Na sononder op 14 Nisan (Dinsdag, 11 April 2006), sal lidmate van God se Kerk vergader vir die mees gewyde gebeurtenis op Sy heilige kalender—die Pasga. Jaar na jaar lyk dit of die Pasga en Dae van Ongesuurde Brode baie van ons bekruip en is ons dalk fisies en geestelik onvoorbereid om dit te onderhou soos God wil hê ons dit moet onderhou.

Hoe moet ons vir die Pasga voorberei? Een noodsaaklike deel—wat dikwels nagelaat word, al is dit 'n gebied waar bykans almal van ons kan verbeter—is dit: Het ons vrede gemaak met almal wat ons te na gekom het en hulle vergewe, en het ons self vergifnis gevra van diegene teen wie ons oortree het?

Jesus Christus gee vir ons die sleutel om die vergifnis te ontvang wat ons almal so broodnodig het: “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie” (Markus 11:25-26). Om ander te vergewe is 'n voorvereiste om die vergifnis van God te ontvang wat ons almal so dringend nodig het.

Tog is daar gedoopte lidmate van God se Kerk wat al jare in Sabbat- en Heilige Dag-dienste sit—en elke Pasga die brood en wyn neem—wat steeds weier om saam met een of meer van hul geestelike broers of susters te kuier (of, in 'n paar uiterste gevalle, selfs met hulle te praat), weens die een of ander ware of verbeelde belediging of minagting wat in die verre verlede plaasgevind het.

Wat sê die Bybel vir ons oor die uiteinde wat vir iemand met so 'n gesindheid wag, wat weier om hom te bekeer en om ontslae te raak van vyandigheid en bitterheid teenoor iemand anders? “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis... Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here [God sal hul sondes onthou]. Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en 'n aantal het ontslaap” (1 Korintiërs 11:25-30). Struweling en 'n onbekeerde gesindheid bring stres en 'n bitterheid van die hart mee wat die verstand, liggaam en gees verweer. Dit weer, kan aanleiding gee tot gesondheidsprobleme en kan selfs tot voortydige dood lei.

Nie een van ons is uit ons eie “waardig” nie. Ons “geregtigheid” diskwalifiseer ons, want, in God se oë, word dit gelykgestel aan 'n besoedelde kleed (Jesaja 64:6). Dit is waarom ons die Pasga en die toepassing van Christus se gestorte bloed nodig het vir die vergifnis van ons sondes. Ons moet onsself regdeur die jaar ondersoek—en moet dit met spesifieke intensiteit doen namate die Pasga nader kom. “Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word [wanneer Christus ons oordeel omdat ons versuim het om onsself korrek te oordeel], word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie” (1 Korintiërs 11:31-32).

Wanneer ons onsself ondersoek, moet ons die feite van elke negatiewe situasie in ons lewens eerlik oorweeg. Ons moet gereed wees om ons dade en ons gedagtes te ondersoek, om ons skuld of onskuld te onderskei en te doen wat ons moet om ons te bekeer van die sondes wat ons gepleeg het en die saak regstel. Christene moet hulself nie met 'n ydele gesindheid ondersoek, ten einde hulself te regverdig nie; hulle moet oordeel volgens die standaarde van God se woord (Jakobus 1:23-25). Die apostel Paulus moedig die Korintiërs (en ons) aan om hul geestelike toestand te evalueer: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie!” (2 Korintiërs 13:5).

Ons word vertel om onsself te ondersoek, nie om ander mense te ondersoek wat ons dalk beledig of seergemaak het nie. Christus is die Een wat hul regter sal wees, as hulle versuim om hulle te bekeer van die sondes wat hulle kon gepleeg het. Elkeen van ons moet rekenskap gee vir ons eie oortreding van God se wet. “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:17-19).

Indien ons, na ons selfondersoek, vind dat ons 'n gesindheid van veragting, wantroue of haat teenoor 'n ander persoon het, moet ons eers na ons broer of suster in Christus gaan en probeer om die misverstand of geskil tussen ons op te los. Tussen nou en die Pasga, moet elkeen van ons diegene nader wat ons verontreg het, of wat ons te nagekom het, en probeer om die saak in privaatheid uit te stryk en tot 'n verstandhouding te kom wat vergifnis insluit. Onthou Christus se opdrag: “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente [die leraars]; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar” (Mattheus 18:15-17). Indien ons met 'n regte en nederige gesindheid die plan volg wat in Mattheus 18 vir ons uitgelê is, sal vrede in die liggaam van Christus herstel wees.

Sê die Woord van God vir ons dat daar party mense is na wie ons nie moet gaan wanneer 'n oortreding plaasgevind het nie? Inderdaad, ja. “Hy wat 'n spotter teregwys, behaal vir homself skande, en hy wat 'n goddelose bestraf, vir homself 'n skandvlek. Bestraf 'n spotter nie, anders haat hy jou; bestraf 'n wyse, en hy sal jou liefhê” (Spreuke 9:7-8). Nie almal is 'n broer of suster in Christus nie. Indien ons in ons hart voel dat iemand nie as 'n geestelike broer of suster benader kan word nie, hoe moet ons reageer om te doen wat reg is in God se oë? Onthou, dit is nie ons prerogatief om 'n ander persoon se stand voor God te oordeel nie. Hoewel ons nie 'n ander persoon se bekering moet oordeel nie, kan en moet ons egter die vrugte van hul optrede waarneem en dienooreenkomstig optree. Dalk kan ons nie die persoon benader wat ons seergemaak het nie. Kan ons egter toelaat dat 'n gesindheid van haat ontwikkel? Nee! Onthou Christus se woorde: “Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig. Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie. Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie. En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Lukas 6:27-31).

Selfs al kan ons onsself nie sover bring om in nederigheid na die ander persoon te gaan, gereed om ons aandeel in 'n erkende probleem te erken en dit uit te werk nie, is haat nooit ’n opsie nie. In sulke gevalle moet ons vergewe, vergeet en voortgaan met ons lewens—of ons kan verbitterd raak en die baie ware moontlikheid in die gesig staar dat ons sondes teen ons gehou sal word.

Ons hemelse Vader is 'n God van vrede en liefde. Daar sal geen stryery, geskille of bitterheid in Sy gesin wees nie. Diegene wat Hy geroep het, sal aan Hom moet bewys dat hulle geskille vinnig kan oplos en onvoorwaardelike spontane besorgdheid het vir die welsyn van almal, voordat hulle geesteswesens gemaak sal word en ewige lewe sal ontvang. “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Mattheus 5:7-10).

Pasga sal hier wees voor ons ons oë kan uitvee. Dit is nou die tyd vir elkeen van ons om ons geestelike huis in orde te kry. Christus wil sien hoe ons onsself voorberei voordat ons die brood en wyn hierdie jaar neem.

Die apostel Paulus gee vir ons 'n formule waarvolgens ons die hele jaar moet leef, nie net voor Pasga nie. “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Romeine 12:17-21).

God se Woord onthul die gesindhede en optredes duidelik wat ons teenoor ons lidmate en alle mense moet openbaar. Hy het duidelik gesê wat ons moet doen, as ons wil hê ons sondes moet vergewe word. Ons moet ander mense vergewe en ware liefde teenoor hulle toon, selfs al bekeer hulle hulle nie van hul sondes teenoor ons nie. God, wat die volmaakte regter is, sal elkeen van ons beloon volgens ons werke.

Namate Pasga nader kom, hou Christus elkeen van ons dop. Hoe sal ons reageer? Sal ons geestelik gereed wees vir die Pasga?