VRAAG: Sommige mense glo dat ’n mens se siel of gees van die liggaam kan skei en na ver plekke buite die bereik van die liggaam kan reis. Dit is nie net ’n “New Age” of “Oosterse godsdiens” idee nie; selfs mense wat hulleself Christene noem glo in “astrale projeksie” of “buite-liggaamlike ervarings”. Leer die Bybel ons in 2 Korinthiërs 12:2-4 dat ’n mens se siel of gees buite die liggaam kan funksioneer?

ANTWOORD: Baie mense het al stories van ’n “buite-liggaamlike ervaring” tydens ’n operasie of die beoefening van “astrale projeksie” vertel (waarin die siel vermoedelik na ver plekke reis, terwyl die liggaam agter bly). Het die apostel Paulus ’n soortgelyke ervaring beskryf? Die antwoord mag u heel moontlik verras!

In 2 Korinthiërs 12:2-4, soos in die vorige twee hoofstukke, beskryf Paulus sy eie wedervaringe as ’n leraar van die ware Evangelie. Hy skryf: “Ek weet van ’n man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit – dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ’n man – of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit – dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ’n mens nie mag uitspreek nie.”

Dit is belangrik om daarop te let dat Paulus in die vorige vers (vers 1), verduidelik dat hy by “gesigte en openbaringe” van die Here sal kom. Die woord wat as “gesigte” vertaal is, is die Griekse woord optasia en dit beteken “’n gesig of visioen wat aan iemand gegee is of hy slaap of wakker is”. Die woord wat as “openbaringe” vertaal is, is die Griekse woord apokalupsis en beteken “iets openbaar, die blootstelling van ’n waarheid, instruksie aangaande dinge wat voorheen onbekend was”. In hierdie verse erken Paulus dat hy nie van fisiese ervarings praat nie.

Het Paulus dan ’n buite-liggaamlike ervaring beskryf? Hy sê aan ons dat sy fisiese ervaring so intens was dat hy nie kon sê of dit ’n blote visioen in sy gedagtes was en of hy werklik na die hemel geneem is nie. Hoewel Paulus gewoonweg oor visioene praat aan die begin van 2 Korintiërs 12, het hierdie spesifieke visioen so werklik gevoel dat hy nie in staat was om te verduidelik wat gebeur het nie, behalwe dat hy gevoel het asof hy “buite die liggaam” was. Paulus het nie sy eie gevolgtrekking gemaak nie, tog sê hy twee keer duidelik dat “God [nie Paulus nie] weet” wat die aard van sy geestelike visioen van die Paradys was. Diegene wat wil beweer dat die Bybel uitdruklik bevestig het dat Paulus ’n “buite-liggaamlike ervaring” gehad het is baie meer aanmatigend as wat Paulus self was.

Nog ’n soortgelyke gedeelte mag ons dalk help om Paulus se bewoording in sy behoorlike konteks te verstaan. Hy skryf aan die Kolossense: “Want al is ek ook na die vlees afwesig, tog is ek by julle in die gees” (Kolossense 2:5). Het Paulus aan die Kolossense gesê dat hy sy liggaam verlaat het om by hulle te wees? Natuurlik nie!

Die Skrif help ons om gedeeltelik te verstaan wat Paulus se visioen nié was nie. Die apostel Johannes haal Jesus se woorde aan: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Hoewel Jesus daardie woorde voor Sy opstanding gespreek het, het die apostel Petrus later bevestig dat dit selfs Sy opstanding waar sal bly en het ook na die graf van koning Dawid verwys as ’n voorbeeld van die uniekheid van Jesus se hemelvaart (Handelinge 2:29, 34). In plaas daarvan het Paulus ’n gesig [visioen] ervaar, soortgelyk aan die gesig [visioen] wat in Matthéüs 17:1-9 aangehaal word. In daardie gedeelte is die woord wat Jesus vir “gesig [visioen]” gebruik horama – ’n gesig wat goddelik toegestaan is in ’n toestand van ekstase of in ’n slaap. Onthou: Toe die dissipels hierdie ervaring gehad het, het nóg Moses nóg Elia na die hemel opgevaar. Net soos Paulus se ervaring, was dit duidelik ’n visioen, nie ’n mistieke besoek van twee gestorwe persone nie!

Daarom, net soos Petrus, Jakobus en Johannes nie werklik na die hemel opgevaar het tydens hulle visioen van die verheerlikte Jesus saam met Moses en Elia nie, kan ons verstaan dat Paulus nie na die hemel opgevaar het nie. Net so kan mense vandag voel dat hulle ’n “buite-liggaamlike ervaring” gehad het wat vir hulle werklik gelyk het, maar die Bybel openbaar dat hulle verkeerd is.