Vraag: Vanwaar kry u die idee dat 6,000 jaar van selfregering aan die mensdom gegee is, wat gevolg sal word deur ’n 1,000-jarige Regering van Jesus Christus?


Antwoord: Die eerste twee hoofstukke van Génesis toon dat God in ’n tydperk van ses dae die aarde herskep het en die voorouers van alle lewe vandag. Hy het toe op die sewende-dag Sabbat gerus. Dit het ’n weeklikse siklus begin waarin die mens ses dae moet kan en elke Sabbat kan rus (Exodus 20:8-11). In Hebreërs 4:3-11 verduidelik die apostel Paulus dat die sewende-dag Sabbat die wonderlike tyd van vrede en rus voorstel wat sal volg op hierdie huidige tydperk van die mensdom se aktiwiteite. Die apostel Johannes is geïnspireer om te skryf dat die naderende tyd, wat begin met die Wederkoms van Christus om Sy Koninkryk te vestig, 1,000 jaar sal duur (Openbaring 20:1-4) – ’n tydperk wat dikwels die Millennium genoem word.

Aangesien die sewende dag ’n periode van 1,000 jaar in God se plan voorstel, word aanvaar dat die vorige ses dae van die week ook 1,000 jaar periodes verteenwoordig. Die apostel Petrus het hierdie beginsel duidelik gemaak toe hy die verwagting van Christus se Wederkoms bespreek het: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8).

Hierdie konsep was goed bekend onder die Jode van Petrus se tyd. Ongeveer 200 jaar voor Christus, het Rabbi Elias geskryf: “Die wêreld bestaan sesduisend jaar, tweeduisend voor die Wet, tweeduisend onder die Wet en tweeduisend onder die Messias” (William Pym, A World of Warning in the Last Days, 1841, bl. 88). Die beroemde geskiedskrywer Edward Gibbon skryf dat “die tradisie toegeskryf is aan die profeet Elia” (History of the Decline and Fall of the Roman Empire, 1875, bl. 533). The Encyclopedia of the Jewish Religion (1965, bl. 263) berig dat die tannaim – die rabbi’s van Christus se tyd – so ’n interpretasie gebaseer het op Psalm 90, wat deur Moses geskryf is: “Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak” (vers 4). Die tannaim het gesê aangesien daar ses dae van die skepping was, sal die wêreld 6,000 jaar bly bestaan. Die sewende “wêreldse dag” sou die 1,000 jaar van die Messias se heerskappy wees.

Die 7,000-jaar plan van God was in die vroeëre Kerk “sorgvuldig ingeskerp” (Gibbon, bl. 534). Die “kerkvader” Irenaeus is deur Polycarpus, dissipel van die apostel Johannes, onderrig. Ongelukkig het Irenaeus van die leerstellings van Christus se Apostels afgewyk, maar hy het klaarblyklik ’n mate van waarheid behou. In Against Heresies (ca. 150 n.C.) het hy oor die geloof van die vroeë Kerk gepraat: “Hierdie is ’n verslag van die dinge wat vroeër geskep is, net soos dit ook ’n profesie is van wat gaan kom. Want die dag van die Here is soos ’n duisend jaar en in ses dae is die geskape dinge voltooi: Dit is dus duidelik dat dit tot ’n einde sal kom in die sesde duisend jaar periode” (boek 5, hoofstuk 28, afdeling 3).

Om verder te illustreer hoe algemeen die oortuiging was dat die Millennium 6,000 jaar na Adam se skepping sal begin, kan baie meer van die geskrifte deur ander vroeë rabbi’s en “kerkvaders” ondersoek word, soos dié van Rabbi Ketina, Lactantius, Victorinus, Hippolytus van Rome, Justin die Martelaar en Methodius. Alhoewel daar nie op hierdie mense staatgemaak behoort te word vir Bybelse waarheid nie, getuig hulle beslis hoe wydverspreid hierdie begrip in die vroeë eeue na Christus se dood was. Hierdie is in werklikheid die gerespekteerde mening van die meeste belydende Christelike geleerdes deur die eeue heen, tot vandag toe.

God het vir Adam gesê dat wanneer hy die “dag” die verbode vrug eet, hy sou sterf (Génesis 2:17) – maar Adam het geleef en 930 jaar oud geword (Génesis 5:5)! Hoe is dit moontlik? Een manier is net soos Methodius en ander vroeë kerkkommentators dit verduidelik het: Aangesien ’n dag by God soos ’n duisend jaar is, moes Adam sterf voordat die eerste 1,000 jaar dag voltooi was en hy hét.

Wat is die doel van hierdie 6,000 jaar van menslike selfregering? God laat mense nou toe om, deur menslike lyding, die lesse “neer te skryf” wat nodig is om te leer as gevolg van hulle teenkanting teen God. In die Millennium sal mense vir 1,000 jaar die vrede en harmonie van God se lewensweg met die vorige 6,000 jaar van oorlog en twis kan vergelyk. Uiteindelik, in die Groot Wit Troon Oordeel (Openbaring 20:11-13), sal diegene vir wie God nog nie voorheen geroep het nie, in staat wees om die groot verskil te ervaar tussen die menslike lewenswyse en om te leef volgens God se lewenswyse. Om meer te wete te kom oor God se plan vir die mensdom, bestel gerus u gratis eksemplaar van Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees?