In hierdie snelbewegende, goddelose samelewing moet elkeen van ons liewer die tyd neem om te besluit waarin ons werklik glo - waarvoor ons gewillig is om te “baklei” en, sou dit nodig wees, voor te sterwe.

Vandag se materialistiese, wêreldse kultuur is bykans oorweldigend in sy invloed op die meeste van diegene wat hulself Christene noem.

Die meeste van ons geloofsverwarring of -onsekerheid berus op die feit dat ons oor die algemeen nie die moeite doen om presies dít waarin ons glo, te bepaal nie. Die meeste mense gee maar toe - gaan voort met vriende en familie en bekommer hul nie veel oor waarin hulle werklik glo of waarvoor hulle staan nie. Sekerlik, hulle is, soos ons sê - “gawe” mense, maar hulle staan vir niks nie.

Daar was ongetwyfeld ook miljoene “gawe” mense in Duitsland toe Adolf Hitler sy opkoms tot mag in die vroeë 1930’s begin het. Baie van hulle het natuurlik nie van die dierlike taktieke gehou wat Hitler en sy stormtroepe gebruik het nie, maar hulle het niks daaraan gedoen nie. Die gevolg van hul gebrek aan oortuiging was dadeloosheid - ’n onwilligheid om die stryd te voer teen boosheid en om te probeer om Hitler daarvan te weerhou om absolute mag oor te neem. Ons ken almal die hartseer gevolg: die Tweede Wêreldoorlog - die grootste en mees vernietigende oorlog in die geskiedenis.

Die menseslagting het plaasgevind as gevolg van mense wat tekort geskiet het aan oortuiging om vir mense wat etnies van hulle verskil het, basiese ordentlikheid en respek aan die dag te lê. Toe hulle eers in beheer was, het die Nazi’s openlik hul gesproke dreigemente uitgevoer en bykans ses miljoen Jode en andere, insluitende Pole, Franse, Dene, Nederlanders, Belge, Slawiërs en Noorweërs tot die slagting gelei. In die nasleep van die Tweede Wêreldoorlog, toe hulle hoor van die grootskaalse moord van onskuldiges, het die meeste Duitsers dit afgekeur, maar toe was dit te laat. Weereens, waarom het daardie tragedie plaasgevind? Omdat mense in Duitsland, en trouens mense oor die hele wêreld, nie duidelik uitgestip het waarvoor hulle staan - en waarvoor hulle nie staan nie!

Een studie van Amerikaanse Protestantisme dui aan dat “dieper strome van verwêreldliking voortduur in die Protestante kringe en dat Protestante ‘verward en uitgesluit’ voel oor die rigting van die groter samelewing. Die meeste neig om meer soos ‘goeie Amerikaners’ te dink en op te tree as soos ‘goeie Protestante’ … Daar is nie meer die brandende begeerte om leerstellings, die essensiële, die karakter van God, die werk van Christus te leer ken nie,’ sê Gordon Conwell Kweekskool in Hamilton, Mass. ‘Wat ’n mens meestal in gedagtes sien is vrese oor geld, stres, werksdruk, …. Dit blyk asof die vure doodgaan. Die lewe raak al moeiliker’” (The Christian Science Monitor, 19 Des. 1995).

Ja, die lewe raak al moeiliker vir die meeste mense in hierdie selfsugtige samelewing - ’n samelewing wat God “die teenswoordige bose wêreld” noem (Galasiërs 1:4). Dit moet egter ons, as ware Christene, al hoe meer op ons knieë dwing, dit behoort ons aan te moedig om ons Bybels werklik te bestudeer sodat ons God werklik kan “ken” - en absoluut seker kan wees waarin ons glo asook waarvoor ons lewens staan. Ons moet met absolute sekerheid weet!

Selfs al blyk so baie mense om ons gewillig te wees om afgewaterde leerstellings, gebruike en benaderings wat glad nie Bybels is nie, te aanvaar, moet ons in die Lewende Kerk van God ons ywer vir die volle Waarheid behou. Ons moet ons afgesonderde medelidmate - ons wêreldse kennisse en familie laat weet - dat ons vir iets staan, dat ons nie sal toegee met betrekking tot die basiese waarheid en gebruike wat in God se Woord openbaar word nie asook dat ons volgens hierdie kode sal leef en as dit moet, daarvoor sal sterf.

God vertel ons dat Sy ware Kerk die “pilaar en grondslag van die waarheid” is (1 Timotheus 3:15). Ons moet besluit om vas te klou aan daardie Waarheid - en nie deel hê in die afwatering daarvan nie. Tesame is ons deel van ’n kruistog om daardie Waarheid aan al die volke van die wêreld te verkondig (Mattheus 28:18-20), in hierdie kruistog is ons Christen “stryders”. Die apostel Paulus sê: “Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus. Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het” (2 Timotheus 2:3-4).

Hoewel ons Christen stryders is, kan ons baie lesse leer van uitblinker militêre soldate wat sover hul begrip gestrek het, goeie vermoëns en karakter getoon het. Een van die grootstes hiervan in onlangse jare was generaal Douglas MacArthur. Indien u Amerikaanse geskiedenis ken, sal u weet dat generaal MacArthur ’n voortreflike patriot en leier was. Hy was ’n man wat waarlik vir iets gestaan het.

Naby die einde van sy roemryke loopbaan, met sy laaste terugkeer na West Point Militêre Akademie, gee hy ’n toespraak wat steeds beskou word as een van die mees veelseggende toesprake van moderne tye. Nadat hy vereer is het Generaal MacArthur die byeengeroepe kadetkorps en hooggeplaastes as volg toegespreek:

“Geen mens kan versuim om diep geraak te wees deur so ’n eerbetuiging, komende van ’n beroep wat ek so lank gedien het en mense wat ek so baie liefgehad het. Dit vul my met ’n emosie wat ek nie kan verduidelik nie, maar hierdie toekenning is nie hoofsaaklik bedoel vir ’n persoonlikheid nie, maar om ’n groot morele kode te simboliseer - die gedrags- en ridderskapkode van diegene wat hierdie geliefde land van kultuur en antieke afkoms beskerm.

“Plig, eer, vaderland - hierdie drie geheiligde woorde skryf eerbiedig voor wat jy wil wees, wat jy kan wees, wat jy sal wees. Dit is jou ontmoetingspunt om aanmoediging te gee wanneer moedigheid kortkom, om geloof te herwin wanneer daar min rede vir geloof is, om hoop te skep wanneer alles hopeloos lyk …

“Dit is sommige van die dinge wat daardeur gebou word. Dit bou jou basiese karakter. Dit vorm jou vir toekomstige rolle as bewaarder van die volk se verdediging. Dit maak ’n mens sterk genoeg om te weet wanneer jy swak is en moedig genoeg om jouself in die oë te kyk wanneer jy bang is.”

Later sluit generaal MacArthur hierdie geskiedkundige toespraak af met:

“Die skadus raak al langer vir my. Die skemer kom. My dae van ouds het verdwyn - met alles wat daarmee gepaard gaan. Hulle het weggeraak, al glimmende deur die drome van dit wat was. Die gedagte daaraan is wonderlik mooi, benat deur trane en gevlei en gepamperlang deur die glimlagte van gister. Ek luister dan, maar met ’n oor wat dors, vir die betowerende melodie van veraf beuels wat wekroepe blaas, van tromme wat die lang roffel slaan.

“In my drome hoor ek weer die knars van gewere, die rammel van geweervuur, die vreemde, weemoedige geprewel van die oorlogsveld. Maar in die avond van my geheue, kom ek terug na West Point. Daar eggo en weerklink dit: Plig, eer, vaderland.

“Vandag is my laaste teenwoordigheid met julle, maar ek wil hê julle moet weet dat wanneer ek die rivier oorsteek, my laaste bewustelike gedagte sal wees van die korps, die korps en die korps.

“Ek groet u”.

Lidmate, anders as generaal MacArthur en die West Point kadette, is ons in ’n geestelike oorlogvoering gewikkel, maar dit is steeds oorlog. Baie van ons in die Lewende Kerk van God is - soos generaal MacArthur op sy tyd - “oudstryders”! Ons het baie oorlogstonele van geestelike bloed en doodslag gesien. Ons het Satan se vernietigende aanvalle op onsself, ons vriende en God se Kerk asook Sy Werk keer op keer waargeneem.

Ons weet en verstaan ons “burgerskap is in die hemele” (Filippense 3:20). Dit is die “vaderland” waarvoor ons veg! Ons weet dat ons oorlogvoering nie deelname aan die korps by West Point of Voortrekkerhoogte is nie, maar in die Werk van die Lewende God!

Daarom kan ons, in die lig hiervan, ons goed vereenselwig met generaal MacArthur se woorde: “Plig, eer, vaderland.” Namate ons as ’n Kerk en as individuele lidmate ouer word, moet ons nooit vergeet waarom ons hier is nie. Laat ons ons koppe omhoog hou namate ons dag en nag voortstry om die Werk van God met ywer, toewyding, moed en opoffering te doen.

Geen militêre sending was nog ooit so lewensbelangrik nie. Geen oorlogvoering was nog ooit so belangrik nie. Geen beloning was nog ooit so luisterryk soos die een wat ons sal ontvang nie, mits ons onsself en Satan oorwin, en mits ons met ywer en trou Christus se Boodskap aan die wêreld, wat waarlik verlore is, verkondig.