Waarom Was Dit Nodig Dat Jesus Gedoop Word?

Vraag: Wat was die betekenis van Jesus se doop? In Matthéüs 3:16 lees ons dat toe Johannes vir Jesus gedoop het, die Heilige Gees “soos ’n duif” op Hom neergedaal het. Is dit toé dat Jesus Christus, as ’n mens, die eerste keer die inwonende Heilige Gees ontvang het?

Antwoord: Hierdie foutiewe opvatting met betrekking tot Jesus se doop is baie algemeen en word gereeld deur diegene uitgespreek wat in die valse leerstelling van “aanneming” glo – die idee dat Jesus nie die Seun van God was voordat Hy gedoop was nie en wat Jesus Christus se voorafbestaande ewige teenwoordigheid binne die Godheid wil ontken of geringag.

Jesus Christus bestaan as die Logos – die “Woord” – reeds van die heel begin af (Johannes 1:1). Hierdie selfde Goddelike Wese het “vlees geword” en na die aarde gekom – die Skrif benadruk die idee dat Jesus nie volkome mens was nie, as die “Antichris” (1 Johannes 4:3; 1 Timótheüs 3:16). Tog maak die Skrif dit ook duidelik dat Jesus Christus na die aarde sou kom as “God met ons” (Matthéüs 1:23; vgl. Jesaja 7:14).

Hoe kan Jesus ’n mens gewees het wat na vore gekom het om gedoop te word, maar tog ook “God met ons” is? Om hierdie feite met mekaar te versoen sal ons nie net help om te verstaan hoe en wanneer en waarom Jesus Christus die Heilige Gees ontvang het nie; dit sal ons selfs help om iets oor Sy aard te verstaan – ’n onderwerp wat heeltemal verkeerd verstaan word in die hoofstroom “Christendom”.

Ons weet uit die Skrif dat Jesus uit ’n maagd gebore is en dat Hy deur die Heilige Gees verwek is (Jesaja 7:14; Matthéüs 1:20). Tog, hoewel die Logos God was, het Hy Sy Godheid vrywillig prysgegee om Homself te ontledig van Goddelikheid, wat bekend staan as Sy kenosis (Grieks vir “leegmaak”) – om ’n menslike wese te word (Filippense 2:5-7). Ja, toe Jesus Christus ’n man was, was Hy regtig ’n mens en toe Hy gesterf het, was hy drie dae en drie nagte in die graf voordat Sy Vader Hom tot die ewige lewe opgewek het.

Let daarop dat Jesus, regdeur Sy hele bediening, dit herhaaldelik duidelik gemaak het dat Sy Vader groter was as Hy (Johannes 14:28). Christus het nie beweer dat Hy Self enige wonderwerke gedoen het óf dat Hy Sy leerstellings op eie gesag aanbied nie; in plaas daarvan het Hy duidelik na Sy Vader gewys as die Bron: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke” (Johannes 14:10). Die Skrif toon dat daar soms perke was van wat die Vader die menslike Jesus Christus gemagtig het om te bereik, soos toe Hy gekonfronteer was deur ongelowiges wat Hom bloot as Maria se seun, die skrynwerker, geken het. Let op hierdie relaas van Sy besoek aan Nasaret: “En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy ’n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het” (Markus 6:5).

Waarom het Jesus dus na Johannes die Doper gegaan om gedoop te word? Johannes – wie se opdrag dit was om die weg voor te berei vir Jesus se bediening (Matthéüs 3:1-3) was self verbaas en het vir Jesus gesê: “Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit toe nou, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul” (Matthéüs 3:14-15). Ons Christene het onsself daartoe verbind om ons Verlosser se lewe na te volg (1 Johannes 2:6; 1 Petrus 2:21). Daarom stel Jesus Christus ’n volmaakte voorbeeld om ons te help sodat ons kan weet hoe om te voldoen aan God se regverdige wil en plan vir ons lewens. Daardie voorbeeld sluit die doop in.

Anders as die hedendaagse Christene, wat deur die Heilige Gees verwek is na bekering en die waterdoop, het Jesus Christus – wat geen sondes gehad het waarvan Hy Hom moes bekeer nie – die inwonende Heilige Gees ontvang vanaf die oomblik van Sy konsepsie. Hy was Immánuel – God met ons, die Woord wat vlees geword het (Johannes 1:14). Mateloos gevul met die Heilige Gees (Johannes 3:34), het Hy ’n volmaakte, heilige en regverdige lewe gelei, selfs nog voor die begin van Sy bediening. Johannes het net met water gedoop, maar met Jesus se doop, wat die voorbeeld gestel het vir almal wat sou volg, het God ’n teken gegee – die Gees wat neergedaal het “soos ’n duif” – wat aandui dat Jesus se volgelinge nie net met water gedoop sal word nie, maar ook met die Heilige Gees. Dit is die betekenis van Jesus se doop deur Johannes.