VRAAG: Ek het so pas ontdek dat die weeklikse Sabbat Vrydag teen sononder begin en Saterdag teen sononder eindig, soos die Bybel sê. Wat moet ek doen om “dit heilig te hou” soos ons beveel word in Exodus 20:8?

ANTWOORD: Sommige mense dink verkeerdelik aan die Sabbat as ’n tyd wanneer God ons onderdruk deur ons te verbied om te doen wat ons graag wil doen. Dit is eintlik ’n tyd wat Hy vir die mensdom geskep het om ons verligting te gee van die week se spanning en ons aandag te fokus op die Een wat daardie dag gemaak en dit afgesonder het vir Sy heilige doel. “Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:27-28).

Waarom onderhou ons die Sabbat? Dit is een van die Tien Gebooie wat God gegee het en wat Christus self onderhou het en aan Sy volgelinge geleer het om ook te onderhou (Mattheus 19:17). Ons lees: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Exodus 20:8-11).

Elke Sabbat los ons al ons werk en ons distansieer ons van oppervlakkige aktiwiteite soos om na sport te kyk, of ons te vermaak met televisie of die Internet, wat ons aandag aftrek van God en Sy plan vir ons. Dit gee ons tyd om Bybel te lees, te bid en na te dink oor die dinge van God. Op die Sabbat behoort ons te fokus om van God te leer en om Hom te aanbid. Diegene wat binne ’n redelike reisafstand van ’n groep ware Christen gelowiges woon, behoort saam te kom vir aanbidding en om geestelik saam te verkeer. “... en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag [van Christus se Wederkoms] sien naderkom” (Hebreërs 10:24-25).

Christus verduidelik dat ons op die Sabbat goeie dade behoort te doen (Mattheus 12:12). ’n Persoon wat iemand in nood op die Sabbat help, skend dit nie; Christus het die siekes op die Sabbat genees, waarvoor die Fariseërs saamgesweer het om Hom om die lewe te bring (verse 13-14). Christene behoort egter hulle gewetes te ondersoek om seker te maak dat hulle nie Christus se opdrag misbruik nie. Dit is geoorloof vir ’n Christen om ’n lewe op die Sabbat te red, maar dit is nie toepaslik om geld op die Sabbat te verdien deur mens se gewone besigheid te bedryf met die verskoning van om mense te “help” nie.

Wanneer ons God se ware sewende-dag Sabbat na behore onderhou, seën Hy ons ryklik. “As jy jou voet terughou van die sabbat – om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ’n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek, of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob” (Jesaja 58:13-14).

God se Sabbatte is ’n tyd van vreugde en van fisiese en geestelike verfrissing. “Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof – ’n feesvierende menigte” (Psalm 42:5).

Om meer te leer van die betekenis en onderhouding van die sewende-dag Sabbat, vra asseblief u gratis kopie van ons boekies, Watter Dag is die Christelike Sabbat? en Die Heilige Dae – God se meesterplan aan. Skryf aan u naaste streekskantoor (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of gaan aanlyn by www.wvm.co.za.