Paradys, leestekens en hoop vir die toekoms!


VRAAG: Jesus het een van die kwaaddoeners wat saam met Hom gekruisig is belowe: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Wat en waar is die “Paradys” en het die kwaaddoener regtig daardie dag saam met Jesus daarheen gegaan?

ANTWOORD: Volgens die Bybel is die dooies in die graf, wagtend op die opstanding; hulle is nie in die hemel nie. Die apostel Petrus sê: “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:34). Christus sê: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlikdie Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13).

Beteken dit dat die kwaaddoener in ’n spesiale plek genaamd “Paradys” is wat nie die “hemel” is nie? Nee, die Bybel toon duidelik waar die Paradys geleë is. Die apostel Paulus vertel van ’n man wat in ’n visioen weggeruk is na God se troon, “... dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het, wat ’n mens nie mag uitspreek nie” (2 Korinthiërs 12:1-4). Die Paradys is geleë in die teenwoordigheid van God se troon.

Wat is die Paradys? Paradys beteken ’n “tuin, ’n aangename plek, lap bome, park”, “’n mooi-omheinde stuk grond of bewaarde gebied, ... skaduryk en goed benat ... ommuur” (Thayer’s Greek English Lexicon of the New Testament).

Die Bybel beskryf hoe dit in die Paradys is? “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is” (Openbaring 2:7). Kyk nou na Openbaring 22:1-2: “En hy het my getoon 'n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalfmaal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies”. 

Hierdie verse verwys na “die heilige stad, die nuwe Jerusalem” wat Johannes gesien het “... neerdaal van God uit die hemel” (Openbaring 21:2). Die Nuwe Jerusalem, wat uit die hemel sal neerdaal na ’n aarde wat in ’n “nuwe aarde” (2 Petrus 3:10-13; Openbaring 21:1) omskep sal wees en die Boom van die Lewe bevat. Die Paradys van God, naby of in die teenwoordigheid van Sy troon, is ’n park of tuin wat uiteindelik gevind sal word op die nuwe aarde! Dit was egter nog nie vir die mens beskikbaar toe Christus Sy belofte aan die kwaaddoener gemaak het nie!

Het die kwaaddoener dus saam met Jesus daarheen gegaan op die dag van Sy dood? Let daarop dat Jesus Self nie na die Paradys of die hemel gegaan het op die dag van Sy dood nie. Paulus skryf: “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte” (1 Korinthiërs 15:3-4). Christus was vir ’n volle drie dae en drie nagte verseël in die graf. Let op na wat Hy vir Maria gesê het toe sy by die graf aankom nadat Hy opgestaan het: “Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God” (Johannes 20:17).

Wat het Christus dan werklik vir die kwaaddoener gesê? Baie lesers word mislei deur foutiewe leestekens in die Engelse- en Afrikaanse vertalings van die geïnspireerde Griekse teks. Die Ou Afrikaanse Vertaling plaas verkeerdelik ’n komma tussen “jou” en “vandag” en die Nuwe Afrikaanse Vertaling begin “vandag” selfs as ’n nuwe sin. Een kommentaar verduidelik: “Die interpretasie van hierdie vers is heeltemal afhanklik van leestekens, wat geheel en al berus op menslike oordeel. Die Griekse manuskripte was tot in die negende eeu sonder enige leestekens van enige aard en daarna was daar slegs ’n kolletjie (in die middel van die lyn) om die woorde van mekaar te skei” (Companion BibleAppendix § 173).

Met die regte leestekens behoort hierdie vers soos volg te lees: “Voorwaar Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met My in die Paradys wees”. In Lukas 23:43 maak Jesus nie ’n belofte wat Hy versuim het om na te kom nie; Hy beklemtoon net dat wanneer die Paradys na die aarde kom, die kwaaddoener saam met Hom daar sal wees!