Vraag: Toe ek van God begin leer het deur die Tomorrow’s World se programme, die tydskrif en die boekies, het ek gedink dat my gesin, vriende en kollegas net so opgewonde sou wees as wat ek was om die waarhede te ontdek wat ek ontdek het. Hulle negatiewe reaksies het my dus verbaas. Het ek iets verkeerd gedoen deur dit wat ek besig is om te leer, met hulle te deel?

Antwoord: U het dalk ’n fout begaan wat baie mense dikwels maak wanneer hulle vir die eerste keer die wonderlike en opwindende waarheid aangaande God se plan van redding vir die mensdom begin verstaan. Wanneer u weet hoe wonderlik hierdie kennis is en hoe dit u lewe verander het, is dit natuurlik dat u graag u blydskap met andere wil deel. Christene behoort sekerlik nie hul geloof “onder die maatemmer” weg te steek nie (Mattheüs 5:15). Die grondslag waarop Christene egter hul geloof met andere moet deel, is om ’n soos-Christus voorbeeld te stel in hul gedrag (1 Petrus 2:21). Ja, ons moet gereed wees om aan elkeen wat vra, ’n antwoord te gee van die hoop wat in ons is (1 Petrus 3:15). Selfs al sou mense ons nie vra oor leerstellings nie, sal hulle nog steeds sien hoe ons optree. Algemeen gesproke, wanneer mense u persoonlike voorbeeld as Christen sien – wanneer hulle die gevolg van ware Christelikheid in u lewe sien – sal hulle meer geneig wees om u uit te vra oor wat u glo.

Dit maak nie saak hoe opgewonde u is oor wat God u leer nie, u kan nie – deur die mag van u woorde – iemand in God se Kerk in “preek” nie. Die Skrif maak dit duidelik dat dit ’n roeping van die Vader benodig – nie die opgewondenheid van ’n vriend of familielid nie – om te kan verstaan wat God openbaar. Onthou: “En Jesus antwoord en sê vir hulle ... Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe” (Johannes 6:43-45).

Ja, God besluit wie Hy wil roep – en ons weet uit Sy Woord dat Hy nou, in hierdie huidige tydperk, slegs ’n relatief klein handjievol as “eerste vrugte” roep wat met Christus se wederkoms deel sal uitmaak van die “eerste opstanding”. Let op: “En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle” (Judas 14). Alhoewel daar vandag meer as twee miljard mense op hierdie planeet lewe wat bely dat hulle Christene is, is die werklike getal ware Christene wat God geroep het, baie minder as dít.

Ons weet natuurlik dat God uiteindelik aan elkeen wat nog ooit geleef het, die geleentheid sal gee om die Bybel te verstaan en om die ewige lewe te kan ontvang. “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:33-34).

Vir die meeste mense wat deesdae die verkondiging van die ware Evangelie hoor, sal dit slegs ’n waarskuwende “getuienis” wees van wat gaan kom. Van al die baie wat die verkondiging van die waarheid hoor, roep God in hierdie huidige tydperk slegs ’n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32). Die oorgrote meerderheid mense bly verblind (2 Korinthiërs 4:3-4) – en dit is deel van God se plan, aangesien Hy weet dat hierdie mense nog nie gereed is vir hul roeping nie. Eerlikwaar, om te probeer om die lig van die waarheid te laat skyn in die denke van iemand wat verblind is, sal dikwels slegs vervolging van die persoon wat die lig vashou, tot gevolg hê. “Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie” (1 Johannes 3:13).

Laat u Christelike dade dus vir u spreek. Indien enigiemand navraag doen oor u geloof, deel met die persoon dit wat u gehelp het om te leer en te groei. Moet egter nie dink dat u God se waarheid op diegene rondom u kan afdwing nie. Bid dat God met daardie mense vir wie u lief is, sal werk, maar stel u vertroue in Hom – nie in u eie pogings nie – om te weet wanneer dit Sy wil is dat hulle geroep word.