openbaring 3:7-8).

Geagte lesers, dank God vir die deure wat Christus nou besig is om oop te maak om aan al die nasies die heel belangrikste boodskap te verkondig wat hierdie sterwende wêreld nodig het. Die “Evangelie” beteken “goeie nuus”. Vertel ander mense van hierdie geopende deure op televisie en die Internet. Gaan voort met die voorbereiding vir Christus se wederkoms, die grootste gebeurtenis wat ooit in die ganse menslike geskiedenis sal plaasvind en bid daagliks: “Laat U Koninkryk kom!”