Dit is ’n Sondagoggend in die middel van Januarie – die perfekte tyd om dinge in en om die huis te doen. Dít wil sê, tot my telefoon begin gons met ’n dringendheid wat dui op iets meer as ’n gewone teksboodskap of telefoonoproep. Die gelui was harder, langer en op ’n hoë toonhoogte as ’n gewone kennisgewing. Ek was destyds nie bewus daarvan dat miljoene telefone regoor Ontario op soortgelyke wyse gegons het nie.

My aanvanklike aanname was dat dit ’n Amber Alert moet wees – ’n teksboodskap van die polisie, waarin alle inwoners gevra word om op die uitkyk te wees vir ’n voertuig met ’n spesifieke nommerplaat of individu wat moontlik met ’n ontvoerde kind verband hou. Wat ek egter gelees het, was nie wat ek verwag het nie:

’n Voorval is by die Pickering kernkragstasie aangemeld. Daar was GEEN abnormale vrystelling van radio-aktiwiteit vanaf die stasie nie en noodpersoneel is besig om aandag te gee aan die situasie. Mense naby die Pickering-kernkragstasie hoef nie op hierdie tydstip enige beskermingsmaatreëls te tref nie.

Die Pickering kernkragaanleg, wat op daardie stadium al sedert 1971 veilig gefunksioneer het, is vir die meeste mense in die groter Toronto-omgewing ’n aspek van die lewe waaroor hulle selde gedink het. Die fasiliteit huisves ses CANDU-reaktors wat 14 persent van Ontario se krag produseer en na verwagting sal daar in 2028 met die proses van diensbeëindiging begin word.

Ten spyte van al die jare se veilige funksionering en die duidelike stelling dat optrede nie nodig was nie, het die woorde, “’n voorval is aangemeld by die Pickering kernopwekkingsaanleg, tog ’n stortvloed van verskeie moontlike scenario’s by mense laat opkom.

’n Valse, maar leersame alarm

Die boodskap was ’n vals alarm en is ongeveer 40 minute later via Twitter opgehef. ’n Tweede boodskap, wat byna twee uur ná die aanvanklike boodskap gestuur is, het bevestig dat die waarskuwing foutief gestuur is. Talle individue het ’n diep sug van verligting geslaak. Die verskillende ramp-scenario’s het egter in ons gedagtes vasgesteek en vrae met betrekking tot paraatheid by baie mense laat ontstaan. Die tydskrif Maclean’s het berig dat ’n webwerf vir kernveiligheid meer as 32,000 bestellings vir kaliumjodiud-pille gedurende die volgende paar dae ontvang het (“Pickering se plan vir kern-afval,” 18 Februarie 2020).

Kort na die voorval het die Durham Region ’n nuusbulletin gepubliseer waarin die reaksieplan in nood uiteengesit is in geval van so ’n gebeurtenis. Terwyl baie mense tydens die eerste boodskap geslaap het en eers van die voorval bewus geraak het toe hulle die tweede boodskap gelees het, sou die waarskuwingstelsel in die geval van ’n werklike voorval baie vollediger gewees het.

Indien die provinsie sou besluit om die openbare waarskuwingstelsel te aktiveer, sal daar binne 15 minute openbare waarskuwing-sirenes hoorbaar wees vir diegene binne ’n radius van drie kilometer van die aanleg. Huise binne ’n 10 kilometer-radius sal weer ’n outomatiese oproep na hulle landlyne ontvang (“Wat sou gebeur as daar werklik ’n kernongeluk in Durham was?”, 15 Januarie 2020).

Die artikel in die Durham Region het verdere planne vir ontruiming hersien. Detail van die verskillende veiligheidskenmerke van die aanleg is beskryf en hoe lank bestraling binne die fasiliteit geberg kan word voordat dit vrygestel kan word. Die realiteit is dat kernkrag geskiedkundig een van die veiligste vorms van kragopwekking is. Tog bestaan daar steeds die gevaar van rampe.

’n Les vir almal

Alhoewel u streek dalk nie ’n kernkragstasie het nie, is daar min dele van die wêreld wat gevrywaar is teen een of ander vorm van ’n ramp. Dikwels is hierdie potensiële bedreigings die laaste ding waaraan ons dink – totdat iets verkeerd loop. Terwyl voorbereiding vir ’n ramp tot uiterstes geneem kan word, is daar wysheid daarin om vir die onverwagte voorsiening te maak. Neem ’n paar oomblikke om die potensiële gevare en natuurrampe in u area te oordink en vas te stel watter noodplanne tans in plek is.

Enige noodplan is egter nutteloos indien mense nie die waarskuwingstekens herken en daarop ag slaan nie. Planne is afhanklik van iemand om alarm te maak en dat diegene wat in gevaar is, op die waarskuwing reageer. Indien die eerste Pickering-teksboodskap ’n akkurate waarskuwing teen ’n ramp was en geen ander oproep uitgegaan het nie, hoeveel mense sou die boodskap betyds gesien het? Hoeveel van hulle sou op die waarskuwing ag geslaan het?

Die boek Eségiël bevat ’n ernstige waarskuwing vir diegene wat ’n waarskuwingsboodskap hoor, sowel as vir diegene wat verantwoordelik is om alarm te maak:

“... as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel. As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg – dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis” (Eségiël 33:4-6).

Bybelse profesieë skets baie gebeure wat elke man, vrou en kind op die planeet sal raak. Terwyl baie vroegtydige waarskuwingstelsels, ontruiming of ander maatreëls, aanbeveel in ’n poging om rampe te beperk, dring God se Woord aan op gehoorsaamheid en toewyding – Sy beskerming is die enigste vorm van veiligheid waarvan ons seker kan wees in tye wat voorlê. Baie van die gebeurtenisse wat in die Bybel beskryf word, blyk onmoontlik om te oorleef. Die God wat magtig genoeg is om wêreldgebeure duisende jare vooruit te profeteer, is egter ook magtig genoeg om diegene wat aan Hom gehoorsaam is te beskerm. Die woorde van koning Dawid in die Psalms maak God se vermoë om Sy volk te verlos van selfs die afgryslikste gebeurtenisse duidelik.

“Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ’n skild en pantser. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand – na jou sal dit nie aankom nie” (Psalm 91:4-7).

Geprofeteerde noodgevalle wat voorlê

Baie Bybelse profesieë skets die opkoms, motiewe, konflikte en uiteindelike val van verskeie eindtydse supermoondhede. Hierdie toekomstige magte is dalk nie wie u dink nie. Twee van hulle – die “koning van die Noorde” en die “koning van die Suide” oor wie die profeet Daniël geskryf het (Daniël 11), sal binnekort op die wêreldtoneel verskyn en die lewe soos ons dit ken, sal vir altyd verander word.

Soos met enige vroegtydige waarskuwingstelsel, is dit noodsaaklik dat diegene wat in gevaar is, weet waarna om op te let. God se woorde, wat in Sy Skrif gevind word, bied ’n duidelike begrip van waarna om op te let en die belangrikste, hoe om te reageer. Indien u meer hieroor wil weet, kan u ’n gratis eksemplaar van twee boekies naamlik Veertien Tekens wat Christus se Wederkoms Aankondig en Openbaring: Die Verborgenheid Onthul! aanvra. U kan dit ook aanlyn lees by www.wvm.co.za. Dit sal u help om die identiteit van die koning van die Noorde en die koning van die Suide te ondersoek en te verstaan hoe hulle ons wêreld sal hervorm.