Ongeveer ’n driekwart van die aarde is met water bedek. Daar is soveel water op ons planeet dat dit vanuit die ruimte soos ’n blou bal lyk. Water is een van die belangrikste vereistes vir lewe. Terwyl sommige organismes in soutwater kan floreer, het die meeste lewende organismes – met inbegrip van die mens – vars water nodig om te kan bestaan. Alhoewel dit noodsaaklik is vir menselewe, is vars water nie so geredelik beskikbaar nie. Dit maak slegs sowat 3 persent van alle water op aarde uit. Ongeveer 69 persent van daardie vars water word as ysberge en gletsers in die poolstreke gestoor terwyl nog 30 persent water moeilik toeganklike ondergrondse water is. Dit laat ongeveer net 1 persent van alle vars water op ons planeet wat geredelik beskikbaar is vir menslike verbruik en wat hernubaar is deur die watersiklus – ’n skamele 0,03 persent van die water op aarde.

Watervoorsiening word as vanselfsprekend aanvaar in stede regoor Kanada, soos in ontwikkelde gebiede wêreldwyd. Die meeste Kanadese verwag toegang tot skoon drinkwater met die oopdraai van ’n kraan. Wat gebeur egter wanneer daardie verwagting vir iets wat so noodsaaklik is vir ons bestaan, misluk?

 

Stukkende pyplyn, verwoeste lewenslyn

Onlangs is die Kanadese stad Calgary, ernstig ontwrig toe sy beskikbare watertoevoer met 60 persent verminder het. Calgary, in die provinsie Alberta, is die grootste stad in die drie prêrie-provinsies, wat Manitoba en Saskatchewan insluit. Die stad se bevolking is 1,3 miljoen, met ’n bykomende 300,000 in die groter metropolitaanse gebied. Inwoners van Calgary is gewoond aan droë somers; die stad het ’n semi-droë klimaat met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van sowat ’n halwe meter.

Die oorvloed van water wat uit die Rocky Mountains na die weste van die stad vloei, dra egter gewoonlik baie by tot die watervoorraad. Munisipale waterbeperkings is in die verlede ingestel, maar nooit so omvangryk of vir so ’n langdurige periode as dié wat gedurende die somer van 2024 ingestel is nie. Op daardie tydstip het ’n hoof watertoevoerpyp gebreek op die Bearspaw suidelike hoofwatertoevoerlyn, in die Bowness en Montgomery-omgewing. Watertoevoer wat vanaf die Bearspaw watersuiweringsaanleg na Calgary se waterverspreidingsnetwerk vloei was ontwrig.

Kort nadat die breuk van 5 Junie ontdek is, het stadsamptenare, noodwaarskuwings uitgereik en burgers gewaarsku om nie grasperke of tuine nat te spuit nie, om nie te stort of te bad nie, om nie skottelgoed te was of toestelle wat water gebruik te gebruik nie en om water te bespaar op enige manier wat hulle redelikerwys kon. Aan die begin, terwyl die probleem ondersoek is, het die inwoners gesê hulle is verward deur amptenare se kommunikasie oor die erns van die situasie – wat verdere chaos vir die burgers van Calgary en die omliggende gebiede geskep het. Dit was nogtans duidelik dat die stad se water-infrastruktuur in gevaar gestel was en dat die gebruik ingekort moes word.

 

Verbroude herstelwerk en verouderende infrastruktuur

Die stukkende Bearspaw suidelike hoofwatertoevoerlyn is net betyds voltooi vir die begin van 5 Julie se jaarlikse Calgary Stampede, met inbegrip van herstelwerk aan ander kommerwekkende areas wat deur ’n pyplyn-skanderingstoestel geïdentifiseer is. Verdere skandering aan die einde van Julie en vroeg in Augustus het egter nog meer areas wat dringende herstelwerk benodig aan die lig gebring.

Die bykomende werk was geskeduleer om teen die einde van September voltooi te wees en Calgary-amptenare het binne en buitenshuise-waterbeperkings ingestel om die situasie te verlig. Handels- en residensiële beperkings vir binnenshuise gebruik was vrywillig. Buitenshuise beperkings was verpligtend en die oortreding daarvan was onderhewig aan boetes van $400 tot $3,000. Die munisipaliteit het buitenshuise waterbeperkings in vier stadiums ingestel. Fase 1 het voorsiening gemaak vir minimale natlei van bome, struike en tuine deur ’n spuit-tuinslang te gebruik en twee ure per week vir grasperksproeiers. Tydens Fase 4 was geen gebruik van water buiten water om te drink aanvaarbaar nie.

Die vlak van waterbeperkings het verskeie kere deur die somer verander namate stadsamptenare probeer het om aanbod en aanvraag te balanseer. Sommige inwoners het gekies om by dié beperkings te hou, hoewel die beperkingsvlakke dikwels onduidelik was. Ander inwoners het glad nie hulle watergebruik ingekort nie – hetsy uit frustrasie of bloot ’n gebrek aan begrip vir die erns van die situasie. Wat bygedra het tot die verwarring, was die kommunikasie met betrekking tot die oorsaak van die breuk – die blamering van skuld – wat verander het namate die somer gevorder het.

Die inwoners van Calgary sal die somer van 2024 nog vir baie jare onthou maar die implikasies van die krisis strek veel verder as die stad Calgary.

Die water-infrastruktuur van groot Kanadese stede sluit pype in wat meer as 50 jaar oud is. Daardie pype was ontwerp om langer te hou maar nogtans lyk dit of sommige daarvan die einde van hulle bruikbaarheid baie vinniger genader het as wat verwag was. Die toenemende stedelike bevolking het ook groter eise aan die verouderende infrastruktuur gestel, namate watertoevoerlyne van meer onlangs geboude gemeenskappe aan die bestaande ouer netwerk gekoppel word. Die assessering van watertoevoerlyne, die identifisering van probleem-areas en die nodige herstelwerk sal uitgebreide werk en aansienlike uitgawes behels. Dit is steeds absoluut noodsaaklik om veilige drinkwater vir die Kanadese burgers te verseker. Siviele ingenieurs, beplanners en politici in baie groot stedelike gebiede regdeur Noord-Amerika het Calgary se waterkrisis as ’n wekroep gesien.

Dit was nie lank voor daardie wekroep weer opgeklink het nie. Op 16 Augustus, het daar in die stad Montreal in die provinsie Quebec ’n hoofwaterlyn gebars wat ’n skouspelagtige geiser geskep het en huise en besighede naby die sentrale gebied erg oorstroom het.

 

Wie kan vir ons lewende water gee?

Die agteruitgang van Kanada se water-infrastruktuur is slegs een simptoom van ’n baie groter fundamentele kwessie. Ons samelewing se fondamente is besig om rondom ons te verkrummel – die gesin, onderwys, regering asook die ekonomie is slegs die mees opvallende slagoffers van wydverspreide morele verval. Die mensdom het sy rug op God gedraai, sy eie pad gevolg en is besig om die vrugte daarvan te pluk.

God het ons nie geskep om apart van Hom te bestaan nie. Die profeet Jeremia herinner ons: “Ek weet, o Here, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). God openbaar die weg wat tot ware voorspoed en geluk lei. Sonder Sy leiding, sal alles in ons lewens uiteindelik misluk, want: “As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die wet onderhou, gelukkig is hy” (Spreuke 29:18).

Vars, drinkbare water is noodsaaklik vir menslike lewe. Wanneer die aanbod daarvan beperk word, word dit des te meer duidelik dat ons fisiese lewens broos is. Die profeet Jesaja is geïnspireer om te skryf: “Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ’n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!” (Jesaja 40:6-7). Ons menslike lewens is ontwerp om tydelik te wees. Soos alle dinge, fisiese dinge, met inbegrip van ons liggame asook stedelike infrastruktuur, is onderhewig aan verval – dit sal mettertyd verslete raak.

Fisiese dinge is dalk nie permanent nie maar nogtans beskryf die profeet Jesaja wat permanent is: “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid” (Jesaja 40:8). Net soos ons fisiese lewens die water nodig het wat God vir ons geskep het, het ons geestelike lewens die lewende water nodig wat net Hý kan voorsien. Jesus Christus sê: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Johannes 7:38) en om werklik in Hom te glo en Hom lief te hê, is om Sy opdragte te gehoorsaam (Johannes 14:15). Om ’n ware, volhoubare “waterbron” te hê, moet ons by ons fisiese behoeftes en vereistes verby kyk en antwoorde in God se Woord soek.

Ons infrastruktuur verkrummel en so ook ons samelewing – as gevolg van ons verwerping van God se openbaring. Slegs God se Woord, met inbegrip van Sy Wet, bring geluk en is standhoudend.