Vraag: Ek bly in u tydskrif lees van Jesus Christus se toekomstige duisendjarige heerskappy op die aarde. Indien God weet dat ons wêreld in so ’n gemors is, en indien Hy weet dat slegs Hy dit kan beter maak, waarom sou Hy dan duisende jare wag en intussen soveel lyding en swaarkry toelaat? ’n Werklike liefhebbende God sou nie wag nie, sou Hy?

Antwoord: God is nie onbewus van die mensdom se swakhede en foute nie, ook is Hy nie gelukkig daaroor nie. “God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie” (Psalm 53:3-4).

Die meeste mense aanvaar dat, ten spyte van die lamlendige toestand van ons wêreld, God probeer om die wêreld en sy mense tans te red. Indien ons egter aanneem dat God probeer om die mensdom nou te red, mag Sy optrede moeilik wees om te verstaan. Meer as twee-derdes van alle mense wat nou leef, maak nie eens daarop aanspraak dat hulle Christene is nie, en die meeste van die “Christene” glo nie of beoefen nie wat Jesus verkondig het nie. Ons weet dat daar geen ander naam as die naam van Christus is waardeur ons gered kan word nie (Handelinge 4:12), nogtans weet ons dat die meeste mense nie nou deur daardie naam gered word nie – en ontelbare miljoene het dit nog nooit eens gehoor nie. Indien God probeer om die mensdom nou te red, het Hy hopeloos gefaal.

Die waarheid is dat indien God wel sou probeer om die mensdom nou te red, Hy sou slaag! Die Skrif openbaar dat God nou slegs ’n relatief klein persentasie mense in ons huidige tyd roep. Hulle is die “eerste vrugte” van die wat gered word. (Jakobus 1:18; Openbaring 14:4). Die meeste mense wat geleef en gesterf het, sal nie die ware evangelie hoor voordat God hulle sal opwek tot fisiese lewe in die oordeelstyd van die Groot Wit Troon nie (Openbaring 20:11-12). Om meer oor hierdie wonderlike aspek van God se plan te wete te kom, lees asseblief ons artikel “Sal die dooies weer leef?” elders in hierdie uitgawe.

Watter doel dien God se plan? Waarom kan almal nie tegelykertyd gered word nie? God is besig om ’n gesin saam te stel en diegene wat Hy nou roep, sal met Jesus Christus in die huwelik tree (Openbaring 19:9) en sal by Sy gesin gevoeg word sodat hulle onder Christus kan dien gedurende die Millennium, wanneer die hele wêreld onder Christus se regering sal staan en sal leer om volgens Sy weë te leef. Om meer te leer oor God se regering, lees asseblief ons artikel “God se Koninkryk is ’n WERKLIKE Regering” elders in hierdie uitgawe.

Indien Jesus Christus vandag sou terugkeer, sal daar nog steeds mense wees wat sê: “Ons sou onsself goed kon regeer sonder U hulp!” Die waarheid is dat die mensdom as geheel nie na God sal soek totdat hul weë so ’n groot ellende en benoudheid veroorsaak dat die mense tot die slotsom gekom het dat daar geen ander manier is om totale uitwissing vry te spring nie. Aan hulself oorgelaat, sal menslike wesens die wêreld tot op die randjie van kosmiese uitwissing bring. Uiteindelik sal ons wêreld deur so ’n tyd van verskriklike oorlog en vernietiging gekonfronteer word dat, tensy Jesus Christus weer kom, alle lewe op die aarde uitgewis sal word. “Want daardie dae sal daar ’n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie. En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort” (Markus 13:19-20). Tot daardie tyd laat God menslike wesens toe om aan hulself te bewys dat hulle selfsugtige lewenswyses slegs ellende, smart en vernietiging kan bring.

Soos ons egter hierbo gesien het, roep God tans slegs ’n relatief klein groepie mense. Diegene wat Hy roep het die verstommende geleentheid om “eerste vrugte” te word – die eerste groep mense om deel van Sy familie te word as verheerlikte Geestelike wesens – om Jesus Christus te help om die nasies te regeer. Dus: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).