Sal die “goeie gesinsman” binnekort uitsterf?


Miljoene gesinne sal hierdie jaar weer Vadersdag vier. Die Verenigde State en Suid-Afrika is van die vele lande wat hierdie gewilde dag jaarliks vier. Van die ander lande hou Vadersdag op ander datums; Indië vier dit op die eerste Sondag van Junie en verskeie Europese lande (insluitend Italië, Portugal en Spanje) vier dit op 19 Maart. In Australië en Nieu-Seeland val Vadersdag op die eerste Sondag in September.

Telkens wanneer ons hierdie dag  waarop vaders vereer word nader, behoort ons te vra: Wat is die status van “vaderskap”? Het dit nog enige betekenis in vandag se samelewing?

Ware vaderskap is nie net die biologiese vermoë om kinders te verwek nie. In-vitro-bevrugting kan dit regkry sonder dat enige pa teenwoordig is. Ware vaderskap behels ’n vader in die huis wat sy kinders opvoed en liefhet binne die verband van ’n toegewyde huweliksverhouding. Volgens daardie beskrywing is vaderskap in die VSA (net soos in Suid-Afrika) op die laagste vlak ooit. Volgens die Desember 2006 statistiek van die Sentra vir Siektebeheer in die VSA, is bykans 40 persent van geboortes in dié land tans buite-egtelik. In sommige Europese lande is die syfer selfs hoër – 41 persent in Frankryk, rondom 50 persent in Noorweë en 62 persent in Ysland (en niks beter in Suid-Afrika nie) (Daily Policy Digest, 27 Maart 2002).

Wat die probleem erger maak, is dat die VSA die tweede hoogste egskeidingsyfer in die wêreld het. Getroude paartjies het onlangs vir die eerste keer in die minderheid geraak en maak nou slegs 49,7 persent uit van huishoudings met kinders.

Gekose vaderloosheid

Ouer enkelmoeders verkies al hoe meer om swanger te raak sonder ’n eggenoot. Een 31-jarige enkelmoeder het, toe sy swanger geraak het, opgemerk “dit maak nie saak dat ek nie ’n man het nie, want ek het geweet dat ek dit op my eie sal kan doen”. Een enkelmoeder het gesê dat haar 9-jarige dogtertjie “soms huil omdat sy nie haar pa naby haar het nie, maar ons praat daaroor ... ek voel soms wel skuldig, maar ons laat nie toe dat dit ons onderkry nie” (Monterey Herald, 25 Desember 2006).

Wat van die uitwerking op kinders? Kay Hymowitz, ’n senior genoot aan die Manhattan Instituut, sê: “Kinders wat deur enkelmoeders grootgemaak word, het ’n groter kans op armoede, emosionele probleme, om te druip op skool ... Saamwoon-ouers openbaar nie presies dieselfde probleme nie; ook nie stiefouers nie. Die huwelik dra ’n hele stel boodskappe saam oor oor hoe om te leef, dit wat verenigbaar is met middelklas lewe in hierdie land” (ibid.).

Volgens skrywer Dawid Blankenhorn is buite-egtelike swangerskappe en egskeiding so algemeen dat “meer as die helfte van Amerika se kinders sal, voordat hulle die ouderdom van 18 bereik, waarskynlik ’n beduidende deel van hul kinderdae weg van hul vaders leef” (Fatherless America, bl. 1). Toe hulle egskeidings bestudeer het, het navorsers Paul Amato en Alan Booth tot die slotsom gekom dat “hoogstens een derde van huwelike so ellendig is dat kinders moontlik by ’n egskeiding sal kan baat. Die oorblywende getal, ongeveer 70 persent, behels lae-konflik huwelike wat die kinders klaarblyklik veel minder skade kan berokken as die werklikheid van egskeiding” (“Two parents, even unhappy, are better” Today, 7 Januarie 1998).

In Bringing Up Boys wys sielkundige James Dobson daarop dat ondanks sodanige bewyse, sommige mense nie net glo dat vaders onnodig is nie, maar dat die instelling van vaderskap skadelik is vir gesinne (bl. 65). Hy haal Carl Auerbach en Louise Silverstein, skrywers van Deconstructing the Essential Father aan, asook Karla Mantilla, ’n radikale feminisskryfster wat gesê het: “Ek is hoogs wantrouig oor die ... noodsaaklikheid dat kinders ’n manlike rolmodel moet hê ... Die propaganda dat kinders, veral seuns, vaders nodig het, het volgens my mening, oneindig bygedra tot die ellende van kinders wêreldwyd” (ibid.).

Oorsprong van vaderlike konflik

Sommige mense glo verkeerdelik dat Jesus Christus aarde toe gekom het as teenvoeter vir ’n wrede “Vaderfiguur”-God. Hulle faal om te sien dat Jesus slegs diepe eerbied, respek en liefde aan Sy Vader getoon het. Hy sê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie ... Want die Vader het die Seun lief ... Ek [soek] nie my wil ... nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:19-20, 30). In Johannes 14:28 sê Jesus dat Sy Vader groter is as Hy, in amp sowel as in gesag. Hy sê dat Hy aarde toe gekom het om die Vader te verklaar en bekend te maak (Johannes 1:18).

Christus leer ons dat ons tot “onse Vader wat in die hemele is” moet bid, dat ons Hom moet aanbid en Hom moet liefhê (Mattheus 6:9). Hy sê: “Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier [Sy dissipels] het erken dat U My gestuur het. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak,sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees” (Johannes 17:25-26). Jesus, as ons persoonlike Saligmaker en Ouer Broer, leer ons om Sy – en ons – hemelse Vader ook so lief te hê!

Nogtans deins baie mense steeds terug van vaderskap, hetsy in die gesin of in godsdiens. “Bedink hierdie dilemma van ’n vader se mag. Dit is ’n fundamentele menslike probleem wat psiges en kulture vorm. Die antropoloog Weston La Barre, byvoorbeeld, kom in  sy soeke na die oorsprong van godsdiens, tot die slotsom dat die ‘smart’ wat veroorsaak word deur vaderlike gesag ‘die oorsprong van godsdiens is’ en die ‘geheim is van wie ons is ...’ Kortom, antagonisme teenoor vaderlike gesag blyk saam te gaan met vaderskap en wat dit behels” (Blankenhorn, bl. 93).

’n Paar jaar gelede het ’n maatskappy wat groetekaartjies vervaardig, ’n spesiale Moedersdagprogram vir staatsgevangenes van stapel gestuur. Gevangenes het ’n gratis kaartjie, posgeld betaal, ontvang om op Moedersdag aan hul moeders te stuur. Die reaksie was oorweldigend! Die rye was so lank dat verteenwoordigers moes teruggaan fabriek toe om nog kaartjies te gaan haal. Die program was so suksesvol dat die maatskappy besluit het om op Vadersdag terug te gaan. Wat het op Vadersdag gebeur? Niks.Daar was geen rye nie. Nie ’n enkele gevangene wou aan sy vader ’n kaartjie stuur nie. ’n Liefdevolle verhouding met ’n vader het waarlik ’n diepgaande uitwerking op ’n mens se lewe. Ook is die gebrek aan ’n betrokke, aktiewe vader, ’n beslissende faktor in gedrag wat skeef geloop het (Dobson, bl. 60).

Waar het antagonisme teenoor vaderskap sy oorsprong gehad? In die verre verlede, voordat die mensdom geskape is, het die aartsengel Lucifer teen God, ons Vader in die hemel, in opstand gekom. Ons lees: “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester [Lucifer], seun van die dageraad! ... En jý het in jou hart gesê: ... Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jesaja 14:12-14). Lucifer het Satan geword, en as Satan het hy sy rebelse gesindheid aan Adam en Eva oorgedra in die tuin van Eden (Genesis 3:5). Daardie selfde gees van rebelsheid teen gesag – selfs die gesag van ons hemelse Vader – is aan die ganse mensdom oorgedra en die gevolg daarvan is sonde (Romeine 3:23).

Die menslike aard is van nature teen gesag – hetsy die vader van ’n gesin of die Vaderfiguur van God (Romeine 8:7). “Meer nog as die band tussen moeder en kind, is die band tussen vader en kind gereeld gelaai met afsydigheid, spanning en selfs vyandigheid, wat alles, of ten minste gedeeltelik, voortspruit uit die tipiese kenmerkende konteks van vaderlike gesag ... die vader se mag, as algemene antropologiese proposisie, is meer botsend as dié van die moeder; meer op reëls ingestel, meer emosioneel afsydig, meer aggressief ... Baie van hierdie spanning het sy oorsprong in die feit dat die kind na gesag hunker sowel as dit verpes. So is ’n kultuur ook” (Blankenhorn, bl. 93).

Is vaderskap ’n geldige verskoning vir mishandelende gedrag? Natuurlik nie! Geweld teen vroue en kinders is ’n gruwelike en tragiese misdaad. Wanneer misdadige gedrag voorkom, behoort vrouens en kinders stappe te neem om hulself te beskerm. Dit is egter verkeerd om te glo, soos sommige mense wel glo, dat die rol van vaderskap selfgeweld teen vroue verhoog. Trouens, bewyse van die Nasionale Misdaad Viktimisasie-opname toon ’n ses keer hoër waarskynlikheid dat kêrels en gewese mans – dus ongetroude mans – eerder as getroude mans, geweld teen vroue sal pleeg (ibid., bl. 35). Dit is duidelik dat wanneer mans getroud is, die risiko van mishandeling dramaties kleiner is. God verleen ’n mandaat aan die vader om die hoof van die huis te wees (Efesiërs 5:23), maar sy rol van leierskap moet in liefde en welwillendheid uitgeoefen word (vers 25).

Die Bybel toon vier duidelike rolle wat bedoel is om deur vaders vervul te word. Ons kan ook sien dat hierdie rolle deur ons geestelike Vader in die hemel vervul word. Wat is hierdie rolle?

Vaders voorsien

Toe God Adam en Eva uit die tuin verdryf het, was dit Adam se rol om kos vir die gesin te voorsien (Genesis 3:17-19). Die apostel Paulus het ons geleer dat dit vroue en moeders se primêre verantwoordelikheid was om die bestuurders van die huis te wees (Titus 2:5; 1 Timotheüs 5:14). Vandag skok hierdie Skrifgedeeltes mense en stel hulle in die verleentheid, maar dit beskryf basiese Bybelse rolle.

Trouens, wanneer mans wegskram van hul rol om te voorsien, veroorsaak hulle ongekende lyding. Skrywer Aubrey Andelin beskryf die reaksie van ’n vrou wie se man ’n goedbetaalde werk bedank het vir ’n ander werk wat hom gelukkiger gemaak het, maar waar hy net vier ure per dag gewerk het. “Dit lyk of [my man] nie omgee of hy vir ons sorg of nie ... ons is desperaat vir geld. Ons woon al die afgelope sewe maande by sy ouers en daar is geen hoop in sig dat ons moontlik ons eie plek sal kan kry om in te woon nie. Ek verloor alle respek vir my man en sonder respek is daar nie ware liefde nie” (Man of Steel and Velvet, bl. 78). Ja, ’n man se begeerte en opregte poging om vir sy gesinslede te sorg, is noodsaaklik indien hy hulle respek wil behou.

Soms is dit natuurlik onmoontlik vir ’n man om vir sy gesin te kan sorg. Soms moet ’n vrou die rol van “primêre broodwinner” inneem, maar die algemene Bybelse beginsel is dat ’n man vir sy eie gesin moet sorg (1 Timotheüs 5:8).

Voorsien God, as ons Vader, vir Sy kinders? Natuurlik! Hy stuur die sonlig en reën aan almal (Mattheüs 5:45). God voorsien spesiaal brood op die tafel van diegene wat Hom eer en liefhet, sodat hulle “in dae van hongersnood ... versadig [sal] word” (Psalm 37:19). Dawid skryf: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag [kinders] brood soek nie” (Psalm 37:25). Jesus leer Sy dissipels om hul Vader in die hemel te vra “gee ons vandag ons daaglikse brood” (Mattheüs 6:11) en dat God graag “goeie dinge gee aan die wat Hom bid” (Mattheüs 7:11). Laat ons opsien na ons geestelike Vader vir ons voedsel en behoeftes en laat ons die Bybelse rol van fisiese vaders hoog hou om hier op aarde dieselfde te doen.

Vaders beskerm

God het bestem dat vaders hul vroue en kinders moet beskerm. Mans is oor die algemeen groter en sterker as vrouens – ideaal vir die rol van beskermer en voorsiener. Hul groter bou en sterker spiere is ontwerp om hul te help om vir ’n vrou en kinders te sorg – nie om hulle te mishandel en te terroriseer nie.

Nie so lank gelede nie het die samelewing dit as vanselfsprekend aanvaar dat dit ’n vader se rol is om sy dogters te beskerm teen seuns se ongesonde toenadering. Meg Meeker beskryf haar pa soos volg: “My pa het my verbete beskerm, tot so ’n mate dat ek byna te skaam was om met iemand uit te gaan... Maar hy het my beskerm, nie teen roofsugtige seuns of monsters nie, maar teen myself. Ek was jonk en het mense te maklik vertrou en hy het dit geweet lank voordat ek dit besef het” (Strong Fathers, Strong Daughters, bl. 3).

Deesdae sien ons onbeheerde bendegeweld in gemeenskappe waar vaders grootliks afwesig is in hul kinders se lewens. “Buurte sonder vaders is buurte sonder mans wat in staat en bereid is om dwalende jeugdiges vas te vat, dreigende bendes te verjaag en vaders wat oortree, aan te spreek ... die afwesigheid van vaders ... ontneem die gemeenskap van daardie klein pelotons wat informeel, maar dikwels met doeltreffendheid, die seuns op straat beheer het” (Blankenhorn, bl. 31).

Sien ons hemelse Vader na ons om? Die Bybel is vol voorbeelde van die beskerming wat ons Vader  aan ons bied – veral in die Psalms. Selfs met saligmaking self – om ons van die uiteindelike vernietiging van die dood te red – beskerm God Sy kinders (1 Korinthiërs 15:57). God het ons lief, selfs tot op die punt waar Hy Sy Seun vir ons lewens opgeoffer het (Johannes 3:16).

Indien u God se beskerming in u lewe na waarde skat, moet u Hom waardeer en dankbaar wees vir die soortgelyke rol wat Hy vir vaders op aarde ingestel het.

Vaders onderrig

God het ook aan vaders ’n unieke rol in die opvoeding van hul kinders gegee. Die woord “dissipline” het nie oorspronklik straf beteken nie; dit het onderrig beteken. Net ’n paar honderd jaar gelede, in koloniale Amerika, het vaders “die finale verantwoordelikheid gehad van die versorging en welsyn van hul kinders ... vaders het die primêre verantwoordelikheid aanvaar van dít wat as die heel belangrikste ouerlike taak bestempel is: Die godsdienstige en sedelike opvoeding van die jeug”. Namate die industriële revolusie mans uit die huishoudelike ekonomie verwyder het, het vroue die primêre invloed in die huis geword. Hierdie verskuiwing was een van die “bepalende eienskappe van die Amerikaanse huishoudelike lewe sedert die 1840’s” (Blankenhorn, bl. 237).

Moeders is oor die algemeen beter toegerus om spesiale aandag te skenk aan hul kinders se onmiddellike fisiese en emosionele behoeftes. Vaders is aan die ander kant tipies meer besorg oor karaktergroei as oor die vervulling van onmiddellike emosionele behoeftes. Die Skrif herinner ons: “Tugtig jou seun, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie” (Spreuke 19:18). Beide moeder en vader is nodig om gesonde kinders groot te maak, want hulle komplimenteer en balanseer mekaar. Skrywer Tim Russert onthou: “Hoewel Vader se dissiplinêre taktiek selde op daardie tydstip deur sy kinders waardeer word, sou ek hierdie hele boek kon vul met dankbare getuienisse van seuns en dogters wat jare gelede aan die ontvangkant daarvan was” (Wisdom of our Fathers, bl. 223).

Dissipline beteken egter nie om in woede te straf nie. Paulus skryf: “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie” (Kolossense 3:21). Tesame met onderrig, verg dit weldeurdagte, bestendige en ferm dissipline – “vermaning” en “bemoediging” – wat nodig is vir vaders wat kinders moet opvoed “in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4; 1 Thessalonicense 2:11).

God, ons Vader, het ’n program vir karakterontwikkeling vir ons saamgestel. Soms behels dit beproewings en toetse (Jeremia 17:10), vir ons uiteindelike beswil. Ons word vertel: “ ... My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet ... Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad ... Want húlle het ons wel ’n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons Sy heiligheid kan deelagtig word” (Hebreërs 12:5-7, 9-10). Indien ons in Sy Koninkryk wil wees, moet ons groei en verander. God ons Vader is daartoe verbind om ons te help om dit te doen, sodat ons die “vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” kan geniet (vers 11).

Vaderskap is nie ’n vloek nie. Dit is ’n noodsaaklike aanvulling vir moederskap vir die opvoeding van die volgende geslag. Indien u ’n vader gehad het wat u opgelei het, wees dankbaar vir die leiding wat hy aan u verskaf het, hoe onvolmaak dit ook al mag wees. Laat ons ook almal teenoor God, ons Vader, dankbaar wees omdat Hy bereid is om ons op te lei vir die lewe saam met Hom in Sy Koninkryk.

Vaders versorg

Hoewel vaders dalk nie oor dieselfde diepe “emosionele put” beskik as moeders nie, is hul troos en bemoediging ook noodsaaklik vir hul kinders se groei. Terwyl sagmoedigheid, sagtheid en toegeneentheid nie so natuurlik vir party mans is nie, moet daardie kenmerke wel teenwoordig wees in vaders wat hoop om gebalanseerde, gesonde kinders groot te maak. “Sagmoedigheid is vir staalharde eienskappe soos wat genade vir geregtigheid is. Wanneer geregtigheid alleen uitgedeel word, is dit koud, onversetlik en onsimpatiek ... Hoewel geregtigheid in werklikheid gegee word tot voordeel van die individu, blyk dit sonder genade gemik te wees op die lyding of selfs die vernietiging van die persoon ...” (Andelin, bl. 213).

’n Vader wat nie op sy kinders se emosionele behoeftes ingestel is nie, sal koud en onbetrokke voorkom. Wanneer warmte, kommunikasie en bemoediging by ’n vader ontbreek, kan die rolle in die gesin oorgaan tot ’n meester-slaaf verhouding. Ongelukkig, soos skrywers Ernest Havemann en Marlene Lihtinen opmerk, is dit hoe baie mense vandag tradisionele huweliksrolle sien (Marraige and Families, bl. 206). Dit was egter nooit God se bedoeling dat vaders koud en afsydig moes wees nie. Let op hoe Hy Homself as ons Vader beskryf: “Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos” (Jesaja 66:13). Paulus verduidelik dat hy in sy handeling met die Kerk probeer het om soos ’n versorgende, melelydende vader te wees wat vertroos (1 Thessalonicense 2:11).

Namate die samelewing al hoe meer vervalle en self-obsessief raak, het kinders die krag en liefde van toegewyde vaders wat by hulle sal staan, hulle sal ondersteun en vir hulle ’n held kan wees, meer as ooit tevore nodig. Britse sielkundige Dr. Joshua Bierer het op ’n keer opgemerk: “[Amerika is] steeds die vaderlose samelewing. Die eggenoot is nie meer ’n eggenoot nie. Alle vroue smag na ’n sterk man en hy is net nie daar nie” (Andelin, bl. xi). Kinders het vaders nodig – en vroue het mans nodig – wat nie sal swig voor groepdruk van “wat ander ouers doen” nie. Kinders het toegewyde vaders nodig wat bedag is op hul toekomstige karakter – nie wat net toegee aan elke gril en gier van hul kinders nie.

In ’n toespraak aan die Nasionale Vadersdagkomitee, het generaal Douglas MacArthur gesê: “Ek is van beroep ’n soldaat ... Maar ek is trotser, oneindig trotser om ’n vader te wees ... Dit is my wens dat my seun, wanneer ek nie meer daar is nie, my sal onthou, nie soos op die slagveld nie, maar in die huis” (Dobson, bl. 68-69). Ware vaderskap is ’n edel en eerbare rol vir ’n man en is die moeite werd om na te streef.

Sal “goeie gesinsmanne” uitsterf? Nie solank daar mans – en vrouens – is wat die belangrikheid van ’n vader in die samelewing, vandag en in die toekoms, waardeer nie. God het aan ons die vadersrol gegee as ’n spieëlbeeld van Sy beskerming, voorsiening, dissipline en liefde vir die ganse mensdom. Wanneer Vadersdag weer nader kom, moet ons God – ons Vader – dank vir die geskenk van vaderskap.

 

Het seuns ’n vader nodig?

* Die Nasionale Sentrum vir Kinders in Armoede berig dat die moontlikheid vir vaderlose seuns tweemaal so groot is om skool te verlaat of in die tronk te beland, en byna viermaal so groot is dat hulle behandeling sal moet ontvang vir emosionele of gedragsprobleme. 
* Dr William Pollock, ’n psigiater in Harvard, en skrywer van Real Boys, beweer dat egskeiding moeilik is vir kinders van beide geslagte, maar dat dit vernietigend is vir seuns. Volgens hom is die basiese probleem die gebrek aan toesig en dissipline tydens die vader se afwesigheid en dat hy nie beskikbaar is om hul te leer wat dit beteken om ’n man te wees nie. Pollock glo ook dat vaders ’n beslissende rol speel om seuns te leer om hul emosies te beheer. 
* Don Elium, skrywer van Raising a Son, sê dat met probleemseuns, die algemene tema afwesige, onbetrokke vaders is.
* Die tronke is vol van mans wat deur hul vaders verlaat of verwerp is. Bill Glass, ’n evangelis wat bykans elke naweek vir 25 jaar berading gedoen het onder mans wat in aanhouding is, sê dat onder die duisende prisoniers wat hy ontmoet het, daar nie een is wat werklik sy vader liefhet nie. Vyf-en-negentig persent van diegene wat ter dood veroordeel is, haat hul vaders.

(Bron: Bringing up Boys, deur James Dobson, MD., Bll. 55-56, 60).  

 

Het dogters vaders nodig?

* Dogters wat na aan hulle vaders is, openbaar minder angstige en inkennige gedrag.
* Dogters wat ondervind dat hul vaders baie vir hulle omgee en wat aan hul vaders gebonde voel, probeer beduidend minder kere selfmoord pleeg, is minder ontevrede met hul liggame, ly minder aan depressie of ’n lae selfbeeld, gebruik minder dwelms en het minder ongesonde gewigsprobleme.
* Dogters met betrokke vaders is tweekeer meer geneig om nie skool te verlaat nie.
* Dogters met vaders wat betrokke is in hul lewens het hoër kwantitatiewe en verbale vaardighede en hoër intellektuele funksionering.
* Dogters wie se ouers geskei is of apart woon voordat hulle 21 jaar oud is, se lewensverwagting is vier jaar korter.
* Dogters met goeie vaders is minder geneig om hulself op te dring om manlike aandag te trek.
* Dogters met betrokke vaders wag langer om seksueel aktief te raak en het ’n laer tempo van tiener-swangerskappe.  
* Vyf-en-sewentig persent van tiener dogters sê hul vaders het hul keuse om seksueel aktief te raak, beïnvloed.
* ’n Dogter uit ’n middelklas gesin wie se vader in die huis woon, het ’n vyfmaal laer risiko om buite die huwelik swanger te raak.
* Meisies wat saam met hul moeders en vaders leef, ondervind beduidend minder groei en ontwikkelingvertragings, het minder leerprobleme, emosionele onbestendigheid en gedragsprobleme.
* Meisies wat weg van hul vaders woon, beskik beduidend minder oor die vermoë om hul impulse te beheer en het ’n swakker begrip van reg en verkeerd.

(Bron: Strong Fathers, Strong Daughters, deur Meg Meeker, M.D., bll. 23-25.)