Beijing, China – Hier in die wêreld se dig bevolkte nasie is gebeure aan die opbou wat ’n dramatiese uitwerking op ons lewens gaan hê. Oppervlakkig kom dinge tans nog kalm voor. My vrou en ek het bevind dat die mense hier baie aangenaam en uiters hoflik is. Die Chinese leierskap probeer alles in hulle vermoë om die 2008 Olimpiese Spele ’n reuse sukses te maak. China se amptelike beleid is tans om ’n veldtog van “glimlaggende diplomasie” te voer. Almal is dus baie hoflik en daar is oral glimlagte solank u nie die regerende elite op enige wyse teengaan nie.

Die rookmis hier is egter amper onuithoubaar – en dit is selfs erger in Shanghai. Enigeen wat nie aan hoë vlakke van besoedeling gewoond is nie, moet nie onbehandelde water in Beijing drink nie. Toeriste moet hier nie ongekookte vrugte en groente eet nie. Onder my hotelvenster, terwyl ek hier skryf, het die spoed van die motorverkeer afgeneem tot ’n slakkepas, selfs in die middel van die dag. Gedurende ons sesdaagse besoek aan China, het ons bevind dat massiewe verkeersopeenhopings regoor Beijing en Shanghai aan die orde van die dag is.

Hierdie mense is egter taai. In ons gesprekke met van die Westerse ingenieurs hier in ons hotel, het ons uitgevind dat baie Chinese tot 15 uur per dag werk, soms ses dae per week. Ons het die klopbore hoor stamp en die boupersele verlig gesien tot amper middernag.

Dit ly geen twyfel nie – China is besig om opgang te maak.
Terwyl dit alreeds die land met die grootste bevolking is, beskik China ook oor buitelandse finansiële reserwes wat die reserwes van ander lande in die skadu stel. Chinese finansiële reserwes oorskry $1.2 biljoen! Die meeste van hierdie reserwes bestaan uit VSA-regeringsobligasies en ander VSA-waarborge. Dus, alhoewel min normaalweg in die VSA media hieroor gesê word, sal China ’n toenemende invloed en selfs mag oor die finansiële toekoms van elke man, vrou en kind in Amerika hê! As China sou besluit om die prop uit te trek en begin om groot hoeveelhede VSA skatkis-banknote te verkoop, sal daar baie gou ’n massiewe onttrekking wees van bates wat aan die dollar gekoppel is. Solank as wat die meeste mense in Amerika ver bo hul vermoëns lewe, sal China, met elke jaar wat verloop, toenemend meer beheer oor Amerika se ekonomiese toekoms verkry. Dink daaraan!

Die Ewige God sê, “Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7).

Aangesien die meeste mense in die Verenigde State [en ook in Suid-Afrika] nie langer werklik glo en toepas wat die Bybel ons leer nie, kan ons nou maar God se finansiële waarskuwing vergeet? Nee! Nog minder mag ons hierdie geïnspireerde waarskuwing vergeet wat Hy aan die voorvaders van die Amerikaners en ander nasies van Britse afkoms gegee het, en wat in beginsel net so op ons van toepassing is: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees. En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie” (Deuteronomium 28:43-45).

Intussen is die Chinese stilweg maar ywerig besig om baie van hulle hulpbronne aan te wend om een van die sterkste militêre magte in die menslike geskiedenis op te bou. Met die wêreld se grootste staandemag – wat nou op 2.5 miljoen aktiewe personeel geskat word – is China voortdurend besig om sy militêre begroting te vergroot. Die VSA se Visepresident, Dick Cheney, het in Februarie ernstige kommer uitgespreek oor China se militêre opbouing. Die Chinese militêre begroting het vir jare met ’n dubbelsyfer persentasiekoers gegroei, met ’n 18 persent groei wat vir 2007 beplan is. Soos die gerespekteerde tydskrif, Economist, vroeër hierdie jaar berig het, “Die Volk se Bevrydingsleёr is uiters terughoudend oor sy vermoëns en voornemens, maar het in Januarie ’n missiel die ruimte ingestuur om ’n ou weersatelliet te vernietig. ‘China se militêre beleid is teenstrydig met sy land se verklaarde vreedsame doelwitte’, het Mnr. Cheney gesê – wat moontlik aandui dat hy nie werklik in daardie doelwit glo nie” (31 Maart 2007).

Die VSA is in ’n verswakte toestand, veral as gevolg van die geweldige verliese aan geld, militêre toerusting en mannekrag wat in die konflikte in Irak en Afganistan gely is. Die land is dus in ’n powere posisie om China militêr – of op enige ander manier – in Suidoostelike Asië die stryd aan te sê. Wat sal die VSA moontlik kan doen indien China besluit om Taiwan terug te eis? Dit is tyd vir Amerika om die waarheid onder oё te sien. Die VSA as ’n nasie is besig om te verswak op ekonomiese en militêre gebied en as ’n morele invloed in die wêreld. China is egter besig om opgang te maak!

Ten spyte van China se groeiende ekonomiese en militêre mag, word die land geteister deur enorme probleme. Alhoewel die kolossale oplewings in die boubedryf in Beijing, Shanghai en ’n paar ander groot stede werk aan miljoene werkers verskaf, word addisionele honderde miljoene Chinese in die plattelandse gebiede ver agter gelaat. Hulle het dikwels ’n tekort aan genoegsame voedsel en suiwer water om die lewe slegs draaglik te maak. Gedurende die afgelope paar jaar was daar reg oor China derduisende proteste en onluste in die kleiner stede en dorpe. Dit veroorsaak ’n kolossale probleem vir China se regerende elite. Met die komende Olimpiese Spele en hulle begeerte om te spog met hulle nasie, wil die Chinese leiers nie hê dat daar enige soort mini-opstand moet plaasvind nie.

Kan dit gebeur te midde van soveel Chinese voorspoed? Daar is in werklikheid “twee Chinas”. Buitelandse toeriste en besigheidslui sien slegs die glansende rykdom en materiële vooruitgang wat in die groot stede opsigtelik is. Intussen dui honderde verslae aan dat daar in die binnelandse gebiede ’n groeiende rusteloosheid onder die massas heers. Sal daar dus ’n soort van politieke oproer wees wat China se poging om werklik ’n toonaangewende wêreldmoondheid te word, gaan dwarsboom?

Sal die groeiende mag van ’n verenigde Europa – gelei deur ’n herrese Duitsland – vinnig daardie kontinent op die voorgrond stoot in die wedloop om supermoondheid-status? Die meeste lesers van die Wêreld van Môre ken die antwoord. Dit verander egter nie die feit dat China se ekonomiese en politieke invloed besig is om te groei nie; en dat Amerika se werklike kolossale skuld aan ander lande – veral aan China – die voorbereiding is vir die Ewige God om die trotse mag wat Amerika so lank geniet het, te “breek” nie (Levitikus 26:19).

Selfs dán moet ons besef dat beide die VSA en China ’n werklike bewustheid van die Skepper van die heelal kortkom. Die Economist tydskrif het onlangs die volgende aangaande die Chinese berig: “’n Konstante tema wat van bedagsame Chinese gehoor word, is dat China se opgang ’n morele onderskraging benodig en dat daar ’n morele leemte in die Chinese lewe is. Die Dalai Lama plaas die blaam op die Kommunistiese Party se ‘radikale atiësme’ en voorspel dat ‘vroeër of later, ’n geestelike of morele kultuur sal moet kom om die innerlike leegheid te vul; uiterlik sal daar wet en orde, demokrasie en vryheid van die pers moet wees’” (ibid.).

Wat die VSA aanbetref, is die meeste van u wat hierdie tydskrif lees maar alte bewus van die ware tragiese toestand waarin Amerika moreel verkeer. Televisieskerms regoor Amerika bly deurtrek met ongeoorloofde seks. Geweld, dwelmmisbruik en die uitermatige misbruik van alkohol is aan die toeneem. Amerikaners laat al meer toe dat hulle wetgewers en regters “God uit die publieke oog verwyder”. Vir die VSA – net soos vir enige nasie wat nie tot sy sinne kom en waarlik na die God van die Bybel begin “soek” nie – is die rigting van die toekoms afwaarts.

Diegene van u wat die voorspellings van die Bybel bestudeer het, weet dat die Ewige God toon hoe die Amerikaners en ander volke van Britse afkoms, wat die “geboortereg” beloftes wat aan Abraham gegee is ontvang het, voortdurend sal sien hoe hulle ontsaglike materiële seëninge stap vir stap weggeneem gaan word, tensy hulle waarlik berouhet, hulle bekeer en terugkeer na ons Skepper en Sy regverdige lewenswyse.

Die opkoms van China en sy ontsaglike ekonomiese, politieke en militêre mag sal onteenseglik ’n groot rol speel om die Amerikaners en ander volke van Britse afkoms, te verootmoedig. Ons behoort almal aan die geheelbeeld te dink wanneer ons wêreldgebeure dophou en sien hoe die doel van die Almagtige God uitgewerk word. Onthou, nadat Jesus die laaste gebeure van hierdie tydvak beskryf het, sê Hy: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).